Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 7 - Elza Rademeyer - Страница 7

4

Оглавление

Saterdagmiddag sluit Esbeth haar winkel ’n bietjie vroeër sodat sy gou poskantoor toe kan gaan. Dis dan ook daar dat sy en Gustav mekaar weer raak loop. Hy kom staan reg agter haar in die lang tou mense na die toonbank.

Sy groet met ’n skugter kopknik toe sy omkyk en agterkom wie agter haar staan. Hy groet terug en wil weet hoe dit met haar gaan.

“Heeltemal goed, dankie. En met jou?”

“Ook goed. Dis net koud.”

“Ja, dis nogal koud. Een van die koudste winters waarvan ek kan onthou.”

“Is jy hier van die omgewing?” vra Gustav.

“Ja, hier gebore en grootgeword.”

“In die dorp?”

“Nee, anderkant Groot-Brakrivier op ’n plaas. Nie ver van die Wolwedansdam af nie.”

“Ek was nou die dag in daardie rigting. Ek het met een van die boere daar gesels, oom … Ek kan nie nou sy naam onthou nie.”

“Oom Frik van Zyl. Hy is ons buurman. Dis by hom wat ek gehoor het dat jy na jou vriend Frans verneem het.”

“Dis reg, ja. Sy naam wás oom Frik. ’n Baie groot man.”

“Het jy sy vróú gesien?” vra Esbeth.

“Nee, ons het sommer daar buite op die werf gesels.”

“As jy dink oom Frik is groot, moet jy sy vrou sien. Sy is net so lank soos hy, maar nog breër.”

Hy glimlag. Vra dan uit die bloute: “Hoe gaan dit met jou seuntjie?”

“Goed, dankie. Ek gaan hom netnou by my tante haal. Sy kyk bedags na hom terwyl ek werk.”

“Ek het ook ’n seuntjie gehad …”

Esbeth kyk verbaas na hom toe sy stem wegraak en sy is verstom toe sy agterkom hy raak bewoë. “Is hy …?”

Hy knik sy kop. “Hy leef nie meer nie.” Hy sluk moeilik.

“O. Ek is jammer,” sê Esbeth en kyk vinnig weg om hom kans te gee om te herstel, maar ook omdat sy nog selde soveel onverbloemde pyn in iemand se oë gesien het.

Gustav ruk hom vinnig reg. Sy stem klink normaal toe hy weer ’n praatjie oor die weer met haar aanknoop.

“Ja,” sê Esbeth. “Hulle noem Mosselbaai nie verniet die plek van vier seisoene per dag nie. Dis regtig so dat die dag partykeer lieflik begin, maar dan kom die wind en later die reën. Tog gebeur dit dat dieselfde dag soms só eindig dat jy in die aand buite kan vleisbraai.”

“Die gure weer kan egter ook dae lank aanhou,” sê Gustav. “Nie baie lank gelede nie was ek en die loods van die helikopter vir drie dae vasgekeer op die Rig.”

“Die Rig? Dis mos Mossgas se seeplatform, nè. Werk jy op die platform?”

“Nee, ek gaan net daarheen wanneer daar probleme opduik. My kantoor is op die landaanleg.”

“Hm, ek wil nou nie sleg praat van jou werk nie, maar die Mossgas-projek het darem baie probleme vir Mosselbaai kom skep.”

“Hoe so?”

Esbeth skrik so ’n bietjie toe sy die gevaarlike frons op sy voorkop sien. “Wel, die dorp is glad nie meer so rustig en veilig soos dit vroeër was nie.”

Die tou is plotseling op ’n einde, maar toe Esbeth haar pakkie gepos het en wegdraai van die toonbank, keer hy haar voor. “Wag ’n bietjie,” sê hy met sy hand op haar arm terwyl hy gou ’n seël koop vir die brief wat hy vir tant Mietie wil pos. “Ek kan jou nie los met so ’n negatiewe houding teenoor Mossgas nie.”

Sy het nie eintlik ’n ander keuse as om te wag totdat hy saam met haar na buite loop nie.

“Wel, ek weet nie wat jy kan sê om my anders te oortuig nie,” sê sy toe hulle die trappe bereik. “Dis ’n feit dat bankrotskappe en werkloosheid nog nooit so hoog was as nou nie.”

“Wat doen jy vanaand?” vra hy uit die bloute.

“Ek? Wel, ek gaan naaldwerk doen. Ek moet voorraad …”

“Kom eet vanaand saam met my?” onderbreek hy haar sin.

“Eet? Ek … Nee, dankie, ek eet nie saam met getroude mans nie.”

“Geskei,” help hy haar reg.

“O?”

“Ek wil jou graag inlig omtrent Mossgas se bedrywighede. Dit sal help om van jou ’n ingeligte dorpsburger te maak.”

“Goed dan,” gee sy toe ná ’n bietjie weifeling. “Ek moet erken dat ek weinig van die projek weet. Al wat ek weet, is dat dit glo veronderstel is om die land se brandstoftekorte aan te vul uit die gasvelde wat hier in die see ontdek is.”

Hy vergesel haar tot by haar motor. “Waar kan ek jou kom oplaai en hoe laat?”

“Miskien moet jy my maar by my tannie se huis kom oplaai. Ek sal haar vra om na Eben te kyk. Ek wil nie die kind graag in die koue uitvat nie.”

Sy gee tant Ralie se adres en ry weg. Vertwyfeld wonder sy oor die wysheid van haar besluit om sy uitnodiging aan te neem. Maar hy hét haar mos darem laat verstaan dis net ’n inligtingsessie. Sy is verspot om te dink hy het enige ander motiewe.

Ook Gustav het bedenkinge oor sy impulsiewe uitnodiging. Hy hoop nie Esbeth verwag meer van hom as ’n geselsie oor die Mossgas-projek nie. Hy het geen begeerte om weer betrokke te raak nie. Nie eens by ’n platoniese verhouding nie.

Hy voel ongewoon senuweeagtig toe hy die aand voor Esbeth se tante se huis stilhou. Dit is die eerste keer dat hy weer ’n meisie uitneem ná Selma. Vóór Selma was daar baie meisies, maar … Gits, hy hoop nie hy het só afgestomp geraak dat hy ’n verleentheid vir homself gaan wees nie.

Gustav het homself daarop voorberei dat Esbeth mooi gaan lyk. Die paar keer dat hy haar al gesien het, was sy altyd smaakvol aangetrek en kon hy nie anders as om haar skoonheid raak te sien nie. Maar toe sy in die voordeur verskyn, kan hy nie anders as om haar bewonderend aan te kyk nie. Hy wonder vlugtig of sy ooit ingeskryf het vir ’n skoonheidskompetisie. Sy sou beslis nie laaste gekom het nie.

Esbeth is onbewus van Gustav se bewonderende blik. Sy kyk net vlugtig na hom en het moeite met haar hartklop en senuwees. As hy net nie so vervlaks aantreklik was nie!

“Sal ons ry?” vra hy nadat hulle ietwat sku gegroet het.

“Ja, ons kan maar gaan,” antwoord sy en vies haar vir die skielike heesheid van haar stembande. En die oomblik toe sy langs hom in die motor sit, besef sy dat sy ’n fout begaan het om saam met dié man uit te gaan. Daar is ’n sensualiteit in die atmosfeer. ’n Amper plofbare intensiteit. Sy gaan dit net onmoontlik vind om doodgewoon teenoor hom op te tree.

Ook Gustav vind die motor se binneruim skielik beknop. As sy die babbelende tipe was, sou dit hul samesyn makliker gemaak het. Tog is hy glad nie spyt dat sy nié die “borrelende” tipe is nie. Sy das se knoop wurg hom skielik. Hy wil daaraan rem, maar bedink hom. Laat hy liewer dink aan iets logies om te sê.

“Waar werk jy?” vra hy.

“Ek het my eie boetiek begin. Verkoop maar die klere wat ek self maak daar.”

“Maak jy jou eie klere ook?”

“Ja, meesal.”

“Jy lyk . . baie mooi.”

“Dankie. Jy … e … lyk self goed. Ek hou van jou das.”

“O. Dankie. My tant Mietie het dit vir my gekoop. Sy’t gesê dit pas by die baadjie wat ek aanhet.”

Toe Gustav in die parkeerarea voor die restaurant uitklim en om die motor stap om vir haar die deur oop te maak, vererg hy hom vir sy onbeholpe onsekerheid. ’n Mens sou sweer hy is bang vir die vroumens! En om aan homself te bewys dat hy meester van die situasie is, stuur hy haar met ’n ferm hand op die arm oor die straat en met die trappies op na die eetplek.

Hy het ’n tafel bespreek, besef Esbeth toe hy sy naam vir die kelnerin noem. Sy is oorbewus van sy manlike nabyheid toe hy teenoor haar plaasneem.

“Sal ons ’n droë wyn bestel?” vra hy met die wynkaart in sy hande.

“Ek is nie ’n kenner nie. Solank die wyn net nie heeltemal stroopsoet is nie, sal dit lekker wees.”

Hy bestel die wyn by die kelnerin en toe sy loop om die bestelling te gaan uitvoer, kyk hy na Esbeth. En skielik gebeur daar iets tussen hulle: Toe hulle na mekaar kyk, is dit asof alles rondom hulle vervaag …

Die blos op haar wange wat hom amper laat skrik, ruk hom terug na die werklikheid. Hy wil nie verteder raak deur die broosheid van ’n vrou nie. Hy kug heserig toe hy sy blik wegskeur om deur die venster te kyk. Hy kyk afgetrokke na die liggie van ’n vissersboot wat op die see dobber, en hy dink vermanend: As jou boot op ’n storm afstuur, moet jy anker gooi. Hy is nog op soek na kalmte ná die storm wat sy lewe ontwrig het. Hy moet versigtig wees … Tog, hy kan hom nie herinner dat hy Selma ooit sien bloos het nie …

“Jy wou my van Mossgas vertel het?” dring Esbeth se woorde tot hom deur.

“Wat wil jy weet?” vra hy afwesig, intens bewus van haar.

Sy gee ’n laggie. “Ek dag jy weet presies wat jy my wil vertel. Ek het nie ’n vraestel opgestel nie.”

“Ek soek ’n aanknopingspunt,” sê hy met ’n stemtoon wat haar hart onverwags laat spring.

“Goed. Vertel my waar kom die gas in die see vandaan? Ek bedoel, hoe het dit daar gekom? Hoekom is daar dan net op sekere plekke van die gas?”

“Die gas het ontstaan as gevolg van plant- en dieroorblyfsels wat tot 170 miljoen jaar oud is en wat in vlak seebeddings begrawe is, bedek deur die fyn lae modder wat deur die riviere na die see gevoer is. Ongeveer 160 miljoen jaar gelede was Afrika deel van ’n sogenaamde superkontinent, genaamd Gondwanaland, wat die huidige Suid-Amerika, Afrika, Antarktika en die Indiese subkontinent ingesluit het. Hierdie vastelande het van mekaar geskei in die Juratydperk. Ek praat nou van so 130 miljoen tot 150 miljoen jaar gelede. Kort voor die kontinente van mekaar weggedryf het, het ’n vlak see ontstaan – in die gebied wat vandag as die Bredasdorp-kom bekend staan. Oor die jare is die lae modder aangevul oor die poreuse sande wat vandag as die reservoir vir die gas en kondensaat dien. Met die aanvang van kontinentale drywing het die seevlak gestyg. En so het verhoogde druk en stygende temperature die toestand geskep vir die omskepping van die gefossileerde reste tot petroleum wat wissel van dik, swart ru-olie tot kondensaat en die hoogs vlugtige gasse.”

Sy vertelling word onderbreek toe die wyn opdaag. Hy wag tot sy aan hare proe. “Hou jy daarvan?”

“Ja, dankie. Dis baie lekker. Nie te soet nie. Net reg.”

“Ek het gedink jy sal daarvan hou.”

Sy wag totdat hy ook ’n slukkie geneem het. “’n Mens kan amper nie glo die aarde bestaan al so lank nie. Maar vertel my van die seeplatform, of Rig, soos julle dit noem. Ek hoor daar werk baie mense daar. Wat gebeur as daar ’n storm opkom? Ek bedoel, dryf dit nie dan weg van die olieveld af nie?”

Hy glimlag. “Nee, dit kan nie beweeg nie. Die platform is geanker op ’n dra-struktuur wat binne-in die seebodem ingedryf is. Die dra-struktuur het ’n massa van 14 500 ton. Dit is in Saldanha vervaardig en per boot hierheen gesleep, terwyl die modules van die platform weer in Port Elizabeth gebou is. Ek was nog nie hier toe die drastruktuur in die seebodem geanker is nie, maar dit was glo ’n taamlik gevaarlike proses omdat daar ’n onverwagte storm opgekom het wat die golwe tot vier meter hoër as die internasionale norm van twee meter maksimum opgejaag het. Gelukkig het alles glad verloop. Ek glo dis omdat die mense wat by Mossgas werk, geweet het wat hulle doen. Die personeel is goed opgeleide mense.”

Esbeth kyk hoe hy ’n slukkie wyn neem en wonder of sy hom moet vertel wat haar oupa van Mossgas se werkers dink. Maar dan bedink sy haar. “Hoe kom die gas op die land? Ek verbeel my iemand het gesê daar is ’n pypleiding van die platform af land toe?”

“Ja, twee pypleidings oor 91 kilometer verbind die platform met die landaanleg. Waar dit uit die see kom, gaan dit onder die duine deur en ondergronds tot by die landaanleg. So terloops, die duine is weer opgevul en met plante van die omgewing beplant. Die gas- en kondensaatmengsel wat uit die boorgate onder die seebodem onttrek word, word eers op die platform verkoel om die vloeibare kondensaat en water uit die gas te kondenseer. Die water word gesuiwer en teruggestort in die see, terwyl die gas vogvry gemaak word. Koolwaterstofdele wat in die gas agterbly, word tot tien grade Celsius verkoel om dit uit te kondenseer. Eers daarná word die kondensaatvrye gas en ook die gefiltreerde kondensaat land toe gevoer met die twee pypleidings.”

Hy bly ’n rukkie stil en vul eers hul glase met wyn. “Dis ’n taamlike proses,” sê hy nadat hy ’n slukkie wyn geneem het. “Ek gaan jou nie verveel met die detail nie. Dis seker insiggewend genoeg om te sê dat daar vir 105 werkers voorsiening gemaak is vir verblyf op die platform. Die mense werk almal skofte van twaalf ure lank vir twee weke, waarna hulle deur ’n ander span afgelos word.”

“Ek het al gehoor die manne op die platform eet glo baie lekker.”

Hy glimlag. “Ja, dit is so. Daar word hard probeer om hul verblyf weg van hul families aangenaam te maak. Daar is ook ’n ontspanningsaal, ’n gimnasium en mediese geriewe.”

“Hoe kom die werkers op die platform? Met bote?”

“Nee, per helikopter. Jy weet seker die platforms lê 85 kilometer suid van die dorp?”

Esbeth knik haar kop en wonder of dit die wyn is wat maak dat sy nie meer so erg gespanne voel nie. Skielik het sy ook die vrymoedigheid om hom te vra watter tipe werk hý doen.

“Ek is ’n instandhoudingsbestuurder.”

“Wat hou jy in stand?”

Hy glimlag. “Die platform. Skryf maandverslae, doen begrotings, reël met die personeelkantoor vir nuwe indiensnemings. Dis ook een van my take om vure dood te slaan.”

“Vure? Wat doen jy as daar ’n brand ontstaan?”

Sy glimlag word breër. “Daar is fasiliteite op die landaanleg vir die blus van werklike vure. Die vure wat ék probeer doodslaan, is dié wat deur die mens se tong gestig word. Wanvoorstellings oor Mossgas.”

“O, ek het in my geestesoog gesien hoe hardloop jy met ’n emmer water daar op die platform rond.”

Hy skrik toe hy hardop lag. Hy kan nie onthou wanneer sy lagspiere laas geprikkel is nie. “Vuur is ’n groot gevaar omdat daar met hoogs vlambare gasse en kondensate gewerk word, maar ons brandweer is toegerus met van die beste voertuie ter wêreld. Ek sal maar sleg afsteek met my emmertjie water.”

Esbeth gee ’n tintelende laggie wat ’n roekeloosheid in hom losmaak. Hy vang haar blik só intens vas dat sy nie kan wegkyk nie.

“Esbeth, ek glo baie mans het al vir jou gesê jy is mooi. Maar ék wil vir jou sê jy is asemrowend pragtig.”

Sy onverwagse woorde – en sy broeiende blik – jaag ’n gloed deur haar hart wat in haar wange eindig. Die atmosfeer is oombliklik gelaai. Haar blik sak en haar vingers vroetel met die tafeldoek toe sy heserig “dankie” sê. Sy moet haarself vermaan dat dit nie die eerste keer is wat hy so iets vir ’n meisie sê nie.

Haar skugterheid wil ’n beskermingsdrang in hom na vore bring, maar hy onderdruk dit. Dalk speel sy ook maar net ’n rol. Dalk is sy nie so ongekunsteld en onskuldig as wat sy lyk nie. Hy het ineens ’n dringende obsessie om te weet presies wie en wat sy is. Daar is geen bande wat hom bind nie. Hy hoef nie skuldig te voel as hy ’n flirtasie met haar aanknoop nie. Sy is half verwonderd toe hy oor die tafel reik en haar vroetelende vingers in sy hand vasvang.

“Hoekom kyk jy weg as ek vir jou sê jy is mooi?”

Sy blik hom vinnig aan en kyk dan deur die venster. Hy sien haar sluk.

“Jy moenie sulke dinge sê nie.”

“Hoekom nie?” vra hy sag. Sy lippe raak-raak aan die bokant van haar hand.

Sy maak haar oë toe, voel hoe die drang van vrouwees, van aan ’n man te behoort, haar bloed laat pols. “Ek is ’n getroude vrou.”

Hy los haar hand. “Hoekom het jou man nie teruggekom na jou toe nie?”

Sy gee ’n suggie. “Miskien leef hy nie meer nie.”

“Dan is jy nie meer ’n getroude vrou nie.”

“Die vliegtuig kon geval het. Hy kon oorleef het.”

“Dan sou hy mos teruggekom het, sou hy nie?”

“Hy kon geheueverlies opgedoen het. Dalk weet hy nie …”

“Dis moontlik, maar baie onwaarskynlik,” sê hy toe sy swyg.

Sy voel sy blik op haar, brandend. Hy vat weer haar hand. Hou dit in sy een hand vas terwyl hy haar vingers een vir een met die vingers van sy ander hand streel. “As hy geleef het, sou hy teruggekom het na jou toe. Ek sou as ek hy was.”

Dit raak te veel om te verduur. Sy probeer haar hand onttrek. “Jy moenie sulke stories praat nie.”

“Hoekom nie? Wil jy bly vasklou aan ’n droom wat nie meer bestaan nie?”

Sy pluk haar hand met ’n wilde beweging uit syne. “Ek weet nou hoekom jou vrou jou gelos het! Dis oor … oor jy nie ander vrouens kan uitlos nie! Jy’t natuurlik rondgeloop. Dis oor die goed wat jy vir meisies sit en toedig dat … dat …” Haar woordeskat laat haar in die steek, maar haar oë blits gevaarlik terwyl sy hom aangluur.

Hy besef hy het te ver gegaan. Tog voel hy half verlig oor haar reaksie. “Ek is jammer,” sê hy vinnig. “Ek het nie bedoel om jou kwaad te maak nie. En wat jy van my gewese vrou gesê het, is nie waar nie. Sy het my nie gelos oor ek ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop het nie. Sy het my gelos oor sy ’n ander man liefgekry het.”

“Dit sê elke man wat geskei is. Julle is mos áltyd die onskuldige party.”

“As ek skuld daaraan gehad het, is dit onwetend. En ek het kans gesien … om weer te probeer. Maar …”

“Ag, ja, toe maar, jy sal wel ’n verskoning hê. Alle mans het verskonings gereed wanneer hulle in ’n hoek gedryf word.”

“Moenie my verwyt vir dinge waarvan jy niks verstaan nie,” sê hy ineens so koud en afsydig dat Esbeth skrik.

Toe sy na hom kyk, is sy blik versluier agter sy donker wimpers en sy uitdrukking onpeilbaar. Daar is net die beweging van ’n spiertjie wat langs sy mondhoeke spring. Die gedagte aan sy kind wat dood is, laat haar half teen haar sin sê: “Ek is jammer, ek het nie bedoel om met jou te baklei nie.”

“Ek is ook jammer,” sê hy toe hy opkyk. “Ek moes jou nie uitgelok het nie.”

Die kelnerin kon nie op ’n meer geskikte oomblik opgedaag het nie. Die spyskaarte voor hul gesigte en die teenwoordigheid van ’n derde persoon verdryf die ergste ongemak, en bied Esbeth die geleentheid om tot verhaal te kom en te dink aan iets wat sy kan sê om die atmosfeer te verander.

“Jy het my nog nie klaar van Mossgas vertel nie,” sê sy toe die kelnerin wegloop. “Is die mense op die platform nie bang die branders spoel bo-oor hulle as die see onstuimig raak nie?”

Gustav is nie meer lus om oor reaktors, koue staaltenke en gasse te gesels nie. Hy wens dat hy liewer saam met haar langs die see kon gaan stap. Dat sy sou verstaan as hy haar vertel van die smart oor sy kind. Maar sy sal nie kan verstaan hoe erg hy seergekry het nie; dat die verlede hom met meer letsels gelaat het as net ’n geknakte ego nie.

“Raak die see wel soms so kwaai dat dit bo-oor die platform spoel?” dring sy aan op ’n antwoord.

“Nee, die see kan nie oor die platform spoel nie. Die platform is 220 meter hoog, waarvan 105 meter onder water is. Dit is volgens die hoogste veiligheidstandaarde gebou omdat die omgewing waar dit staan as net so ongenaakbaar beskou word as die Noordsee. Dit kan stormgolwe van tot 24 meter hoog en stormwinde van tot 170 kilometer ’n uur weerstaan.”

“Maar as dit wel gebeur dat daar iets verkeerd loop? Wat gaan die mense maak?”

“Daar is reddingsbote. En onthou, hulle is darem voortdurend in kontak met die mense van die kontrolekamer op die landaanleg. As daar dringende probleme ontstaan, sal ’n reddingsaksie onmiddellik van die land af uitgevoer word.”

Esbeth proe aan haar wyn. “Dit is dus heeltemal veilig om daar te werk?” vra sy steeds vertwyfeld.

“Ja, die akkommodasiemodule is ’n vuurvaste eenheid van vier verdiepings met drukreëling. Dis só ontwerp dat dit hitte van tot 1 000 grade Celsius vir ’n uur sal kan weerstaan, sou daar ’n brand uitbreek.”

“Dis amper vier keer warmer as my stoof se oond,” sê Esbeth vol ontsag. “En wat is die doel van daardie twee lang regop torings op die land met die vlam wat ’n mens selfs van my oupa se plaas af kan sien?”

“Jy praat van die fakkelstelsels. Hulle is 115 meter hoog, die hoogste in Suid-Afrika. Hulle is rookvry en verhoed dat skadelike gasse soos swaweldioksied en swaeltrioksied, wat die oorsaak van suurreën is, in die atmosfeer vrygelaat word.”

Hy vul haar glasie en Esbeth wonder of sy nie reeds te veel gedrink het nie, want sy sukkel om op sy antwoorde te konsentreer. Sy hande, mond en oë interesseer haar meer as sy praatjies oor Mossgas. Hoekom wens sy so sy kan oor ander dinge met hom gesels? Dat sy sommer ’n lang ent in die motor saam met hom kan gaan ry? Of voor ’n kaggelvuur kan sit met haar kop teen sy bene gestut? Of dalk kan hulle net ’n slag oor iets anders as sy werk gesels …

Tog is sy versigtig om van die onderwerp af te stap. Netnou kom hy agter sy is nuuskierig oor hom. Sy aanvaar dat hy nie daarvan hou dat sy in sy verlede delf nie. Sy kan tog nie sê nie: Jy geniet dit seker om nou weer vry te wees? En oor sy kind se dood wil sy ook nie praat nie, dit is ’n te emosionele saak. Mossgas bly maar die veiligste onderwerp.

“En wat gebeur dan met die gas wanneer dit op land kom?” vra sy dus.

“Dit gaan deur verskeie prosesse van afkoeling, toevoeging van stoom en suurstof ensovoorts, totdat jy uiteindelik dinge soos nafta kry wat dan na die petrolproduksie-eenhede gekanaliseer word, of diesel wat reguit na die dieselpoel gaan. Daar is verskillende aanlegte op die raffinadery-terrein, soos ’n hervormingsaanlag, waar die moerasgas in sintesegas omskep word. Die sintesegas gaan weer na die sintoleenheid, waar dit tot ligte olie en dekanteerolie omskep word. Van die sintoleenheid gaan dit na ’n relatiewe konvensionele raffinadery waar dit verwerk word tot die petrolbestanddele alkohol, alkilaat, butaan, ensovoorts. Ek wil jou nie verveel met allerhande ingewikkelde tegnieke nie. Alles saamgevat, beteken dit eintlik maar net dat dít wat die see miljoene jare sou neem om te produseer op land verkort word tot letterlik ’n paar minute.”

“Wat gaan gebeur as die gas opraak?”

“Daar word voortdurend ondersoeke gedoen om alternatiewe te vind om Mossgas se lewe te verleng. Een van die projekte wat op die oomblik aan die gang is, is om die herwinning van die gas wat nie deur natuurlike druk na die platform gevoer kan word nie, deur ’n kompressieproses te herwin. Daar is verskeie moontlikhede wat die projek se lewe vir ’n aansienlike tyd kan verleng.”

“Is dit darem lonend? Sou dit nie goedkoper gewees het om maar steeds al ons petrol in te voer nie? En aan wie word die brandstof verkoop?”

“Die projek bespaar Suid-Afrika jaarliks ongeveer een miljard rand aan buitelandse valuta. Van die eindprodukte word ongeveer vyftien persent per pad en spoor vir verbruik hier in Mosselbaai se verspreidingsgebied versprei. Die res word by Voorbaai in tenkskepe gepomp en na Port Elizabeth en Oos-Londen vervoer, waarvandaan die twee stede se bestaande oliemaatskappye dit in hul omliggende distrikte versprei.”

“Hoekom word die petrolprys nie verlaag as dit so goed gaan met Mossgas nie?”

“Die regering stel die prys van brandstof vas. Mossgas is maar net die vervaardiger daarvan.”

Hul geselsery word onderbreek toe die kos opdaag. En ’n rukkie lank eet hulle in stilte. Esbeth wonder waarom ’n elementêre gebaar soos die hantering van sy eetgerei haar so fassineer. Hy doen dit tog nie anders as ander mense nie. En die vraag bly by haar opkom waarom sy vrou hom dan vir ’n ander man verruil het. Sy kan, of liewer, wíl nie glo dat hy só ’n slegte eggenoot vir ’n vrou sal wees nie. Ook sy gedagtes moet met ander dinge besig wees, want hy vra skielik hoe oud haar seuntjie is.

“Hy word Septembermaand vier.” Dit gee haar ’n aanknopingspunt om ook van sy kind melding te maak. “Hoe oud was jou seuntjie toe hy oorlede is?”

“Hy was drie jaar oud.”

“Ek glo jy mis hom baie. Ek kan my nie die lewe indink sonder Eben nie.”

“My seuntjie se naam was Norman. Dit sal Saterdag ’n paar maande wees dat hy … nie meer leef nie.”

So kort? Dit raak stil in Esbeth. Sy verstaan nou die hartseer skaduwees wat daar maar knaend in sy blik skuil.

“Ek leer Eben nou perdry,” lei sy die gesprek subtiel in ’n ander rigting. “Eintlik ry hy al taamlik goed; hy oefen sommer daar op die werf rond. Maar ek het hom, toe ons laas op die plaas was, vir die eerste keer die veld in gevat. Hy geniet dit natuurlik vreeslik en het geen erg aan sy ma se senuwees nie!”

Gustav glimlag effens. “Jy is bevoorreg om jou kind van die plaaslewe te kan leer. Dit was altyd ’n droom van my; om eendag vir my ’n klein plasie te koop waar ek my kinders kan grootmaak.” Hy swyg ’n hele rukkie, sê dan: “’n Droom wat nou nooit bewaarheid sal word nie.”

“Miskien tog eendag,” sê Esbeth. “Wanneer jou seer nie meer so rou is nie.”

Hy beweeg stadig sy kop. “Vir wie sal ek dit koop?”

“Vir jouself. En vir … Dalk trou jy weer.”

“Nee,” sê hy skielik bot. “Ek sal nooit weer trou nie.”

“Jy kan dit nie sê nie. Hoe weet jy wat daar op jou wag?”

“Sal jý weer trou?”

Esbeth voel tot haar ontsteltenis hoe haar wange skielik weer vlam. “Ek is moontlik nog getroud.”

“En as jy bevestiging kry dat jou man nie meer leef nie, sal jy dan weer trou?”

Sy het moeite om haar blik weg te skeur uit syne. “Ek weet nie, want ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie.”

“Buiten dood en siekte kan ’n mens jou eie lewe reël.”

“Nie altyd nie.”

“Altyd.”

Esbeth voel hoe daar iets in haar in opstand kom. Sy voel skielik kwaad vir hom. Kwaad omdat hy so seker van homself is. Oor hy so presies weet wat hy wil en nie wil nie. En iets van haar ergerlikheid skemer deur in haar stem toe sy sê: “Jy is gelukkig. Dit lyk nie of die lewe jou al hard genoeg geslaan het om jou selfvertroue te knak nie.”

Sy stem klink ook nie meer so vriendelik nie, toe hy sê: “Juis omdat ek so hard geslaan is, weet ek ek kan nie meer in sprokies glo nie.”

Die oomblik toe die woorde uit is, is Gustav spyt hy het dit gesê. “Ek is jammer,” sê hy dan ook dadelik berouvol. “Dit is seker ’n goeie ding as ’n mens verwagtinge koester vir die toekoms. Moet dit net nie van mý verwag nie.”

“Jy klink bitter?” sê-vra Esbeth, ook spyt dat sy nie haar ergernis vir haarself kon hou nie.

“Nee, nie bitter nie. Net realisties. Kan jy vir my die sout aangee, asseblief?”

Die atmosfeer is bederf. En hul pogings om gemoedelik te wees, wil maar net nie op dreef kom nie. Esbeth eet langtand; sy weet nie hoe sy deur die berg kos op haar bord gaan kom nie. Ook Gustav se aptyt is nie meer wat dit was toe hy die bestelling geplaas het nie. Hoewel albei voorgee dat hulle lekker geëet het, sien hulle nie kans vir nagereg of koffie nie. En toe hulle die restaurant verlaat, ry Gustav reguit na tant Ralie se huis om Esbeth te gaan aflaai.

Hy stap in stilte saam met haar tot by die voordeur. Toe sy hom bedank vir die ete, skud hy sy kop. “Moenie dankie sê vir ’n mislukte aand nie. Ek is jammer ek kon dit nie vir jou aangenaam maak nie. Dis net … miskien is ek te bang vir myself om dit vir jou aangenaam te maak. Goeienag.”

Toe hy wegtrek, stoot Esbeth saggies die voordeur toe en bly onverklaarbaar hartseer in die donkerte van die gang staan.

Elza Rademeyer Omnibus 7

Подняться наверх