Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 7 - Elza Rademeyer - Страница 6

3

Оглавление

De Wet weet Esbeth het besluit om nie vir die naweek plaas toe te gaan nie omdat sy wil naaldwerk doen. Hy weet ook baie goed dat sy nie gesteur wil word nie, maar daar is ’n ongedurigheid in hom wat maak dat hy tog teen skemeraand aan haar woonstel se deur gaan klop.

Sy is verras om hom te sien. En ja, laat sy dit maar teenoor haarself erken, bly ook. Sy is moeg van die gesit agter die naaimasjien. En moeg van tob oor die lelike gedagtes wat die man van die kafee oor haar koester. Sy nooi De Wet dus vriendelik binne.

“Ek is bly jy het ’n bietjie oorgekom. My nek is al stokstyf.”

De Wet skep moed. “Hoe lyk dit, kan ons nie iewers iets gaan eet nie? Sommer iets ligs, want vir duur eet het ek nie geld nie.”

“Ek weet. Maar ék het geld. Ek het vanoggend die bruidsrok in my winkelvenster verkoop. Kontant, alles in note. Toe, wat sê jy?”

“Wat van jou naaldwerk?”

“Ag, môre is nog ’n dag. Ek voel ek het ’n bietjie ontspanning nodig.”

“Ek sal vir myself betaal.”

“Onsin. Ek nooi jou!”

“Nogtans.”

“Bog, man. Toe, kry jou ry, en gaan trek jou mooi aan. Ek gaan ook gou onder die stort inspring. Toe, weg is jy!”

Toe die voordeur agter De Wet toegaan, roep sy na Eben en draf haastig badkamer toe. Sy wil nie tyd hê om te wonder oor haar impulsiewe uitnodiging nie. Om oor alles te tob, bring niemand tog iets in die sak nie. Hoekom moet sy die hele aand hier in haar woonstel sit? Hoekom mag sy nie ook weer ’n slag leef en vat wat die lewe haar bied nie? Sy kan tog nie vir ewig wag om te kyk of Richard dalk weer gaan opduik nie. Sy skrop eers ’n protesterende Eben blink en gee dan aandag aan haarself.

Toe De Wet hulle kom oplaai, lyk sy dan ook prentjiemooi, en hy besef dat ou Lazy Daizy nou nie eintlik reg laat geskied aan haar skoonheid nie. Maar ’n ander voertuig het hy nie. Gelukkig lyk dit nie of dit Esbeth enigsins pla dat sy in so ’n skedonk moet ry nie. En Eben het vrede met die voertuig; hy babbel net oor die tjips en roomys wat hy gaan eet.

Die atmosfeer tussen hulle is gemoedelik tot die oomblik dat hulle die restaurant binnestap. Esbeth voel hoe haar lighartigheid op die plek taan, want daar op die onderpunt, naby die kaggel, sit die Opperman-vent. Sy rem terug toe De Wet haar ook in daardie rigting wil stuur.

“Kom ons sit sommer hier,” beduie sy na die leë tafeltjie langs hulle.

Hy kyk onseker van haar na die kelnerin wat by die tafeltjie regoor Gustav gaan staan het. “Ek dink sy het daardie tafel vir ons in gedagte …”

“Nee, dis te warm daar. Ek bedoel, ek wil nie so naby die vuur sit met Eben nie. Die hitte en koue … Kinders word maklik siek,” gryp sy stotterend ’n verskoning uit die lug.

“Alles in orde,” sê die kelnerin wat die laaste gedeelte van Esbeth se verduideliking opvang. “Hierdie tafel is nie bespreek nie. Sit gerus hier.”

Terwyl De Wet besig is met die wynlys, loer Esbeth ongemerk in Opperman se rigting en betrap sy blik vol op haar. Sy ruk haar kop onmiddellik weg, maar voel tot haar ergernis dat sy bloos. Gelukkig is die vertrek dof verlig. Hoewel die geselskap tussen haar en De Wet gesellig en vlot verloop, bly sy bewus van die man daar langs die vuur. En toe sy weer sien dat hy na haar kyk, weier sy om haar blik te laat sak. Sy bevestig as ’t ware sy is ’n straatslet! Dit is dan ook hý wat eerste wegkyk nadat hy sy kop in so ’n effense groetbeweging geknik het.

Sy en De Wet is halfpad deur hul dis, toe Opperman opstaan. By hul tafel steek hy vas.

“Goeienaand. Ek het nagelaat om myself vanmiddag aan u voor te stel. Gustav Opperman.”

Esbeth voel verplig om haar hand in syne te lê en is onmiddellik weer ontsenu. “Ek is Esbeth Wilcock. Dis … e … De Wet, en … e … dis Eben.”

Gustav reik ook vir De Wet die hand. Daarna vee hy vlugtig oor Eben se kop. “Geniet jul ete,” sê hy. En dan direk tot Esbeth: “Ek is jammer oor my opmerking van vanmiddag,” voordat hy omdraai en die restaurant verlaat.

Daar is ’n frons op De Wet se gesig toe Esbeth weer na hom kyk. Sy voel dus verplig om hom te vertel hoe verspot sy was om Gustav nader te gewink het die middag in die straat. Maar van die onwelvoeglike gedagtes wat Gustav Opperman jeens haar koester, sê sy liewer niks nie.

“Gee jy dan nog soveel om vir Richard?” vra De Wet half ontevrede.

“Ek weet nie,” sê Esbeth met ’n sug. “Moet my maar nie vra hoe ek oor Richard voel nie, want ek weet nie. Ek weet net dit het by my opgekom dat die man daar in die straat dalk Richard kan wees.”

“Het jy hom toe gevra of hy dalk familie van Richard is?”

“Nee, ek het nie. Ek het hom ook nie gevra of hy Frans Bruwer ken nie. Hy was te befoeterd. Hy het behoorlik gal gebraak oor ek so onverantwoordelik in die straat stilgehou het.”

“Lyk hy baie na jou … man?”

“Sy hare en sy bou, ja. Maar definitief nie sy gesig nie.”

“Vir watse opmerking het hy jou om verskoning gevra?”

“O, ek weet nie,” hou sy haar dom. “Ek kan nie onthou wat hy my alles toegesnou het nie. Maar kom ons gesels oor ander dinge. Ek het nie gekom om die aand te bederf deur oor die verlede te gesels nie,” maak sy vinnig korte mette van die onderwerp. Dis mos waar, regverdig sy haarself. Sy het nie hierheen gekom om oor Richard óf Gustav Opperman te gesels nie. Sy het gekom om die aand te geniet. Nie om te tob oor ’n man wat glo sy verkoop haar liggaam aan elke man op straat nie …

De Wet wonder. Hy kry die indruk sy probeer wegskram van ’n gesprek oor Gustav Opperman. Dit laat hom effens benoud voel. Hy weet nie wat presies dit is wat hy vir Esbeth voel nie, maar hy weet sy laat hom beslis nie koud nie. Gustav Opperman moenie nou dinge kom staan en befoeter met sy aantreklike bakkies en manlike styl nie. Hy wat De Wet is, gaan nie opgewasse wees teen ’n man wat soveel welvaart en sjarme uitstraal nie.

Van die restaurant af ry Gustav eers by die poskantoor aan om te kyk vir pos. Daar is net een posstuk waarin hy regtig belang stel. Dit is ’n brief van sy tant Mietie in die Transvaal. Toe hy in sy hotelkamer kom, skop hy sy skoene uit en rem sy das los. Dan gaan sit hy in die stoel voor die venster om die brief te lees.

Hy glimlag toe hy lees:

Ek is nou hartlik sat vir hierdie huis van my met sy tralievensters en lemmetjiesdraadheinings. Koop vir jou ’n huis, dan kom kook ek vir jou. Onthou, ’n hotel is ’n sondige plek. Netnoumaar ontaard jy daar en verloor jou sin vir die goeie dinge. Jy moet lig loop vir meisies wat van hotelle hul kuierplek maak. En onthou een drankie lei gewoonlik tot twee en drie en meer. Gaan jy darem gereeld kerk toe? En moenie in die see loop swem in die winter nie, al is dit warm. Dis net verkoue soek.

Hy grinnik hardop. Geen mens sal glo hy is al ’n man van twee en dertig jaar as hy dié brief lees nie. Maar toe hy verder lees, verdwyn sy glimlag: Moenie verbaas wees as daardie gewese vrou van jou dalk daar in Mosselbaai opdaag nie. Sy was die ander dag hier by my, en ek het my mond vervlaks verbygepraat en vir haar gesê in watter hotel jy tuisgaan. Sy het nie vir my gesê hoekom sy jou soek nie, maar ek voorspel weer moeilikheid as sy by jou uitkom, want dit lyk my sy glo dat jy haar maar weer met oop arms sal verwelkom ondanks die smart wat sy jou aangedoen het.

Sy blik beweeg net vlugtig oor die res van die brief. Hy is onthuts oor die feit dat Selma na hom soek. Hy sal verkies om haar nooit in sy lewe weer te sien nie. Wat sy gedoen het, kan nooit ongedaan gemaak word nie.

Die volgende dag sleep traag verby. Dis ook nie ’n lekker dag buite nie. Dit bly bewolk, daar waai ’n geniepsige windjie en die see se vuilgroen kleur bied geen opwinding nie. Toe die hotelkamer vir hom te eng word, ry hy Punt toe en hou in die parkeerterrein onder die ligtoring stil. Hy sit lank daar en kyk hoe die branders aangerol kom om hulself te pletter te loop teen die rotse. Dis asof hy homself met die geweld daarvan kan vereenselwig. Hy weet nie meer wat dit is om rustig te voel nie. Dis iets wat hy verleer het. Sy huwelik met Selma was voortdurend stormagtig. Hy was altyd op sy hoede, versigtig vir waarmee sy volgende vorendag kon kom.

Die wind waai ’n lagie sproeireën teenaan sy motor se voorruit vas, maar hy vee dit nie skoon nie. Wanneer hy aan die kind dink wat die vorige aand saam met sy ouers in die restaurant was, laat rus hy sy kop op sy arms oor die stuurwiel en sluk hard aan die knop in sy keel. Hy sit lank so, en toe hy wil ry, kom hy agter dis nie net die sproeireën wat sy uitsig belemmer nie. Daar is trane in sy oë.

Tant Mietie se brief lê soos ’n aanklag teen sy gewete op die tafeltjie voor sy bed wanneer hy die hotelkamer binnestap. Toe dit halfsewe raak, trek hy ’n pak klere aan. En terwyl die kerkhorlosie sy sewe slae slaan, sluip hy stil die kerk binne om op een van die heel agterste banke te gaan sit. Hy laat sak sy kop, maar dis stom diep in hom. Sy verstand wil nie woorde vorm om te bid nie. En sodra hy sy oë oopmaak, val sy blik op die mense voor hom in die bank – die paartjie van die restaurant en hul kind.

Toe die gemeente opstaan om te sing, bly die kind op die bank sit en Gustav vind dit moeilik om sy blik op die psalmboek in sy hand te hou. Hy wonder of die kind se ouers weet watter kosbare kleinood hulle in hul besit het. Dit word dik in sy keel toe hy aan sy eie klein Norman se graffie daar in Johannesburg dink. Here, hoe lank nog voor die pyn en verlange minder gaan word?

Tydens die preek kantel die kind voor hom se koppie teen sy ma se skouer vas. Sy bly dan ook sit toe die gemeente opstaan vir die slotsang. Gustav kan nie anders as om na die prentjie voor hom in die bank te staar nie. Herinneringe maak hom bewoë. Hy dwing sy blik weg van die kind en dit val op die man voor hom se skouers. Sy pak klere is al blink van ouderdom; die hempskraag is effens geskif. Maar hy is ’n aantreklike man en beslis nie slonsig nie. Sy blik verskuif na Esbeth wat so smaakvol aangetrek is. Dit lyk of die pa homself so ’n bietjie afskeep om goed vir sy vrou en kind te kan sorg.

Esbeth is salig onbewus van die misverstand waaronder die man in die bank agter haar verkeer. Sy weet nie eens wie daar sit nie. Haar gedagtes is nog by die preek. Sy is bly sy het die diens bygewoon. Dit het haar stof tot nadenke gegee. ’n Mens neem dinge so maklik as vanselfsprekend aan. Vergeet so maklik dat daar ’n Hoër Hand is wat jou seëninge vir jou uittel.

Toe die mense die kerk begin verlaat, laat sy toe dat De Wet vir Eben optel om hom motor toe te dra. Daar val ’n motreëntjie buite en die kerkgangers skarrel haastig om by hul motors te kom.

Gustav is ook by sy motor, maar hy sukkel so ’n bietjie in die donker om die deur oop te sluit, dus sien hy dat die gehawende motor reg voor syne blykbaar aan Esbeth en De Wet behoort. Dit laat hom vlugtig wonder waar die nuwer model dan is waarmee Esbeth gery het. Seker maar by ’n motorhawe vir herstelwerk.

“Jy moet bid dat ou Lazy Daizy vat,” sê De Wet vir Esbeth. “Sy hou nie van nattigheid nie.”

“Gits, ons kon met my motor gery het,” sê Esbeth. “Ek het nie daaraan gedink nie.”

En toe is dit ook so. Lazy Daizy wil niks weet nie. Sy proes net ’n paar rookwolke met ’n knalgeluid by die uitlaatpyp.

“En nou?” vra Esbeth.

De Wet slaan vies met sy vuis op die stuurwiel. “Ek sal moet stoot. Sal jy agter die wiel inskuif? Sit haar in tweede en hou jou voet op die koppelaar. Moet dit nie laat uitkom voordat die motor op spoed is nie. En as sy vat …” Sy sin breek af toe iemand aan die ruit klop.

“Het julle probleme?” vra Gustav toe De Wet die venster afdraai.

“Ja, die bloemen skedonk wil weer nie vat nie,” sê De Wet omgekrap. “Dis ’n ou streek van haar elke keer as dit reën. Wag, laat ek uitklim. As ek haar ’n stootjie gee, behoort sy te vat.”

Toe De Wet uitklim en Gustav ook agtertoe beweeg om te help stoot, skuif Esbeth agter die stuurwiel in. Maar die motor is vir haar vreemd, en ná die derde probeerslag vra De Wet vir Gustav of hy nie agter die stuurwiel sal inskuif nie.

Hy kry die motor met die eerste probeerslag aan die gang en hou onder ’n lamppaal stil. Esbeth loer ongemerk na hom – net toe hy ook in haar rigting kyk. Dit maak dat sy haar kop half verbouereerd wegruk. Sy het nie kans om te wonder oor die snaakse gewaarwording wat sy skielik ervaar het terwyl Gustav saam met haar in die motor was nie, want De Wet is gou by om by Gustav oor te neem.

“Ek sal agterna ry as jy wil,” sê Gustav. “Net om seker te maak julle haal die huis.”

“Dankie, maar dit sal nie nodig wees nie,” sê De Wet. “As sy eers gevat het, sal sy nie weer vrek nie. Baie dankie vir jou hulp, hoor.”

Esbeth voel teleurgesteld omdat De Wet Gustav se aanbod van die hand gewys het. Maar sy tob nie daaroor nie, want De Wet vaar so wild uit oor Lazy Daizy se wispelturigheid dat sy later nie meer haar lag kan hou nie.

“Toe maar, eendag as jy ’n ryk man is en alles besit wat jou hart begeer, verlang jy dalk terug na hierdie sukkeldae om jou lewe op te kikker.”

“Dit sal die dag wees! As ek ryk is, koop ek vir my ook ’n Mercedes soos Gustav Opperman. Ek wonder waar sy vrou is? Hoekom is hy dan altyd alleen?” En toe Esbeth nie antwoord nie: “Weet jy of hy getroud is?”

“Hy sal seker wees. Hy lyk nie meer so bloedjonk nie.”

“Nee, ek skat hy moet al by die dertig wees. Dalk is hy geskei. Deesdae skei die mense mos asof dit uit die mode geraak het om bymekaar te bly.”

Esbeth sê niks hierop nie, maar later die aand, terwyl sy in die bed klim, wonder sy ook waarom Gustav dan elke keer alleen is. Miskien is hy geskei. Dis ondenkbaar dat so ’n aantreklike man nog ’n alleenloper kan wees. Hy sal tog kan kies en keur onder die nooiens. Tensy hy glo elke vrou is ’n straatslet! dink sy sinies. Hy moenie dink sy sal hom maklik vergewe vir daardie opmerking nie, al het hy kamtig om verskoning gevra.

Toe haar ontsteltenis droom sy boonop van hom. Sien sy hom in haar droom weer soos hy gelyk het daar voor die kerk onder die straatlamp se lig. Die klammigheid in sy krullerige hare, sy ernstige gesig met die donker oë en die kuiltjie in sy ken …

Boonop onthou sy dit alles die volgende oggend tot in die fynste besonderhede. Sy gesig bly voor haar en hoe harder sy probeer om van die droom en sy gesig te vergeet, hoe meer prominent verrys dit voor haar. Die droom vervaag eers laatoggend toe haar winkel begin besig raak.

Gustav stryk met sy vingers deur sy windverwaaide hare en kyk deur die venster van die helikopter na die seeplatform en patrollieboot wat kleiner en kleiner word soos hulle daarvandaan weg beweeg. Van die reën en koue wind van gister was daar vanmôre met opstaantyd geen teken nie. Maar die moontlikheid dat dit weer kan toeslaan, is nie uitgesluit nie. Daar lê steeds ’n donker wolbank op die horison.

Hy is bly dat die probleem by die seeplatform gering was. ’n Vorige keer toe hy daar was, het die weer so guur geraak dat hy en die loods drie dae lank daar op die platform vasgekeer was. Hy het hom later regtig begin verveel, want al tydverdryf wat hy gehad het, was om sy spiere so ’n bietjie in die gimnasium op te knap.

Nadat hulle op George se lughawe geland het, haas hy hom na sy motor, want hy wil vandag nog by die Mosselbaai Advertiser se kantoor ’n besoek gaan aflê om die negatiewe prentjie oor Mossgas wat deur ’n oningeligte briefskrywer in die koerant geskilder is, reg te stel.

Dis dan ook toe hy by die Advertiser se deur uitkom, dat hy hom in Esbeth vasloop. Hy is so ingedagte dat hy letterlik teen haar bots. Gelukkig gryp hy haar betyds voor sy val. “Ek is jammer,” sê hy. “Ek het nie gekyk waar ek loop nie.”

Esbeth skrik, des te meer toe sy sien wie die persoon is wat haar amper in die grond laat ploeg het. Sy skud dadelik sy arms van haar af. “En nou verwag jy seker ek moet jou glo,” glip dit sarkasties oor haar lippe voordat sy haar kan bedink.

“Wel, ek … is jammer,” sê Gustav vir die tweede keer. “Ek het dit tog nie opsetlik gedoen nie.”

Esbeth voel hoe sy bloos. Sy verskuif ongemaklik op haar voete. Eintlik wíl sy kwaad wees vir hom, maar … wat help dit tog om kwaad te wees as hy kan sien hoe sy bloos? “Ag, natuurlik. Ek … is jammer oor my opmerking.”

Hulle kyk mekaar vlugtig in die oë, dan vinnig weer weg. Sy lig die bande van haar skouersak oor haar skouer. “My winkel wag. Ek moet gaan.”

“Hoe gaan dit met jul seuntjie?”

“Ekskuus?”

“Ek bedoel die seuntjie wat altyd by jou en jou man is.”

“Nee, jy misgis jou.” En toe sy sien hoe Gustav frons: “Ek en De Wet is nie getroud nie.”

“En die kind dan? Is hy joune of jou vriend s’n?”

“Myne. My man is … weg. Ek bedoel, ek dink hy is dood.” En toe sy sien hoe hy frons asof hy dink sy is van lotjie getik: “Wat ek bedoel, is dat my man verdwyn het. Hy …” Sy bly onbeholpe stil. Dit was nog nooit voorheen só moeilik om aan iemand te verduidelik wat van Richard geword het nie.

“Ek is ook haastig,” sê Gustav.

Maar Esbeth keer hom impulsief toe hy hom omdraai om te loop. “Wag eers, ek wou jou nog iets gevra het.”

“Ja?”

Die ietwat behoedsame uitdrukking op sy gesig laat haar ongemaklik voel. Sy moet soek vir woorde. “Ek het gehoor jy soek na Frans Bruwer. Is dit so?”

Die behoedsame uitdrukking maak plek vir nuuskierigheid. “Dit is so. Weet jý wat van hom geword het?”

“Nee, maar ek dink dat hy een van my man se vriende was. My man het ook vir my vertel dat hy en Frans baie na mekaar lyk. Jy en jou vriend Frans lyk dus ook na mekaar?”

“Ek glo so, ja. Frans se ma het baiekeer vir my gesê ons lyk na broers.”

“Dit is hoekom ek gedink het jy is dalk my man. Ek bedoel, hoekom ek my verbeel het jy kan dalk Richard wees. En dit was al rede waarom ek jou voorgekeer het in die straat. Die enigste rede.”

Hy hoor die klem op haar laaste sin en glimlag effens. “Ek hét jou mos om verskoning gevra oor my onsinnige opmerking.”

Sy glimlaggie doen snaakse dinge aan haar hart. Sy rem weer aan haar sak se band. “Ek sê maar net. En nou moet ek gaan. My winkel …”

“Jy weet nie waar my vriend Frans hom bevind nie?” val Gustav haar in die rede.

“Nee, ongelukkig nie. Ek het hom nooit eens self gesien nie.”

“Was hy ’n baie groot vriend van jou man?”

“Ek weet nie. Ek en my man, ons het mekaar nie lank geken voordat hy verdwyn het nie.”

“Sommer net verdwyn?”

“Ja, sommer net verdwyn,” vererg sy haar ligtelik vir die manier waarop hy die vraag stel.

“Daar bestaan nie dalk ’n moontlikheid dat hy en Frans saam kon verdwyn het nie?”

“Nee, hy was saam met ’n ander vriend van hom, Jack Benade. Hul vliegtuig het op pad Natal toe weggeraak.”

“Wanneer het dit gebeur?”

“Vyf jaar gelede.”

“Het jou man ook by die Wolwedansdam gewerk?”

“Ja.”

Gustav kyk op sy horlosie. “Ek is nou ’n bietjie haastig, maar kan ons nie op ’n ander tyd verder gesels nie? Miskien onthou jy iets wat my op Frans se spoor kan bring.”

“Nee, daar is niks wat ek van hom weet nie. Ek het maar net toevallig onthou dat my man een keer sy naam genoem het. En nou moet jy my regtig verskoon.”

Gustav kyk haar netjiese gestalte agterna totdat sy om die hoek van die gebou verdwyn. Hy skud sy kop toe hy in sy motor klim, asof hy daarmee ook haar prentjie uit sy geheue kan wis. Nou toe nou. En hy het haar nie eens gevra waar sy daaraan kom dat hy op soek is na Frans Bruwer nie.

Esbeth se hart klop onstuimig toe sy haar winkel binnegaan. Dit moet van die entjie se draf wees, dink sy. Wys jou net hoe onfiks sy is!

Elza Rademeyer Omnibus 7

Подняться наверх