Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 7 - Elza Rademeyer - Страница 8
5
ОглавлениеEsbeth ruk van die skrik toe die ganglig skielik aanknip. “O, dis tante!”
“Nou wie anders het jy dan gedink kan dit wees? Hoekom staan jy hier in die donker gang?”
“Ek het nou net hier gekom.”
“Nou net? Ek het die voordeur seker goed vier of vyf minute gelede hoor toegaan. Ek is besig om vir my tee te maak. Kan ek vir jou ook skink?”
“Ja, dankie, dit sal lekker smaak.”
“En toe, hoe het dit toe gegaan?” wil tant Ralie weet sodra hulle met die koppies tee voor hulle sit.
“Heeltemal goed, dankie. Die kos was baie lekker. Die slaaie ook.”
“Esbeth, hoekom lyk jy so … hoe sal ek nou sê? So snaakserig, amper of jy in ’n dwaal is? Wie is die man saam met wie jy gaan eet het?”
“Gustav Opperman. Ek hét tante mos gesê.”
“Ja, ek weet jy’t sy naam vir my gesê. Maar watse werk doen hy en waar bly hy?”
“Hy is ’n instandhoudingsbestuurder by Mossgas.”
“Hm, dis nogal ’n hoë pos.”
“Is dit?” vra Esbeth opreg verbaas.
“Wel, as ek dit nie mis het nie, is hy selfs hoër as die ingenieurs. Hoe oud is hy?”
“Ek skat hom so dertig.”
“Ek hoop nie jy was saam met ’n getroude man uit nie! Ek weet nie of ’n mens al hierdie vreemde mans in ons dorp kan vertrou nie. Wie sê vir jou hy het nie ’n vrou in die Transvaal of iewers nie?”
“Hy wás getroud. Hy is geskei.”
Tant Ralie raak skielik baie doenig met die roer van haar tee.
“O, geskei, sê jy. Kind, hoe gaan jy by jou oupa verbykom met dié een? ’n Geskeide man wat by Mossgas werk. Jy weet wat jou oupa van Mossgas se mense dink.”
“Ag, tant Ralie, dis mos nie dat ek met die man ’n verhouding wil aanknoop nie. Om die waarheid te sê, ek glo nie ek sal hom ooit weer sien ná vanaand nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat … wel, ons kliek net nie. Ons is nie op dieselfde golflengte nie. Hy het buitendien net oor sy werk gesels. Dis hoekom hy my uitgeneem het, om my in te lig oor die voordele wat die Mossgas-projek vir ons land inhou.”
“Is dit ál waaroor julle die hele tyd gesels het?”
“Eintlik, ja.”
“Og, nee wat, dan beter jy maar laat staan. Niks kan meer vervelig wees as om met ’n man te trou wat oor niks anders as sy werk kan praat nie. Het hy nou wraggies nie eens vir jou vertel hoe mooi jy lyk nie?”
Esbeth glimlag. “Ja, hy het darem gesê ek lyk mooi.”
“Dan sal jy hom weer sien. Wees net versigtig. Onthou, ’n skeisaak het altyd twee kante. Moenie dat hy nonsens aan jou opdis nie.”
“Ag, ek dink regtig nie ek sal hom weer sien nie, tante. Hy het mos nou die kans gehad om my alles van Mossgas te vertel wat hy wou.”
“Nou wat sê hy van die projek? Hoekom bly die prys van petrol so hemelshoog?”
“Mossgas bepaal nie die prys nie. Die regering bepaal die prys.” Sy gee ’n oënskynlik moeë gaap, want as sy nie ’n plan maak om by haar woonstel uit te kom nie, gaan tant Ralie straks agterkom sy onthou weinig van Gustav se praatjies oor die projek. “Ek beter nou maar ry. Ek voel nogal moeg.”
“Los vir Eben hier by my vir die nag. Hy slaap al. Jy kan hom môre kom haal. Dis nie goed om hom nou uit die warm bed in die koue uit te vat nie.”
Esbeth weet dit was die beste ding om Eben by tant Ralie te los, maar die woonstel voel leeg sonder hom. Toe sy nie dadelik aan die slaap kan raak nie, glo sy dis oor die leë bed in die kamer. Sy probeer haar indink hoe Gustav moet voel oor so ’n leë bedjie. En sy wonder oor die betekenis van sy afskeidswoorde.
Toe die horlosie voor haar bed op twaalfuur staan, draai sy verwoed op haar ander sy. Sy sal nou voorwaar wakker lê oor ’n man! Asof die lewe haar nie geleer het jy kan hulle nie vir ’n minuut vertrou nie!
Die volgende oggend gaan sy eers kerk toe voordat sy Eben by tant Ralie gaan haal. Toe sy haar woonstel weer binnestap, lui die telefoon. ’n Vlietende oomblik dink sy aan Gustav. Sy staal haarself as ’t ware toe sy die gehoorstuk van sy mikkie lig. Of dis wat sy aanvaar totdat hy sê: “Ek verstaan jy het gisteraand saam met Gustav Opperman gaan eet! Hoe lank ken jy die vent nou al?”
“Waar kom Oupa daaraan dat ek saam met hom gaan eet het? Genade ons, ek het nie gedink skindernuus kan só vinnig versprei nie!”
“Skindernuus? Hoekom noem jy dit skindernuus? Het jy dan iets om weg te steek?”
“Nee, ek het niks om weg te steek nie. Maar wie het vir Oupa gesê ek het saam met hom gaan eet?”
“Hy’t dit self vir my gesê.”
“Hyself?”
“Ja, hy is so ’n rukkie gelede hier weg. Het glo sommer net ’n bietjie hier rondgery om die omgewing te verken.”
“Nou hoe het hy by Oupa uitgekom?”
“Hy’t kom verneem of ek nie weet waar sy vriend hom bevind nie.”
“En toe?”
“Toe niks nie. Ek kon hom nie sê waar Frans Bruwer is nie, maar ek het hom vertel wat ek van die Mossgas-gespuis dink!”
“Ai, Oupa.”
“Kind, ek kan nie van my hart ’n moordkuil maak nie. En jy kan mos nou self sien hoe maak daardie spul. Kyk, daar het sy vriend ook loop staan en verdwyn. En jy weet self dat ou Stien se kleinniggie ook gevang was deur een van die Mossgas-werkers. Daar sit sy nou met die kleintjie, en die pa het pad gevat terug Transvaal toe. Nooit weer van hom gehoor nie. Jy was maar net gelukkig dat Richard jou darem landdros toe gesleep het, anders was dit straks dieselfde met jou.”
“Ai, Oupa.”
“Ja, toe maar, ai maar. Moet net nie jou kop vir ’n tweede keer loop stamp nie. Wat weet jy van dié Opperman af? Hy kan ’n skurk wees!”
“Ai … Ek bedoel, Oupa is darem nou regtig onredelik. En buitendien, ons het net gaan éét, niks meer nie. Vergeet van Gustav Opperman. Oupa hoef regtig nie bekommerd te wees dat ek my met hom sal ophou nie.”
“Nou ja, ek wou maar net sê. Dan groet ek nou maar weer. Jy kom seker volgende naweek huis toe, of hoe?”
“Ja, dit is my plan.”
“Goed dan.” En klik sê die telefoon in haar oor.
Toe sy die gehoorstuk terugplaas op sy mikkie, is sy regtig in ’n dwaal. Wat op aarde het Gustav by haar oupa Janus op die plaas gaan maak? Het hy regtig gaan navraag doen oor sy vriend? Sou hy haar dan nie geglo het toe sy vir hom gesê het sy het hom nooit eens gesien nie? En gisteraand by die ete het hy nie een keer Frans Bruwer se naam genoem nie.
Haar oupa is nie al een wat weet sy het saam met Gustav gaan uiteet nie. Maandagoggend toe sy en De Wet werk toe ry, vra hy ook uit die bloute: “Het jy jou ete saam met Gustav Opperman toe geniet Saterdagaand?”
Sy kyk vinnig na hom, maar sy oë is stip op die pad. “Hoe weet jy ek het saam met hom gaan eet?”
“’n Vriendin van my ma het julle gesien. Sy en haar man het ook gaan uiteet.”
“O, ek sien.”
“Wel, was dit lekker?”
“Ja, die kos was lekker, dankie.”
Hy is lank stil voor hy weer praat. “Ek wens ek het ook baie geld gehad. Dit moet lekker wees om alles te kan doen wat ’n mens graag wil.”
“Soos?”
“Soos om iemand te nooi om saam met jou te gaan uiteet wanneer en waar jy wil. Of om sommer net op ’n lekker lang vakansie te gaan. En om met ’n statusmotor rond te ry.”
“Ja, dis ongelukkig nou so dat rykdom nie vir almal beskore is nie. Maar troos jou daaraan, jy is nie die enigste een in die armmansbootjie nie. Ek dink minstens nege tiendes van die mensdom het nie genoeg geld om te doen wat hulle graag wil nie. Daar is ook diegene wat oorgenoeg geld het, maar nie die gesondheid om enigiets te geniet nie.”
“Hm, so ek moet my seëninge tel. Dis wat jy eintlik vir my sê.”
Sy bly hom ’n antwoord skuldig, want hulle hou voor die winkels stil en daar is reeds klante wat op De Wet wag. Ook haar winkel kry vroegoggend ’n paar besoekers. Toe daar vir haar ’n ruiker opdaag, kry sy nie dadelik die geleentheid om te kyk van wie die groot bos proteas kom nie. Eers nadat die klante weg is, stap sy nader om dit te besigtig. Van wie op aarde kan dit wees? Dalk een van die dames vir wie sy klere maak?
Toe sy die kaartjie oopvou, lees sy: Beskou dit asseblief as ’n soenoffer vir Saterdag se mislukte ete. Gustav. Haar lyf begin onbedaarlik bewe. Sy is oneindig dankbaar dat daar niemand in haar winkel is nie. Al haar vaste voornemens van die vorige aand om nooit weer aan Gustav Opperman te dink nie, is daarmee heen. Hoe kan ’n mens ’n man vergeet wat vir jou so ’n pragtige ruiker stuur?
Maar sy wag verniet dat die telefoon moet lui, want sy sien of hoor niks weer van Gustav nie. Nie voor die Saterdagoggend toe sy gou wegglip bank toe nie. Sy is op pad uit, en hy op pad na binne, toe hulle mekaar in die bank se deur raak loop.
“Gaan dit goed met jou?” wil hy weet, sy donker oë so deurdringend in hare dat sy voel hoe alles om haar vervaag.
“Ja, dankie. En met jou?”
“Ook goed, dankie.” Hy aarsel effens voor hy sê: “Ek was verlede Sondag daar op jou oupa se plaas.”
“Oupa het so iets genoem, ja,” sê sy, en verwens die blos wat sy weet haar wange verkleur.
“Hy het my vertel van die Kleinbosdam. Die dam wat glo eers die hele Mosselbaai van water voorsien het. Volgens hom het die dam ’n baie interessante struktuur.”
“Ag, dis eintlik ’n baie simpel ou dammetjie, maar wat mooi is, is die natuurskoon.”
“Ja, jou oupa het so gesê. Ek het gewonder of jy my nie eendag sal gaan wys waar die dam geleë is nie. Jou oupa sê ek sal dit nie maklik alleen kry nie.”
“O, dit sit daar in die omgewing van Gonnakraal. Jy moet ook toestemming hê om daar in te gaan.”
“By wie vra ek toestemming?”
“By die munisipaliteit.”
“As ek toestemming kry, sal jy saamgaan?”
Sy kyk ongemaklik weg. En toe sy terugkyk, is sy blik steeds so senutergend vas op haar gesig, dat sy vinnig inwillig en toe sommer haastig wegstap. Maar toe sy weer haar winkel binnegaan, voel dit of sy sweef. Of sy dit wil erken of nie, Gustav Opperman laat haar hart vinniger klop, al probeer sy hóé hard om geen waarde te heg aan die bietjie belangstelling wat hy in haar toon nie. En sy het skoon vergeet om hom te bedank vir die pragtige ruiker …
Sy het ook kwalik die middag op die plaas geland, of oupa Janus wil weet of sy die Opperman-vent weer gedurende die week gesien het.
“Ek het hom vanoggend in die bank raak geloop, ja.”
“En toe?”
“En toe wat?” vererg sy haar. “Ons het nie tyd gehad vir gesels nie. Hy was op pad in en ek op pad uit. Ons het eintlik maar net gegroet.”
“En De Wet, daardie mannetjie van die groentewinkel langs jou klerewinkel?”
“Wat van hom?”
“Sien julle mekaar nog gereeld?”
“Ja, Oupa, elke dag. Ons ry nog steeds saam werk toe deur die week.”
“Ek hou van hom.”
“Oupa het hom nog maar net twee keer gesien,” beskuldig sy hom. “Is dit nie ’n bietjie gou om hom op te som nie?”
“Nee, ek kyk net na ’n man se hande. As dit grof is, weet ek hy skrik nie vir werk nie.”
“Ek wil gou vir Eben ander klere gaan aantrek sodat hy buite kan speel,” verander Esbeth die onderwerp. Maar terwyl sy die takie uitvoer, dink sy met ’n tikkie ironie daaraan dat haar oupa natuurlik Gustav se hande ook bekyk het. En omdat dit nie grof en gebars is nie, het hy besluit Gustav is nie ’n mán nie. By hom is ’n ding mos net wit of swart. Niks tussenin is reg nie.
Die aand aan die etenstafel haal oupa Janus weer Gustav se besoek aan die plaas op. “Ou Frik het hom loop wysmaak ek sal dalk weet waar sy vriend is. Hoekom het jy hom nie die aand toe julle saam gaan eet het, vertel ons weet niks van dié Frans Bruwer af nie?”
“Dit het nie ter sprake gekom nie.”
“Esbeth, wat se danige geëtery is dit? Lê die man by jou aan?”
“Ag, dit was ’n doodonskuldige ete, Oupa. Hy wou my maar net inlig oor die Mossgas-projek omdat al wat leef en beef so ’n skewe beeld het van wat daar aangaan.”
“Nou wat gaan daar aan?”
Sy gee hom ’n vinnige opsomming van wat Gustav haar vertel het. En dis skielik vir haar belangrik dat oupa Janus meer positief oor Mossgas moet wees.
“Tannie Emma van Glentana het my ook nou die dag ’n interessante ding vertel toe sy daar in my winkel was,” sit sy haar storie voort. “Ek weet nie of Oupa nog onthou van die houer met gifstof wat daar op Glentana se strand uitgespoel het nie?”
“Ja, ek herinner my so iets. Dit was ’n hele paar jaar gelede. Begin 1992 of daar rond. Wat sê ou Emma daarvan? Ek kan nie onthou dat ek in die koerant gelees het wat toe daarvan geword het nie.”
“Dit was Bisteril en vermoedelik van ’n Amerikaanse skip afkomstig. Glo ’n sterk senuweegif, uiters toksies en daar bestaan geen teengif daarvoor nie.”
“Ja,” sê oupa Janus, “ek onthou hulle het gesê dis so dodelik.”
“Nou wel, daardie gif is deur Mossgas verwyder en onskadelik gestel. Hulle het die fasiliteite gehad om dit te kon doen. So, Mossgas is darem nie nét sleg nie. Hulle doen ook goeie dinge daar. ’n Vrou wat van een van die plase daar naby die Blinderivier af kom, het my weer vertel van al die voëlspesies wat nou langs die rivier aangetref word. Volgens haar word van die landaanleg se oortollige water gesuiwer en in die rivier gestort. Dit maak dat die voëls nou ná jare teruggekom het om daar te kom nes maak. Sy sê by die stortingsterrein se damme by die landaanleg word glo net so baie skaars voëlsoorte aangetref. Ek kan nie onthou watter soorte sy almal opgenoem het nie, maar sy het onder andere van die steenloper gepraat wat van die Noordelike Halfrond af kom om die somermaande hier te kom deurbring.”
“Hm, Opperman het ook gepraat van die Kaapse ooruil en bloukraanvoëls wat daar op die stortingsterrein hul krose kom grootmaak.” Oupa Janus stop sy pyp tydsaam en blaas die rookwolk die lug in. “Hy beweer daar was in 1987 maar ’n skrale drie na vier dae se brandstofvoorraad in die land oor; met die groot vloede in Natal en die brande daar by Sasolburg.”
Esbeth is verbaas om te hoor dat haar oupa en Gustav oor Mossgas gesels het. En oor dinge soos voëls. As oupa Janus niks van ’n mens hou nie, wys hy dit gewoonlik so duidelik dat die gas maar liewer spore maak. Sy sal bitter graag meer van hul gesprek wil weet, maar is te bang om uit te vra. As oupa Janus agterkom sy is nuuskierig, sal hy dalk dink daar is meer tussen haar en Gustav as wat sy te kenne wil gee.
Oupa Janus vertel ook niks verder nie, en sy moet maar later met haar nuuskierigheid gaan slaap. ’n Rustelose slaap, want sy word weer die hele nag geteister met drome oor Richard en oor Gustav.
Die Sondagoggend ná ete, toe Eben slaap, neem sy haar kans waar om self ’n bietjie slaap in te haal. Dis egter nie lank nie, of oupa Janus kom maak haar wakker. “Daardie vent is hier. Hy wil jou sien.”
“Watter vent? Wie?” vra sy deur die slaap.
“Gustav Opperman.”
Sy is onmiddellik wawyd wakker. “Waaroor?” wil sy verskrik weet.
“Hy sê jy het belowe om saam met hom na Kleinbosdam toe te ry.”
“O? … Goed, sê vir hom ek kom.”
“Jy moenie draai nie. Ek weet g’n wat om met die man te praat nie.”
Ondanks oupa Janus se vermaning, vertoef sy tog langer as wat nodig is in die kamer. Daar is skielik ’n tinteling dwarsdeur haar lyf en ’n bloesende kleur op haar wange wat nie deur die slaap veroorsaak is nie.
Toe sy uiteindelik haar moed bymekaarskraap en in die deur van die sonkamer verskyn, staan Gustav galant van sy stoel af op. “Ek is jammer as ek jou gesteur het. Jou oupa het nou eers vir my vertel jy het gelê en slaap.”
“Ag, nee, dis darem nie so erg nie. Eintlik raak ’n mens net bederf deur so ’n middagslapie.”
“Sal jy saam met my dam toe ry?”
“Ja, dis alles reg. Ons kan net nie te laat terugkom nie. Ek moet nog kom inpak om voor donker terug te wees by die huis. Oupa wil nie hê ek moet in die donker ry nie.”
“Vat vir Eben saam,” sê oupa Janus. “Die buitelug sal die kind goed doen.”
Asof Eben nie die hele dag buite gespeel het nie, dink Esbeth sinies. Sy weet maar te goed wat die ware rede agter oupa Janus se versoek is. Maar sy gaan maak tog vir Eben wakker. Dit sál beter wees as hy saamgaan. Want hoe goed ken sy Gustav nou eintlik? Daar is nie mense of huise naby die dam nie. En daar is hierdie verlange in haar … Nee, knip sy haar gedagtes vinnig kort. Sy mag nie verlangens na ’n man koester nie. Moontlik is sy nog ’n getroude vrou.
Toe hulle wegtrek, beloer sy die man langs haar. Hy het ’n donkerblou langbroek en ’n grys windjekker aan. Hy lyk té goed daarin. En sy gesig lyk ontspanne. Toe hy na haar kant toe kyk en sy nie betyds haar kop kan wegdraai nie, sê sy vinnig: “Ons sal ’n hele ent moet stap. Ek weet nie of oupa Janus jou gesê het nie?”
“Ek het so verstaan, ja. Dié dat ek gemaklike skoene aangetrek het.”
Eben kom hang oor die rugleuning. “Ek het tekkies aan,” spog hy. “Oom het nie tekkies aan nie!”
“Nee, maar my skoene kan net so ver en vinnig soos joune loop.”
“Ek was al by die dam,” spog Eben verder.
Esbeth laat hom ’n rukkie lank begaan, maar sit dan sy geselsery stop. “As ek hom toelaat om aan te hou borduur, sal niemand anders ’n beurt kry om iets te sê nie,” sê sy vir Gustav.
“Is alle kinders nie maar dieselfde nie? My seuntjie … kon net so baie babbel.”
Sy hoor die swaarkry in sy stem en sê impulsief: “Vertel my van hom. As jy wil …?”
Hy is verbaas. Gewoonlik skram mense weg van die dood. Tog, vir die eerste keer sedert Norman se dood, koester hy nie ’n verlange om oor sy kind te praat nie. Dis of die lieflike sonskyndag en natuurskoon sy pyn ietwat temper. “Nie vandag nie,” sê hy sag. “Ek het ’n strawwe week agter die rug. Vandag wil ek ontspan.”
“Ek het jou nog nie bedank vir die ruiker nie,” sê Esbeth. “Dit is ’n pragtige bos blomme.”
Hy glimlag skeef. “Dankie dat jy my soenoffer aanvaar het.”
“Moenie jouself verwyt nie. Ek het ook skuld daaraan. Ek kom agter ek is erg oorgevoelig in die laaste tyd.”
“Is dit omdat ek jou aan Richard herinner? Verlang jy na hom?”
“Nee, ek verlang nie na hom nie. Eintlik is ek bang dat hy dalk kan terugkom.”
“Hoekom is jy bang?”
“Omdat ek nie weer kans sien vir ’n lewe saam met hom nie.”
Hy blik haar vinnig aan. “Is daar ’n ander man in jou lewe? De Wet dalk?”
“Nee, daar is nie iemand anders nie. Ek en De Wet is net vriende.”
Esbeth wonder of dit ’n verstandige ding was om in te stem om saam met hom dam toe te gaan. Dis ’n afgeslote gebied. En hy besit nou eenmaal daardie onweerstaanbare aantrekkingskrag wat haar denke laat swymel.
Hy wonder waarom sy hom vertel dat sy nie meer ’n gevoel vir haar man koester nie. Is dit dalk om hom te laat verstaan dat sy oop is vir flirtasie? As sy hom glad nie toegeneë was nie, sou sy nie ná die mislukte ete ingewillig het om saam met hom dam toe te ry nie. Miskien moet hy van sý bangheid ontslae raak en haar toets. Dit is in elk geval die enigste manier om sekerheid te kry oor hoe sy oor hom voel. Sy kan maar net een van twee dinge doen. Hom óf afjak, óf saamspeel.