Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 7 - Elza Rademeyer - Страница 9
6
ОглавлениеEsbeth weet nie wat daar in Gustav se gedagtes omgaan toe hulle voor die hek waarvandaan hulle sal moet voetslaan, stilhou nie. Sy voel verlig om uit die motor te kan klim. Dit het erg beknop begin voel daar so naby hom.
Die pad kronkel tussen jong denneboompies deur en die son speel wegkruipertjie tussen die stamme. Esbeth en Eben se gesprek oor kabouters en feetjies wat saans tussen die bome kom dans en speel, laat Gustav ineens weer vuriglik verlang na sy eie klein Norman.
“Jy moenie hoë verwagtinge koester van die dam nie,” sê Esbeth toe hulle dit begin nader. “Dis eintlik maar ’n klein dammetjie in vergelyking met Wolwedansdam of die Moordenaarsrivier se dam.”
Hy skud sy somber gedagtes af. “Die natuurskoon maak die uitstappie die moeite werd.”
“Wag tot jy by die waterval agter die dam kom. Daar is dit éérs mooi. Jy moet die boomvarings sien!”
“Ek het nie geweet daar is ’n waterval ook nie.”
“Ag, dis nou nie ’n baie indrukwekkende waterval nie, maar dis nogtans mooi.”
“Ek hoor water loop,” sê hy ná ’n rukkie toe die pad vernou tot ’n voetpaadjie.
“Dis die dam se oorloop wat jy hoor. Ons is amper daar. Kom, Eben, gee jou hand. Hier is ’n gevaarlike afgrond en die paadjie is glibberig.” Maar toe sy haar hand uitsteek, ontwyk Eben dit om sy hand ewe vertroulik in dié van Gustav te gaan lê.
Terwyl sy met die steil voetpaadjie voor Gustav uitklim, kan hy nie anders as om die rondinge van haar sitvlak onder die styfspannende denim te bewonder nie. En asof sy bewus is van sy blik, klim sy oorhaastig voor hulle uit en gaan wag op hulle waar die dam se oorloop in sig kom.
Gustav kom staan langs haar. “Dis baie anders as wat ek my dit voorgestel het,” sê hy.
“Ek het jou mos gewaarsku. Dis net Oupa wat dink die dam is so besonders.”
“O, maar ek dink ook dis besonders. Ek het ’n prentjie van ’n saai plaasdam met ’n paar varings in my kop gehad. Hierdie dam herinner ’n mens aan die paradys.”
“Kom, sê Esbeth. “Ek wil hê jy moet sien hoe die dam self lyk. Bo-op die wal agter die traliewerk is ’n paadjie waarvandaan jy ’n pragtige uitsig op die rivier hier onder het. Ons moet net eers hier oor die klippe. Pas net op, hulle is glad, hoor.”
“Toe maar, ons sal regkom,” sê Gustav terwyl hy Eben op sy skouers tel. “Wees jy ook maar net versigtig.”
Toe hulle dan ook ’n rukkie later bo-op die damwal agter die traliewerk tot stilstand kom en Gustav na die donker water met die weerkaatsing van varings daarin kyk, voel hy hoe iets stadig in hom losknoop. Hy weet nie of dit die oefening of die verruklike natuurskoon is wat dit aan hom doen nie, maar hy haal skielik vryer asem. Dis die eerste keer vandat Norman dood is dat hy so ontspanne voel.
“Dit ís ’n mooi gesig, nè?” sê Esbeth sag.
“Dit is pragtig,” stem hy saam en tel Eben van sy skouers af. “As ek geweet het dit lyk só hier, het ek jou vanoggend vroeg al kom oplaai sodat ons die hele dag hier kon deurbring.”
“Vroeër het ons dikwels hier kom piekniek hou vir die dag,” sê Esbeth. “Toe ek nog klein was en my ouma nog geleef het.”
“En jy en Richard?” vra hy onverwags.
“Ons was een keer saam hier. Kort ná ons ontmoeting, toe ons nog baie verlief was …” Haar woorde droog sommer vanself op. Maar toe sy opkyk in sy oë, voeg sy blosend by: “Oupa Janus was ook by.”
Hy bemerk haar skielike ongemak en verlustig hom in haar bekoorlike skoonheid. Sy fassineer hom. ’n Roekelose begeerte om haar te soen, kom in hom op. Hy beweeg ongemerk nader aan haar terwyl hy sê: “Ek is dankbaar oupa Janus het nie vandag ook saamgekom nie.”
Sy glo sy weet wat hy bedoel. Haar keel raak plotseling horingdroog en haar stem is hees toe sy probeer om ’n ander wending aan die gesprek te gee. “Dis nog mooier by die waterval as hier.”
“Ek gee nie om of dit mooier is daar nie,” sê hy skielik teenaan haar. “Jý is al vir my mooi genoeg om na te kyk.”
Sy nabyheid is te veel om te verduur en toe sy vingers in die hare agter haar nek verstrengel raak, draai hy haar om sodat sy nie anders kan as om na hom te kyk nie.
Vir ’n lang, lang smeulende oomblik kyk sy hom net aan. Sy voel soos ’n gloeiende kool wat wag om op te vlam. Toe sy kop nader kom, huiwer sy. Maar dan maak sy haar oë toe en bied self haar mond vir hom aan.
Gustav aarsel. Hy het nie verwag dit sou so maklik gaan om haar te soen nie. Dit kom by hom op om haar net op die voorkop te soen omdat die situasie so maklik handuit kan ruk hier in die afgesonderdheid. Maar toe sy haar arms ook om sy nek sit, kan hy homself nie langer in toom hou nie.
Sy lippe streel senutergend lank oor haar ooglede en wange voordat dit oor haar mond sluit. Wat sy te wagte was, weet Esbeth nie, maar gewis nie dat sy soen soveel opstuwende emosies in haar sou ontketen nie. Dit is amper ’n onbegonne taak om te onthou dat sy hom net ’n les wil leer.
Hy hoor haar klein snakkies van genot uiter toe hy haar vas teen sy lyf trek, en dink daaraan dat hulle met vuur speel, maar hy kan homself nie meer keer nie. Hy soen haar voorkop, die punt van haar neus, die kloppende kuiltjie in haar nek …
Sy wag totdat hy honger van drif met haar bloes se knope begin peuter voordat sy met ’n vinnige beweging losruk en ’n smalende laggie gee. “So, op straat wil jy nie deur slette lastig geval word nie, maar in die boendoes gee jy nie om nie. Dáár mag hulle jou maar uitlok!”
As hy uit die veld geslaan is deur haar houding, wys hy dit nie. Voordat sy kan padgee, kry hy haar aan die arm beet en trek haar doelgerig nader.
“As jy ’n slet was, sou ek jou nie weer opgesoek het nie. En of jy dit wil erken of nie, jy staan nie so onverskillig teenoor my as wat jy nou probeer voorgee nie. Wil jy stry?”
Sy kyk na die gelerige spikkeltjies in sy oë en voel hoe haar wange van verleentheid warm word. Haar aangeplakte bravade neem die wyk. “Los my!” pleit sy hees toe sy kop weer nader kom.
“Ek sal, sodra ek seker gemaak het jy het nie bedoel wat jy gesê het nie.”
“Hoekom doen jy dit aan my?” vra sy bewerig.
“Omdat ek jou nie kan weerstaan nie,” sê hy ernstig met sy mond so te sê op haar lippe.
Sy kry nie kans om hom te antwoord nie. En sy het ook geen krag om haar teë te sit toe sy soen haar tot passievolle hoogstes voer nie. Haar uitings van genot is dié keer eg en allermins geveins. Maar toe hy uiteindelik weer sy kop oplig, los hy haar só vinnig dat sy amper haar ewewig verloor. Nou eers sien sy ook waar Eben hom bevind!
As hy moet gly! Sy stuur smekende gebedjies na Bo terwyl Gustav paaiend met die outjie gesels en versigtig nader loop om hom van die gevaarlike gladde rotslysie te red. Sy sidder in afgryse toe sy na die afgrond kyk.
Eers toe hy en die kind uiteindelik veilig na haar toe aangestap kom, kry haar lam bene weer lewe en kan sy hulle huilend van verligting tegemoet storm.
Hy oorhandig Eben soos ’n kosbare kleinood aan haar en wag geduldig totdat haar trane bedaar voordat hy gelykmatig sê: “Jou bloes se knope is nog los.”
Haar wange raak vuurrooi toe sy afkyk. En wanneer sy vinnig haar rug op hom keer, hoor sy hom saggies lag.
Wat haar besiel het! dink sy selfveroordelend. “Hoekom lag jy? Dis nie wat jy dink nie!” snou sy hom van skone skaamte toe.
“Wat dink ek?” vra hy tergerig.
“Ek weet jy glo nou ek is tóg maar ’n straatvrou!” sê sy met haar rug steeds na hom gekeer.
“Wat laat jou dink ek glo so?”
“Dis ’n logiese afleiding.”
“Maar nie noodwendig waar nie.” Hy loop tot langs haar. “Jy hoef nie skaam te wees nie. Die Engelse spreekwoord sê mos: ‘It takes two to tango.’ Jy het nie alleen skuld aan wat gebeur het nie.”
“Maar ek voel goedkoop,” sê sy na aan trane.
Hy draai haar om na hom toe. “Jy het glad nie nodig om so te voel nie. Kom ons vergeet van die episode. Gaan wys vir my die waterval.”
Esbeth stap met ’n gevoel van teleurstelling voor hom en Eben uit met die paadjie na die waterval. Sy vee vinnig oor haar oë. Dis nie dat sy ’n liefdesverklaring verwag het nie, maar hy kon darem net gesê het hy hou van haar of so iets. Wat anders moet sy glo as dat hy maar net met haar wou flankeer?
Dis pragtig by die waterval, maar Gustav het moeite om sy blik van Esbeth af te hou. Veral noudat die skrik wat die kind veroorsaak het, uit hom gewyk het. Hy kan nie anders as om hom in haar aanloklike begeerlikheid te verlustig terwyl sy oënskynlik onbewus van hom na die vallende water staan en kyk nie. Sy is alles wat ’n man van ’n vrou kan begeer, kom dit by hom op. Selfstandig, intelligent, ongekunsteld, vurig …
Esbeth kan aanvoel dat hy na haar kyk. “Kom ons gaan huis toe,” sê sy skielik bang vir haar eie gewaarwordinge. “Dis sommer nou-nou donker.”
Wanneer hy haar hand vat om haar onderkant die dam se wal oor die gladde klippe te help, kom hy agter sy is versigtig om hom nie weer te na aan haar toe te laat nie. En albei van hulle haal eers weer vryer asem toe hulle die breë pad tussen die dennebome deur bereik. Dis of die sonskyn help om hulle meer nugter te laat dink.
Maar op pad plaas toe is dit net Eben en Gustav wat gesels. Gustav kan aan niks sinvols dink om te sê nie. Sy laat na om Eben stil te maak omdat sy self nie woorde het nie. En sy glo Gustav verwelkom die kind se baie vrae. Toe hulle egter by die huis stilhou, kan sy hom nie langer ontwyk nie.
“Dankie,” sê Gustav. “Ek glo ons gaan mekaar ná vandag weer sien, of hoe?”
“Wil jy nie binnekom nie?” vermy sy ’n antwoord.
“Nie nou nie, dankie. Ek dink jy sal meer op jou gemak voel as ek nie by is wanneer jou oupa jou begin uitvra nie.”
Sy hoor die ligte spotklank in sy stem en bloos. “Pasop dat ek hom nie vertel watter wolf jy is nie!”
“Jy sal dit tog nie waag nie, want dan sal hy jou nooit weer naby my toelaat nie,” sê hy plaerig voordat hy sy motor aanskakel.
Esbeth kyk sy motor agterna tot waar hy stilhou om die plaashek agter hom toe te maak. Sy gee ’n magtelose suggie; kom dan agter dat oupa Janus ook na buite gekom het.
“Waarheen ry Opperman nou?” wil hy weet. “Hoekom is hy skielik so haastig?”
“Ek het hom genooi vir koffie, maar …”
“Maar wat?” vra oupa Janus toe sy swyg.
“Hy wil my kans gee om te gaan inpak.” Sy kyk op haar horlosie. “Gits, dis al halfvyf. Ek gaan sommer nou dadelik ons tasse pak.” Sy het moeite om haar oupa se skerp blik te ontwyk en vlug haastig die huis binne toe Eben met hom gesels oor die dinge wat hy by die dam gesien het.
Maar oupa Janus is nog nie klaar met haar nie. Dit vind sy uit toe sy met die gepakte tasse buite kom.
“Hoe goed ken jy en hierdie Gustav mekaar nou regtig, Esbeth?” vra hy terwyl hy een van die tasse by haar neem om dit na haar motor te dra.
“Nie baie goed nie. Daar is nie ’n liefdesverhouding tussen ons nie, as dít is wat Oupa eintlik wil weet.”
“Gmf! Hoekom lyk hy so baie na Richard? Is hulle familie?”
“Nee, nie wat hy van weet nie. Ek dink ook nie meer hulle lyk so baie na mekaar nie. Dis maar net hul bou en oor albei swart hare het. Hul gesigte lyk glad nie na mekaar nie.”
“Ja, ek sien hy dra darem nie kettings en dinge om sy arms en nek nie.”
Esbeth verduur die skimp. Dit was omtrent vir haar oupa ’n doring in die vlees, dié ketting en armband wat Richard so graag gedra het.
“Ek wonder hoekom lyk die man so ingetoë,” mymer oupa Janus hardop tussen die geteug aan sy pyp deur. “Hy lyk vir my al nes iemand wat van ’n begrafnis af kom.”
“Ek dink dis oor sy seuntjie se …” Sy swyg, maar dis te laat.
“Sy seuntjie! Is hy dan ’n getroude vent?”
“Hy was getroud. Sy seuntjie is ’n paar maande gelede oorlede,” sê Esbeth vinnig met die hoop dat hy nie verder sal uitvra nie. Maar natuurlik is dit wensdenkery.
“Wat vertel jy my nou! En hoe lank gelede is sy vrou dood?”
“Sy is nie dood nie. Hulle is geskei.”
“Geskei! Nou van wanneer af hou jy jou met geskeide mans op?”
“Ai, Oupa. Ek het hom eendag in die straat vir Richard aangesien en hom voorgekeer voor ek my kon bedink. Maar dis mos nie dat ek met hom gaan trou of iets nie. Oupa se kruisverhoor is dus oorbodig.”
Oupa Janus kom staan onverwags voor haar. “Esbeth, jy moet jou oë oopmaak. Moenie dieselfde stel aftrap as met Richard nie. Hoe gaan jy weet hierdie man sal nie ook sy hand teen jou lig soos Richard nie?”
“Sy hand …” Haar stem droog weg van onthutsing. “Hoe weet Oupa?” vra sy verslae.
“Omdat ek ’n mens ken as ek hom sien. Richard was nie die mens wat hy voorgegee het om te wees nie. Ek kon dit die eerste dag al sien. En die dag ná ek en jy dorp toe is om jou erfgeld te gaan belê vir vyf jaar, het ek die aand die rusie tussen julle in die kamer gehoor. Ek het ook ’n slag gehoor toe hy jou geklap het. Ek was nog onseker, geglo ek verbeel my dinge. Maar die volgende oggend toe jy met jou toegeswelde oog in die kombuis kom, het ek geweet. Jy het my nie gebluf met jou stories van die deur waarin jy jou kwansuis vasgeloop het nie.”
“Hoekom het … hoekom het Oupa nooit laat deurskemer Oupa weet nie?”
“Jy het mos self jou bed opgemaak. Ek wou hê jy moes erken dat jy ’n fout gemaak het met die oorhaastige huwelik waarin jy jou begewe het. Maar toe kom Richard met die storie van gaan werk soek in Natal en … Nou ja, daarna het ek dit nie meer nodig geag om jou in te lig dat ek weet met watse tipe man jy getroud was nie. Hy het jou net vir een ding getrou, my kind. Dit was vir die erfgeld wat jy met jou mondigwording ontvang het. Toe hy agterkom hy gaan nie ’n kans kry om sy hande daarop te lê nie, was sy kamtige liefde vir jou ook daarmee heen. Ek glo jy weet dit self.”
Natuurlik weet sy dit. Dis nogtans nie maklik om dit te erken nie. Sy voel beskaamd omdat sy haar oupa in die duister gehou het. Maar ag, sy het vas geglo Richard sal weer die man word wat hy was voor hul troue.
“Ek glo jy het ’n les geleer uit daardie oorhaastige huwelik, maar wees nogtans versigtig vir Gustav Opperman. Hy is ’n aantreklike man. Selfs ék kan dit sien. Pasop vir vleeslike begeertes. Moenie glo dat hy nie met jou ’n kans sal vat nie. ’n Man bly ’n man. En jy besit nou maar eenmaal ’n aantrekkingskrag vir die mansgeslag. Al is ek oud, makeer my oë niks nie. Ek kan sien op watter manier die mans na jou kyk. So wees gewaarsku. Moenie in dieselfde slagyster trap as met Richard nie.”
Haar oupa se waarskuwing weerklink steeds in haar ore toe sy haar tasse in die woonstel uitpak. As haar oupa moet weet hoe naby hulle gaan draai het aan die gevaar van die vleeslike begeertes!
Gustav lê met sy hande onder sy kop gevou in die hotelkamer aan dieselfde dinge en dink. As dit nie vir Eben en die afgrond was nie, weet hy nie … ’n Man het beheer tot op ’n punt. As jy daardie punt verbysteek, kan jy nie meer nugter dink nie.
Hy sien eensklaps weer Esbeth se skaam gesig voor hom en word oorval deur ’n gevoel van vertedering waarvan hy hom kwalik meer bewus was. Van een ding is hy seker: Hy wil nie meer net ’n ligte flirtasie met haar aanknoop nie. Sy begeertes strek verder as dit. Sy bekoor hom soos geen ander vrou hom nog bekoor het nie.
Sy blik val op die horlosie voor sy bed. Dis kwalik ’n uur gelede dat hy weg is van die plaas af en hy … Ja, hy verlang na haar. Hy onthou skielik dat tant Mietie onderaan haar brief geskryf het dat die donkerste wolk ook ’n silwer randjie het. Miskien het sy reg. Dalk het die donker wolk waaronder hy so lank geleef het ook ’n silwer randjie.
Daar is ’n glimlag op sy gesig toe hy sy voete van die bed af swaai. Hy gaan sommer nou rondkyk vir ’n huis om te koop. Dalk sien hy op Danabaai een wat hom geval. Tant Mietie sal met graagte vir hom kom huishou. En wie weet, dalk lê daar tog vir hom ook geluk voor die deur. Esbeth is nie Selma nie. Ná vanmiddag weet hy dit. Sy sou nie so skaam gewees het as sy hom opsetlik wou uitlok nie. Die lewe het hom egter ’n dure les geleer. Hy sal hom nie weer halsoorkop in ’n huwelik begewe soos met Selma nie. Voordat hy van liefde teenoor Esbeth praat, sal hy seker maak dat hy haar behoorlik ken.
Daar is die sweempie van ’n glimlag op sy gesig toe hy deur die hotel se ingangsportaal na buite stap. Maar toe sy blik op die vrou val wat voor die hotel besig is om uit haar motor te klim, steek hy ylhoofdig van skok vas. Vir ’n wilde oomblik kom dit by hom op om vir haar te gaan wegkruip. Maar dan bedink hy hom. Hy ken Selma. As dit na hom is wat sy soek, sal sy nie rus voor sy hom gekry het nie. Sy gesig raak ongenaakbaar. Hoe gouer hy haar laat verstaan dat sy onwelkom is, hoe beter.
Hy staan vasgenael en kyk hoe sy haar motordeur sluit en eers in die syspieëltjie loer. Sy mondhoeke rem sinies toe sy ’n lipstiffie uit haar handsak diep en oor haar lippe vee. Dan kyk sy op en sien hom.
Sy gooi die lipstiffie oorhaastig terug in haar handsak en haar gesig plooi in ’n breë glimlag terwyl sy vinnig na hom toe aangedraf kom. “Gustav! Hoe wonderlik om jou weer te sien!”
Hy steek sy hand uit en maak of hy nie agtergekom het sy mik om hom te soen nie. “Naand, Selma. Ek neem aan dis toevallig dat ons mekaar hier raak loop. Hou jy vakansie?”
Haar glimlag verdwyn. “Nee, dis nie toeval wat my hierheen gebring het nie, Gustav. Ek het spesifiek al die pad van die Transvaal af gekom om met jou te kom praat.”
“Het ons dan nog hoegenaamd iets om vir mekaar te sê?”
“O ja, ons het. Ons het ’n groot probleem om uit te stryk.”
“Mag ek vra wat die probleem is?”
Sy kyk rond. “Dis nie iets wat ons hier voor die hotel kan bespreek nie. Miskien moet jy my na jou kamer nooi.”
“Liewer nie.”
Haar wenkbroue lig. “Hoekom nie?”
“My meisie kan dalk tot die verkeerde gevolgtrekking kom as sy jou in my kamer aantref,” dis hy lafhartig ’n leuen op toe hy nie vinnig genoeg aan ’n geldige verskoning kan dink nie.
Selma se onthutsing wys op haar gesig. “Natuurlik. Gustav Opperman sal nie gras onder sy voete laat groei om vir hom ’n nooi aan te skaf nie. Kan ons dan op ’n ander plek gaan gesels?”
“Wat van ’n entjie gaan stap langs die see?”
“In dié koue wind? Ek is seker daar sal binne ’n beter plek wees.”
Gustav staan opsy sodat sy verby hom kan beweeg. “Goed, kom ons gaan praat maar in die kamer. Ek is seker jy sal nie lank vertoef nie, want ek kan aan niks op die aarde dink wat ons twee nog vir mekaar te sê kan hê nie.”
Sy stap stilswyend voor hom uit tot in sy kamer. Toe hy die deur agter hom oop los, maak sý dit toe voordat sy grasieus op die stoel gaan sit en stip na hom kyk.
“Ek het nie verniet al die pad van die Transvaal af hierheen gery nie, Gustav. Ek het vir jou kom vra dat ons die verlede moet vergeet sodat ons saam ’n nuwe lewe kan begin.”
“Jy mors jou tyd,” sê hy koud en gevoelloos. “Ek het geen begeerte om weer ’n verhouding met jou aan te knoop nie. Laat staan nog om ’n nuwe lewe saam met jou aan te pak!”
“Jy bly dus ongenaakbaar teenoor my?”
“Wat verwag jy? Jou ontrouheid kan ek straks nog vergewe, maar klein Norman se dood? Nooit!”
Sy kruis haar bene. “Het jy al ooit daaraan gedink dat jý ook skuld aan sy dood het?”
“Ja, ek het. Ek moes Dewald se nek gebreek het toe ek julle saam betrap het. Dán sou hy nie die kans gehad het om sy hande op my kind te lê nie.”
“Het jý dit van Dewald verwag, dat hy so wreed teenoor ’n kind sou kon raak? Hy was tog jare lank ’n baie goeie vriend van jou.”
“Selma, dit help nie om draaie te loop nie. Feit bly dat jy en hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Vir hoe lank, sal net julle twee weet. Net soos dit ’n voldonge feit is dat hy my kind vermoor het.”
“Ons kind.”
“Jy was nog nooit die naam moeder werd nie, en jy weet dit!”
Sy stof ’n denkbeeldige rafel van haar baadjiemou af. “Ten spyte van jou bitterheid, sal ons weer moet trou.”
“Trou! Moenie belaglik wees nie. Ons egskeiding is vier maande gelede afgehandel. Ek het geen begeerte om ooit in my lewe met jou te trou nie.”
“Jy sal nie ’n keuse hê nie.”
Dit word yskoud in hom. “Wat bedoel jy?” vra hy met ’n angs wat die sweet op sy lyf laat uitslaan.
“Daardie paar dae toe ons probeer het om ons huwelik te red, het sy tol geëis. Ek verwag weer ’n baba.”
Hy staar haar spraakloos aan. “Hoe weet ek dit is my kind?” vra hy uiteindelik verslae. Maar hy ken die antwoord. Die hoop dat dit nié sy kind sal wees nie, is skraal. Dewald was juis ’n geskeide man omdat hy nie vir sy gewese vrou ’n baba kon gee nie.
“Jy weet Dewald kan nie kinders verwek nie,” sê sy dan ook oorwinnend.
Die kamer voel ineens soos ’n diep, donker graf. Hy staan verslae van die bed af op om voor die venster te gaan staan. Baie dinge vliet deur sy gedagtes. Die seer van Selma se ontrouheid, sy sogenaamde vriend se verraad, sy kind se lewelose lyfie in die koue lykhuis … En Esbeth. Here, wat van Esbeth? Hoe gaan sy verstaan?
“Ek weet dit is vir jou ’n skok,” hoor hy Selma vaag sê. “Dit was vir my net so ’n skok. Maar dit het nou eenmaal gebeur en daar is niks wat dit kan verander nie. Ek was by die dokter. Ek is amper vyf maande swanger.”
Hy dink vlietend aan ’n aborsie, maar verwerp onmiddellik die gedagte. Hy wil nie bloed op sy gewete hê nie. Hy tuur oor die see, verby Hartenbos tot onder die berg met die inham waar die Kleinbosdam geleë is. Hy hoor hoe Selma van die stoel af opstaan en ’n mislike gevoel stoot in hom op toe sy langs hom kom staan.
“Ons hoef nie met swier te trou nie. Voor ’n landdros sal goed wees.”
Die kamer begin met hom draai. “Verskoon my.” Hy loop onvas op sy voete badkamer toe om van die walglike gevoel in sy binneste ontslae te raak. Nadat hy sy gesig met koue water afgespoel het, voel hy kalmer.
“Ek sien nie kans om weer met jou te trou nie,” sê hy toe hy terugkom in die kamer. “Ek sal my verpligting teenoor die kind nakom, maar dit sal die enigste verbintenis tussen ons wees. Eintlik sou ek verkies het om jou nooit weer te sien nie.”
“Natuurlik,” sê Selma spottend. “Ek het vergeet jy het mos ’n meisie. Ongelukkig sal jy van haar moet vergeet.” Die spot verdwyn uit haar stem. “En hoe gouer hoe beter. Ek is nie van plan om die kind alleen groot te maak nie, Gustav Opperman. Jy sál weer met my trou, of jy wil of nie!”
Hy kyk haar vas aan. “Vergeet maar daarvan. Ek kan nie met ’n vrou trou vir wie ek niks anders as veragting voel nie.”
“O, maar jy sal! Ek sal jou dwing.”
Hy gee ’n humorlose laggie. “Sowaar! En hoe gaan jy dit regkry?”
Haar mond glimlag, maar haar oë is ys. “Jy wil tog nie hê jou ou meisietjie moet seerkry nie, wil jy?”
“Wat beteken dit?” vra hy fronsend.
“Dit beteken jy moet solank dink aan ’n troudatum. Ek sal môreaand kom verneem wanneer jou die beste pas. Ek kon ongelukkig nie plek kry hier in die hotel nie – glo ’n toergroep wat hier tuisgaan – dus het ek by die Punt vir my ’n vakansiehuisie gehuur. Maar ek sien jou weer môreaand.”
Die geluid van haar hoëhakskoene het lankal in die gang verdoof, toe staan Gustav steeds bestorwe voor die venster, sy blik nikssiende op die dofwordende horison van die see. Toe klein Norman se gesiggie skielik voor sy geestesoog verrys, kners hy magteloos op sy tande. Dis onregverdig dat ’n gevoellose, gewetenlose vrou soos Selma die lewe moet skenk aan kinders. Sy ken nie die betekenis van moederliefde of berou of hartseer nie. En hy weet verseker dat die dreigement wat sy geopper het, nie leeg is nie. As sy moet weet van Esbeth, sal sy die lewe vir haar totaal ondraaglik maak.