Читать книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеAttie Brijns, die afgelope agt jaar kampopsigter by die kampeerterrein naby die Zimbabwe-ruïnes, is deur een van sy assistente in sy woonwa dood aangetref. Aanvanklik is vermoed dat hy in sy slaap aan hartversaking oorlede is. Die plaaslike distriksgeneesheer, dokter Dennis Johnson, was egter diep geskok toe hy tydens die lykskouing inwendig niks abnormaals kon opspoor nie. Daar het niks met die organe geskort nie. Die lyk het ook geen uitwendige letsels gehad wat tot die oorledene se onverwagse dood kon lei nie.
Wat die distriksgeneesheer nog verder dronkgeslaan het, is dat die liggaam heeltemal bloedloos was. Die assistent wat die oorledene die afgelope jaar op die kampeerterrein gehelp het, sê hy het nooit van siekte of moegheid gekla nie. Hy het egter tog opgemerk dat die oorledene die afgelope paar dae onverklaarbaar swak geword het, hoewel hy nooit van pyn of ’n siektetoestand gekla het nie.
Die distriksgeneesheer sê hy is heeltemal dronkgeslaan deur die bloedlose toestand van die lyk en het geen verklaring daarvoor nie.
Vir die minder oplettende koerantleser gaan hierdie kort koerantberiggie op ’n middelblad onopgemerk verby. Indien dit wel raakgesien word, wek dit net vlugtige verbasing en word dan weer byna dadelik vergeet. Daar sal wel die een of ander logiese verklaring daarvoor wees, dink so iemand vaag voordat hy omblaai. Om te vergroot en te dramatiseer is maar ’n siekte waaraan joernaliste ly. Sensasie is hul brood en botter. ’n Mens kan hulle dus ook nie te veel kwalik neem nie.
Maar daar is tog ’n blik wat by hierdie beriggie vassteek . . . en daar bly kleef.
In ’n kantoor in Harare staar ’n paar oë stip na die swart letters en kyk dan vinnig op toe die deur ná ’n kort kloppie oopgaan. Vandag kry die besoeker egter geen vriendelike, verwelkomende glimlag nie. Die man wat binnekom, som dadelik die situasie korrek op: die oubaas is bekommerd. Wonder wat dit kan wees?
“Sit!” kom die kortaf bevel sonder groet, en terselfdertyd word die koerant oor die lessenaarblad in die besoeker se rigting geskuif terwyl die wysvinger op ’n spesifieke plek druk. “Lees daar!”
Die jonger man se wenkbroue wip liggies op. Wanneer die oubaas, soos hy onder sy ondergeskiktes bekend staan, sulke kortaf bevele sonder ’n onnodige gebruik van woorde uitblaf, moet jy weet daar is perde, soos hulle dit stel. Die hoeveelste keer die afgelope tien jaar voel Gustaf Lenard daardie vreemde tinteling deur hom gaan asof elke senupunt in sy liggaam ’n sekonde lank saamtrek. Gehoorsaam tel hy die koerant op en laat sy blik oor die koerantberiggie gly. Dan laat hy die koerant sak en kyk op, sonder omhaal van woorde. Dis nie nodig nie. Hy en die man agter die lessenaar verstaan mekaar sonder veel woorde.
“Wel?” Sy gesig is ook onpeilbaar, maar die skerp blik wat op hom bly rus het terwyl hy die koerantberiggie gelees het, sien raak wat hy graag wil sien – die baie ligte, skaars merkbare bewing van die sensitiewe neusvleuels. Die bloedhond het die spoor geruik.
Hy sit terug in sy stoel, sy blik steeds stip.
“Die afgelope maande al gebeur daar eienaardige, onverklaarbare dinge by die Zimbabwe-ruïnes. Tot dusver het dit nie aandag getrek nie, maar met die dood van oubaas Brijns het dit die bal aan die rol gesit. Toeriste wat reeds die Zimbabwe-ruïnes besoek het, veral gedurende die voorafgaande maande, gaan ná hierdie beriggie dingetjies onthou, en praatjies kan groot skade aanrig aan die toeristebedryf daar. Die Zimbabwe-ruïnes is ’n groot toeriste-aantreklikheid.”
Die jonger man frons liggies.
“Wat het die toeriste met die bloedlose lyk van ’n ou man te doen?”
“Op die oog af niks nie, maar dit wil voorkom asof daar tog ’n verband moet wees tussen wat met oubaas Brijns gebeur het en wat sommige toeriste oorgekom het, as jy die besonderhede langs mekaar sit. So wil dit voorkom wanneer jy die verslae van twee dokters uit Masvingo en die distriksgeneesheer van hierdie deel van Zimbabwe bestudeer. Ek het die verslag van dokter Dennis Johnson, die distriksgeneesheer wat die lykskouing op die ou man gedoen het, gister reeds ontvang. Hy is in Masvingo gevestig. In ’n brief wat hy by sy verslag ingesluit het, het hy my aangeraai om met twee van sy kollegas, met wie hy blykbaar goed bevriend is, in aanraking te kom. Ek het met hulle kontak gemaak en hulle het eienaardige verslae te lewer gehad. Gedurende die afgelope maande is hulle na die ruïnes uitgeroep vir die een of ander toeris wat skielik sonder rede net swak en duiselig begin voel het – mense wat andersins sterk en gesond is, sonder klagtes oor hul gesondheid. Hierdie vreemde toestand van swakheid wou op geen behandeling reageer nie, maar sodra hulle van die ruïnes weggeneem word, verbeter die toestand onverklaarbaar. Volgens die koerantberig het oubaas Brijns ook skielik sonder enige fisieke rede verswak. Dis asof daar ’n verband is.”
“Ja. Kan dit miskien ’n onbekende virus wees wat –?”
“Onmoontlik, want dan moet daar tog ’n spoor daarvan in die liggaam wees, nie waar nie? Ek het lank met dokter Johnson gesels en ek ken hom as ’n man wat nugter en saaklik is, ’n man wat nie op loop sit met iets nie. Maar hy is dronkgeslaan, en so ook sy ander twee kollegas in Masvingo wat van die toeriste behandel het. Hulle kan geen rede vind vir die verswakking van die toeriste nie, asook geen oorsaak vir die bloedlose toestand van Attie Brijns se lyk nie. Die organe was wel weens ouderdom ietwat verswak, maar nie beskadig nie. Daar is byvoorbeeld geen spoor van kanker of ander siekte aangetref nie, net nie ’n enkele druppel bloed nie. Wat het van sy bloed geword?”
Die oë kyk nou skerp in die ander man s’n. “En as die toeriste wat skielik so swak begin word het langer by die Zimbabwe-ruïnes gebly het, sou hulle ook gesterf het . . . en sou hul liggame ook bloedloos gewees het?”
Die jonger man se oë vernou.
“Ek begryp. Op die oog af is dit ’n kwessie vir die mediese wetenskap om op te los, maar miskien is dit nodig dat ons ook ’n handjie moet bysit.”
“Presies. Iets is hier nie pluis nie. Iets laat gevaarligte flikker. Tog is daar geen letsel hoegenaamd aan die liggaam van oubaas Brijns gevind waardeur hy hom moontlik kon doodbloei nie.”
“Wat van inwendige bloeding?”
“Geen teken nie. Dan moes dit met die lykskouing aan die lig gekom het. Wat meer sê, daar is geen teken van bloeding in die buitetoilet gevind nie en nêrens ’n teken dat hy sy liggaamsbloed deur sy neus of selfs ore verloor het nie. As hy so geweldig gebloei het, moet daar tog tekens daarvan gewees het, nie waar nie? Jy probeer tog die bloed met lappe of iets dergeliks keer, maar nêrens in sy woonwa is ’n spatseltjie bloed teen ’n muur of op ’n slaapbank of waar ook al gevind nie. Ook geen bloedbevlekte lap of handdoek nie. Dis ’n totaal bloedlose affêre. Volgens die twee private praktisyns van Masvingo het die toeriste wat gekla het van ’n skielike swakheid in geen geval bloed deur die natuurlike kanale verloor nie, hoewel die onderskeie hemoglobientoetse duidelik getoon het dat die liggaam beslis bloed verloor het. Verder was daar ook alle tekens aanwesig wat gewoonlik gepaardgaan met bloedverlies: bloeddrukprobleme, toestand van skok en so meer. Dokter Johnson en sy twee kollegas sal jou te woord staan en meer besonderhede verskaf. Ek laat hierdie saak aan jou oor. Kyk wat jy kan uitkrap. Kry jou sake reg en vertrek so gou moontlik na die Zimbabwe-ruïnes.”
Weer word iets na Gustaf uitgehou. “Dit is die drie verslae van die drie dokters dié. Bestudeer dit, maar dit sal beter wees om hulle weer persoonlik te gaan ondervra. Daar kan net ’n kleinigheidjie wees wat hulle oor die hoof gesien het.”
Die jonger man staan op.
“Goed.”
Die ouer man reik hom die hand en die eerste keer is daar ’n teken van ’n glimlag om sy mond.
“Tot siens. Ek hoop ek sal gou van jou hoor. Miskien wil ek nou ’n haas opjaag waar daar nie een is nie, maar . . . iets vertel my dat hierdie saak werd is om ondersoek te word.” Die skrams glimlag het weer verdwyn. “Hier is vir my ’n duistere skynsel aan die hele besigheid. Ek hou nie van bloedlose lyke nie en ook nie van onnatuurlike verskynsels waarvoor geen logiese verklaring gegee kan word nie.”
Die jonger man glimlag grimmig.
“Ons smake stem ooreen, majoor. Tot siens.”
“Wederom, kaptein Lenard.”
’n Paar uur later sit die jong kaptein van Harare se speurafdeling in dokter Dennis Johnson se spreekkamer in Masvingo.
“Ek was reeds by jou twee kollegas, maar hulle kon my niks meer vertel as wat in hul verslae staan nie. Het jy nie miskien intussen aan iets gedink, selfs aan ’n logiese verklaring vir die bloedlose toestand van die lyk en die vreemde verswakking van die toeriste nie, dokter?”
Maar die distriksgeneesheer skud sy kop.
“Ongelukkig nie. Ek is nog steeds dronkgeslaan. Ek het uit die aard van my werk nie een van die toeriste behandel wat oor ’n toestand van onverklaarbare swakheid gekla het nie, want ek is distriksgeneesheer en hulle is uiteraard private pasiënte wat my kollegas ingeroep het. Ek kan net praat van Attie Brijns en al wat ek van hom kan sê, is dat sy lyk heeltemal bloedloos was – en daarvoor kan ek jou geen logiese mediese verklaring gee nie. Dis ook bloot toevallig dat die eienaardige verskynsel van die vreemde verswakking onder toeriste by die Zimbabwe-ruïnes in ’n gesprek tussen my en die ander twee dokters opgehaal is. Ons is gholfmaats en ek het hulle, terwyl ons aan die speel was, vertel van die eienaardige bloedlose toestand van die lyk waarop ek ’n lykskouing moes hou. Ons het so ’n bietjie daaroor gesels. Dit het toe in die gesprek uitgekom dat die assistent genoem het dat die oubaas die laaste dae voor sy dood skielik swak geword het, maar oor geen pyn of iets dergeliks gekla het nie. My twee kollegas het toe onthou dat hulle kort-kort die afgelope maande pasiënte met eienaardige simptome onder die toeriste by die ruïnes gehad het. Ek het toe gewonder of daar nie miskien ’n verband tussen hierdie gevalle kan wees nie.”
“Ek sien. Die lyk is nog nie begrawe nie, is dit?”
“Nee. Dit lê in die polisielykshuis. Die majoor het laat weet dat dit ook deur my twee kollegas, asook die polisiedokters en ’n patoloog, ondersoek moet word voordat dit begrawe word. Ek dink hulle is op die oomblik daarmee besig.”
“Hoeveel private praktisyns is in Masvingo?”
“ ’n Paar. Ek kan jou die lys van name gee. Hoekom?”
“Van die ander dokters in Masvingo kon ook die afgelope maande toeriste vir hierdie vreemde siekte behandel het. Ek wil presies weet hoeveel mense die afgelope maande oor so ’n skielike swakheidstoestand gekla het, wie hulle is en hoe dit nou met hulle gaan, veral hoe dit met hulle gegaan het pas nadat hulle die ruïnes verlaat het.”
Hy ontvang die lys van name en staan op. “Dankie, dokter. Ons sal mekaar weer sien. En indien daar intussen enigiets opduik of iets jou byval, maak dadelik kontak met die naaste polisiekantoor. Ek het nog nie besluit waar presies ek by die ruïnes sal tuis gaan nie. Daar is mos ’n hele paar hotelle, nie waar nie?”
“Ja, en natuurlik die kampeerterrein. Dan is daar ook ’n vakansieplaas.”
“Dankie. Ek sal jou laat weet sodra ek ’n adres het.”
Ná ’n paar uur is met al die private praktisyns in Masvingo in verbinding getree. Nog twee ander kan onthou van ’n paar sulke gevalle wat hulle die afgelope maande gehad het. Ongelukkig het almal nie die pasiënte duidelik aangestip nie, aangesien dit almal toeriste was en nie vaste pasiënte nie. Dis in elk geval ’n aardige lysie wat Gustaf teen die end in sy sak steek. Elke dokter word ook dringend versoek om, sodra daar weer so ’n geval onder hulle aandag kom, onmiddellik met die plaaslike polisiekantoor in verbinding te tree.
Hiervandaan gaan die jong speurder na die polisielykshuis. Met die vrymoedigheid van sy beroep stap hy die vertrek binne wat spesiaal vir polisielykskouings ingerig is. Daar tref hy dokter Johnson, die polisiedokter en die patoloog aan, besig met hul onaangename taak om in die lyk van ’n ou man rond te delf. Met uitdrukkinglose gelaat staan hy stilswyend en toekyk waar die drie mans gebuig oor die oopgesnyde buik staan, terwyl vaardige vingers en skerp kennersoë op soek is na die oplossing van ’n verstommende geheim. Telkens word dele van organe en selfs heel organe uit die lyk verwyder en in afsonderlike blink bakkies geplaas om na die laboratoriums vir ontleding te gaan. Maar tevergeefs soek hulle na ’n enkele druppel bloed vir ’n monster.
Dis net nie te vinde nie.
“Iets gevind?”
Die patoloog skud sy kop.
“Niks wat die aandag trek nie. Op die oog af lyk alles normaal – abnormaal normaal om dit so te stel. Hierdie oubaas was volgens my persoonlike mening honderd persent gesond.”
“Ek wil die laboratoriumtoetse se uitslag so gou moontlik hê. Maak dit uiters dringend.”
“Dit sal gedoen word.”
Dokter Johnson trek die masker van sy gesig en gooi sy handskoene sonder vlekke daarop eenkant neer.
“Hier is niks verder nie. Hy is van hoek tot kant deurgegaan.” ’n Oomblik kyk hy stil op die lyk af. “ ’n Mens voel skoon aardig om met hom te werk. Gewoonlik word jy maar besmeer met ’n lykskouing, maar . . . Dis of die ou totaal en al leeggepomp was! Ek kan dit nie begryp nie!” Hy skud sy kop verslae heen en weer.
Swyend stap hy en Gustaf na buite. Dis Gustaf wat die stilte verbreek.
“Nog twee ander dokters het pasiënte van Zimbabwe met hierdie eienaardige simptome gehad. Dit gee ’n redelike lang lys oor verloop van ’n paar maande.”
Hy frons. “Dit verbaas my dat hierdie eienaardigheid, of liewer, onreëlmatigheid, nie vroeër aan die lig gekom het nie.”
Dokter Johnson trek sy skouers op.
“Jy moet onthou, kaptein, dat dokters selde buite die praktyk hul pasiënte met mekaar bespreek. Was die pasiënte nog mense wat hier permanent woonagtig was, of selfs net ’n paar maande, dat die verskillende gevalle onder hul aandag gebly het, sou dit anders gewees het. Die een of ander tyd sou een van hulle ’n kollega vir konsultasie ingeroep het as hy net nie daarin kon slaag om die vinger op die moeilikheid te lê nie. Dan sou hierdie ding gouer aan die lig gekom het. Maar almal was deur die bank toeriste wat ná een of twee afsprake met die dokters teruggekeer het huis toe of hiervandaan weg is, en die gevalle het onder die aandag van die dokters verdwyn.”
Kaptein Lenard se oë vernou.
“Ja. Dis ’n feit wat baie opvallend is en op sigself baie, baie vreemd – die feit dat almal toeriste was.”
Hy trek die lys uit sy sak en vou dit oop. “Daar is nog iets wat my opgeval het – dis deur die bank mans . . . en soos wat die dokters kan onthou, sterk, gesonde mans sonder kwale en mense wat nog altyd goeie gesondheid geniet het. Ongelukkig het al die dokters nie in al die gevalle hemoglobientoetse laat doen nie, maar van dié wat wel gedoen is, het die uitslag ’n duidelike verlies aan bloed getoon. Ek dink ons kan met veiligheid aanvaar dat, indien dieselfde toets ook op die ander gedoen is, dieselfde uitslag aan die lig sou kom. Tog het nie een van hierdie pasiënte bloed deur natuurlike kanale of deur ’n wond verloor nie. Met ander woorde, hulle het bloed uit hul liggame verloor sonder dat hulle daarvan bewus was en sonder dat dit op natuurlike wyse geskied het. Hoe verklaar jy dit: dat ’n mens bloed uit jou liggaam kan verloor, dat dit sommer net verdwyn uit die liggaam? Dit moet tog op die een of ander manier gebeur?”
Dokter Johnson skud sy kop fronsend.
“Ek het geen verklaring nie. Ek weet werklik nie wat om hiervan te dink nie.” Hy glimlag skeef. “Ek raak al meer dronkgeslaan.”
“Is julle baie seker dat daar geen letsel hoegenaamd aan die liggaam te vind is nie? ’n Naald se prik sal so te sê geen letsel laat nie, nie waar nie?”
“Kaptein, ek kan jou verseker dat daardie lyk van hoek tot kant en van binne en buite met ’n vergrootglas ondersoek is. Daar is geen teken hoegenaamd nie. Wat meer sê, as ’n mens van die veronderstelling uitgaan dat die oubaas se bloed deur ’n naald of iets dergeliks uit sy liggaam getrek is, wat van die toeriste? Hulle het ook verswak en met duidelike tekens dat hulle bloed verloor het, maar nie een van hulle se bloed is elke dag bietjies-bietjies met ’n naald uit hulle getrek nie. Hulle het net begin verswak en bloed het eenvoudig uit hul liggame begin verdwyn – sommer net so, amper op bonatuurlike wyse!”
Gustaf Lenard se gesig is styf, stram.
“Ek glo nie aan bonatuurlike dinge nie, dokter.”
Dokter Johnson glimlag weer skeef, half verleë, half verskonend.
“Ek ook nie juis nie, kaptein, maar op die oog af lyk dinge glad nie so natuurlik vir my nie. Maar dis jy wat ’n natuurlike, logiese verklaring moet vind, dus . . .”
Hy begin aanstap. “Jy sal my nou moet verskoon. Ek moes al in my spreekkamer gewees het.”
Hy kyk die gestalte van die distriksgeneesheer agterna. Bonatuurlik se voet! Op die een of ander wyse het al hierdie toeriste en oubaas Brijns bloed verloor, maar dat dit beslis geen bonatuurlike verskynsel is nie, wil hy wed. Iemand . . . iemand is besig met ’n gemene, duiwelse spel. Die majoor is reg. Hier flikker beslis gevaarligte . . . en hoe meer hy daarvan te hore kom en nader aan die raaisel kom, hoe meer ruik hy lont. Sy neusvleuels bewe weer liggies. Daardie bloedhondinstink, ingebore by die speurder, waarsku dringend: hierdie saak moet ondersoek word! Iets boos skuil hieragter!
Met vaste tred stap hy die polisiekantoor binne. Sy bevele is kort-af, op die man af. Die pasiënte van wie hy tuisadresse het, moet opgespoor word en daar moet so gou moontlik van hul gesondheidstoestand verslag gelewer word, veral oor hul toestand die eerste paar weke nadat hulle Zimbabwe verlaat het. Hierdie versoek moet onmiddellik dringend deurgebel word na Harare. Nie later as môremiddag nie wil hy die antwoord hê.
Daarna klim hy in sy motor en trap die petrolpedaal weg. Hy is op pad na die ruïnes.
Gustaf Lenard stap die eerste hotel binne. Baie vlugtig word die identifikasiekaart aan die ontvangsdame getoon. Dan begin hy stelselmatig die besoekersboek deurgaan. Ná ’n ruk klap hy die boek toe, knik vriendelik vir die meisie en stap uit. Hy hou by die volgende hotel stil. Die prosedure word herhaal. Dis skemeraand toe hy van die laaste hotel se besoekersboek wegdraai.
Peinsend stap hy na buite en aarsel op die stoeptreetjies. Die kampeerterrein en die vakansieplaas is al wat oorbly. Die kampeerterrein kom eerste aan die beurt. Daar het hy net die kwitansieboek om op staat te maak. Dis reeds donker toe hy die pad vra na Ruined Paradise, die vakansieplaas. Hy trek sy wenkbroue op. Eienaardige naam.
Op ’n draai in die pad moet hy vinnig rem aanslaan toe ’n motor voor hom opdoem en ’n vrouegestalte al armswaaiend sy aandag probeer trek. Hy hou stil.
“Het jy probleme, juffrou?”
Dis ’n pikante gesiggie wat by die vensterruit verskyn.
“Ag, asseblief, meneer, as jy my kan help . . . My motor het ’n pap band en my domkrag wil nie werk nie.”
Met ’n gelate sug klim hy uit. Vroumense! Dit sal net ’n vroumens wees wat met ’n stukkende domkrag in die nag sal rondry.
Terwyl hy besig is om die band vir haar om te ruil, gesels sy ewe vriendelik.
“Ek is Sandra Steyn van Suid-Afrika. Ek is op pad na Ruined Paradise. Eienaardige naam vir ’n vakansieplaas, nè?”
Hy glimlag.
“Ek het ook so gedink. Is jy ’n toeris?”
“Ja. Ek is met my jaarlikse verlof. Ek kom maar nou eers hier aan. Ek het die tyd ’n bietjie langs die pad verspeel. Waarheen is jy op pad?”
“Na dieselfde plek . . . en ek kom ook maar nou eers hier aan,” verskaf hy die verlangde inligting. Hy staan op en klap sy hande teen mekaar om van die ergste stof ontslae te raak. “Kom jy die hele ent pad alleen van Suid-Afrika af?”
“Ja, hoekom?”
Hy kyk haar skepties op en af.
“Jy lyk dan nog soos ’n skoolkind.”
Die fyn gesiggie straal verontwaardiging uit.
“Ek is drie en twintig, meneer. En ek is gewoond alleen rondry, die wêreld vol.”
Hy moet lag vir die verontwaardigde figuurtjie.
“En jy het nog nooit geleer dat ’n mens eers kyk dat al jou gereedskap in orde is voordat jy in die pad val nie, hm?”
Sy wil haar eers vererg, maar dan ontspan haar gesiggie en sy glimlag verleë.
“Ek weet nie wat daardie ding oorgekom het nie. Hy was laas nog reg. Maar jy weet mos hoe dit gaan. Satan is ook altyd by.”
Hy knik.
“Ja, dis waar. En hier loop Satan beslis los rond.”
“Wat bedoel jy?”
“E . . . nee, ek sê maar. Nou toe kom. Ry jy voor. Ek volg.”
“Dankie, meneer . . .”
“Die naam is Gustaf . . . Gustaf Lenard, ook met my jaarlikse verlof.”
Sy glimlag en spring hups agter die stuurwiel in.
“Dankie, Gustaf. Sien jou by Ruined Paradise!”
Hy lig sy hand glimlaggend en sy trek in ’n stofwolk weg. Dan keer hy terug na sy eie motor. Hy hoop van harte dat daar plek sal wees by Ruined Paradise, want dis by Ruined Paradise dat hy besluit het hy gaan bly. Hy het ’n spesifieke rede daarvoor. En dan . . . Ene Sandra Steyn, drie en twintig en baie oulik, gaan ook daar tuis. Selfs ’n hardwerkende speurder het soms afleiding nodig, dink hy met sy oë op die rooi agterliggies voor hom gerig. Dis hoog tyd dat hy ’n slaggie aan iets anders as sy werk dink. Hy is op twee en dertig jaar die oujongkêrel onder die speurders van sy afdeling en hy word dikwels hieroor geterg.
Die moeilikheid met ou Gustaf is dat die enigste vroumense met wie hy in aanraking kom reeds dood is, met ’n tou om die nek of ’n mes in die hart. As ons hom net ’n slag ’n lewende een kan wys! Dis gewoonlik die refrein onder die manne.
Hy glimlag nou. Wel, Sandra Steyn lyk beslis lewend genoeg; geen swakheidstoestand by haar nie! Dan versomber sy gesig. Is dit toeval dat nie een van die toeriste wat van ’n verswakking gekla het by een van die groot hotelle rondom die Zimbabwe-ruïnes tuis gegaan het nie? In nie een van die besoekersboeke kon hy een van die name opspoor nie. Ook nie in die kwitansieboek van die kampeerterrein nie. Daar bly dus net die vakansieplaas oor. Vannag nog moet hy seker maak of die name in sy besit ook op die besoekersboek van Ruined Paradise verskyn. En as hy hulle daar kry . . . Weer vernou sy oë tot skrefies, Sandra Steyn vergete. As hy hulle daar kry, beteken dit iets? Of speel toeval maar ’n rol? Ingedagte trek hy sy motor langs Sandra Steyn s’n in en skakel die enjin af. Hulle het die vakansieplaas bereik.
’n Man kom hulle teen die stoeptrap af tegemoetgestap.
“Ek is Phil Andrews. Welkom,” stel hy hom voor. Gustaf erken die bekendstelling en stel dan ook vir Sandra voor.
“Ek hoop jy het plek vir ons, meneer Andrews. Ek weet nie of juffrou Steyn vooraf vir haar bespreek het nie, maar ek het nie.”
“Ja, juffrou Steyn het bespreek, onthou ek. Maar hier is genoeg plek. Ons sal julle kan huisves. Op die oomblik is ons nie so vol nie. Dis nog nie vakansietyd nie. Gedurende skoolvakansies is ons soms redelik vol. Kom nader.”
Nadat hulle die besoekersboek geteken het en hul onderskeie kamers aangewys is, neem die gasheer hulle na die sitkamer, want dis net mooi teetyd. Hulle word aan die ander gaste voorgestel. Daar is doktor Jan Basson, argeoloog en ’n landgenoot van Sandra, waaroor sy baie bly is. “ ’n Mens voel dan nie heeltemal alleen nie,” laat sy hoor. Sy sekretaresse, Dianne Bougard, ’n blonde meisie en pragtig. Dan is daar nog twee ander here, menere Powell en Dickens van byna middeljarige ouderdom en vanaf Engeland, wat ook so pas maar daardie oggend aangekom het. Dis ’n gesellige groepie bymekaar en Andrews is ’n onverbeterlike gasheer. Hy, skat Sandra, moet aanstap veertig toe, ’n aantreklike man sonder om opsigtelik te wees. Sy draai na Gustaf langs haar.
“Dis hoekom ek die vakansieplaas verkies. Dis soveel geselliger, ’n intieme groepie. Veral wanneer jy alleen rondreis soos ek, kan dit soms baie eensaam wees in die groot hotelle. As jy nie deel van ’n toeristegroep is nie, word jy maklik uitgesluit.”
Doktor Basson knik.
“Dis waar, ja. Toe ek hierheen moes kom vir argeologiese navorsing, was ek baie bly toe ek van die vakansieplaas verneem het.”
“Maar is dit nie ’n bietjie ver van jou werk af nie?” wil Gustaf van die argeoloog weet, ’n man van seker so vroeg in die vyftig. “Ek neem aan jou navorsing is in verband met die ruïnes, nie waar nie?”
“Ja. Die ewige soektog na die geheim van Zimbabwe,” erken hy met ’n glimlaggie. “Padlangs is dit ver, maar ons gebruik die voetpaadjie. Dis sommer hier by ons as jy kortpad kies. As jy deur daardie venster kyk, kyk jy reg op die ruïnes af.”
Gustaf draai na sy gasheer.
“Jy het ’n oulike plek uitgesoek vir jou vakansieplaas, meneer Andrews. Doen die groot hotelle nie baie afbreuk aan besigheid vir jou nie?”
“Nie eintlik nie. Ek en my vrou verkies net ’n paar mense op ’n keer, want haar gesondheid is nie so goed nie. Ons kry in elk geval genoeg besoekers om die koste daaraan verbonde te regverdig.”
Dis of hy nog iets wil sê, maar dan is daar ’n beweging by die deur en ’n vrou maak haar verskyning met die teewaentjie.
Die eerste indruk wat die nuwe aankomelinge van hul gasvrou kry, is dié van ’n delikate, fyn mensie. Sy is ook blond, maar waar Dianne Bougard, doktor Basson se sekretaresse, ’n lang, slanke meisie is, is Nina Andrews kort en baie fyn gebou. Sy wek amper die indruk van breekbaarheid. Toe sy die vertrek dieper inkom en die elektriese lig helder op haar gesig skyn, sien Sandra onmiddellik die spoorlyntjies van rimpels oor die hele gesig raak, en sy kom tot die slotsom dat Nina heelwat ouer as haar man moet wees.
Sy groet die nuwe gaste vriendelik en draai dan na Dianne. “Sal jy die tee skink, asseblief, Dianne? Die ou teepot is so swaar vir my. Nie vir my nie, dankie.”
Dianne Bougard staan geredelik op, maar tog is daar iets in haar houding, of iets in haar geslote gesig, wat Sandra se aandag trek. Sy het nog die hele tyd nie ’n woord gesê nie, en verrig ook die takie wat so vriendelik van haar versoek is in doodse swye. Sou sy kwaad wees vir iemand? wonder Sandra. Dit wil so voorkom. Sandra loer tersluiks na Gustaf langs haar en sien dat ook hy die blondekop met aandag beskou. Sou dit wees omdat Dianne so aantreklik is, of het hy ook iets vreemds in haar optrede opgemerk?
Haar blik keer terug na die sekretaresse en op daardie oomblik oorhandig sy Phil Andrews se koppie tee aan hom. Net vlugtig kyk hulle op . . . maar dis ’n intieme blik tussen twee mense wat ’n geheim deel. Langs haar roer Gustaf effens en toe sy opkyk na hom, is sy wenkbroue net so effens gelig. Dan het sy haar dit nie verbeel nie. Hy het daardie blik tussen hul gasheer en die sekretaresse ook gesien.
Vlugtig dwaal Sandra se blik na die res, en bly dan rus op die blonde vroutjie. Haar ooglede is neergeslaan, maar daar is ’n trek om haar mond, iets soos hartseer en intense weemoed. Skielik kyk die vrou op, reg in Sandra se oë en iets in die blou oë vertel haar dat die vrou wel daardie blik tussen haar man en Dianne Bougard gesien . . . en verstaan het. Asof sy op iets ongeoorloofs betrap is, keer Sandra haar blik vinnig af, maar in haar hart lê daar ’n skielike jammerte vir die vroutjie.
Dis of die geselskap skielik net nie meer wil vlot nie. Dis of daar skielik iets onverklaarbaars in die atmosfeer ingesluip het. Doktor Basson sit met sy oë stip op sy koppie tee gerig, ’n fyn fronsie op sy goedige gesig. Dianne Bougard het met haar koppie tee gaan sit, haar gesig onpeilbaar. Die here Powell en Dickens lyk ongemaklik, asof hulle ook iets agtergekom het, maar nie presies weet wat aangaan nie. Die gasheer wat ’n rukkie gelede heel gesellig was, sit swyend, sy gesig somber. Nina Andrews sit roerloos, haar hande stil in haar skoot gevou, haar ooglede neergeslaan.
Sandra draai haar kop liggies fronsend in Gustaf se rigting. Ook hy lyk skielik glad nie soos die gawe, jong man wat haar vroeër in die aand te hulp gesnel het nie. Sy gesig is ook ernstig, sy oë stip – kompleet asof hy elkeen in die vertrek noukeurig opsom en oor elkeen notatjies in sy kop maak. Wat gaan nou met almal aan?
Die stilte is skielik so onuithoudbaar vir haar dat sy opspring en gemaak vrolik sê: “Jy moet my verskoon, mevrou Andrews, maar ek is versot op tee. Mag ek nog ’n koppie kry, asseblief?”
“Maar natuurlik. Kry gerus.”
“Gaan jy nie saam met my ’n koppie drink nie?”
“Nee, dankie. Regtig nie vir my nie.”
Dis doktor Basson wat skielik in ’n poging om die geselskap weer aan die gang te kry, opmerk: “Jy het nog nooit saans saam met ons ’n koppie tee gedrink nie, mevrou!”
Die blonde kop ruk op. Dis amper asof sy skrik. Dan kom haar antwoord bedaard: “Ek hou nie van tee nie, doktor. Dis maar al.”
Doktor Basson raak effens rooi en trek sy skouers op. Dis Gustaf wat skielik vooroor leun en laat hoor, sy blik op sy gasheer en gasvrou.
“Ek sien in die koerant julle het onlangs ’n bloedlose lyk hier gehad. Wat kan jy my daarvan vertel, meneer Andrews?”
Dis ’n geskokte stilte wat volg. Dis of ’n sweep die man tref en langs hom het sy vrou doodsbleek geword. Sandra, en so ook die res, kyk Gustaf verbaas en verwytend aan. Dianne Bougard staan vinnig op en stap uit sonder om om verskoning te vra. Maar Sandra – én Gustaf Lenard – het die vrees in haar oë gesien.