Читать книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

’n Oomblik duur die geskokte stilte voort. Dan ruk Phil Andrews hom merkbaar reg. “Niks meer as wat in die koerant gestaan het nie, meneer Lenard. Die oubaas is onverwags oorlede. Dis al.”

Gustaf klink openlik teleurgesteld. “Ek het gedink jy sal meer weet. Ek is mos gek na moordstories. Dis al wat ek lees.”

“Maar wat laat jou dink dit was moord, meneer Lenard?” vra doktor Basson fronsend. “Die koerant sê dit nie. Die afleiding wat ek gemaak het, was dat die oubaas hom op die een of ander manier doodgebloei het.”

Gustaf trek sy skouers op.

“O, wel, moord of nie moord nie, maar daar is beslis iets eienaardigs aan sy dood.” Hy draai weer direk na die Andrews-egpaar. “Het julle die oubaas geken?”

“Ja. Nie intiem nie. Hy was eintlik ’n ou kluisenaar. Maar hy het tog soms hier gekom.”

Sy vrou staan skielik op en dis of sy effens dronk in die kop word van die vinnige beweging, want haar man moet haar ondersteun. Sy glimlag verskonend na haar gaste.

“Julle moet my verskoon. Ek gaan saans vroeg inkruip,” verduidelik sy teenoor die nuwe aankomelinge. “My gesondheid is maar nie wat dit moet wees nie.”

Sandra glimlag simpatiek en knik begrypend. Hul gasvrou lyk nog bleek, en in haar hart neem Sandra vir Gustaf kwalik dat hy so ’n onsmaaklike gebeurtenis so blatant opgehaal het. Dit was uiters swak smaak. Die vrou se gesondheid is beslis nie wat dit moet wees nie, en veral omdat hulle die oubaas geken het, moet Gustaf se verwysing daarna haar ontstel het.

“Sekerlik, mevrou. Ek hoop julle het ’n rustige nag,” sê sy nou en gaan uit haar pad om vriendelik te wees.

’n Sagte glimlag verlig ’n oomblik die skraal gesiggie waarop rimpels diep insny.

“Dieselfde aan julle almal. Dankie, Phil, ek sal regkom,” sê sy in dieselfde asem aan haar man, en stap uit.

’n Oomblik ná haar verdwyning is dit weer stil in die vertrek. Dis Phil Andrews wat die stilte eerste verbreek.

“Wat het jy gesê is jou beroep, meneer Lenard?”

“Ek het nie gesê nie, maar ek is ’n onderwyser.”

“Maar hoe is dit moontlik dat jy nou al hier rondrits? Die skole het mos nog nie gesluit nie, of hoe?” vra Sandra voordat sy verder dink.

Hy kyk haar kalm aan. “Maar ek is met langverlof. Ek begin eers volgende kwartaal.” Sy oë terg skielik. “En wat doen jy, juffertjie, dat jy so alleen die wêreld vol rondrits met ’n gebreekte domkrag?”

“Ek, meneer Lenard, is ’n joernalis, om presies te wees, misdaadverslaggeefster by ’n dagblad.” Toe sy die skeptiese lig in sy groen oë sien, voeg sy vinnig by: “En my baas dink die wêreld van my werk!”

“Nou toe nou!” lag hy goedig asof hy ’n parmantige kind tot bedaring wil bring. “Dan het ons darem een groot ding gemeen.”

“Wat is dit?”

“Ons hou albei van moordstories – ek lees hulle graag en jy skryf hulle graag. Is dit hoekom jy na Zimbabwe gekom het?”

Nie een van die ander merk dit op nie, want almal se aandag is nou op Sandra gevestig, maar Gustaf Lenard se blik skiet vlugtig onder amper geslote ooglede oor die ander. Natuurlike belangstelling is op drie gesigte te lees, maar op die vierde is daar spanning en ’n intensiteit in die blik wat op Sandra rus asof hy gespanne op haar antwoord wag.

“Nee, glad nie,” kom haar eerlike antwoord. “Om die waarheid te sê, weet ek niks van hierdie geval af nie. Ek het dae laas ’n koerant onder oë gehad. Ek is met vakansie, en ek wil asseblief niks van moord en doodslag gedurende my vakansietyd hoor nie. Ek kry genoeg daarvan gedurende die jaar.”

Sy kyk Gustaf vererg aan. Wat sal die man op hul eerste aand hier so teem oor moord en dies meer? Kan hy nie aan aangenamer dinge dink om oor te gesels nie?

Die twee Engelse staan nou op en kondig aan dat hulle bedwaarts keer. Hulle het ’n lang pad agter die rug. Phil Andrews staan ook op en sê nag.

Sandra wil ook net verskoning vra, toe die argeoloog se stem opklink.

“Om terug te kom tot jou storie oor die oubaas wat dood is . . . Jy weet, Lenard, daar is beslis iets vreemds aan die hele ding. Hier het ook die afgelope tyd vreemde dinge gebeur. Ek is al ’n rukkie hier, amper drie maande, en het aanvanklik nie so ag daarop geslaan nie, maar ná oubaas Brijns se dood . . .”

Teen wil en dank is Sandra se nuuskierigheid geprikkel. Die misdaadverslaggeefster in haar roer en sy kyk die argeoloog met belangstelling aan. Hy het ook Gustaf se volle aandag.

“Wat bedoel jy met vreemde dinge wat hier gebeur het? Jy bedoel hier op Ruined Paradise?”

“Ja.” Hy lyk ’n oomblik verleë. “Maar noudat ek dit in woorde moet stel, klink dit . . . verspot. In elk geval, dit kan tog geen verband hê met die dood van oubaas Brijns nie. Ons laat dit maar daar.”

Hy staan op en Gustaf is dadelik op sy voete, sy gesig een groot vraagteken.

“Doktor Basson, gee jy om as ons ’n entjie gaan stap en dan vertel jy my daarvan? Al klink dit ook hoe verspot.”

Hulle kyk hom verbaas aan. Sandra kan sy gedrag glad nie verstaan nie. Waarom sal ’n doodgewone onderwysertjie met langverlof nou juis so intens belangstel in die dood van ’n ou man? Ook doktor Basson wonder dieselfde, en dan lig hy sy wenkbroue.

“Ek begryp. Ja, ons kan maar gaan stap. Miskien sal dit beter wees. Mure het ook soms ore.”

“Presies.” Hulle wil uitstap, maar Sandra is by. Op hierdie oomblik is sy volbloedverslaggeefster, totaal vergete dat sy net ’n paar minute gelede gesê het sy wil niks van moord en doodslag weet solank sy met vakansie is nie.

“Ek gaan saam,” kondig sy beslis aan en kyk Gustaf uitdagend aan toe dit lyk asof hy wil weier. “Ek wil ook hoor. Hoekom mag ek nie?”

Doktor Basson glimlag geamuseer vir haar parmantige houdinkie, maar Gustaf Lenard frons.

“Op een voorwaarde: niks wat jy hoor, is vir publikasie nie. Verstaan?”

“Dis nou te sê! En wie is jy miskien –?”

“Sandra!” Dis ’n stem van gesag wat haar in die rede val – en doktor Basson se blik is weer priemend op die ander gerig.

Tot Sandra se eie verbasing kapituleer sy. “Nou goed, hoewel ek nog nie kan sien watter gesag jý het nie –”

“Kom. Ons stap na buite,” val hy haar kortaf in die rede en hulle stap uit in die Zimbabwiese nag met sy helder sterre en die donker silhoeëtte van die ruïnes op die agtergrond. Eers toe hulle ’n hele entjie van die gebou af is, kom Gustaf tot stilstand.

“Nou goed, doktor. Laat ons hoor.”

“Wel, soos ek reeds gesê het, het ek hierdie dinge nie eens opgemerk nie. Dis eers nadat ek daardie koerantberig gelees het dat dit my opgeval het.”

“Wat in die koerantberig het jou getref?”

“Hulle noem daar dat oubaas Brijns net voor sy dood duidelik verswak het, volgens die assistent, maar dat hy nie oor ’n siektetoestand gekla het nie. Toe eers het dit my getref dat hier telkens, sedert ek drie maande gelede aangekom het, van die toeriste begin duiselig word en swak gevoel het. Ook hulle het geen pyn of ander kwale gehad nie. Hulle het net eienaardig swak begin voel. Noudat ek daaraan terugdink: hierdie mans was almal sterk, gesonde mense.”

“Weet jy of hulle ’n dokter geraadpleeg het?”

“Wel, ja, sover ek kan onthou. Die een het gesê dis bloeddrukmoeilikheid en die ander een het vermoed dis miskien iets met sy hart wat nie reg is nie. Sover ek weet, was geen dokter in enige geval spesifiek met ’n diagnose nie.”

“Kan jy al die name onthou?”

“ ’n Paar, nie almal nie. Jy weet, ek is maar heeldag weg, en baie aande werk ek laat. Dus was ek nie in die posisie om die mense baie goed te leer ken nie. Maar daar was tog ’n paar. Laat ek dink . . . Botes onthou ek beslis, omdat hy ook ’n Suid-Afrikaner was. Hy en sy vrou was hier. ’n Groot fris man, ’n wolboer van die Karoo. Hulle het ek nogal goed leer ken. Hy was een van dié wat skielik van ’n swak, lustelose gevoel begin kla het. Ek dink dit was in sy geval dat die dokter maar vermoed het lae bloeddruk was die rede. Dan was daar ’n Goëbel, ’n Duitse toeris. En ene Van Doorn, ’n Hollander, en . . . nee, ek kan nie nou onthou nie, maar ek dink daar was nog een, ’n rooikop, seker ’n Engelsman. Ja. Dis dié vier wat ek kan onthou, maar daar kon dalk meer ook gewees het. Soos ek sê, ek het die mense nooit juis goed leer ken nie.”

“Hierdie mense, hoe lank het hulle hier gebly vandat hulle swak begin voel het?”

“Nie lank nie. Dit onthou ek goed. Botes het byvoorbeeld gesê dat hy en sy vrou maar teruggaan huis toe. Hy was bang dat hy dalk sieker word en dan sit hulle in die vreemde. Veral toe dit blyk dat daar nie juis verbetering in die toestand intree nie. Om die waarheid te sê, het Botes al swakker begin voel. Hy was in elk geval in so ’n toestand toe hulle hier weg is dat hy nie kans gesien het om sy motor terug te bestuur nie, en sy vrou kon nie bestuur nie. Hulle is met die vliegtuig terug en ek het nog self die reëlings getref vir die versending van hul motor terug Suid-Afrika toe.”

“In daardie geval het jy meneer Botes se tuisadres, nie waar nie?”

“O ja. Ons het kontak behou. Ek het verlede week nog weer ’n poskaart van hulle gekry. Gawe boeremense daardie. Hulle het my genooi om by hulle op die plaas te kom kuier sodra ek terug is.”

“Dan het meneer Botes heeltemal herstel van die vreemde aandoening?”

“O ja. Hy sê vandat hy weg is van Zimbabwe het hy beter begin voel en toe hulle terug op die plaas was, was hy weer pure perd.”

“Was hy nie daar na ’n dokter toe nie?”

“Ja. Ek verbeel my hy het geskryf dat hy maar veiligheidshalwe sy huisdokter gaan spreek het, maar dié kon net mooi niks opspoor wat op die een of ander kwaal dui nie.”

Sandra staan doodstil en luister. Ook sy begin nou met die twee mans saamstem. Hier is iets eienaardigs, iets ongerymds.

Gustaf gaan maar rustig voort met sy vrae.

“Wanneer was die laaste geval van verswakking onder die toeriste hier by Ruined Paradise?”

Doktor Basson frons en dink diep.

“Nee, dit was nogal ’n hele rukkie terug, moet ek sê. Ek sou sê iets langer as ’n maand gelede.”

“Hm. Maar in hierdie maand waartydens niemand onder die toeriste deur die vreemde aandoening getref is nie, het oubaas Brijns verswak . . . en gesterf.”

Die twee mans se oë ontmoet in die flou lig van die maan. “Dink jy werklik daar is ’n verband tussen hierdie gevalle en die oubaas wat onlangs dood is?” wil Basson ernstig weet.

“Daar is tog ’n ooreenkoms, nie waar nie?”

“Ja, maar die toeriste is nie dood nie. Inteendeel. Botes het onmiddellik begin herstel nadat hulle hier weg is.”

“Presies.” Gustaf Lenard se gesig lyk grimmig in die halfskadu. “Nadat hulle hier weg is,” herhaal hy betekenisvol.

Die eerste keer dra Sandra tot die gesprek by.

“Jy bedoel . . . anders as oubaas Brijns?”

Haar stem klink geskok en ook Basson lyk asof hy geskok is oor hierdie bewering.

“Ek weet nie,” antwoord Gustaf met ’n sug. “Ek het nog geen bewyse om so iets te beweer nie, maar ek kan dink wat ek wil nie, waar nie? En dit klink vir my logies. Al die toeriste onder bespreking plus oubaas Brijns het skielik sonder klaarblyklike rede begin verswak. Sover bekend het beslis een geval, dié van Botes, herstel, en ons kan aanneem die ander het ook. Dit sal ons nog moet vasstel, maar ek dink ons sal van die ander presies dieselfde hoor. Sodra hulle die ruïnes verlaat het, het hulle begin beter word en heeltemal herstel van die vreemde aandoening. Maar oubaas Brijns het nie. Hy het gesterf – juis omdat hy gebly het! Dis tog so duidelik soos daglig . . . vir my, altans.”

Daar heers ’n oomblik stilte terwyl Sandra en Basson ernstig aan Gustaf se woorde herkou. “Jy het ’n punt beet, Lenard,” laat Basson ná ’n rukkie hoor. “Ek dink jy het gelyk. Die ander was toeriste wat kon weggaan . . . en so hul eie lewe kon red. Oubaas Brijns was permanent hier woonagtig. Dit is sy blyplek dié . . . en hy het gesterf.”

Sandra se oë lyk groot en rond in die skemerlig terwyl sy die twee mans beurtelings ontsteld aankyk.

“Maar besef jy, Gustaf, as jy gelyk het in daardie veronderstelling, wat dit werklik beteken? Dit beteken dat . . .”

“ ’n Hele klomp mense al sou gesterf het. Dit beteken, my liewe, knap misdaadverslaggeefstertjie, dat hier dan waarskynlik nie net een moord gepleeg sou gewees het nie, maar ’n hele klomp. Natuurlik besef ek dit.”

“Maar hoe kan jy sommer aanneem dis moord?” verweer sy heftig. Sy weet nie hoekom nie, maar dis of sy teësinnig, selfs bang is om die woord “moord” in verband met die vreemde gebeure te bring.

Ook Basson protesteer.

“Ek erken die feite lyk vreemd en agterdogtig, maar kan ’n mens dit sommer moord noem?”

“Ek gee nie om wat ander mense dit noem nie. Ek noem dit moord. Instink vertel my dat hier gemene spel aan die gang is.”

Sandra kyk hom skerp aan en Basson laat met ’n geamuseerde glimlaggie hoor: “Ek het nooit geweet dat onderwysers se instink so fyn ontwikkel is nie!”

Gustaf glimlag ook effens.

“Daar is ’n ou Afrikaanse gesegde wat ek by my leerlinge indril, doktor. ’n Mens raak nooit te oud om te leer nie! Met alle respek, natuurlik!”

Basson lag geamuseer, maar Sandra se gesig bly ernstig terwyl haar oë die man langs haar bestudeer.

“Ons sal moet terugdraai,” laat Gustaf dan hoor. “Ons kan nie te lank hier staan en gesels nie, anders sal dit miskien agterdog wek. Net een ding, doktor Basson. Hou asseblief jou oë en ore oop. Dit geld vir jou ook, Sandra. Ek dink ons het hierdie keer met die volmaakte moord te doen, of liewer, ’n volmaakte moordenaar. Maar ek sal hom nog betrap en uitlewer . . . al sterf ek ook.”

Daar word nie verder gepraat nie, want hulle is reeds binne hoorafstand van die gebou. Dis met somber gemoed dat hulle mekaar ’n geruste nag toewens en na hul onderskeie kamers afdraai.

Toe Sandra haar kamerdeur agter haar toedruk, het sy reeds die sleutel in die slot gedraai voordat sy besef dat sy dit gedoen het. Sy frons terwyl sy daarna staar. Nou hoekom het sy dit gedoen? Sy slaap nooit met ’n geslote deur nie. Tog, toe sy omdraai en haar begin verklee, is die deur nog steeds gesluit en dit bly gesluit toe sy enkele minute later die kamerlig doof.

Maar sy slaap nie. Sy lê met groot, oop oë en nugter verstand die donkerte en instaar. Haar verstand werk teen ’n blitsige verslaggewerspas. Maar toe sy aan die einde van al die feite, of halwe feite kom, moet sy met Gustaf Lenard saamstem. Iets is hier beslis nie pluis nie. Maar moord? Net op hierdie punt deins sy terug. Want ás dit moord is, dan het Gustaf Lenard volkome gelyk om te beweer dat dit volmaak is, en dat dit deur ’n volmaakte moordenaar beplan en uitgevoer is. Dit laat haar onrustig, selfs bang voel.

In haar loopbaan as misdaadverslaggewer het sy al met baie misdadigers, koelbloedige moordenaars, te doen gekry. Maar tog was hulle almal op die een of ander punt menslik, het hulle ’n kwesbare plek gehad, was daar nog genoeg mens in hulle met wie jy kon praat en redeneer. Maar ’n volmaakte moordenaar . . . Dis iets wat sy hoop sy nooit op haar pad sal teëkom nie, want so ’n mens moet werklik ’n satan wees. Daar moet ’n diaboliese verstand agter ’n volmaakte moord skuil en die slinksheid van Satan self moet in sy donker hart woon.

Nee wat, Gustaf Lenard slaan die bal mis. Hierdie onderwysertjie lees te veel slapbandrillers en speurverhale middae ná skool. Dis die fout met hom. Onderwyser? Sy frons in die donker, en roep sy gesig voor haar geestesoog op – ’n sterk gesig met hoekige kakebeen, ferm lippe, ’n haakneus, donker oë, ligte hare, lang, amper seningrige gestalte, vierkantige skouers en ’n stem met gesag asof hy weet waarvan hy praat wanneer hy van moord en volmaakte moordenaars praat. ’n Onderwyser?

Haar gedagtegang word skielik deur ’n geluid onderbreek en sy sit regop in die bed. Sy kan sweer sy het iemand hoor snik. Sy wil weer teruglê toe die geluid duidelik herkenbaar deur haar oop kamer­venster kom. Dit ís ’n snik! Iemand huil!

Sandra byt haar onderlip vas. Een van die mans sal dit tog seker nie wees nie. Trouens, doktor Basson en Gustaf het in die ander gang afgedraai toe hulle naggesê het. Die here Powell en Dickens het lankal gaan slaap en dit sal tog sekerlik nie een van hulle wees wat in hierdie middernagtelike uur byna hardop lê en snik nie! Nina en haar man se kamer is dit ook nie. Sandra het opgemerk, terwyl hulle vanaand tee gedrink het, dat die eienaars van die vakansieplaas hul eie private woonstel aan die gebou het. Die enigste en waarskynlikste persoon wat dus die kamer langsaan het en nou so droewig snik, kan net Dianne Bougard, die argeoloog se sekretaresse, wees.

Sandra aarsel en sit besluiteloos. Normaalweg sou sy niks daarvan gedink het nie om nou na die kamer langsaan te gaan en te gaan hoor wat skort en of sy miskien kan help. Sandra is ’n lieftallige mens en haar hart is oop vir haar medemens se probleme en hartseer. Maar iets hou haar terug. Dianne Bougard het vanaand aan teetafel beslis vreemd opgetree. Sy het op die oog af bot en ongesellig voorgekom. Noudat Sandra egter tyd het om goed terug te dink, besef sy dat Dianne nie bot en onvriendelik was nie. Daardie meisie is diep ongelukkig. Sy was ook gespanne en bekommerd en, toe sy die vertrek so haastig en sonder verskoning verlaat het, beslis bevrees, amper beangs. Hoekom? En vir wie? En nou lê en huil sy hier langsaan!

Sandra onthou weer daardie betekenisvolle blik tussen Dianne en Phil Andrews. Sy kan sweer dit was ’n baie intieme blik, soos tussen twee mense wat ’n geheim deel . . . of verlief is op mekaar.

Sandra frons terwyl sy luister na die sagte geluide wat nog steeds deur haar kamervenster kom. Is sy ook nou besig om aan ’n oormaat verbeelding te ly, soos Gustaf Lenard, of is hierdie vermoede van haar juis? Is Dianne Bougard en Phil Andrews verlief op mekaar, of beteken daardie blik tussen hulle heeltemal iets anders? Nie dat die eerste vermoede vergesog is nie. Phil Andrews is op sy growwe, ongepoleerde manier aantreklik. Hy en Dianne is beslis nader aan mekaar se ouderdomsgroep as Andrews en sy vrou. Dis heeltemal moontlik dat hierdie twee op mekaar verlief geraak het.

Weer word haar gedagtegang onderbreek, hierdie keer deur ’n fluisterstem. Voordat Sandra haar kan bedink, is sy by die venster. Dianne Bougard is nie net aan die huil in die kamer langsaan nie. Sy is beslis ook besig om te pleit. By wie? Sandra hou haar verskuil agter die gordyn en sy verontskuldig haar gedrag met die gedagte dat Gustaf haar en doktor Basson tog gevra het om hul oë en ore oop te hou.

“Asseblief! Asseblief! Ek kan dit nie langer uithou nie! Ek gaan met haar praat. Ja, ek gaan! Ons kan nie so voortgaan nie!”

Sandra kan elke woord duidelik hoor en sy hou haar asem op toe ’n ander fluisterstem dringend waarsku: “Moenie dwaas wees nie, Dianne! Jy weet nie wat jy sê nie! Los Nina uit!”

“Maar wat gebeur wanneer doktor Basson hier klaar is? Ek het dan geen rede om langer hier te bly nie. Moet ek dan maar weggaan? Is dit hoe jy dit verkies? Dat ek dan net weggaan asof niks gebeur het nie?”

’n Sagte kreuntjie klink op en aan die geluide kan Sandra agterkom dat die man Dianne in sy arms moet geneem het. Daar heers ’n hele rukkie stilte. Dan hoor sy die man se pleitende fluisterstem.

“Dis nog net jy wat my moed gee om van dag tot dag voort te gaan. Was jy nie daar nie, het jy nie so wonderlik in my lewe ingestap en weer betekenis daaraan gegee nie, sou ek lankal ’n einde aan alles gemaak het. Hoe kan jy sê ek sal dit verkies dat jy weggaan?”

“Maar jy wil ook niks doen om sake vir ons op te los nie!” hoor Sandra die heftige protes. “Jy wil nie met jou vrou praat nie, en jy verbied my om reguit met haar te gaan praat.”

’n Sug ontsnap die man se bors.

“Dianne, dit sal nie help nie. Hoeveel keer moet ek dit vir jou sê?” Dis asof sy stem wil breek. “Jy sal net . . . die duiwel loslaat. Dis al. Asseblief! Asseblief, dit moet jy my belowe. Jy praat geen woord met Nina oor ons twee nie!”

Sy stem klink nou ietwat duideliker en Sandra kom agter dat die man deur die venster na buite klim. Sy hoor die dowwe plof toe hy op die grond spring. Dianne se stem klink ook nou helderder op. Sy het nader aan die oop venster beweeg.

“Soms kan ek jou amper haat vir die vernederende posisie waarin jy my plaas, Phil. Ek voel al goedkoop en sleg en ek wil dit nie wees nie. Ek het jou lief en ek wil jou openlik liefhê . . . nie op hierdie manier nie!”

“Miskien sal dit beter wees as jy my liewer werklik kan begin haat, Dianne. Dis miskien die enigste oplossing vir ons,” klink Phil Andrews se stem somber op, sodat Sandra hom op hierdie oomblik amper jammer kry.

“Ek besef al meer en meer hierdie ding tussen ons moet liewer end kry. Ja, dit moet ’n stil dood sterf voordat . . .” Hy swyg en vervolg dan vinnig: “Ons sien mekaar weer. Ek moet nou gaan. Slaap lekker, my skat.”

Van agter die veilige skuiling van die gordyne sien Sandra hoe Phil Andrews digby haar venster verbykom en met geboë skouers aanstap totdat hy om die hoek verdwyn. Sy staan roerloos, want sy weet Dianne staan nog by haar venster. Sy wag ’n lang ruk voordat sy dit waag om na haar bed terug te keer. In die kamer langsaan het dit doodstil geword. Sandra neem versigtig plaas op die kant van haar bed. Van slaap is daar nou geen sprake nie.

Dan was haar vermoede reg! Daar is ’n geheime liefdesverhouding tussen die baas van Ruined Paradise en Dianne Bougard. Sou Phil Andrews se vrou daarvan bewus wees? Die fyn, smartbespoorde gesiggie van Nina Andrews verskyn voor haar geestesoog. Sonder dat iemand haar dit hoef te vertel, weet Sandra intuïtief dat Nina van hierdie feit bewus is. Daar is ’n weemoed en ’n hartseer in die fyn gelaatstrekke afgeëts wat dit verraai. Dis nie net liggaamlike smart wat hierdie vrou dra nie. Weer voel Sandra haar hart in medelye saamtrek. Die arme Nina!

Maar dan, verbasend, is daar ook medelye in haar hart vir Dianne Bougard en die grof geboude Phil. Ook hulle moet deur hel gaan. Die ewige driehoek! Sandra sug. Ai, ’n mens is so magteloos om in so ’n situasie te help. Phil Andrews het gelyk gehad. Dit sou vir almal beter gewees het as Dianne Bougard die man wat sy nou so liefhet dat sy haar verneder en goedkoop maak, eerder kon leer haat. Dit sal beslis ’n oplossing vir ’n onmoontlike situasie wees.

Sandra voel diep in haar hart hewig ontsteld. Sy het gekom om vakansie te hou, om te ontspan en te vergeet van al die grusame dinge waarmee sy die afgelope jaar in haar werk in aanraking gekom het. Sy glimlag nou skeefweg. Maar dit lyk asof sy, soos ’n vlam ’n mot, intrige na haar toe aantrek. Sy het nog nie behoorlik aangeland nie, of dit is bloedlose lyke, vreemde aandoenings, moordstories en, les bes, ’n geheime liefdesverhouding! Sy kyk na die wekkertjie op die bedkassie. Twaalfuur. En sy is maar presies vier uur lank hier!

Nugter wakker, besef sy dat sy dors voel. Daar is egter geen kraffie met water te siene nie, en sy besluit om maar gou badkamer toe te gaan. Baie versigtig om geen geraas te maak nie, draai sy die sleutel terug in die slot en trek die deur oop. Skielik lyk dit vir haar so ver na die badkamer aan die onderpunt van die gang. Sy staan nog besluiteloos toe ’n sagte geluid haar aandag in die teenoorgestelde rigting trek. Dit klink soos papier wat liggies in die voorportaal kraak.

Wat gaan in hierdie plek aan? wonder sy ’n oomblik benoud. Slaap die mense dan nooit hier nie? Alle lus vir water het haar verlaat. Sy luister fyn. Daar is dit weer – soos ’n blad wat versigtig omgeblaai word.

Sandra voel kriewelrig, maar haar nuuskierigheid kry die oorhand. Sy sal vannag nooit ’n oog toemaak as sy nie gaan vasstel wat daardie geluid veroorsaak nie. Biddend dat die vloer nie onder haar ligte voetstappe moet kraak nie, sluip sy die gang af. Dit voel soos ’n oneindigheid voordat sy die ingang tot die voorportaal bereik. Sy trek haar asem in en hou dit op toe sy baie versigtig om die hoek loer. Haar oë rek.

Iemand is besig om in die besoekersboek te blaai! Sy frons. Dis ’n man, maar dis nie Phil Andrews nie, daarvan is sy seker. As dit hy was, sou hy die lig aangeskakel het en nie met ’n sakflits in die donker sukkel nie. Sy kan die man nie duidelik sien nie, want die res van die portaal is in donkerte gehul. Dis net die ronde ligkol op die besoekersboek wat te siene is. Sandra staan roerloos. Sy is te bang om asem te haal.

Dan sien sy hoe die man nader oor die boek buk asof hy op iets afgekom het en nou is die buitelyne van sy gesig herkenbaar. Sy snak na asem en die man reageer soos blits. Dis soos ’n weerlig­straal wat op haar afskiet sodat sy reeds stewig vasgevat is en ’n hand knellend om haar mond sluit voordat sy weer ’n asemteug kan trek. Dan word sy stadig gelos en sy kyk in die donker na hom op.

“In hemelsnaam, wat gaan met jou aan – jy sal dat ’n mens jou boeglam skrik!”

“Sagter! Wil jy die hele plek wakker hê?”

“Die hele plek ís wakker. Lyk my hier slaap g’n mens nie,” brom sy gedemp en vee oor haar lippe waar sy vingers met ruwe geweld gekneus het.

“Wat soek jy hier?”

“En wat krap jy om twaalfuur die nag in ander mense se goed rond?” is haar parmantige weervraag en Gustaf trek haar met min ontsag die voorportaal binne. Hy kners liggies op sy tande.

“Dit het niks met jou te doen nie, verstaan?”

“Dit het iets met meneer en mevrou Andrews te doen, en ek is van plan om hulle môreoggend hiervan te vertel.”

Daar heers ’n oomblik stilte.

“Jy’s tog seker nie ernstig nie!”

“Natuurlik is ek, behalwe natuurlik as jy my vertel wat so interessant in daardie besoekersboek is dat jy dit om twaalfuur die nag met ’n sakflits moet deursoek . . . speurder Lenard.”

“Jy praat twak!”

“Ek mag twak praat, maar jy is maar ’n twakkerige speurder, Gustaf Lenard. ’n Mens kan jou op ’n afstand uitruik. Speurders het ’n reuk van hul eie, en my neus ken daardie reuk. Jy stink behoorlik van intrige!”

’n Oomblik is hy stil. Dan gee hy die stryd gewonne.

“Nou goed dan. Ek is ’n speurder. Wat wil jy daarmee maak?”

“Niks. Nie nou nie. Maar, Gustaf, wanneer hierdie saak opgelos is, wil ek die scoop hê, hoor?”

“O, julle joernaliste! Julle sal ’n mens selfs afpers om jul sin te kry!”

Sy lag saggies, tevrede. Haar skoot in die donker het getref!

“My liewe Gustaf, jy kan my nie kwalik neem dat ek jou sommer uitgeruik het nie. Jy lyk darem te onnosel vir ’n onderwyser!” terg sy.

“Meisiekind! Jy moet . . .” Dan sluk hy sy woorde terug, neem haar hand en trek haar nader na die ontvangstoonbank. “Ek sal jou later kry vir daardie belediging. Nou is daar werk. Kom help.”

“Wat doen jy?” vra sy nuuskierig.

“Ek soek na die name van die toeriste wat doktor Basson vanaand opgenoem het – dié wat skielik swakheidseienskappe geopenbaar het. Ek het al drie gekry. Soek jy in hierdie boek. Dis die een wat nou gebruik word. Ek vermoed dat ek al die ander name in ’n vorige boek sal kry, dié wat voor Basson se koms hierheen dieselfde oorgekom het.”

Sy spring aan die werk terwyl Gustaf voel-voel in die donker soek na ’n identiese boek. Nie lank nie, of hy haal een onder die toonbank uit. Daar word nie gepraat nie. Gustaf het die lys van name wat hy van die dokters gekry het uit sy sak gehaal en gaan elke bladsy noukeurig na. Toe hulle eindelik weer die besoekersboek presies op sy plek neerlê op die toonbank en die oue weer terug het op sy plek onder die toonbank, voel Gustaf Lenard tevrede. Dit was die moeite werd om ’n paar uur slaap daarvoor op te offer.

Versigtig sluip hulle weer die gang af tot waar Gustaf moet afdraai. Hy fluister teen haar oor.

“Slaap lekker en dankie vir die hulp. Ons praat môre verder. Dan sal ek jou vertel watter belangrike ontdekking ek gedoen het.”

“Goed,” fluister sy terug hier dig teen sy wang. “Ek het ook iets om jou te vertel.”

“Wat is dit?” wil hy dadelik weet, en sy glimlag. Dan sê hulle dis vroumense wat nuuskierig is!

“Daar is ’n geheime liefdesverhouding tussen Phil Andrews en Dianne Bougard. Hy het haar vroeër vannag in haar kamer besoek.”

Gustaf staan en herkou ’n rukkie hierdie nuus en dan voel Sandra skielik ’n ligte soentjie op haar wang.

“My slim speurdertjie! Hou so aan, en ek beloof jou dat jou koerant die enigste sal wees wat met hierdie storie sal kan spog. Lekker slaap.”

Toe Gustaf en Sandra se kamerdeure agter hulle toegaan, is hulle onbewus daarvan dat die voordeur versigtig oopgemaak word en ’n persoon binnekom en voor die besoekersboek by die toonbank huiwer. Dan trek daar ’n glimlag oor die gesig . . . smalend. Laat hulle maar soek. Bewyse sal hulle nooit vind nie, want daar is geen bewyse nie. Net ’n bloedlose lyk waaruit niemand iets sal wys word nie.

Ena Murray Keur 1

Подняться наверх