Читать книгу Ena Murray Keur 1 - Ena Murray - Страница 6

3

Оглавление

Die volgende oggend aan ontbyttafel hou Sandra die ander fyn dop. Dianne Bougard se bleekheid is opvallend en dis vir Sandra se speurende oë baie duidelik dat doktor Basson se sekretaresse ’n slapelose nag agter die rug het. Van Phil Andrews is daar niks te sien nie. Sy neem aan hy is buite op die plaas doenig. Die ander het reeds klaar geëet en verskoning gemaak toe Sandra haar koppie koffie nader trek, haar oë peinsend.

“Is daar nog iets wat ek vir jou kan bring, juffrou?” hoor sy ’n sagte, moeë stem langs haar vra en sy skrik byna.

“Dankie. Ek het heerlik geëet. En noem my gerus Sandra.” Nina Andrews glimlag net en Sandra vra simpatiek: “Hoe voel jy vanoggend? Het jy darem goed geslaap?”

“Ja, dankie. Redelik.”

Sandra voel weer die jammerte in haar. Arme vrou. Sy gaan uit haar pad om vriendelik te wees.

“Kom sit by my en drink saam met my ’n koppie koffie, toe.”

“Dankie, maar ek het klaar ontbyt geëet. As daar niks meer is waarmee ek kan help nie . . .”

Sy swyg toe Dianne by die deur verbyloop op pad na buite, en ’n lang oomblik bly haar oë op die deur gerig, die weemoed weer duidelik in die ligblou dieptes leesbaar. Dan is dit of Nina haar doelbewus regruk en haar stem klink half gejaag: “Verskoon my. Ek moet my spyskaart vir vanmiddag gaan regkry.”

Sandra volg haar met ’n bekommerde blik. Sy sien hoe die vrou ’n hand uitsteek toe sy by die kombuisdeur kom, asof sy skielik weer half duiselig geword het. Dan verdwyn sy en Sandra byt haar onderlip vas. Sy is nou heeltemal seker dat Nina Andrews bewus is van die verhouding tussen haar man en Dianne Bougard. Haar oë het dit verraai toe Dianne by die deur verbygekom het. Weer eens voel sy hoe haar hart na hierdie vroutjie uitgaan.

Dit moet hel wees vir ’n vrou om te sien dat die man wat sy liefhet ’n ander vrou bo haar verkies. Maar benewens hierdie feit, moet dit vir Nina Andrews nog erger wees, want waar ’n ander vrou miskien nog kan probeer om haar man terug te wen, kan sy beslis nie teen die heelwat jonger Dianne meeding nie. Hierbenewens is haar gesondheid ook nog swak. Sy het geen kans om haar man weer na haar terug te lok nie. En sy weet dit, besef Sandra met innige meegevoel. Sy weet sy kan maar net swyend toekyk hoe ’n ander jonger, gesonder vrou haar man van haar steel – en daar is niks wat sy kan doen om dit te verhoed nie.

Sandra sug saggies en hoor dan Gustaf se stem agter haar in die gang.

“As jy nie omgee nie, doktor Basson, sal ek graag saamstap. Dan wys jy my sommer die kortpad na die ruïnes.”

Sy is soos blits op.

“Ek gaan saam. Wag vir my.”

Basson glimlag geamuseer toe Sandra drafstap in die rigting van haar kamer om haar kamera te kry.

“Hierdie klein verslaggeefster gaan aan jou klou soos ’n neet, my vriend!”

Gustaf glimlag ook.

“Ek gee nie om as so ’n oulike dingetjie soos ’n neet aan my klou nie, doktor. En sy gaan vir my baie handig te pas kom, ’n ekstra paar oë en ore so te sê. Maar sy gaan werk vir haar scoop, glo my!”

“Ek is gereed.” Sandra voeg haar effens uitasem by hulle.

Dis uiters vyf minute se stap met die kronkelpad voordat hulle die ruïnes bereik. Groepies toeriste kan reeds gesien word. Daar is natuurlik diegene wat dié oggend na die ruïnes kyk, wie se belangstelling maar baie oppervlakkig is. ’n Oomblik sal die misterie van Zimbabwe hulle gevange hou. Dan sal hulle omdraai en terugkeer hotel toe sodat hulle tuis aan hul familie en vriende kan vertel dat hulle ook ’n draai by die Zimbabwe-ruïnes gemaak het. Baie interessant, ensovoorts, ensovoorts.

Maar tog is daar hulle wat met opregte belangstelling deur die torings en gange en sale dwaal, mense soos die argeoloog, doktor Jan Basson, wat antwoorde op al die skynbaar antwoordlose vrae soek: Wie het hierdie klippe so kunstig gebreek en met ’n meesterhand opgestapel sonder om van ’n voegmiddel gebruik te maak, en dit so na aan volmaak gedoen dat dit eeue daarna nog ongeskonde en byna in perfekte orde behou is? Soos ’n tergende vraagteken beskou dit steeds die hedendaagse hoogs ontwikkelde menseras uitdagend in volkome swye en misterie.

Watter menseras het hier geleef, gelag, gely . . . en uiteindelik so uitgesterf dat daar nie eens mondelinge oorlewering van hulle oorgebly het nie, afgesien van hierdie groteske en grootse handewerk wat as enigste bewys aan vandag se wêreld staan dat hulle hoogs beskaaf was vir die tyd waarin hulle geleef het, dat hulle hoogs intelligent was met ’n vakmanskap wat vandag nog te beny is? Ja, dat hulle reeds kennis daarvan gedra het dat die aarde in sy boesem meer as net grond huisves en dat hulle reeds na daardie skatte begin soek het. ’n Menseras wat reeds begin het om handel te dryf; om dit wat hulle het, te verruil vir die noodsaaklike dinge wat hulle nie het nie. Maar ook ’n menseras wat ’n hoë peil van aanbidding aan hul gode gehandhaaf het, vandaar die tempelruïnes, die torings, die geheime wandelgang van, soos vermoed word, die priesters na die allerheiligste waar priesters en hoëpriesters hul gode aanbid het.

Daar is party geleerdes wat die teorie handhaaf dat hierdie beskawing behoort het aan ’n swart ras wat hierdie grootse bouwerk in die vyftiende eeu gebou het, kom dit in die vertelling van doktor Basson uit terwyl hulle nader stap. Maar Jan Basson is geneig om eerder met een van die ander teorieë saam te stem . . . dat dit die Feniciërs was wat, vlugtend teen die oormag van die Romeinse Ryk, eindelik hier ’n rusplek gevind het van hul vyande. Hulle het hul kennis en beskawing saamgebring om hier in die donker binneland van ’n toe nog onbekende kontinent van voor af hul hoë peil van beskawing te herbevestig.

Is dit hiervandaan dat Salomo die goud vir sy tempel gekry het? In die Bybel word gemeld dat hy goud uit Ofir gekry het, en oral om die ruïnes is duidelike tekens van goudontginning. Was dit die land van Ofir van ouds dié? En was dit miskien uit hierdie omgewing dat die koningin van Skeba gekom het, die swart koningin uit ’n ver land wat net een keer haar verskyning in die Bybelse vertellings maak en dan weer verdwyn?

Jan Basson se blik rus peinsend op die ruïnes voor hom. Die oog van die argeoloog kyk anders as die oog van die gewone mens. Vir hom is die ruïnes nie net ’n hoop opgestapelde klip wat ná eeue nog staan nie. Die argeologiese oog kyk ver terug die verlede in en sien die kinders onder die wilde lukwartbome speel – die m’hoba-hoba soos hulle in hierdie geweste bekend staan. Hy sien hulle onder die denne- en bloekombome opgroei. Hy sien die priesters met hul vleklose gewaad en somber, gerimpelde gesigte met donker, stip starende oë al langs die geheime wandelgang beweeg na die offersaal waar wierookbakke en fakkels groteske skaduwees op die ruwe klipmure gooi, terwyl die lykwit hande van die hoëpriesters omhoog gerig word in aanbidding tot die gode van hul voorvaders, die groot en magtige Baäl – Astarte.

Op die agtergrond klink die temerige gesang van die tempeldienaars op teen die sterwende dag en die moeë delwer na die goud in die boesem van die aarde keer met langsame tred terug na die veiligheid en rus binne die ommuurde stad en vesting. Daar sal hy veilig wees tot môreoggend, wanneer die jubelsang van die priesters met wierookdampe meng terwyl ’n nuwe dag van arbeid en aanbidding aangekondig word en Baäl op sy vurige koets die donker horison breek om sy kinders met nuwe warmte en bloed te besiel.

Maar wat het van hulle geword – van die kinders onder die m’hoba-hoba, die delwer wat saans huis toe kom, die priester met die wierook en die brandende fakkel? Watter tragedie het hom eeue gelede hier afgespeel sodat geen oorblyfsel van sy bewoners gevind kan word nie? Geen beendere, geen grafte is nog gevind om die mantel oor die swyende misterie te lig nie. Wat het geword van hulle wat hier gesterf het? Waar is hul beendere gebêre en wat het van die laaste lewendes geword?

Hoe kon die eeue oue geskiedenis hulle so ingesluk het dat daar selfs geen oorlewering, geen legende, geen enkele storietjie van hierdie sonaanbidders en ambagsmanne vertel kan word nie of opgeteken staan êrens op ’n ou perkamentrol of ingebeitel is in die seepsteen wat hierdie mense vir hul beeldhoukuns gebruik het nie? Hoe is dit moontlik dat ’n hele ras van ontwikkelde intellek van die aardbodem kon verdwyn sonder dat iemand weet wat gebeur het?

En ’n entjie van die diep ingedagte Jan Basson af staan die speurder. Ook Gustaf Lenard se blik rus peinsend op die bewakers van ’n eeue oue geheim. Maar sy gedagtes vaar in ander kanale as dié van die argeoloog hier digby hom. Sy geestesoog sien nie spelende kinders onder die bome, die gouddelwer van eeue gelede terugkeer na die vesting, die lang, wit kleed van die hoëpriester of die wierookdampe van aanbidding opstyg nie.

Hy sien maar net murasies voor hom, byna onooglik in die gloed van ’n helder son. Tog, soos die jong meisie aan sy regterkant, waar sy ook die ruïnes intens staan en beskou, voel hy dit ook aan . . . ’n gevoel asof die ruïnes nie werklik so verlate en onbewoon is as wat dit in die helder sonlig daar uitsien nie, nie werklik so leeg en sonder lewe is as wat dit wil voorkom nie. Ook hy, nes Sandra langs hom, ervaar daardie eienaardige, onverklaarbare gevoel . . . Êrens, diep in die aarde se ingewande, op ’n geheime, verskuilde plek waar geen menslike hand nog gedelf en geen menslike blik nog gerus het sedert sy bewoners eeue gelede in die niet verdwyn het nie, klink ’n hartklop moeisaam, swaar . . . en vol boosheid.

Skielik is dit nie meer vir hom so onaanneemlik dat ’n bloedlose lyk in die omgewing van die ruïnes gevind is nie. Op ’n onverklaarbare wyse voel dit vir hom op hierdie oomblik asof dit so hoort. Dit maak sin.

Dis Sandra wat eerste die stilte verbreek.

“Doktor Basson, weet jy wat Nina Andrews makeer?”

Ook Gustaf kyk belangstellend op toe Basson sy kop skud.

“Nie juis nie. Ek kan nie onthou of Andrews my dit self vertel het en of ek dit by iemand anders gehoor het nie, maar sy het glo die een of ander soort kanker. Hoekom?”

Sandra frons.

“Ek weet nie. Ek het sommer netnou aan tafel skielik ’n gedagte gekry.” Sy kyk op. “Julle het seker gisteraand gemerk toe sy opgestaan het om kamer toe te gaan. Dit was asof sy ’n oomblik duiselig was. Haar man moes haar ondersteun. Vanoggend, terwyl ek aan die ontbyttafel gesit het, het ek gesien dat sy weer na die deur­kosyn moes gryp. Ek het gewonder of hierdie vrou nie miskien ook dieselfde aandoening onder lede het as die ander nie. Maar as jy seker is sy het kanker . . .”

Basson frons.

“Wel, as sy miskien ook die vreemde aandoening onder lede het, reageer sy beslis nie soos die ander nie. Dan hou sy al drie maande uit, want dis so lank as wat ek al hier is.”

Sy frons verdiep nog meer. “Julle weet, daar is vir my ook iets eienaardigs aan hierdie vrou se toestand. In die drie maande dat ek hier is, was daar tye dat sy werklik baie goed gelyk het. Amper gesond, sal ek sê. En dan, skielik, versleg haar toestand weer dat ’n mens haar selfs dae lank nie sien nie, wanneer sy pal in die bed lê.”

Daar is ook ’n skerp frons tussen Gustaf se wenkbroue.

“Dit kan ook wees dat sy die een is wat die ander aansteek, onbewustelik natuurlik. Dit sal ’n verklaring wees vir my interessante ontdekking gisternag.”

“Gisternag?” Doktor Basson kyk fronsend op.

“Ja. Ek het al die name van die toeriste wat al gepla was met hierdie vreemde aandoening in Ruined Paradise se besoekersboek gekry. Ek kon nie een van die name in die besoekersboek van enige hotel of vakansieplek in die omtrek kry nie. Dis hoekom ek op Ruined Paradise beland het. As hierdie vrou dus moontlik die draer van ’n geheimsinnige, sê, tot dusver onbekende kiem is, is dit heel eenvoudig hoekom die toeriste wat van die vakansieplaas gebruik maak, ook aangetas word.”

Sandra kyk hom fronsend aan.

“Tot daar hou jou hipotese steek, maar nie verder nie. As hierdie vrou dan die een of ander geheimsinnige aansteeklike siekte het wat deur ’n kiem op haar gaste oorgedra word, wat dan van die feit dat die mense net nadat hulle Zimbabwe verlaat weer net so wonderbaarlik herstel? Sal daardie geheimsinnige kiem dan juis net op Ruined Paradise floreer en ’n skielike dood sterf sodra die lyer die vakansieplaas verlaat?”

Gustaf glimlag en knik goedkeurend sy kop.

“Fyn beredeneer, my klein verslaggeefster! Jy het heeltemal gelyk. ’n Kiem kan dit nie wees nie. Sonder ’n kiem kan die siekte nie aansteek nie. Buitendien, daar is nog ’n eienaardigheid wat hierdie hipotese die nekslag toedien. Daar word nooit meer as een mens op ’n slag swak nie. As dit dus iets aansteekliks is, sal meer as een mens tog gelyk aangesteek word, nie waar nie? Dus, die hipotese dat mevrou Andrews ’n geheimsinnige, aansteeklike siekte onder lede kan hê wat die oorsaak van hierdie misterieuse aandoening onder toeriste is, hou nie steek nie. Ek dink ons kan met veiligheid aanvaar dat sy het wat daar beweer word: kanker.”

“Wat van Sandra se hipotese dat Nina Andrews ook die geheimsinnige aandoening onder lede kan hê?” wil Basson weet, maar Gustaf skud weer sy kop.

“Nee, ek twyfel. Onmoontlik is dit natuurlik nie, en ek dink dit sal die moeite loon om te probeer vasstel wie haar dokter is en die diagnose van kanker deur hom te laat bevestig, maar ek twyfel sterk of haar swakheidsimptome iets met die vreemde aandoening te doen het. As sy wel kanker het, soos wat ek glo, kan ’n mens haar swakheid heeltemal begryp. Afgesien van die invloed wat die kanker self op haar sisteem sal hê, moet ook die geestelike uitwerking van so ’n ongeneeslike siekte op die mens in ag geneem word. So ’n mens gaan onder geweldige spanning gebuk, om nie te praat van vrees vir moontlike dood nie, asook slapeloosheid en dies meer. Al daardie dinge sal meehelp om so iemand se weerstand nog verder af te takel. En dan het mevrou Andrews nog ’n ander groot probleem wat haar seker baie slapelose nagte besorg.”

Sy oë is op Sandra gerig en laasgenoemde knik bekommerd.

“Wat bedoel jy, Gustaf?” wil Basson weet.

“Laat Sandra jou vertel wat sý gisternag vasgestel het. Maar op een voorwaarde, doktor. Jy gaan niks probeer doen daaromtrent nie. Laat dinge hul gang gaan.”

Basson frons verward, maar knik geredelik en Sandra vertel hulle breedvoerig van wat in die kamer langs hare gebeur het. Doktor Basson lyk bekommerd en ontsteld toe sy eindelik stilbly.

“Ek weet van niks af nie. Ek sou nooit kon droom nie . . . Hemel, ek wonder hoe lank gaan dit al aan?”

“Dit weet ons nie, maar dat hierdie verhouding nou vinnig na ’n klimaks vorder, is seker. En ek is oortuig daarvan dat Nina Andrews hiervan weet,” laat Sandra hoor.

“Vir my is dit dus nog ’n rede hoekom Nina Andrews soms swak en baie siek vertoon. Dis heeltemal normaal, haar siektetoestand en hierdie ander ding in ag geneem.”

“Ja,” knik Basson. “Ek dink ons kan haar met veiligheid maar buite rekening laat in hierdie ding. Wat my egter heeltemal dronkslaan, is hoekom hierdie vreemde ding net op toeriste toeslaan wat op die vakansieplaas tuis gaan. Sou dit toeval wees? Hierdie saak word vir my al ingewikkelder hoe meer ek daarvan te hore kom. Dit begin vir my selfs ’n bonatuurlike kleur kry. Daar is dan net geen logiese en aanneemlike veronderstellings vir die vreemde dinge te vind nie.”

Soos gedurende die gesprek met dokter Johnson, die distriksgeneesheer, word Gustaf Lenard se gesig nou grimmig.

“Ek glo nie aan bonatuurlike dinge nie, doktor.”

Basson kyk hom fronsend aan.

“Ek staan nie heeltemal so skepties teenoor bonatuurlike ver­skynsels nie, Gustaf. Soms . . .”

Gustaf se oë lyk verbaas en sy glimlaggie effens spottend toe hy die argeoloog reguit aankyk.

“Jy is tog ’n geleerde man, doktor. Wil jy my werklik kom vertel dat jy aan bonatuurlike dinge glo?”

’n Effense rooi blos verkleur die argeoloog se wange, maar hy kyk vas terug, sy stem ernstig, amper vermanend.

“There are more things in heaven and earth . . . Ek is ’n ou man in vergelyking met jou, my jonge vriend. En soos ’n mens ouer word, besef jy al meer en meer: daar is nog oneindig baie dinge in die wêreld om ons en in die magte binne-in ons en in die heelal waarvan die mens nog niks weet nie, waarvoor die menslike verstand nog geen verklaring kon vind nie. Die mens het baie gevorder, Gustaf, maar daar is nog baie, oneindig baie om te leer, veral van die geesteswêreld. En dit bestaan, dit verseker ek jou. Daar is ’n wêreld buite die tasbare, buite die vleeslike liggaam; ’n oneindige, grenslose wêreld binne-in die klein en beperkte kokon van vlees wat die menslike liggaam is. En daarvan, my vriend, weet ons nog baie min. Ek wonder of ons ooit alles daarvan sal weet. Want daar is geen grens aan die gees nie, net so min as wat jy my nou kan vertel waar die einde van die heelal is. Dis ’n groot wêreld daardie . . .”

“Asseblief, doktor, hou op! Ek is die ene hoendervleis!” roep Sandra laggend uit, maar met ’n onseker noot in haar stem. Soos Gustaf voel sy ook: vir al hierdie vreemde dinge moet daar ’n logiese verklaring wees. Maar die argeoloog se ernstige woorde beïndruk haar nietemin.

Gustaf se gesig lyk heeltemal grimmig toe hy sê: “Wel, doktor, geesteswêreld of nie geesteswêreld nie, maar ek weet net een ding: ’n tasbare lyk is heeltemal bloedloos hier gevind. En tasbare menslike liggame wat volgens streng en vaste natuurwette funksio­neer, het skielik onverklaarbaar begin verswak. Ek gaan vasstel hoekom. Of ek nou ’n menslike verstand of ’n gees uit ’n ander wêreld aan die end van hierdie ry spore gaan kry, kan my nou nie skeel nie. Maar ek gaan hom kry, dit sweer ek. Ek wil weet wie, of wat, agter hierdie dinge sit. Maar ek kan jou verseker: dit gaan baie onomstootlike bewyse verg om my te oortuig dat ’n bonatuurlike mag hier aan die werk was . . . en is. Maar ek wil jou byna wed dat ek op die end tog tasbare polse sal kry waarom ek die boeie sal slaan.”

Die tweede keer voel Sandra die hoendervleis op haar vel uitslaan en sy ril liggies. Sy hou niks van hierdie bonatuurlike praatjies van doktor Basson nie. Maar een ding weet sy ook: as dit ’n mens van vlees en bloed is wat agter hierdie geheimsinnighede skuil, is sy dankbaar dat sy nie in sy skoene sal staan dié dag wanneer Gustaf Lenard hom in ’n hoek vas het nie. Van hierdie man sal sy liewer ’n vriend wil maak as ’n vyand.

Basson trek sy skouers op as enigste antwoord.

“Verskoon my, asseblief,” vervolg Gustaf kortaf. “Ek moet ’n paar oproepe gaan maak. Ek het gesien hier is ’n openbare telefoonhokkie op die kampeerterrein.”

Doktor Basson knik en sonder ’n verdere woord stap Gustaf weg en die twee kyk hom agterna. “Ons vriend is ’n bietjie ergerlik vir my, kom dit my voor,” laat doktor Basson met ’n skewe glimlaggie hoor. “By hom is ’n ding net swart óf wit . . . geen skakerings nie.”

Sandra knik en sê dan op gemaak opgewekte toon asof sy die somber noot wil wegvee waarop hul gesprek geëindig het: “Wel, ek gaan nou die ruïnes bekyk en ’n paar foto’s neem. Tot later, doktor.”

“Wederom. Ek sal ook nou moet begin aanstaltes maak om met my werk aan te gaan. Ek moet die geheim van Zimbabwe probeer oplos. Die ander geheime sal ek maar aan ons jong, vasberade vriend oorlaat!”

Die volgende uur of so dwaal Sandra deur die ruïnes en haar kamera kry baie werk. Sy is ’n geesdriftige amateurfotograaf en heeltemal in haar skik toe sy eindelik omdraai om terug te gaan. Haar keel voel droog en vertel haar dat dit teetyd is. Iets roois trek haar aandag teen ’n bossie en sy buk. Dis ’n serpie, duidelik een wat deur ’n toeris hier verloor is, want dis nog skoon, vertoon nuut en is van goeie gehalte. Nie wetend wat om eintlik daarmee te maak nie, druk sy dit ná ’n oomblik van aarseling in haar rompsak. Sy sal dit maar vir een van die huishulpe by die vakansieplaas gee. Waar sal sy tog nou die baas daarvan kan opspoor?

Toe sy buite die ringmuur kom, sien sy Gustaf aangestap kom vanuit die rigting van die kampeerterrein. Sy wag hom in en kyk hom nuuskierig aan. Sy sal graag wil weet watter oproepe hy gemaak het. “Jy lyk ernstig,” sê sy toe hy hom by haar aansluit.

Hy knik sy kop.

“Dis ernstige sake waarmee ek besig is, meisiekind. En dit word al ernstiger.”

“Asseblief, Gustaf. Moenie my geduld so beproef nie! Wat is dit nou weer?” vra sy reguit, en sy antwoord kom ewe reguit.

“Oubaas Brijns het niks makeer nie. Ek het so pas die verslag van die laboratoriums ontvang. Geen spoor van ’n skadelike element is opgespoor in sy liggaamsdele wat vir ontleding weggestuur is nie. Daardie ou man was blakend gesond.”

“Afgesien van die feit dat die bloed uit sy liggaam verdwyn het,” voeg sy by. Hy knik.

“Ja. Verder het al die toeriste wat skielik siek geword het en wat ons kon opspoor dadelik herstel nadat hulle die ruïnes verlaat het . . . volkome herstel, dieselfde as Botes van wie doktor Basson vertel het.”

’n Rukkie lank stap hulle swyend langs mekaar. “En nou? Wat nou?” vra Sandra huiwerig.

Hy antwoord nie dadelik nie, maar toe hy praat, het sy stem so ’n dodelike kalmte dat Sandra weer koue rillings langs haar ruggraat voel afgaan.

“En nou wag ons.”

“Op wat?”

“Dat die bonatuurlike gees van doktor Basson eerste beweeg, met ander woorde, ons wag op die volgende toeris wat onverwags ver­swak.”

Gustaf glimlag effens op haar ernstige gesiggie af. “Dit kan enig­een van drie wees, sal ek sê.”

“Watter drie?”

“Powell of Dickens of . . . ek.”

Sonder dat Sandra dit besef, word sy effens bleek, haar oë bang.

“Hoekom is jy so oortuig daarvan dat die volgende een, as daar ’n volgende gaan wees, een van julle drie sal wees?”

“Eenvoudig. Andrews sal dit nie wees nie. Hy woon al . . .” Hy frons. “Ek weet nie hoe lank hulle al hier woon nie, maar altans die afgelope maande lank dan. Ek moet tog vasstel wanneer hy met die vakansieplaas begin het. Andrews is egter uitgeskakel. Basson ook, dink ek. Hy is al drie maande lank hier en het nog niks oorgekom nie. Jy of Dianne sal dit nie wees nie. Hierdie . . . e . . . gees het blykbaar ’n voorliefde vir mansmense. Dus bly net ek en die twee Engelsmanne oor. Ek dink ook nie ons sal lank hoef te wag op die volgende geval nie.”

“Hoekom sê jy so?”

“Volgens die lys van name en datums wat ek gisternag be­studeer het, het die gevalle met taamlik gereelde tussenpose voorgekom. Oubaas Brijns is al ’n rukkie dood. Die volgende aanval van swakheid kan dus nie baie ver wees nie. Die vraag is net: by wie sal dit uitslaan?”

Hulle praat nie verder nie. Dis of daar niks meer te sê is nie. Hoewel Sandra nie direk na hom kyk nie, is sy intens bewus van die man langs haar, sy soepel bewegings, die ligte ritme van die sterk, gesonde liggaam, die manlike krag wat uit die breë skouers en smal heupe straal.

Wat as Gustaf Lenard die volgende is? Wat as dit hy is wat in sy gemaklike pas begin struikel, ’n swakheid skielik die sterk, jong liggaam aftakel . . . ’n geheimsinnige aandoening waarvoor daar geen genesing is nie behalwe om weg te vlug? En soos sy Gustaf Lenard hierdie afgelope paar uur leer ken het, sal hy nie wegvlug nie. Hy sal bly en . . . miskien sterf.

Daar is skielik ’n koudheid in Sandra Steyn se hart. En ’n vrees . . . ’n vrees wat sy nie in woorde kan uitdruk nie. Meteens is dit vir haar asof sy met doktor Basson wil begin saamstem. Hulle het ’n stryd aangeknoop met iets groters en magtigers as waarvan hulle, sy en Gustaf, ooit kan droom. Dis of daar iets boos in die hele atmosfeer skuil, ’n mag waarteen selfs die knap speurder magteloos is.

Met ’n ernstige gesig stap sy die sitkamer binne waar hulle die geklingel van teekoppies hoor. Weer is dit Dianne wat met die teepot besig is en die gasvrou staan eenkant en toekyk. Dickens en Powell is reeds daar en so ook Phil Andrews wat by die kombuisdeur inkom. Maar ’n vreemde stilte heers in die vertrek, asof niemand juis iets het om te sê nie.

Gustaf buk skielik langs haar en hou iets na haar uit.

“Dit het uit jou rompsak geval.”

“O, dankie. Dis ’n serpie wat ek by die ruïnes opgetel het. Ek het gedink om dit maar vir jou te gee, mevrou. Jy kan dit dalk vir ’n huishulp gee of . . .”

Sy breek haar sin kort af en kyk verbaas na Nina Andrews wat na die serpie in haar hand staar asof dit ’n slang is. Onwillekeurig dwaal haar blik na Phil Andrews en ook hy staar met belangstelling daarna. Sy kyk af na die serpie en wonder verward wat hulle so interessant vind. Só uitsonderlik is dit nie. Half onbeholpe eindig sy: “Ek weet nie eintlik wat om daarmee te maak nie. ’n Mens weet nie hoe lank gelede dit daar verloor is nie. Maar dit lyk nog skoon en taamlik nuut.”

Nina Andrews glimlag, maar dis of dit stram en styf is, al haar inspanning kos. Sy hou haar hand uit.

“Dankie. Ek sal dit vir die kok gee.”

Sandra kan niks anders doen as om dit te oorhandig nie, en dadelik draai Nina om en verdwyn in die rigting van die kombuis. Sy maak nie weer haar verskyning nie en die tee word in stilte gedrink. Gustaf probeer darem dapper ’n soort gesprek aan die gang hou.

“Hoe lank het jy al die vakansieplaas, meneer Andrews? Of is jy maar oorspronklik van hierdie wêreld?”

Dis of Phil Andrews sy gedagtes van ’n nie te aangename onderwerp moet terugruk om op Gustaf se vraag te konsentreer.

“Ekskuus? O! Nee, meneer Lenard, ons is nog nie ’n volle jaar hier nie. Ons was aan die rondreis toe ons op hierdie plek afgekom het. My vrou het dadelik van die plek gehou en toe het ons besluit om dit maar te koop. Gelukkig was dit in die mark!”

“Ek verstaan.” Dit lyk asof Gustaf nog iets wil vra, maar Phil staan vinnig op nadat hy sy koppie tee met byna een teug gesluk het en verdwyn met ’n gemompelde verskoning in die rigting van die kombuis.

Ook Dianne maak verskoning en stap uit. Hulle sien deur die oop venster hoe sy in die rondawel verdwyn wat as kantoor vir doktor Basson beskikbaar gestel is.

Sandra staan op om nog ’n koppie tee vir haar te skink, maar sien dan dat die melkbekertjie leeg is. Met die bekertjie in haar hand stap sy na die kombuis. Sy het die deur halfpad oop toe sy in haar spore tot stilstand kom.

“In vadersnaam, Nina, kan jy nie daar wegbly nie? Jy wás weer daar. Dis jou serp daardie. Moenie lieg nie!”

“Eina, Phil! Jy maak my seer!”

’n Gedempte vloek klink op, gevolg deur ’n dowwe slag soos wanneer iemand teen ʼn kas stamp.

“Eendag is eendag, Nina . . . jy gaan te ver! Ek waarsku jou!”

Dan klap die agterdeur toe en Sandra hou asem op. Sy wag nog so ’n paar tellings. ’n Sagte snik klink op. Dan stap sy die kombuis binne en hoop maar net dat haar gesig nie haar ontsteltenis verraai nie.

“Ek het net ’n bietjie melk kom haal . . .” Dan rek haar oë groot en sy stap vinnig na die hoek waar Nina soos ’n lappop oor die hoek van die kombuiskas hang. “Mevrou! Wat makeer? Het jy geval?”

Nina se lippe bewe onbedaarlik, maar sy byt hard op haar onderlip en laat dapper hoor, haar blik afgewend.

“Ek het gegly. Die hoek van die kas het my getref. Dis alles reg. Ek sal nou beter voel, dankie. Die melk is in die . . .”

Sandra sit die melkbekertjie neer en slaan ’n arm om die skraal skouertjies en help haar teer orent, terwyl dit binne-in haar kook. So ’n bullebak! Om sy sieklike vrou teen die kas te gooi! En dan beskerm sy hom nog! Haar stem is vol deernis.

“Kom, ek help jou kamer toe. Gaan lê so ’n bietjie totdat jy beter voel. Waar het die kas jou seergemaak?”

Maar Nina skud net haar kop asof sy nie in staat is om te praat nie, die groot, blink trane ongestort in haar oë.

Toe hulle deur die sitkamer stap, kyk die mans hulle verbaas aan en Sandra verduidelik vinnig: “Sy het gegly en teen die kombuiskas geval. Ek wil haar net kamer toe help.”

Daar is iets in Sandra se oë, ’n boodskap wat Gustaf vinnig laat nader staan.

“Kom, ek dra jou sommer.” Hy voeg ook sommer dadelik die daad by die woord en lê haar versigtig op die bed neer. Sy glimlag bewerig na hom op en fluister dankbaar: “Dankie. Dis gaaf van jou. Ek . . . ek sal nou regkom, dankie.”

Sandra buk bekommerd oor haar.

“Kan ek nie iets vir jou bring nie? ’n Pil of ’n bietjie water?”

“Nee, dankie. Ek sal nou-nou reg wees. Ek wil net ’n paar minute rus. Gaan drink asseblief jul tee klaar. Jammer dat ek so lastig is.”

Hulle kan niks anders doen as om die kamer te verlaat en die deur saggies agter hulle toe te trek nie. Die twee Engelse verneem beleef hoe dit nou met hul gasvrou gaan en lig haar dan in dat hulle weer teruggaan na die ruïnes. Toe hulle uit is, wink Sandra vir Gustaf na die verste hoek van die sitkamer en vertel hom op ontstoke fluistertoon wat werklik in die kombuis gebeur het. Gustaf lyk geskok.

“Andrews het vir my nie na ’n man gelyk wat sy sieklike vrou sal aanrand nie.”

“Wel, hy het, en daardie man moet van nou af uit my pad bly. Ek sal my beswaarlik beskaaf teenoor hom kan gedra as so iets weer moet gebeur.”

Gustaf staar fronsend na die toe kamerdeur, sy stem gedemp.

“Maar hoekom sou hy so kwaad geword het toe hy besef sy vrou was by die ruïnes?”

“Ek verstaan dit ook nie . . .”

Skielik klink daar ’n dringende stem in die voorportaal op en die volgende oomblik sien hulle Dickens se verskrikte gesig. “Kom gou! Kom help! Powell het flou geword . . . of lam . . . ek weet ook nie. Hy lê daar onder in die pad!”

Ena Murray Keur 1

Подняться наверх