Читать книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray - Страница 10

7

Оглавление

Hulle ry in stilte tot by Catherine se woonstel in die middestad. Eers toe hulle regoor mekaar plaasneem in haar weelderige sitkamer merk sy op: “Jy is in ’n gemors, is jy nie, my skat?”

Hy kyk op, sy oë waaksaam. “Wat bedoel jy?”

Haar laggie is kortaf. Sy druk die sigaret ongeduldig dood en sê reguit: “Ek praat van daardie klein moordenares wat jy daar in jou woonstel wegsteek. Hoe lank dink jy gaan jy daarmee wegkom?”

“Dis ’n leuen, Catherine!”

“Is dit?” Sy tel ’n koerant langs haar op en gooi dit voor hom op die tafeltjie neer. “Daar! Ek het haar onmiddellik herken. Daar bestaan geen twyfel dat jou danige vrou dieselfde Magdaleen Kirschner is na wie die polisie so naarstig soek nie – of wil jy stry?”

Hy kyk na die foto wat voor sy oë ronddans, en dan weer op. Sy het hom vas, en hulle weet dit albei. Sy verstand werk blitssnel. Catherine is ’n baie gevaarlike vyand, maar as hy die vyand na sy kant kan oorhaal …

“Nou goed. Wat help dit ons stry? Hoekom het jy vanaand na my woonstel gekom?”

Sy lê tevrede terug. “Om heeltemal seker te maak dat my vermoedens juis is. Ek was weg en ontsettend besig. Ek het nie tyd gehad om die afgelope twee weke koerant te lees nie. Ek het eers vanmiddag, toe ek ’n kansie kry, die afgelope tyd se klompie koerante vlugtig deurgekyk en toe daarop afgekom.” Sy lag bitter. “Aarde, Rudolf, jy kon my met ’n veer omslaan! Eers kon ek my eie oë en gedagtes nie glo nie. Ek kon net nie begryp dat jý van alle mense in so iets kon beland nie.” Haar mond trek lelik. “Maar ek moes natuurlik geweet het. Daardie sagte hart van jou wat vir ’n ieder en elk oopstaan …”

“Toe nou maar. Los my uit. Ek is nie van belang nie.”

“Nie van belang nie! Is jy besete, Rudolf van der Merwe? Weet jy dan nie watter ontsaglike skade hierdie ding vir jou persoonlik kan meebring as dit op die lappe kom dat jy, ’n respektabele dokter in hierdie stad, die hele tyd ’n moordenares in jou woonstel weggesteek het nie?”

“Catherine, ek wil jou asseblief vra om op te hou om na Madie te verwys as ’n moordenares. Sy het dit nie gedoen nie.”

“Ja, dis natuurlik wat sy jou inprent.”

“Sy het niks ingeprent nie. Dis die tragedie van die hele saak. Sy weet niks van hierdie ding af nie.”

“So?” Haar stem is so skepties dat Rudolf lus voel om op te staan en uit te loop. Maar hy weet hy durf nie.

“Ja. Sy ly aan geheueverlies.”

“Werklik? Hoe gerieflik.”

“Catherine, asseblief! As jy my net sal kans gee om te verduidelik. Ek wou daardie oggend toe jy vroeg daar aangekom en Madie in my bed aangetref het, ook verduidelik, maar jy wou nie luister nie. Sal jy asseblief nou na my luister, enduit luister?”

Catherine se oë vernou peinsend. Sy moet erken dat sy daardie oggend so kwaad was dat sy na geen verduideliking wou luister nie. Miskien was dit ’n fout. Miskien moes sy hom ’n kans gegee het om te verduidelik.

“Goed, ek luister, maar moenie verwag dat ek alles sal glo nie. Ek is nie ’n gek nie, Rudolf.”

“Ja, dit weet ek, en juis daarom verwag ek dat jy my storie sal glo, want dis die waarheid.”

Hy begin haar van die begin af vertel, van daardie eerste oomblik dat hy die meisie in die matrone se kantoor gesien het toe sy so desperaat om werk kom vra het. Catherine sit roerloos en luister, en hoewel dit ’n byna ongelooflike storie is, is Rudolf so ernstig, sy oë so eerlik reguit op haar gerig, dat sy nie anders kan as om hom te glo nie.

Maar sy is geensins ingenome toe hy eindelik stilbly nie. “Ek aanvaar dat wat jy my vertel die waarheid is, maar dat jy so ’n volslae idioot kon wees om so iets te waag, Rudolf …”

“Ja, ja, Catherine, dit besef ek, maar daar is nog iets wat ek besef, en dis dat Madie nie skuldig is nie en dat iemand haar moet beskerm, veral terwyl sy nie weet wat gebeur het nie. Sodra sy haar geheue terugwen en kan vertel wat presies daardie dag gebeur het, sal ek ’n einde aan hierdie klug maak en reguit na die polisie gaan, maar nie voor dan nie.”

“Hoekom is jy so vas oortuig dat sy dit nié gedoen het nie? Jy sê tog self sy kon jou niks vertel nie.”

“Ja, en tog weet ek dit. Ek wéét sy is nie in staat tot so iets nie. Madie het nie haar stiefpa aangerand nie, Catherine, en niemand sal my oortuig dat dit so is nie. Ek ken haar …”

“Twee, drie weke, ja.”

Hy sug. “Ek weet, en tog kan ’n mens iemand baie goed leer ken in so ’n kort tydjie, veral as julle daagliks met mekaar te doen kry.”

“Ja, ek sal dit glo. Veral as julle man en vrou speel.”

“Catherine, asseblief! Waarvoor sien jy my aan?”

“Vir ’n groot gek op die huidige oomblik, maar ons laat dit daar.” Sy sug. Sy is woedend vir hom, maar besef ook dat sy nou versigtig te werk sal moet gaan. Rudolf kan met sagte hart en al uiters koppig word.

Sy sal hom reg moet hanteer, anders gaan sy hom finaal verloor. Sy het eers hierdie afgelope twee weke besef wat hy werklik vir haar beteken, en sy gaan hom gewis nie nou weer verloor nie, nie ter wille van ’n klein bog soos die kastige Madie nie.

Aan die ander kant is sy so verlig om te hoor dat hy nie werklik getroud is nie en dus nie heeltemal buite haar bereik nie, dat sy hom amper kan vergewe vir die dwaasheid wat hy aangevang het. Een ding is seker: sodra hierdie saak afgehandel is, gaan hulle trou, besluit sy in haar enigheid.

“Hoe lank gaan hierdie geheueverlies nog aanhou, dink jy?” vra sy. In haar hart twyfel sy baie aan dié storie. Hierdie danige Madie is besig om Rudolf en tant Kitty heerlik aan die neus te lei, maar haar speletjie is so te sê uit. Van nou af het sy met haar, Catherine, te doen.

“Dit wissel van persoon tot persoon. Sy moet ’n geweldige skok opgedoen het en dit sal moontlik net ’n skok wees wat haar geheue terugbring. Maar tot nou toe was sy te swak om haar aan so iets bloot te stel.”

“Sy lyk vir my al heeltemal reg en gesond.”

“Ja, maar ek dink sy is nog nie geestelik sterk genoeg nie. As haar geheue op ’n brutale manier wakker geskud moet word, kan sy die kluts heeltemal kwytraak. Ek sal haar graag nog ’n rukkie kans wil gee.”

“Hm.” Catherine frons skerp. Rudolf toon ’n ongesonde bedagsaamheid en kommer teenoor hierdie Madie. Hoe gouer sake tot ’n punt gevoer word, hoe beter. Maar van dié voorneme hoef Rudolf nie te weet nie. “Daar is dus niks anders te doen as om te sit en wag nie?”

“Nee, eintlik nie, maar … daar is iets wat jy vir my kan doen. Asseblief.”

“Ek? Wat? Natuurlik sal ek help waar ek kan, maar …”

“Jy kan vir my vasstel hoe ver hierdie ondersoek al gevorder het. Die koerante het doodstil daaroor geraak. Ek het nie ’n idee hoe ver die polisieondersoek gevorder het nie. Miskien het hulle al lankal opgehou om na Madie te soek, miskien reeds uitgevind wat werklik daardie dag gebeur het, en dan hou ek haar onnodig in die woonstel gevange. Want dit is omtrent wat sy op die oomblik is – my gevangene – en sy begin al moeiliker word daaroor. Een van die dae gaan sy nie meer die redes aanvaar hoekom sy dan nie buite mag kom nie.”

“Goed. Dit behoort nie moeilik te wees nie. Ek ken ons misdaadverslaggewer.”

“Dankie, Catherine.” Hy is opreg dankbaar. Dit sal al baie help. “Maar doen dit net so dat niemand agterdogtig word nie.”

“Natuurlik. Ek is mos self ’n joernalis, en Van Jaarsveld sal dit nie vreemd vind as ek uitvra nie. Dis maar ’n siekte waaraan ons joernaliste almal ly. Ek sal môreoggend ’n draai by sy kantoor gaan maak.”

Rudolf staan op. “Ek sal nou moet gaan. Baie dankie, Catherine.”

“Nou al? Dis nog nie so laat nie,” laat sy teleurgesteld hoor, maar hy skud sy kop.

“Dis al oor elf. Ek is ook bekommerd oor Madie. Ek weet nie of die gebeure van vroeër vanaand haar miskien ontstel het nie.”

Die groen oë verhard weer. “Wat presies is julle twee se verhouding, Rudolf? En moenie my so aankyk asof ek iets ongeoorloofs vra nie. Sy verkeer onder die indruk dat sy wettig jou vrou is. Hoe … hanteer jy daardie deel van die klug?”

Sy antwoord is koel, en dis duidelik dat hy hom vererg het. “Daar is geen probleme nie,” antwoord hy kalm, wetende dat hy nie heeltemal die waarheid praat nie. Dit sal hy nooit aan Catherine erken nie. “Sy was baie siek en swak. Tant Kitty slaap nog by haar in die kamer. Verder verstaan sy dat sy eers heeltemal moet herstel.”

“Maar sy is nou heeltemal gesond, nie waar nie? Ek bedoel, fisiek is daar niks met haar verkeerd nie, of hoe?”

“Nee, maar … wel, tot dusver het sy nog aanvaar dat sy siek is en eers gesond moet word.”

Binnekort gaan sy nie meer nie, dink Catherine vlugtig. Sy knik haar kop. “Sal dit nie beter wees as jy vir haar, én vir tant Kitty natuurlik,” voeg sy met nadruk by, “met ’n vakansietjie stuur solank jy dinge hier probeer uitpluis nie? Dit sal jou uit ’n baie moeilike situasie help.”

Hy frons. Hy het al self daaraan gedink, en tog voel hy onwillig om dit te doen. Dis of hy bang is om haar onder sy oë te laat uitgaan. Hy besef egter die wysheid van Catherine se voorstel.

Madie het haar gewis nie so volkome vereenselwig met die huidige stand van sake soos dit op die oog af mag voorkom nie. Hy bespeur ’n groeiende rusteloosheid in haar en het haar broeiende blik al dikwels op hom gevoel. Miskien moet hy tog maar ernstig aan die vakansieplan dink. Die kanse dat sy sommer herken sal word, is gering, veral as hy haar na Durban of een van die groot strandoorde stuur. Elke dag word die moontlikheid ook kleiner dat iemand haar op grond van die koerantfoto sal herken.

“Ek het al daaraan gedink. As ek net eers kan vasstel hoe ver die polisie met hul ondersoek is, sal ek weet wat die beste sal wees.”

“Dit sal ek môre vir jou vasstel. Daarvan kan jy seker wees.” Sy staan op, kom voor hom staan en slaan haar arms om sy nek, die pragtige gesig na hom opgehef. “Rudolf … ek is jammer dat ek so haastig was. Dis net omdat ek jou so liefhet dat dit so ’n verskriklike skok vir my was. Is ek vergewe?”

Hy kan niks anders doen as om sy arms om haar te plaas nie, maar terwyl hy op die lieflike gesig afkyk, wag hy vergeefs op ’n vonkie om binne-in hom aan die brand te slaan.

Hy voel ontsteld. Catherine is al baie jare deel van sy lewe. Sy was deel van sy toekoms ook. Hoe is dit moontlik dat hy binne drie weke so heeltemal koud teenoor haar kon raak, dat haar skoonheid hom nie meer betower nie?

Hy sug saggies en bring sy mond doelbewus op hare neer. Dit sal regkom, maak hy homself wys terwyl hy haar soen. Dis maar net die buitengewone situasie waarin hy hom op die oomblik bevind, al die spanning en kommer van die afgelope weke, wat hom afgestomp het.

Tog … toe hy Madie in sy arms geneem het daardie een keer, was hy nie afgestomp en koud soos op hierdie oomblik nie. Inteendeel, sy sinne het gesing en gebruis en hy het amper van sy wysie af geraak …

Hy maak hom vinnig uit haar omhelsing los en staan terug, ’n gedwonge glimlaggie om sy lippe. “Goeienag, Catherine. Sal ons mekaar môremiddag vir ete ontmoet? Dan kan jy my vertel wat jy vasgestel het.”

“Dit sal heerlik wees. Op die ou plek?”

“Goed. En dankie, Catherine. Baie dankie dat jy verstaan en bereid is om te help.”

Sy glimlag net en knik, maar toe die deur agter hom toegaan, trek die oë weer saam en sy gaan peinsend op die bank sit. Natuurlik verstaan ek, jou dierbare gek, beter as wat jy dit self verstaan. En natuurlik is ek bereid om te help – op my eie manier …

Alles is in doodse stilte gehul toe hy die woonstel se voordeur versigtig oopstoot. Hy sug verlig, maar sy verligting is van korte duur. Die oomblik toe hy die leeslamp in die sitkamer aanskakel, gaan die kamerdeur oop en staan sy voor hom in haar nagklere.

Meteens is die vonkie daar waarna hy netnou vergeefs in Catherine se omhelsing gesoek het. Dit sterf egter ’n vinnige dood toe hy in haar oë kyk.

“Die hospitaal het al ’n uur gelede na jou gesoek. Ek het beloof ek sal jou die boodskap gee sodra jy inkom. Dis glo dringend.” Hy kan net knik en voordat sy omdraai, sê sy skalks: “Maar vee net eers jou mond af voordat jy gaan. Dit lyk of jy beet geëet het.”

Sy hand vlieg na sy mond en hy kan homself skop toe hy haar grimmige laggie hoor. Natuurlik! So ’n klein … Maar die deur is stewig toegedruk toe hy dit bereik. ’n Sleutel draai in die slot. Radeloos van woede draai hy om en stap weer uit.

Daar moet nou ’n einde hieraan kom, besluit hy verbete terwyl hy agter die stuurwiel inskuif. Tussen hierdie klomp vroumense sal hy nog gek raak.

Toe die voordeur weer met min ontsag vir hierdie laat uur van die nag toeklap, leun Madie teen die kamerdeur aan en laat toe dat die trane haar oorweldig. Sy huil saggies, want sy wil tant Kitty nie steur nie. Sy voel te seer om ’n ander haar hartseer te laat sien.

Sy lê al ure en wag op hom, wag dat haar man van sy gewese nooi moet terugkeer. Of dit so danig gewese is, is sy glad nie meer seker nie. Hulle wou haar wysmaak dat sy ’n ou universiteitsnooi van Rudolf is en, hoewel hulle dit nie direk gesê het nie, het hulle te kenne gegee dat hy en hierdie Catherine sedertdien nog nie weer kontak gehad het nie. En netnou moes sy hoor dat hulle mekaar veertien dae gelede gesien het. Sy het dit self gesê.

Haar vermoedens was dus reg, dink sy hartseer. Daar is iets tussen Rudolf en hierdie rooikop aan die gang. Hy het hom boeglam geskrik toe sy in die voordeur verskyn, en hy het haar in aller yl agternagesit om weer die vrede te bewerkstellig, nie in die minste bekommerd oor hoe sy vrou op daardie oomblik moet voel nie.

Haar teleurstelling in Rudolf is onbeperk. Sy kan hom net nie verbind met ’n man wat getroud is en dan ’n agterbakse verhouding met ’n ander vrou het nie. Dis nie Rudolf nie, dink sy weemoedig. Maar … hoe goed ken sy haar man werklik? Net drie weke wat haar betref.

Sy het maar ’n skoot in die donker gewaag met die opmerking oor sy rooi mond, en sy hand het onmiddellik skuldig omhoog gevlieg hoewel daar nie ’n merkie aan sy lippe was nie. Die enigste afleiding wat sy kan maak, is dat hy daardie vrou wel gesoen het.

Sy kruip saggies bed toe waar sy haar snikke in die kussing kan smoor, onwetend dat tant Kitty hier digby haar nog wawyd wakker lê en self na huil voel.

Alles sou goed gegaan het as Catherine net nie weer haar opwagting gemaak het nie, maar nou het daardie rooikat alles kom omkrap. Die gode alleen weet wat nog alles hieruit gaan voortvloei.

Tant Kitty voel sleg terwyl sy na die gedempte snikke luister. Dit is gemeen van haar om Madie te wil gebruik om Rudolf van daardie vroumens te red, maar wat kan sy anders doen? Sy kan Rudolf nie net so aan die kat se genade oorlaat nie. Dan kan hy ’n honderd keer liewer in sonde met Madie lewe, dink sy roekeloos, ook nie meer seker wat alles klug en wat werklikheid is nie. Die lewe is deesdae te deurmekaar. Soms voel dit vir haar sy kan nie meer tred hou nie. Sy moet soms doodstil gaan sit en eers weer alles van voor af uitpluis om seker te wees wat is waarheid en wat verdigsel.

Soos vanaand. Dis eers toe sy in die bed lê en alles oordink, dat sy tot die ontdekking kom dat sy baie kwaad is vir Rudolf omdat hy agter daardie rooikop aangehardloop het en sy “vrou” sonder enige verduideliking net so gelos het.

Dan onthou sy weer dat Rudolf en Madie nie werklik getroud is nie, dat Catherine in der waarheid Rudolf se nooi was en dat hy Madie geensins verkul as hy agter Catherine aanhardloop nie.

Maar sy het Madie aangehits: “Jy gaan baklei vir jou man, hoor jy, kind? Jy gaan nie toelaat dat daardie rooi duiwel hom van jou steel nie.”

Nou lê sy bekommerd en wonder of sy nie al te oud vir sulke intriges is nie. ’n Ou mens se verstand is nie meer so helder soos die jonges s’n nie.

Hoe kan Madie vir Rudolf baklei? En hoe kan Catherine hom van Madie steel? Hy het nog nooit aan Madie behoort nie. En tog …

Tant Kitty besef sy sal treur as hierdie kastige huwelik van Rudolf en Madie eendag tot ’n einde kom en elkeen weer hul onderskeie paadjies loop.

Die snikke het opgehou. Nee, kyk, daar moet nou ’n oplossing gevind word, neem sy haar vasbeslote voor.

Die volgende dag vind Rudolf twee stoïsynse wesens aan ontbyttafel. Die een se gesig is stugger as die ander s’n. Hy wil hom eers vererg en ’n opmerking maak, maar besluit toe om te swyg.

Hy is nie lus vir ’n rusie op sy nugter maag nie. Madie se kilheid kan hy nog in ’n mate begryp, maar wat met tant Kitty aangaan, kan hy glad nie verstaan nie. Sy was nog altyd sy getroue kampvegter, maar nou lyk dit asof sy teen hom gedraai het.

Hy doen ook nie eens die moeite om Madie met ’n piksoentjie te groet toe hy vertrek nie, maar by die voordeur word hy deur ’n kil stemmetjie vanuit die kombuis teruggeroep.

“Net ’n oomblik, Rudolf van der Merwe.” Hy frons toe hy daarheen stap. Hulle moenie veel langer met hom sukkel nie. Elke man het sy perke, en syne is sowaar baie naby. “Groet jy nie jou vrou nie?”

Hy trek sy asem stadig in, buk af, maar die voorkoppie bly buite sy bereik.

“Groet my ordentlik, soos ’n man sy vrou behoort te groet.” Weer trek hy sy asem in, soen haar toe vinnig op die stywe lippies en waag dit nie om na tant Kitty se kant te kyk nie. As hy moet sien sy sit en lag, sal hy sowaar bars!

Hy maak dat hy wegkom. Een oomblik langer … Toe kom hy in die deur tot stilstand en spreek tant Kitty kortaf aan: “Ek sal nie vir middagete hier wees nie. Julle hoef nie vir my te wag nie.”

Maar dis iemand anders wat iets daarop te sê het: “O? Waar gaan julle eet? In die President?”

Haar antwoord is ’n harde klap van die voordeur en dieselfde stywe stemmetjie vervolg droogweg: “As hy so voortgaan, sal hy volgende week ’n nuwe voordeur moet koop. Tante …” Die blou oë kyk op. “Wat het Catherine daarmee bedoel toe sy gesê het sy het iets om aan die polisie te vertel? Is Rudolf in die moeilikheid? Het daardie vroumens ’n houvas op hom?”

Tant Kitty se verstand werk blitssnel. “Madie-kind, dis niks om jou oor te ontstel nie. Catherine is ’n swak verloorder, dis al.”

“O? Wat beteken dit? Sal tante omgee om dit ’n bietjie duideliker te stel?”

Kitty skuif rond op haar stoel. Liewe land, hoekom het ek nooit ’n skrywer geword nie, dink sy.

“Nee, kyk, die ding staan eintlik so … Jy het seker al die afleiding gemaak dat daar iets tussen Rudolf en hierdie rooikat was, nie waar nie?”

“Wás? Ja, tante. Ek is seker nie vreeslik slim nie, maar só onnosel is ek darem ook nie.”

“Nou ja, die ding staan so … Hulle was eintlik verloof, toe ontmoet Rudolf vir jou en los haar net so … ja, soos ’n warm patat …” Tant Kitty glimlag. Gits, dit sal darem wonderlik wees as dit regtig waar moet wees!

“Werklik?” Die stemmetjie is maar bra skepties, maar tant Kitty borduur voort: “Ja. Jy het haar hand in die as geslaan. Toe sy haar oë uitvee, is julle klaar getroud.”

“Dit was nie mooi van hom nie. ’n Mens maak nie so nie.”

Kitty kyk haar verontwaardig aan. Sal die meisiekind nog sowaar vir die rooikat partydig wees!

“Sy verdien niks anders nie, laat ek jou vertel. Sy het haar al die jare voor Rudolf gegooi soos ’n … ’n oorryp appelkoos.”

“Ek sien. Wat wil sy nou by die polisie gaan maak?”

“Hom seker dagvaar vir troubreuk of so iets. Ek weet nie veel van sulke goed af nie. Jy weet ek is ’n oujongnooi.”

Madie se oë lyk meer belangstellend. “Kan sy dit doen?”

“Nee, kind, ek sê jou mos, ek weet nie. Miskien kan sy. En nou probeer Rudolf maar net die storm bedaar kry, haar soort van pamperlang totdat sy van hierdie voorneme afgesien het.”

“Of hom terug het.”

“Dit sal die dag wees. Oor my dooie liggaam, sê ek jou. Madie, jy gaan nie sommer tou opgooi nie; jy gaan my nie in die steek laat nie.”

“Maar as Rudolf dalk self wil … na haar teruggaan, bedoel ek.”

“Natuurlik sal hy nie wil nie. Wat ’n belaglike gedagte! Hy is gek na jou. Hy sal nooit daarvan droom om jou te verruil vir daardie affêre nie.”

Madie swyg en gaan voort om die eier af te wurg. Sy is nie so seker nie. Dalk is tant Kitty ook nie so seker nie.

Op daardie oomblik stap Catherine by ’n kantoor in en groet gul: “Hallo, Daan. En hoe gaan dit met die misdaad in ons groot stad?”

Die man agter die lessenaar glimlag en bied haar ’n stoel aan. “Ag, die gewone goed. Dit begin vervelig word. Ek wens iemand wil ’n slag iets regtig sensasioneels uitdink, ’n splinternuwe metode om van iemand ontslae te raak.”

Sy lag. “Jy word sinies, maat. Jy werk al te lank met moord. Jy moet ’n slag na ’n ander afdeling skuif.”

“Miskien. Maar na watter afdeling? Koeke en southappies?”

“Nee, gewis nie. Kyk waar staan jou magie al klaar. Wat sal dan van jou word?”

“Bly jy uit my figuur, Catherine. Die vroumense dink dis pragtig – ’n teken van welvarendheid.”

“Of oorgewig!” laat sy ongeërg hoor. “Maar hier was mos darem kort gelede iets buitengewoons, dan nie? Ek het gister daarvan gelees; nie juis tyd gehad om dit na te gaan nie. ’n Dogter wat haar stiefpa – was dit nie – aangerand en toe spoorloos verdwyn het? Het hulle haar toe gekry?”

“Ja, dit was nogal ’n interessante geval. Die eienaardigste van die hele affêre is die verdwyning van die dogter. Sy het spoorloos verdwyn, en ek verseker jou daar ís na haar gesoek, hoor. Dis byna ongelooflik dat so ’n jong meisie so kon verdwyn dat van ons beste manne haar nie kon opspoor nie. Sy het natuurlik hulp êrens gekry, anders was sy al lankal aangekeer.”

Hulle gesels nog ’n hele rukkie, en toe staan Catherine op.

“Nou ja, wederom. Ek moet nog na die grootbaas se kantoor. Sien jou weer.”

Rudolf sien haar aankom en sug verlig. Op die vraag in sy oë knik sy net en hulle neem swyend plaas. Eers nadat hulle bedien is, word die swanger stilte verbreek.

“Het jy iets gehoor?”

“Ja, ek het met Van Jaarsveld gesels.” Sy kyk op. “Rudolf, jy moet van daardie meisie ontslae raak. Hulle soek haar nog steeds. Die speurder is oortuig daarvan dat sy vir die aanranding verantwoordelik was. Jy kan in groot moeilikheid beland. Asseblief, luister na my … Die stiefpa het weer sy bewussyn verloor. As hy sterf, is dit moord.”

Sy kop sak en die hand op die tafel span tot ’n vuis. “Ek kan dit nie glo nie. Ek sal dit nooit glo nie!”

Die groen oë blits, maar sy hou haar stem laag en dringend: “Hoe weet jy? Hoe kan jy so seker wees? Al die bewyse is daar.”

“Watter bewyse?”

“Hy … hy klink seker van sy saak. Daan van Jaarsveld weet net soveel van misdaad as enige speurder. Hy sê ook reguit hulle weet dat sy deur iemand gehelp moet word, en daardie iemand sal medepligtig wees as sy aangekeer word. Kom tot jou sinne, Rudolf. Gaan jy werklik jou hele lewe, jou toekoms, alles wat jy deur die jare opgebou het, laat verwoes deur ’n … ongebalanseerde klein droster wat jy een nag op straat opgetel het?”

Toe hy nie antwoord nie, net voor hom na die tafeldoek sit en kyk, die kos voor hom onaangeraak, pers Catherine haar lippe opmekaar, en die groen oë blits op hom. Die onrus in haar verdiep. Sy was seker hy sou besef hy moet so gou moontlik van die meisie ontslae raak …

Toe hy opkyk, luister sy verbysterd na sy antwoord: “Ek glo dit nie en ek gaan haar nie in die steek laat nie, Catherine. Hulle kan sê wat hulle wil, maar ek sê sy is nie in staat tot so iets nie.”

“Rudolf! Is jy gek?”

“Miskien. Ek weet net een ding, en dit is dat my gewete my nooit weer rus sal gee as ek haar nou in die steek laat nie. Ek het geen keuse nie. Ons sal maar net moet voortgaan soos nou.”

“Hoe lank dink jy kan jy haar nog wegsteek?”

“Ek weet nie, maar ek kan nie anders nie. Ek het eenmaal met hierdie ding begin, en ek moet dit enduit voer. Nie voordat die waarheid aan die lig gekom het, sal ek …”

“Maar die waarheid is dat sy haar …”

“Dis nié waar nie.” Hy sê dit so hard en driftig dat van die mense by die ander tafels vinnig na hulle kyk. Hy ruk hom reg. Hy sluk en Catherine tel haar mes en vurk op.

Sy laat gedemp hoor: “Rudolf, jy moet na my luister. Jy moet haar wegstuur, sê Durban of Windhoek toe of waarheen ook al, solank dit net ver van hier af is. Jy kan dit nie langer waag om haar hier te hou nie.” En dan sê sy listig: “As jy wíl voortgaan om haar te beskerm, is dit die beste manier, ook vir haar. Hulle sal nie daar na haar gaan soek nie, maar hulle is gedurig op die uitkyk vir haar hier. So sê Daan. Jy kan haar nie vir ewig teen haar sin in die woonstel opgesluit hou nie. Die oomblik dat sy op straat verskyn, gaan hulle haar vastrek. Stuur haar weg, asseblief.”

Hy kyk haar onseker aan. Die wysheid van die voorstel kan hy nie betwis nie. Madie sal miskien veiliger op ’n ander plek ver van hier af wees. Tog voel hy weer die instinktiewe teësin by hierdie gedagte. Dit voel vir hom solank hy haar onder sy oë het, sal sy veilig wees. Hy wil haar nie laat weggaan nie.

Daar is ’n harde lig in Catherine se oë toe sy die laaste stukkie nuus oordra: “Ek het ook uitgevind van haar man.”

Sy is daarvan bewus dat sy kop omhoog ruk, maar sy hou haar blik op die bord voor haar gerig toe sy vervolg: “Hy is ’n jong dienspligtige êrens op die grens.” Toe kyk sy op. “Hulle is maar ses maande getroud.”

Hy laat sy ooglede vinnig val, maar nie vinnig genoeg nie, nie voordat sy die verbystering en teleurstelling en skok in hulle gelees het nie.

Rudolf sien niks voor hom raak nie. Hoekom dit soos ’n elektriese skok deur hom moet gaan om te hoor dat haar man lewe, weet hy nie. Hy het tog van die begin af geweet dat sy getroud is, dat sy ’n man êrens moet hê.

Nou verstaan hy hoekom hulle niks van die man gehoor het of iets in verband met hom in die koerante gelees het nie. Die man is êrens op die grens.

Tog het hy die afgelope tyd byna begin vergeet dat sy ’n ander man se vrou is. Daar was oomblikke dat dit vir hom begin voel het dit is sý trouring wat aan haar vinger blink.

En hulle is maar nog net ses maande getroud …

Toe hulle buite kom en afskeid neem, is sy oë ontwykend.

“Dankie, Catherine. Ek sal … dink oor jou voorstel.”

Sy knik net, kyk hom agterna en draai toe om en stap in die teenoorgestelde rigting weg. Rudolf sal niks anders kan doen as om daardie beskermling van hom weg te stuur nie. Maar as hy dit nié doen nie … Daar is ander maniere om van ongewenste vreemdelinge ontslae te raak …

Tant Kitty was vandag uithuisig. Sy het eers ’n lang gesprek met matrone Nel gevoer en toe het sy haar motortjie se neus in die rigting van Madie se tuisdorp gestuur. Sy is ’n vasbeslote vrou. Hierdie ding moet nou na ’n kant toe kom. Langer kan dit nie so voortgaan nie.

Toe sy tuiskom, is sy tevrede. Dit was ’n baie suksesvolle dag. Maar daarvan gaan sy Rudolf niks vertel nie. Nie nou al nie. Nie solank daardie rooikopkat in die prentjie is nie.

Toe Rudolf die aand by die woonstel kom, tref hy Madie alleen daar aan, reeds besig om aandete te maak. Hy moet weer swaar sluk toe hy na die pragtige prentjie van die vietse lyfie in een van tant Kitty se te groot voorskote kyk. Haar luim het skynbaar gedurende die dag heeltemal verander en toe sy hom in die kombuisdeur gewaar, gee sy hom ’n breë glimlag.

“Jy is seker nie danig honger nie, maar tant Kitty sê jy is lief vir vetkoek en ek het vir jou vetkoek gebak.” Sy hou een omhoog. “Is hulle reg?”

Hy kyk nie eens na die vetkoek in haar hand nie. Sy blik bly op haar en sy antwoord is sag, hees: “Pragtig!”

Sy hoor die vreemde noot in sy stem en kyk hom eers vraend aan. Toe versag haar oë en skielik staan sy voor hom en kruip haar arms om sy nek. “Ek is jammer ek was jaloers en lelik vanoggend. Vergewe my, asseblief.”

Hy sug saggies en laat sy arms om haar gly. Catherine het gelyk – hy sal haar móét wegstuur. Hy hou haar teen hom vas en ruik die geur van haar hare.

Ek is jaloers, erken hy swyend, blindweg jaloers op ’n man wat ek nie ken nie en wat iewers op die grens vir sy land se veiligheid veg.

Ena Murray Keur 14

Подняться наверх