Читать книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Terwyl die jong verpleegstertjie haar haas om in die kantoor te kom om die saalsuster mee te deel dat mevrou Van der Merwe bygekom het, maar skynbaar aan geheueverlies ly, lê die pasiënt doodstil.

Dis net die blou oë wat lewendig word met verwarring en vrees en ontsteltenis. Sy knyp hulle styf toe en maak hulle weer oop, maar dit help nie. Dis of ’n deur in haar verstand toegeslaan het en verby daardie toe deur kan sy nie sien nie.

Sy frons en probeer konsentreer. Die verpleegster het gesê sy het onder ’n motor beland. Daarvan kan sy niks onthou nie. Wat het gebeur voor die ongeluk? Dis vergeefs. Sy probeer in ’n ander rigting konsentreer, lig haar arm swak op en kyk weer na die trouring aan haar vinger. Dis tog of dit vaagweg bekend wil voorkom. Dan is sy seker getroud, soos die verpleegstertjie gesê het. Met ene dokter Rudolf van der Merwe. Die naam beteken vir haar niks. Dit bly pikswart hier agter in haar verstand.

’n Bewing gaan deur haar. Dit kan tog nie wees nie! Hoe kan sy nie onthou hoe lyk die man met wie sy getroud is nie? Hoe is dit moontlik dat selfs sy naam geheel en al vreemd vir haar klink? Dan is daar nog ene tant Kitty ook – iemand wat sy veronderstel is om baie goed te ken en tog nie ken nie!

Die deur gaan oop en die suster kom vinnig nader gestap. Sy glimlag gerusstellend in die bang oë af. “Dis nie nodig om bekommerd te wees nie, mevroutjie. Alles sal regkom.”

“Maar ek kan niks onthou nie,” roep die meisie uit. “Ek ken nie eens my eie naam nie … my … man … Ek kan nie eens onthou dat ek ’n man het nie!”

“Toe maar. Dit sal mettertyd regkom. Dis maar die skok. Sodra jy herstel en rustiger word, sal alles vanself regkom. Jy moet u ook nie probeer dwing om te onthou nie. Ontspan net en dit sal alles vanself weer helder word.”

Die blou oë pleit. “Regtig? Sal ek regtig alles weer onthou? Dis alles so … swart … so … swart hier in my kop.”

“Alles sal regkom. Ek verseker jou. As jy wil, kan ek tant Kitty gaan roep. Sy rus ’n bietjie ’n entjie af in die gang. Sy het die afgelope dae getrou by jou gewaak. Dokter is uitgeroep na ’n dringende geval, maar hy sal seker ook netnou kom.”

“Nee, ek …” Haar oë is ontwykend. Laat die onbekende tant Kitty maar nog rus. “Nee, laat haar maar slaap. Sy … sy is seker baie moeg.”

“Ja. Sy het haar totaal ooreis. Ons kon haar kwalik hier van jou af wegkry. Waarvoor is jy lus? ’n Bietjie tee?”

Sy knik en toe sy eindelik alleen gelaat word, sluit sy haar oë. Haar naam is Madie. Eintlik Madelyn, maar hulle noem haar Madie. Wie presies die “hulle” is, weet sy nie. Seker haar man en dié tant Kitty wat so oor haar begaan is dat hulle haar kwalik van haar bed af kon wegkry. En sy kan haar nie onthou nie.

Die lang, skraal vingers skuif oor haar gesig en weer trek daar ’n bewing deur die maer liggaam. Dis verskriklik om so te voel – om op ’n dag wakker te word uit ’n diep, swart slaap en dan niks te onthou nie, niks van gister te weet nie! Dis so goed asof sy nog nooit geleef het nie, vandag eers gebore is!

Matrone Nel keer vir Rudolf voor toe hy deur die ingangsportaal gestap kom. “Dokter, net ’n oomblik, asseblief.”

Hy draai hom na haar toe en lyk skuldig. “O ja! Ag, ek is jammer, matrone. Ek het totaal vergeet dat u gevra het om my te spreek. Wat is dit?”

“Stap saam met my kantoor toe, asseblief, dokter. Ons moet liewer daar gesels en … daar is ook iets wat ek u wil wys.”

Hy volg haar hoewel die ongeduld in hom klop. Hy voel nie nou lus vir hospitaalsake of sulke goed nie. Hy wil naby haar wees as sy miskien skielik haar oë oopmaak …

“Voordat ons begin praat, wil ek u darem net sê: suster het netnou gebel en laat weet u … vrou het bygekom.”

Sy swyg toe sy die vreugde en verligting in sy oë soos ’n fontein sien ontspring en laat vinnig hoor toe dit lyk asof hy wil opspring: “Net ’n oomblik, dokter. Ek is nog nie klaar nie. Sy ly aan amnesie.” Hy frons diep en sy gaan voort: “Dit sal seker maar net tydelik wees, maar ek het gedink u moet hiervan weet voordat … voordat u by haar kom.”

Hy knik fronsend. “Dankie, matrone. Dis baie bedagsaam van u. Ek waardeer dit. Hoe is haar toestand verder?”

“Volgens suster skort daar verder niks nie, behalwe dat sy ontsteld is oor die feit dat sy niks kan onthou nie. Dokter, ek wil my nie graag inmeng in u private sake nie. Ek sou ook nie, as daar nie nou iets gebeur het wat ek voel … wel, wat u behoort te weet nie.”

Hy kyk haar vraend aan en sy vervolg terwyl sy hom vas in die oë kyk: “Het u vergeet dat sy nou die dag by my in die kantoor was en om werk gevra het? Ek kon nie anders as om haar onmiddellik te eien nie.”

Hy staar haar verdwaas aan en toe gaan daar meteens vir hom ’n lig op. Hy klap liggies met sy handpalms teen sy voorkop. “Natuurlik! Ek het totaal vergeet.” Hy sug en kyk haar selfbewus en ietwat ongemaklik aan. “Nugter weet wat alles die afgelope dae deur u gedagtes moes gegaan het! Ek wil liewer nie dink nie.”

Sy glimlag gerusstellend. “Glad nie sulke verskriklike goed as wat u vermoed nie. Ek ken u darem nie van gister af nie, dokter!”

Maggies, hy het sowaar van matrone Nel vergeet. Wat hierdie waardige en respektabele dame darem van hom moet dink!

“Dankie, matrone. Ek verseker u … dis moeilik om te verduidelik. Dis ’n lang storie, maar as u tyd het om te luister …”

“Ek het, en miskien is dit beter as u my by die geheim inlaat. Ek kan miskien nog help. En wanneer u klaar is, het ek ook iets om u te vertel. Maar vertel u maar eerste.”

Hy is kort en saaklik met sy feite en is onbewus daarvan dat die lewenswyse vrou hier voor hom meer tussen die reëls lees as wat hy besef en dat sy miskien ’n duideliker blik op die hele situasie kry as wat hy of tant Kitty daarop het, juis omdat sy nie emosioneel betrokke is nie.

Hy sluit af, die bekommerde frons terug tussen sy wenkbroue. “En nou ly sy boonop aan geheueverlies. Dit skep al meer en groter probleme. Die enigste manier om uit te vind wie sy is, is om ’n foto in ’n koerant te laat plaas en so na haar mense te begin soek of die polisie se hulp in te roep, en albei is feitlik buite die kwessie. Sy staan reeds hier in die hospitaal as my vrou bekend. Ek moes dit doen om haar en myself te beskerm. U verstaan tog …”

“Natuurlik, dokter. ’n Foto in die koerant of aan die polisie is buite die kwessie,” laat matrone Nel vinnig hoor, haar stem ook bekommerd. Die saak is ingewikkelder as wat sy vermoed het.

“Ja, ek voel ook so. Benewens die feit dat alles op die lappe sal kom, is daar nog ’n ander kant van die saak wat my laat huiwer om met al die feite vorendag te kom, ongeag of dit my persoonlik sal skaad. Ek wil eers sien en weet watter soort mense haar … mense is voordat ek haar na hulle laat teruggaan.” Sy kakebeen sluit vierkantig opmekaar. “Veral noudat sy niks kan onthou nie … Besef u dat daardie bullebak nou allerhande mooi broodjies sal kan bak en dat sy dit nie sal kan weerspreek nie?”

“Haar … man, bedoel u?”

“Ja, of dan die persoon wat haar so verniel het. Dit kan net haar man wees. Wie anders? As ons hom opspoor en hy vind uit dat sy niks kan onthou nie, sal niemand ’n vinger na hom kan wys nie. Begryp u nie? En sy sal moet teruggaan na hom toe. Ek sal dit nie toelaat nie. Oor my dooie liggaam sal ek haar na so ’n man laat teruggaan. Dan … dan …”

Hy vee moeg oor sy oë, skud sy kop en lag kortaf.

“Dis ’n onmoontlike toedrag van sake, maar ek gaan sowaar voort met hierdie klug voordat ek haar weer aan sulke brutale mishandeling blootstel. Ek gaan liewer vir die res van my lewe so aan voordat ek haar teruggee vir ’n man wat haar weer so sal verniel. Dit moet sekerlik vir u belaglik klink dat ek … wel, dat ek so oor ’n totale vreemdeling voel, maar … dis hoe ek sou voel as sy my dogter was.”

Die matrone sit hom ondersoekend en aankyk. Daar is ’n diep frons tussen sy oë terwyl hy die situasie probeer verduidelik, amper meer aan homself as aan haar, en sy laat hom begaan. Laat hom maar voortgaan om te dink dat dit ’n vaderlike gevoel is wat hy jeens die vreemde klein swerweling koester.

“Sy is so alleen en weerloos en … Ag, ek weet nie hoe om te verduidelik nie, maar ek weet dat dit my plig is om haar te probeer beskerm en by te staan.”

“Hoe weet u sy is alleen?”

“Wel, so het ek afgelei van wat sy daardie aand in my woonstel gesê het. Ek het haar gevra waar ek haar kan gaan aflaai nadat ek haar enkel behandel het, en toe het sy gesê sy het nie ’n adres nie. Ek wou toe weet of ek nie iemand kan skakel nie, en toe het sy my vertel haar ma is dood. Sy het van geen ander familie melding gemaak nie. Sy is skynbaar ’n weeskind, heeltemal alleen op die aarde.”

Matrone Nel sug en tel ’n koerant op. “Dokter, wanneer laas het jy die koerant gelees?”

Hy kyk haar verward aan. “Baie lank laas, moet ek erken. Daar was net nie tyd nie.”

Sy hou die koerant na hom uit.

“Dan moet jy begin. Kyk daar. Herken jy daardie foto?”

Hy frons en kyk stip na die laggende gesiggie wat uit die blad na hom opkyk. Toe word hy stadig bleek … wasbleek terwyl hy verder lees. Eindelik kyk hy op en die ouer vrou knik, jammerte in haar oë.

“Ja, dis ongetwyfeld sy. Die ooreenkoms is te voor die hand liggend om mis te kyk. Ek sal jou aanraai om haar so gou moontlik uit die hospitaal te verwyder en haar êrens te gaan wegsteek.”

“Wegsteek?”

“Ja. Wat kan jy anders doen? Of dan moet jy die polisie laat weet dat die persoon na wie hulle soek hier lê. Dis een van twee, nie waar nie?”

Sy gesig word weer die vasberade masker. “Ek glo dit nie! Dis snert hierdie!”

“Ek is geneig om saam te stem. Dis … ongelooflik.” Sy swyg. Maar tog moontlik! Sy wil nie daaraan dink nie. Ter wille van hierdie man wil sy saam met hom glo dat dit nie is soos die koerant beweer nie.

“Dokter, jy sal vinnig moet optree. Ek weet nie hoe gereeld en deeglik my personeel koerant lees nie. Die moontlikheid is egter groot dat jou … dat Madie, soos julle haar gedoop het, enige oomblik herken kan word. Hierdie foto is baie duidelik. Enigeen wat ’n bietjie opmerksaam is, sal die ooreenkoms nie kan miskyk nie. Ek is baie verlig en dankbaar dat sy vandag haar bewussyn herwin het. Behalwe dat sy aan geheueverlies ly, is daar nie iets ernstigs met haar verkeerd nie. Sy is net baie swak.

“Jy kan haar êrens heen neem om te gaan aansterk. Intussen kan jy miskien iets meer omtrent die aangeleentheid probeer uitvind. Jy sal net baie versigtig te werk moet gaan. As die polisie agterkom jy stel belang in die saak, kan hulle snuf in die neus kry. Dit sal slegs ’n paar navrae kos om hulle op haar spoor te sit.”

Haar oë versag terwyl dit op sy bekommerde en verslae gesig rus. “Ek is baie jammer hieroor, dokter. En onthou, as ek miskien tot enige hulp kan wees …” Sy glimlag. “Ek verseker jou my intuïsie het my nog selde in die steek gelaat, en my intuïsie vertel my dat hierdie verskriklike aantygings teen Madie onwaar is. Maar juis daarom is sy nou nog meer as ooit tevore afhanklik van jou beskerming. Solank sy jou ‘vrou’ bly, sal niemand ooit daarvan droom om haar met hierdie gebeure te verbind nie.”

Sy swyg en vervolg ietwat skuldig: “Miskien het ek nie die reg om so met jou te praat nie, dokter. Hierdie saak kan geweldige en selfs tragiese gevolge hê, veral vir jou. Dis vir jou om te besluit wat die beste sal wees. Wat ek eintlik maar wou doen, is om jou te waarsku en te sê dat jy … julle op my kan reken om stil te bly. As ek kan help, hoef jy nie te aarsel om my te nader nie.”

Die dankbaarheid lê oop in sy oë. “Dankie, matrone, ek is oortuig u het gelyk. My hart sê my dit. Ek sal nooit een oomblik aanvaar dat sy werklik skuldig is aan die dinge wat hier beweer word nie. Weliswaar word daar geen direkte aantyging of beskuldiging gemaak nie, maar dit lê duidelik tussen die reëls. Ek gaan haar nie vir die wolwe gooi nie. Veral aangesien sy niks kan onthou nie en nie haarself kan verdedig nie.

“Ons moet maar net hoop dat hierdie amnesie nie te lank sal duur nie. Terwyl sy nie kan onthou nie, sal ek haar wegsteek, al weet ek dit beteken dat ek myself aan ’n oortreding skuldig maak.” Hy staan op. “Baie dankie, matrone. Ek sal haar vanmiddag nog wegneem. Gelukkig kan tant Kitty na haar omsien. Tussen ons twee sal sy die beste versorging kry. Mag ek hierdie koerant neem?”

“Ja, sekerlik. Vou dit net toe.” Sy neem weer agter haar lessenaar plaas toe die deur agter hom toegaan. Jy is ’n gelukkige mens om Rudolf van der Merwe as beskermheer te hê, Magdaleen Kirschner, dink sy in haar enigheid. Solank jy Madie van der Merwe bly, is jy veilig. Ek hoop jy sal eendag besef hoe gelukkig jy was.

Toe dwing sy haar aandag terug na die hospitaal en sy probleme.

Tant Kitty sukkel om die slaapnewels af te skud, maar toe sy Rudolf se bekommerde gesig hier digby haar herken, is sy meteens wawyd wakker.

“Madie …? Het iets gebeur?”

“Nee, alles is reg. Ek is jammer dat ek tante steur, maar dis belangrik.”

“Ja?” Sy vee oor haar oë en kyk hom bekommerd aan. “Rudolf, moenie vir my goed wegsteek nie; daar skort iets. Het iets met Madie gebeur?”

“Nee, tante. Dit gaan goed met haar. Sy het bygekom.”

“Bygekom! Maar hoekom sê jy my nou eers? Gee my skoene aan.”

“Wag nou, tante. Net ’n oomblik. Daar is eers iets wat tante moet weet voordat ons ingaan na haar toe.”

“Ja, wat is dit?”

“Tante …” Hy soek na woorde en haal die koerant onder sy arm uit, vou dit oop en hou dit na haar uit: “Lees daar.”

Met ’n skerp frons in sy rigting neem sy die koerant. Toe word sy bleek, nes hy ’n rukkie gelede in matrone Nel se kantoor. Eindelik kyk sy ontsteld op. “Ek glo dit nie! Ek sê jou, ek glo dit nie, Rudolf. Jy glo tog nie hierdie … hierdie …”

“Nee, tante, nee. Nie een enkele oomblik nie. Maar besef u dan nie? Kyk na daardie foto. Iemand gaan haar herken. Ons moet haar dadelik hier uitkry.”

“Ja. Ja, kom. Ek sal sommer nou haar goedjies gaan inpak. Gaan haal jou motor en bring dit na die voordeur.”

“Dis nie al nie, tante. Madie of Magdaleen, soos haar naam volgens die koerantberig is, ly aan geheueverlies. Ek het haar nog nie gesien nadat sy haar bewussyn herwin het nie, maar matrone en die suster sê sy kan niks onthou nie.”

“Absoluut niks?”

“Nee.” Hy kyk af op sy hande. “Sy ken glo nie eens haar eie naam nie; weet nie dat sy getroud is nie en … alles. Sy kan niks onthou nie.”

“O, maar dis ’n seën! Daar kon kwalik iets beters gebeur het.”

“Tante, hoe kan u so iets sê? Besef tant Kitty dan nie? Sy is nou heeltemal weerloos. Sy kan niks sê om haarself te verdedig nie.”

“Ja, dit weet ek, maar hulle sal haar nie in die hande kry nie. Ons sal haar goed wegsteek. Aan die ander kant is dit uitstekend dat sy niks kan onthou nie. Kan jy dan nie verstaan nie? Nou kan sy ook nie stry dat sy jou vrou is nie.”

Hy knik. “Ja, dit besef ek.” Hy kyk op. “Tante, ek wil u nie by hierdie ding betrek nie. Ons kan in die tronk beland. Ons gaan … is eintlik reeds besig om landswette te oortree. As tant Kitty voel …”

“Twak met jou, kind. Van wanneer af is ek bang vir die tronk? Ek sal hulle lewe so versuur dat hulle my die tweede dag sal soebat om te loop.”

“Tante, asseblief! Hierdie ding is nie ’n grap nie.”

“Wie sê dit is? Dis jy wat deur jou nek praat, Rudolf. Gee aan my skoene dat ek kan opstaan en gaan inpak. En loop haal jy die motor.” Sy druk haar voete in die skoene en kom toe weer orent. Haar gesig versag toe sy in sy oë opkyk. “Alles sal regkom, seun. Moenie jou so bekommer nie. Kom ons gaan na haar toe. Die arme kind lê en wonder seker al hoe lyk haar mense.”

“Haar mense?”

“Ja. Ek en jy. Ons is mos al wat sy het.”

Hy trek sy asem skerp in en druk haar toe ’n oomblik teen hom vas, sy stem vreemd onvas. “Dankie, tant Kitty. Baie dankie. Verstaan u dat ek nie anders kan nie? Ek kan haar nie nou in die steek laat nie, wat die gevolge ook al mag wees.”

“Natuurlik, seun, ek verstaan. Kom ons loop nou.”

Maar toe hulle voor die kamerdeur kom, huiwer hulle.

“Ek dink jy moet eerste instap. Jy is tog haar man.”

Hy kyk onseker terug. Hulle albei het die afgelope dae gebid dat sy haar oë moet oopmaak … dat sy nie van hulle af moet weggaan nie. Maar noudat dit gebeur het, is hulle albei vreemd bang en senuweeagtig.

“Toe dan, Rudolf, man, stap in. Sy sal nie byt nie.”

Meteens kan hy, ten spyte van al sy kommer, die lag nie terughou nie en teen wil en dank begin tant Kitty se lippe ook plooi. Toe lag sy senuweeagtig.

“Maggies, wat makeer ons? Ons is tog nie bang vir so ’n klein stukkie vel en been nie, is ons?”

Hy haal sy skouers magteloos op. Hy verstaan homself nie meer deesdae nie. Hoekom sou hy senuweeagtig voel om hier in te stap? “Ek ís, tante. Asseblief, stap eerste in, toe.”

Tant Kitty trek haar skouers agteroor en draai die handvatsel. Sy stap binne en Rudolf volg haar aarselend. As sy hom net nie onthou nie …

Madie word bewus van ’n geskuifel by die deur en dit gaan oop. Met vertwyfeling op haar gesiggie kyk sy na die goedige gesig wat van die deur af onseker na haar glimlag. Sy sien die vreemde vrou nader stap en knik haar kop onseker. Toe voel sy hande teer oor hare skuif en ’n sagte stem sê: “Ek is tant Kitty. Ai, Madie, ons is so bly … so dankbaar …”

Die moederlikheid, die teerheid oorweldig haar en skielik lê sy teen die warm bors en snik haar vrese en onsekerheid uit. Sy is so dierbaar, hierdie tant Kitty van haar. Maar sy ken haar nie …!

Tant Kitty kyk hulpsoekend na Rudolf en dan voel Madie hoe sy uit die moederlike arms getrek word en ’n ander bors, ’n breë, sterk bors verskyn in haar gesigsveld. ’n Vreemde das, ’n vreemde hemp, ’n vreemde baadjie.

As hierdie man háár man is, moet sy tog sy klere ken. Miskien het sy dit nog self vir hom gekoop. Sy druk haar kop styf teen sy bors vas. Sy wil nie opkyk nie. Sy is te bang; netnou herken sy hom nie, is hy ’n volslae vreemdeling vir haar.

Sy hoor hom haar naam – Madie – hier teen haar voorkop fluister, die naam wat ook so vreemd en ongewoon klink. Sy weet hy wil hê sy moet opkyk na hom, na “Rudolf” wat so onbekend vir haar klink. Sy sluit eers ’n oomblik haar oë. Asseblief! Asseblief! Laat ek hom herken. Ek móét hom herken! Hy ís my man!

Stadig lig die ooglede, kyk sy op na hom. Die vrees en ontsteltenis in haar oë vertel hom die antwoord. Aan die een kant is hy verlig omdat sy hom nie herken nie. Dis beter so, veral ter wille van haar. Maar aan die ander kant is hy teleurgesteld. Saggies trek hy haar nader sodat haar kop weer in die holte teen sy skouer rus. Sy arms span nog stywer om haar toe hy die bewing van die skraal gestalte teen hom voel.

“Toe maar, dit sal alles regkom, kindjie. Daar is niks om oor ontsteld te wees nie. Ek en tant Kitty gaan jou netnou huis toe neem.” Hy laat haar teen die kussing terugsak en kom orent. Sy hart trek saam toe hy haar selfbewustheid en verleentheid sien. “Hoe voel jy? Is daar êrens iets seer?”

Sy hou haar oë afgewend. Sy wil nie na hom kyk nie, na die teerheid in sy oë nie, want sy voel skuldig. Dit is tog onmoontlik dat ’n mens nie jou eie man herken nie.

“Nee, ek het nêrens seer nie. Ek voel net baie moeg en … swak …”

“Dit sal ons by die huis regmaak. Ek moet nou eers gou ’n draai by my pasiënte maak. Tant Kitty sal solank jou goedjies inpak.”

Hy stap uit en haar blik volg hom totdat die deur agter hom toegaan. Toe kyk sy na tant Kitty.

“Tante, ek … ek is so jammer dat ek julle … julle nie herken nie. Ek voel so skaam daaroor. Hy … Rudolf voel seergemaak. Ek … kon dit sien …”

“Natuurlik nie, liewe kind. Ons is maar net te dankbaar dat jy lewe en terug is by ons.” Sy neem die gesiggie tussen haar hande en haar oë is teer en moederlik. Die gesiggie was nog altyd iets besonders, maar noudat die blou oë oop is, die gelaatstrekke weer lewe, al is dit met vrees en verleentheid, is sy nog meer besonders.

“Jy moet jou oor niks bekommer nie, Madie-lief. Ek en Rudolf sal na jou kyk. Niks en niemand sal jou skaad nie.”

Die blou oë kyk verward terug. “Hoe … bedoel tante?”

Tant Kitty draai vinnig weg en begin om die nagklere op te vou. “Ek bedoel maar net dat jy heeltemal veilig by ons is en dat jy jou nie moet bekommer oor die feit dat jy aan tydelike amnesie ly nie. Dit gebeur nogal baie algemeen met mense wat in ongelukke was. Later kom dit vanself reg.”

“Maar hoe het dit gebeur? Hoe het dit gekom dat ek onder ’n motor beland het, tante?”

Tant Kitty hou haar baie doenig met die inpakkery. Hier begin die vrae. Daardie eerste noodleuen van Rudolf het al en sal nog aanleiding gee tot baie ander, en hulle sal niks anders kan doen as om daarmee voort te gaan nie. Waar gaan dit eendag eindig?

Die kommer in haar groei aan. Dis alles so goed bedoel, maar sal dit nie miskien op die ou end vir hulle – vir haar en veral vir Rudolf, miskien ook vir hierdie pragtige kind – net groter ellende en hartseer bring nie?

Maar terugdraai kan hulle nie meer nie. Madie se gestel, en veral haar gees, het al te veel knoue weg om nou nog ’n skok te kan verduur. Ter wille van haar sal hulle moet voortgaan met die klug. As die kind nou moet hoor die polisie soek haar in verband met beweerde moord en aanranding, sal sy heeltemal ineenstort.

Sy slaag daarin om haar stem heeltemal ongeërg te hou toe sy antwoord. “Ag, jy weet mos hoe gebeur sulke dinge. Jy wou oor die straat stap en skielik was die motor daar. Gelukkig het jy nie ernstige beserings opgedoen nie. ’n Paar kneusplekke en ’n harde stamp teen die kop.”

“Hoekom was ek dan so lank bewusteloos?”

Tant Kitty aarsel. Ek en Rudolf sal in ons pasoppens moet wees. Hierdie klein meisie is nie ’n uil nie. Sy het netnou amper haar mond verbygepraat en die kind was gou om die effense vreemdheid in haar woorde te snap.

“Jou gestel is baie af, Madie-kind. Jy was siek voor die ongeluk … griep. Maar nou is alles weer reg.” Sy knip die koffer toe en draai om. “Rudolf kan nou maar kom. Ek is klaar. Dit sal lekker wees om jou weer by die huis te hê.”

Die blou oë wat met ’n vreemde, reguit blik na ’n mens kyk, ontsenu die ouer vrou. Dis moeiliker as wat sy gedink het om so skaamteloos vir die kind te lieg.

“Hoe lyk die huis, tante? Waar is dit?”

“Julle het ’n woonstel, voorlopig, totdat julle ’n huis raakloop. Ek bly in ’n ander voorstad.”

“Dan is ons nog nie lank getroud nie?”

“Nee.” Tant Kitty aarsel. Gits, sy het nooit gedink om Rudolf na hierdie besonderhede te vra nie. Hulle sal hul storie ordentlik agtermekaar moet kry. Die kind is vol vrae. “Julle is maar onlangs eers getroud.” Sy kyk verlig op toe Rudolf weer in die deur verskyn. Net betyds!

Die blou oë pen Rudolf op hul vreemde, reguit manier vas. Die eerste keer bekyk sy hom goed. Ek het ’n baie aantreklike man, dink sy vaagweg. En ons is nog nie lank getroud nie.

’n Ligte fronsie kerf tussen haar wenkbroue en vlugtig vat sy aan haar trouring. Die trouring lyk nie so vreeslik nuut nie. Sy het ook nie ’n verloofring nie, sien sy.

Hy kom nader, glimlag vir haar. “Trek net jou kamerjassie aan. Jy moet weer by die huis gaan lê.”

“Maar ek is nie siek nie,” protesteer sy flou terwyl sy hom toelaat om haar in haar kamerjas te help – ’n pragtige ligroos een wat, soos dit vir haar lyk, nog splinternuut is.

Sy laat haar ooglede verleë sak toe hy self die knope begin vasmaak. Sy is verspot; hy is mos haar man, benewens die feit dat hy ’n dokter ook is. Vrouens in nagklere is nie vir hom ’n snaaksigheid nie. Sy eie vrou gewis nie.

Tog kan sy nie help dat ’n verleë blos oor haar hals en wange spoel nie. Dis kompleet vir haar asof ’n wildvreemde man in haar slaapkamer ingekom het en nou eiegeregtig besig is om haar te help aantrek.

Sy stem klink rustig en kalm toe hy haar antwoord. Hy is gewis nie verleë of selfbewus nie. Hoekom sal hy ook wees?

“Jy moet nog baie rus, kleinding. Tant Kitty moet jou eers vet voer.”

Sy kyk vinnig op en weet nie dat haar oë haar groot verligting verraai nie. “Gaan tant Kitty by ons bly?”

Die twee mense kan nie anders as om die verligting in haar stem te bemerk nie. Met ’n vlugtige blik na Rudolf laat tant Kitty vrolik hoor: “Maar natuurlik, kind. Ek kan nie wag om jou te begin bederf nie.”

Sy glimlag bewerig en dankbaar terug. Haar keel wou toetrek by die gedagte dat sy saam met hierdie vreemde man na ’n woonstel gaan en daar alleen saam met hom moet bly. Maar tant Kitty sal darem ook daar wees.

Sy probeer alleen op haar bene staan, maar moet teen wil en dank vinnig na die sterk arm gryp. Weer voel sy die verleentheid oor haar spoel.

“Miskien sal jy nou besef dat jy nog te swak op eie bene is en dat ek jou eers moet help totdat jy sterk genoeg is?”

Sy sluk verleë. “Ek is jammer. Ek wou net … probeer …”

Hy sug saggies en sy voel hoe sy arm ’n bietjie stywer om haar gaan. “Stadig aan die begin, kleintjie. Jy mag jou onder geen omstandighede ooreis nie.”

Iemand verskyn in die deur en ’n man stap nader.

“Ek hoor ons pasiënt is al gereed om huis toe te gaan.”

“Ja. Madie, dis dokter Vorster. Ek dink ek neem haar maar huis toe. Tant Kitty kan daar net so goed vir haar sorg.”

Die ander man frons en laat huiwerig hoor, sy oë op die bleek gesiggie: “Miskien sal dit tog wys wees om haar nog ’n paar dae hier te laat bly, Rudolf.”

“Nee!” Sy antwoord is onnodig heftig. Sy kollega kyk hom verbaas aan. “Nee, ek vat haar huis toe. Ek kan daar eintlik beter vir haar sorg as hier.”

Sy kollega haal die skouers op. O, wel, Rudolf is self ’n dokter. Sy blik keer terug na die fee-agtige gesiggie. Hy glimlag. Mens kan die man ook nie kwalik neem nie.

Madie voel hoe sy opgetel word en sy hoor haar man vra: “Sal tante die koffer bring?”

“Natuurlik. Hier is maar net nagklere in. Stap jy maar voor.”

Sy is onbewus daarvan terwyl die man haar deur die hospitaalgange na buite dra, dat hy met ’n gebed in sy hart stap, biddend dat niemand haar sal herken nie. Sy weet nie dat hy en tant Kitty mekaar verlig aankyk toe sy eindelik veilig in die motor is en hy die koffer by tant Kitty oorneem en agter in die bak sit nie. Sover gaan dit goed, sê die oë vir mekaar.

Op pad na die woonstel kyk Madie belangstellend, amper dringend om haar rond. Daar moet tog iets wees wat sy herken. Al is dit net ’n boom, of ’n straathoek of … enigiets! Maar dis of sy die eerste keer hier ry en alles vir die eerste keer sien. Dis verskriklik om so sonder ’n verlede te wees.

Haar blik val op die linkerhand aan die stuurwiel. Daar is fyn haartjies op die rugkant. Dit moet tog vir haar bekend wees. Dis haar man se hand. Alles van en aan hom behoort vir haar dierbaar bekend te wees, want sy is tog veronderstel om hierdie man te bemin.

Ook toe hulle by die woonstel aankom, is daar niks bekends vir haar nie. Met ’n gebed in haar hart wag sy dat tant Kitty die slaapkamerdeur moet oopmaak en vooruit stap terwyl Rudolf haar weer in sy arms dra.

Maar ook hier, selfs in hierdie kamer waar sy as vrou saam met die man wat haar nou sag op een van die enkelbeddens neerlê, die intiemste ervaring van haar lewe moet gesmaak het, is daar niks wat die sluier wegruk nie. Die kamer lyk selfs onpersoonlik en koud vir haar, so asof dit nie haar kamer kan wees nie.

Haar blik dwaal onrustig om haar rond, soek vergeefs na iets op die spieëltafel, ’n blikkie poeier of room of ’n lipstiffie, of enigiets wat haar kan vertel dat sy tog tevore hier gebly het. Maar daar is niks … niks …

Sy kyk na die ander enkelbed. Dit moet Rudolf s’n wees … Sy krimp weg onder die laken. Hoe kan sy ’n kamer deel met ’n man wat sy nie ken nie! Tant Kitty het verdwyn om iets te drinke te gaan maak en Madie is intens bewus van die man hier langs die bed wat stil en uitdrukkingloos na haar staan en kyk.

Dat hy haar onrustige soeke gesien het, asook die wegdeinsing toe haar oë op die ander bed in die kamer val, kom sy agter toe hy meteens langs haar op die kant van die bed plaasneem en haar een hand in syne neem.

“Madie … kyk na my. Nee, kyk reguit in my oë, kindjie.” Sy gehoorsaam gedwonge. “Meisie, daar is niks om voor bang te wees nie. Ek gaan niks van jou vra nie, net dat jy heeltemal gesond en sterk moet word. Asseblief!

“En moenie jouself so dwing om van gister te onthou nie. Gister is nie van belang nie. Die enigste ding wat van belang is, is dat jy weer jouself raak.”

“Maar wie is ek?” vra sy dringend, smekend en sy sien sy gesig verstrak.

Hy antwoord met ’n vreemde drif: “Jy is my vrou en niks en niemand gaan jou seermaak nie.”

Ena Murray Keur 14

Подняться наверх