Читать книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

De Waal Venter neem behaaglik in die leunstoel plaas en tel sy koerant op.

Vlugtig dwaal sy blik oor die hoofopskrifte. Dit sak af na die linkerhoek, en dan, soos altyd wanneer hy ’n foto van haar sien, sit hy regop. Maar sy blik rus nie lank op die beeldskone gesig en volmaakte liggaam nie. Die vet, swart letters onderaan die foto skok hom. Topmodel in ongeluk. Drie dood.

Hy is oorbluf. Dit kan nie wees nie … Maar dit is. Karina Oosthuizen en ’n vriend, die bekende fotograaf Helmut Neethling, se motor het teen ’n vragmotor gebots. Motor en vragmotor is die afgrond af. Twee van die drie mans in die vragmotor is op slag dood, en ook haar vriend. Die ander man in die vragmotor, asook die bekende Karina Oosthuizen, lê bedenklik in die hospitaal. Juffrou Oosthuizen het ernstige kop- en rugbeserings opgedoen.

Hy sit asof versteen. Dis asof sy verstand weier om te funksioneer. Hy stap werktuiglik na die telefoon, besef dan dat dit nodeloos is. Tant Miemie het mos nie ’n telefoon nie. Dis ’n luukse wat sy nog nooit kon bekostig nie.

Hy swaai in sy spore om en stap vinnig na buite, trek weer sy motor uit die motorhuis. Dit neem hom enkele minute om die skakelhuisie te bereik, maar in daardie paar minute kan hy sy geskokte gedagtes steeds nie georden kry nie. Karina … Kop- en rugbeserings … Hoe ernstig? Die koerant sê bedenklik.

Tant Miemie se skakelhuisie is in donkerte gehul. Hy stap om en klop langsaan aan.

“Tant Miemie … Ek soek na tant Miemie Oosthuizen …”

Die vrou moet eers die skreeuende kleintjie op die vloer optel om stilte te kry. Hy sien alles, al die armoede, in een oogopslag raak, en sy hart trek saam. Dis so pynlik bekend – die binnekant van hierdie skakelhuisies.

“Ekskuus tog, meneer. Wat sê u? Die kind skreeu so …”

“Ek soek na tant Miemie wat hier langsaan woon. Weet u miskien waar sy is?”

“O, tant Miemie! Sy’s vanoggend in hospitaal toe. Haar hart, u weet …? Sy het glo tyding gekry haar dogter het verongeluk … verlede nag glo … en haar hart is mos nie sterk nie …”

“Ja, ek weet. Dankie, mevrou. Goeienag.”

Op pad hospitaal toe voel hy opnuut skuldig. Hy was baie lank laas by tant Miemie. Te lank laas, voel hy nou. Hy was so besig die afgelope tyd. Maar dis geen verskoning nie, bestraf hy homself ontevrede. Al was hy hóé besig, hy kon maar ’n paar minute afgeknyp het net om te kom hoor hoe dit gaan. Dit sou hom niks gekos het nie, en hy weet hoeveel dit vir die ou dame sou beteken het. Sy het seker al gedink hy het haar vergeet. En hy het, om die waarheid te sê. Nie letterlik vergeet nie, maar byna asof hy haar wóú vergeet, want tant Miemie is een van die bande wat hom aan die verlede bind, en dis bande wat hy liewer wil verbreek. ’n Mens kan nie aan gister bly vasklou nie, het hy op ’n dag besluit. Daarom het sy besoekies aan tant Miemie al minder en minder geword, en naderhand het hy glad nie meer gekom nie.

Maar vanaand laat sy gewete hom nie toe om hierdie ou dame te ignoreer nie. Tant Miemie was ’n belangrike persoon in sy lewe. Die herinneringe aan haar wek ’n deernis in hom wat sy skuldgevoel net verder verskerp. Hy moes haar nie so verwaarloos het nie. Hy moes onthou het …

Hy dink aan die gisters van sy lewe toe hy in die lang hospitaalgang afstap. Dis gisters wat reeds byna dertig jaar lank al verby is, maar tog is dit ook maar op hierdie oomblik net gister. Hoe gou vergeet ’n mens tog!

“Net ’n minuut of twee, meneer. Tant Miemie is baie ontsteld. Sy moet baie rus kry en kalm gehou word.”

“Ek sal haar nie ontstel nie, suster. Baie dankie.”

Hy buk oor haar, en die ou oë gaan moeg oop.

“Tant Miemie, dis ek … De Waal. Hoe voel tante?”

“De Waal? Is dit regtig jy, my seun?” Sy lek oor haar droë lippe, effens kortasem. “Goed … onder omstandighede. Dis net die ou hart … De Waal, Karina …”

“Ek weet, tante. Ek het dit so pas in die koerant gelees. Tante moes my onmiddellik laat weet het.” Terwyl hy die woorde uitspreek, voel hy weer skuldig. Sy sou dit gedoen het as hy beter kontak met haar behou het.

“Jy … is ook maar baie besig, my kind. Ek wil nie lastig wees nie …”

“Tante!” Hy neem haar hande tussen syne. “Ek is jammer. Ek is werklik jammer dat ek tante die afgelope tyd so verwaarloos het. ’n Mens besef nie hoe vinnig die tyd verbygaan nie. Ek was lank laas by tante, maar tante moes my laat weet het. Het tante al weer iets gehoor?”

“Nee. Hulle is nog besig met toetse. Ek het die dokter gevra om te bel. Hulle sal laat weet sodra hulle seker is.” Die ou oë kyk pleitend, hulpsoekend op. “De Waal, my … my pragtige kind …”

Hy sluit sy oë, verstewig sy greep om die bewende hande. “Alles sal regkom, tante. Sy sal gesond word. Ons moet dit glo.”

“Maar hulle sê daar is ernstige kop- en rugbeserings. Hulle sê …”

“Dis nog te gou vir enigiemand om iets definitiefs te sê, tante. Ons moet nou in die geloof wag vir die uitslag.” Hy skud sy kop, sy oë teer en innig. “Wie was dit wat altyd vir my geloof voorgehou het? Was dit dan nie u nie, tant Miemie? Onthou tante nie? Toe ek so moedeloos was, so plat op die grond, so in die stof … toe was dit tante wat my geleer het om te glo in môre.” Hy glimlag teer. “Onthou tante?”

Die lippe bewe. “Ja my seun, ek onthou. Ek het nog nooit vergeet nie. Ek onthou elke dag daarvan. Dit was swaar jare, maar … ook goeie jare. Toe was julle klein. ’n Mens het geweet waar julle was, wat julle doen. Maar nou …”

Daar is ’n beweging by die deur, en De Waal knik.

“Ek sal weer kom, tante. Ek sal ook in verbinding bly met die hospitaal en sodra daar nuus is, vir tante kom sê. Asseblief, moenie so bekommerd wees nie. Belowe my.”

Sy knik net effens, die ou oë blink. “Dankie … dankie dat jy gekom het … dat jy nie heeltemal vergeet het nie …”

“Hoe sal ek ooit kan vergeet, tant Miemie? Nee. Ek onthou. Ek sal weer kom.” Hy buk af, druk sag ’n soen op die gerimpelde voorkop. “Slaap nou.”

Buite in die gang praat hy met die suster. “As enigiets met tant Miemie gebeur, moet julle my onmiddellik laat weet. Wat is die jongste nuus oor haar dogter, of weet u nie?”

“Sy is baie ernstig. Ons weerhou maar voorlopig die feite van tant Miemie, want daar word gevrees dat Karina se oë en bene …”

Sy swyg toe sy sien hoe geskok hy is.

“Jy bedoel …?”

Sy knik. “Dis nog nie heeltemal seker nie, maar dit is moontlik dat sy dalk die gebruik van haar oë en bene verloor het. Ons sê maar liewer nog niks vir tant Miemie nie – nie voordat ons finaal weet nie.”

Dis ’n oomblik lank baie stil in die wit hospitaalgang. Dan knik hy, en toe hy praat, is sy stem grof. “Dankie, suster. En onthou, skakel my asseblief as daar iets gebeur of tant Miemie enigiets nodig het. Goeienag.”

Sy kyk hom agterna. Sy het nie geweet De Waal Venter ken tant Miemie nie. Sy wonder wat die verbintenis is. Seker maar die dogter. Al wat man is, is gaande oor haar. Sy het haar nog net op foto’s gesien, maar selfs sý moet erken dat Karina Oosthuizen ’n pragtige meisie is. En nou lê sy in die hospitaal … miskien verlam en blind vir die res van haar lewe. Sy sidder liggies. ’n Mens moet liewer nie daaraan dink nie.

Vir ’n tweede keer het De Waal se verstand tot stilstand geskok. Vir ’n tweede keer weier sy verstand om die feite te aanvaar. Dit is tog nie moontlik nie. Sy verstand is bereid om te aanvaar dat Karina in ’n ongeluk getrokke was, selfs dat sy in ’n baie ernstige toestand verkeer. Maar sy verstand weier om te aanvaar dat sy miskien blind en verlam gaan wees. Dit kan nie, dit mág nie wees nie. Daardie pragtige oë … blind? Daardie beeldskone liggaam … verlam? Daardie sprankelende mens so vol ideale … ’n invalide? So iets kan tog nie gebeur nie!

Maar dit kan en dit het, moet hy verdwaas aanvaar toe hy met die dokter aan diens praat.

“U kan professor Keuler self bel en by hom hoor, maar ons toetse bewys ernstige skade. Dit moet nog vasgestel word of daar iets aan gedoen kan word en of dit blywend gaan wees, maar op die oomblik is juffrou Oosthuizen verlam in albei bene en kan sy niks sien nie.”

De Waal lek eers oor sy droë lippe en toe hy praat, herken hy sy eie stem nie. “Het sy al bygekom?”

“Ja, maar sy is voortdurend onder sterk verdowing. Haar gestel het ’n geweldige skok weg.”

“Sy … sy weet dus nog nie …”

“Nee. Sy weet nog skaars dat sy lewe. Op die oomblik is dit natuurlik beter so.”

“Ja. Ja, natuurlik.”

Toe hy die gehoorstuk neersit nadat hy sy telefoonnommer gegee het, vee hy oor sy oë. Ja, dis beter dat sy op die oomblik nie eens weet dat sy lewe nie, maar daar sal ’n tyd kom dat sy wel sal weet, sal moet aanvaar …

Hy dwaal rusteloos deur sy woonstel en dan is dit asof hy tot ’n besluit kom. Hy stap weer na die telefoon toe.

“Rhona …”

“De Waal! Ek het jou vanaand verwag …”

“Ek weet, maar … ek bel net om te sê dat ek môre vroeg stad toe gaan.”

“Stad toe? Dis skielik.”

“Ja … e … dringende besigheid.”

“O … As ek nie so besig was nie, sou ek saamgery het. Maar sorg dat jy môreaand betyds terug is, skat. Onthou, ons het ’n ete.”

“Ja. Dis … juis … Ek sal miskien laat wees.”

“Ag nee, De Waal! Om sesuur is alle besighede tog toe. Dan kan jy tog niks verder uitgerig kry nie. En as jy sesuur daar wegry, sal jy maklik agtuur hier kan wees.”

“As ek die spoedbeperking oortree, ja. Moet liewer nie môreaand op my staatmaak nie.”

Daar is ’n takserende stilte voordat sy antwoord. Haar stem klink nou duidelik ontevrede: “Kan die vreeslike besigheid nie maar wag nie? Jy weet al lankal van môreaand se ete, De Waal.”

“Dit spyt my, Rhona, maar dit kan nie. Ek móét môre stad toe. Jammer.”

“Jy klink nie baie jammer nie.”

Hy sluit sy oë. Rhona is soms werklik veeleisend. Sy is gewoond om haar sin te kry. Maar môreaand sal sy maar sonder hom moet klaarkom.

“Nag, Rhona.”

“De Waal!”

“Ja?”

“Is daar iets verkeerd? Jy klink … vreemd.”

“Nee. Niks is verkeerd nie.”

“O … Nou ja, slaap gerus en ry voorspoedig. Ek het die gevoel dat ek jou liewer glad nie môreaand moet verwag nie.”

“Ja, liewer nie. Tot siens.”

Rhona de Villiers frons skerp toe sy die telefoon neersit.

Haar pa kyk vraend van sy koerant af op. “Iets verkeerd?”

Sy trek haar skouers ongeërg op. “Nie juis nie. De Waal het skielik ’n nuk gekry dat hy nou juis môre móét stad toe vir besigheid. Hy sal dus nie môreaand hier wees vir die ete nie.”

Isak de Villiers glimlag effens. Dis die een man met wie Rhona nie altyd kan maak wat sy wil nie. Daarom is hy as haar pa heimlik dankbaar dat dit juis aan De Waal is wat sy verloof geraak het. Sy kort ’n sterk hand, en dié het De Waal beslis. Hy sal haar dinge verdra tot op ’n punt, en dan sy voet neersit. Nee, hy voel baie meer gerus oor sy dogter se toekoms noudat sy en De Waal verloof is. Hy weet De Waal sal die leisels reg hou en ook styf hou, indien nodig … en dit sal beslis nodig wees met hierdie bedorwe dogter van hom.

Hy probeer maar paai. “De Waal is ’n puik sakeman, en as hy sê hy moet môre in die stad wees, dan moet jy dit aanvaar, my kind. De Waal is baie pligsgetrou. As hy dit nie was nie, sou hy nie geklim het tot waar hy vandag is nie. Jy moenie in sy pad staan nie, Rhona. Sy onderneming het geweldig uitgebrei die afgelope tyd, en dis tog julle twee se toekoms waarvoor hy werk.”

Sy glimlag skeef na hom. “Ja, ek het geweet Paps sal weer aan sy kant wees. De Waal kan niks verkeerd doen in Pa se oë nie, nè?”

“Dis nie dit nie, my kind. Ek het net groot respek vir hom. Hy was ’n brandarm seun en nou is hy die grootste sakeman op die dorp, en hy het dit deur harde werk en eie inisiatief reggekry. Dit het nie in sy skoot geval nie. Jy het ’n diamant in De Waal, Rhona. Ek hoop jy besef dit en waardeer hom.”

Sy kyk hom skerp aan. “Wat bedoel Pa? Ons is verloof. Ons gaan trou en …”

“Ja, my kind, maar jy sal moet leer om De Waal ook in aanmerking te neem. De Waal is nie ’n man wat bogtery sal verdra nie. Jy moet een ding goed besef: De Waal het nie nodig om met jou te trou nie. Hy hét geld en status, en hy het dit bekom deur harde werk en ’n gesonde lewenswandel. Moenie dink omdat jy Isak de Villiers se dogter is, kan De Waal jou nie die trekpas gee nie, hoor?”

Sy is nou werklik verontwaardig. “Pa verbaas my! Dit klink amper asof ek baie dankbaar moet wees dat De Waal mý gekies het, asof dit ék is wat in die onderdorp grootgeword het.”

Isak de Villiers sug. Dit help nie om op hierdie laat leeftyd die regte waardes vir sy dogter te probeer leer nie. Hy moes dit twintig jaar gelede begin doen het, en toe het hy nie. Sy enigste hoop is De Waal. Hy sal haar miskien kan leer wat waarde in die lewe het en wat nie.

“Nee, my kind. Dis De Waal wat in die onderdorp grootgeword het, en juis daarom stel hy vandag hoë eise omdat hy albei kante van die prentjie ken. Jy het nog baie te leer, Rhona. Ek is soms baie bekommerd oor jou, my kind.”

Sy sug en beduie met haar hand. “Ag, Paps is weer vandag in een van Pa se morbiede buie. Pa lees te veel koerant. ’n Mens móét morbied raak as jy elke dag die koerant lees, want dis net ellendes en oorloë en moord en hoër pryse en al wat tragedie is. Ek lees nooit koerant nie. Dit doen my nie goed nie.”

Haar pa sug. Nee, sy lees nooit koerant nie, want sy het besluit om net te sien wat sy wil. Die res ignoreer sy net eenvoudig. Hy kyk terug na die koerant en knik. “Ja, tragedies is daar genoeg. Ek sien Karina Oosthuizen was in ’n nare ongeluk betrokke. Sy lê ernstig in die hospitaal.”

“O?” Rhona tel die koerant op. “Dit is nogal jammer. Dit sal vreeslik wees as sy littekens moet oorhou.” Dan gee sy die koerant terug, en toe sy by die deur uitstap, het sy alles al weer vergeet – haar pa se vermanings asook die berig wat sy so pas gelees het. Sy dink oor die spyskaart vir môreaand se ete en watter tafeldoeke sy gaan gebruik.

De Waal is die volgende oggend baie vroeg op pad Kaap toe. Hy het genoeg tyd om aan die verlede te dink …

Toe hy sy verstand gekry het, het hulle in die een deel van die skakelhuisie gebly – hy en sy pa en sy ma. In die ander deel het die Oosthuizens gewoon – oom Daan, tant Miemie en hul babadogtertjie, Karina. Sy pa en oom Daan het albei vir die munisipaliteit gewerk. Soggens het hulle saam werk toe gestap.

Toe is sy ma dood. Hy was maar nog ’n jong seun, maar hy onthou goed. Dit was tant Miemie wat hom saam met haar huis toe geneem en hom die nag daar laat slaap het. Dit was tant Miemie wat twee dae later sy hand styf, styf vasgehou het toe hulle voor die oop graf gestaan het. Dit was sy wat hom, nadat alles verby was, na haar slaapkamer geneem, haar arms om hom gesit en sag gesê het: “Nou kan jy maar huil, boet. Huil so hard en so lank jy wil.”

Hy hét gehuil, hoe lank en hoe hard weet hy nie, maar toe die trane eindelik opgedroog het, was tant Miemie se arms nog om hom, sussend, teer, moederlik.

Die tyd het aangestap en die lewe het weer ’n normale patroon aangeneem. Sy pa het soggens weer sy trommeltjie gevat en saam met oom Daan werk toe geloop. Hy het weer skool toe gegaan. Alles was weer min of meer soos altyd. Net … dit was tant Miemie wat nou toegesien het dat die huishulp hul huisie goed skoonmaak, gesorg het dat daar groente was om te kook, hul klere vir hulle reggemaak het. Dit was by tant Miemie se kombuistafel waar hy nou middae ná rugby of krieket ’n beker koffie en ’n dik sny brood met die tuisgemaakte appelkooskonfyt so dik daaroor gestryk, gesit en eet het.

En Karina was altyd daar. Sy was vyf jaar jonger as hy en vir hom die mooiste klein meisietjie wat hy nog ooit gesien het. Sy het vir hom al mooier geword namate sy groter geword het. Hy het haar as sy persoonlike besitting beskou, totdat hy op ’n dag met ’n skok moes besef dat sy glad niks van hom was nie en ook nooit sou wees nie.

Sy was in standerd vyf en hy in matriek toe hy vir die eerste keer opgemerk het dat ander seuns na haar loer en dat sy dit geniet. Hy het haar goed beskou, die ontluikende vroulikheid raakgesien en vir die eerste keer het hy geweet wat jaloesie is. Soos ’n wafferse grootbaas het hy haar daaroor aangespreek en hom teen ’n muur van vyandigheid vasgeloop.

“Ek is nou moeg vir jou baasspelerigheid, De Waal,” het sy ontstoke gesê. “Jy is niks van my nie.”

“Maar …” Hy wou haar verslae daarop wys dat hulle so te sê in een huis grootgeword het, dat hy die volste reg het om beskermend oor haar te voel, maar sy het hom nie kans gegee nie.

“Van nou af los jy my uit, hoor? En in die toekoms gaan ek saam met wie ek wil, na die debat, die rugby, waar ook al heen. Ek is nou sat daarvoor dat jy my altyd wil oppas.”

Hy het verslae na haar wrede woorde geluister. Al die jare, as hulle na ’n plek toe moes gaan, het hy en Karina saamgegaan. Hy het nooit bedoel om haar op te pas nie. Dit was vir hom die grootste genot en vreugde, en hy was altyd heimlik trots op sy maatjie. En toe moes hy hoor sy vind hom lastig en baasspelerig en dat sy moeg was daarvoor, dat sy verkies om saam met ander seuns na al die plekke toe te gaan.

Sy klein kaartehuis wat hy deur die jare vir hom en Karina opgebou het, het in duie gestort. Hy het nooit na ’n ander meisie gekyk nie, want niemand was so pragtig soos sý Karina nie. Maar dat Karina beslis na ander seuns begin kyk het, was duidelik, en dit het diep, diep seergemaak.

Dit was net tant Miemie wat agtergekom het dat iets met hom aan ’t gebeur was. Sy het hom die beste van almal geken, want het sy hom dan nie amper soos ’n eie kind grootgemaak nie? Sy was al die jare bekommerd dat hierdie ding sou gebeur, en nou het dit gebeur. Sy het nooit daarna verwys nie, maar sy was daarvan bewus dat hy Karina bewonder. Sy het maar gehoop dat hy dit mettertyd sou ontgroei en ook in ander meisies sou begin belangstel, meisies van sy eie ouderdom. Maar dit het nie gebeur nie, en toe het Karina hom seergemaak.

Maar sy was bang om met hom daaroor te praat. De Waal was reeds in matriek ’n besonder volwasse kind vir sy jare. Hy was nog altyd baie spontaan teenoor haar, maar tog was daar sekere dinge, waarvan sy gevoel vir Karina een was, wat sy nie sommer met hom kon bespreek nie. Sy het gewag dat hy eerste daaroor met haar moes praat, maar hy het nie.

Met die beste bedoelings het sy een middag met haar dogter probeer praat, ’n dogter wat skielik oornag grootgeword het, byna te mooi geword het, het sy met beklemming gesien. Waar sou sy en Thys tog aan hierdie besonder mooi kind kom? Hulle was doodeenvoudige mense. Sy was nog altyd so ’n groot vreugde vir hulle, want afgesien van haar uiterlike skoonheid, was sy ook intelligent en baie getrou in haar skoolwerk. Oënskynlik kon sy en Thys maar net trots wees op die dogter wat die Vader hulle redelik laat in hul lewens geskenk het. En tog …

Ouers wil altyd graag mooi kinders hê. Sy het geweet daar was baie mense op die dorp wat haar en Thys hierdie pragtige, slim kind beny het. Maar sal haar kind se skoonheid nie later meer kommer en hartseer baar as wat dit tot dusver vreugde gebring het nie? Daar is so min mense wat uiterlik mooi is wat ook goed is van binne.

“Jy skeep De Waal deesdae darem baie af, Karina. Jy gaan nooit meer êrens saam met hom nie.”

Karina se ken het parmantig gelig. “Hoekom moet ek? Ek is onder geen verpligting teenoor hom nie.”

Tant Miemie het gefrons. “Hoe kan jy so iets sê, Karina? Jy en De Waal is so te sê broer en suster.”

“Ja, as julle dit net daarby sal laat.”

Tant Miemie was hewig ontsteld. “Wat bedoel jy?”

“Mamma, kom ons praat reguit. Al die jare paar julle my en De Waal af. Vergeet dit. Daar sal nooit iets meer as vriendskap tussen ons wees nie en as hy nie kan ophou om lastig en besitlik te wees nie, kan daar nie eens vriendskap wees nie.”

“Karina!”

Sy was egter onwrikbaar. “Ons moet mekaar goed verstaan, asseblief, Mamma. Ek het my hele toekoms voor my, en De Waal pas nie by my planne in nie. Sodra ek klaar is met skool, gaan ek die wêreld in om iets te bereik, iets te word. Ek is nog nie honderd persent seker wat nie, maar ek gaan nie op hierdie dorp bly sit en met De Waal trou en soggens vir hom ’n trommeltjie kos pak soos Mamma dit vir Pappa doen nie. Ek sal nie! Ek sterf liewer!”

Sy het natuurlik nie geweet hoe diep haar woorde haar ma gekwes het nie. Die jeug besef selde wanneer hulle wonde toedien. Wysheid en insig kom eers met die jare, en Karina was maar nog ’n dogter, vol ideale, en sy was van plan om niks en niemand in haar pad te laat staan nie.

Sy het Karina bekommerd aangekyk. Daar is niks mee verkeerd om ideale en drome te hê nie. Trouens, elke mens moet dit hê. Maar Karina se ideale … Was hulle werklik suiwer?

“Wat wil jy eintlik in die lewe hê, my kind?” het sy amper bang gevra.

Haar kind het haar arms half moedeloos uitgestrek asof dit te veel was om op te noem. “Ag, sommer … sommer alles wat …”

Miemie Oosthuizen het begrypend geknik toe haar dogter ongemaklik geswyg het. Ja, sy het geweet. “Alles wat ons jou nie kon gee nie, bedoel jy.”

Karina het skuldig gelyk, maar was nog steeds uitdagend. “Is dit so verkeerd, Mamma? Ek is maar net ’n mens. Ek wil graag eendag kaste en kaste vol mooi, duur klere hê. Ek wil my eie motor hê, ’n woonstel met pragtige meubels en dik matte, en ek wil oorsee gaan en … ag, so baie ander dinge. Is dit verkeerd?”

Miemie het meewarig geglimlag. “Nee, ek sal nie sê verkeerd nie, my kind, solank dit net nie ál is waarna jy strewe nie. Dis alles materiële dinge wat jy genoem het, Karina. Baie mense het al hierdie dinge nagestreef en later ontdek dat hulle die dinge wat werklik geluk bring, weggegooi het ter wille van dooie, siellose dinge. Ek hoop nie jy kom dit ooit oor nie. De Waal is dus nie een van die dinge waarna jy streef nie?”

“Nee. Ek wil eendag ’n ryk man hê wat my alles kan gee, en De Waal sal altyd ’n sukkelaar wees. Hoe kan hy ooit ryk word?”

“Karina!” Tant Miemie het haar kop geskud. “Jy is nie nou baie regverdig teenoor hom nie, is jy? Hy het nog nie ’n kans gekry om te bewys wat in hom steek nie. Hy is maar nou eers in matriek, Karina!”

“Ja, maar tog … Hy gaan volgende jaar met ’n beurs B.Com. studeer. Daarna sal hy iewers as boekhouer beland en vir die res van sy lewe van die hand in die tand leef. Nee dankie, Mamma. Ek sien nie daarvoor kans nie. Ek wil beroemd word. Ek wil my naam in die koerante sien …”

“Ek hoop, my kind, dat jy en ek en Pappa dan altyd trots sal wees wanneer dit gebeur. Daar is baie mense wie se name en foto’s in koerante en tydskrifte verskyn wat hul koppe in skaamte moet laat sak.” Sy het opgestaan, haar dogter se een wang gestreel, met moederlike intuïsie besef dat daar nog baie trane en kommer vir haar wag. Maar met die wysheid van ’n moeder het sy besef dat dit onafwendbaar was, dat sy maar net geduldig daarop kon wag. Intussen kon sy net hoop en bid. Dis op die ou end maar al wat daar vir ’n ouer oorbly – hoop en bid dat dít wat deur die jare met sorg en moeite en geloof geplant is, tog sterk genoeg gewortel het om jou kind veilig deur die lewe te dra.

“Ek hoop jy bereik eendag jou ideale, my kind. Daar is net een ding, Karina, wat Mamma vandag vir jou wil sê. Hoe jy van buite lyk, is nie in jou hande nie. Dis God wat jou geskape het, jou mooi gemaak het. Maar hoe ’n mens van binne lyk, is jou eie handewerk. En ’n mooi mens van buite wat lelik is van binne, is ’n afskuwelike ding, Karina. Onthou dit, my kind. Onthou dit altyd en strewe daarna om nie net van buite nie, maar ook van binne mooi te wees. Dis al wat ek vir jou sê wanneer jy op jou pad van ideale begin stap. Ek het niks meer om vir jou saam te gee nie.”

Karina het haar ma stip aangekyk. “Mamma weet, ek het al baie gedink … as Ma die kans gehad het, verder kon leer …”

Maar tant Miemie het haar kop met ’n sagte, vergewende glimlag geskud. “Daar was nie sulke kanse in my tyd nie, my kind. En buitendien, my liefling, ek sou jou en Pappa se troue liefde deur die jare vir niks verruil het nie. Ek is ryk, Karina, al verstaan jy dit nie vandag nie.”

Hoe ryk Karina self op daardie oomblik was, het sy nie besef nie, dink De Waal nou terwyl sy motor voortsnel. Sy was ryk, baie ryker as baie van die ryk kinders van die dorp met ’n moeder soos tant Miemie. Maar tóé kon sy dit nie besef nie, die waarde van die moeder voor haar, die eenvoudige skakelhuisie waarin sy gestaan het, nog nie na waarde skat nie.

Toe sy uit is, het hy binnegestap. Tant Miemie het hom vraend aangekyk.

Hy het geknik. “Ja, ek het afgeluister, tante. Ek is jammer en ek weet tante het my nie so geleer nie, maar ek is bly ek het.” Hy het probeer glimlag. “Nou weet ons mos waar ons staan.”

“De Waal …”

Hy het sy hand opgehou. Selfs nie met sy “ander ma” kon hy hierdie teer, seer saak bespreek nie. In elk geval, nie dadelik nie. “Ek … ek wil dit nie bespreek nie, tante, asseblief. Ek is nie vir haar kwaad nie. Daar is net een ding …”

Met teerheid en liefde het sy na hom gekyk, na hierdie seun wat so dapper sy hartseer agter ’n skewe glimlaggie probeer verberg het asof hy reeds ’n grootmens is. “Ja, my seun?”

“Karina is verkeerd, tante. Ek gaan nie ’n sukkelaar bly nie. Eendag … Ek het ook my ideale, tante.”

“Natuurlik het jy, De Waal, en ek twyfel nie aan jóú ideale nie.”

Sy insig was skerp op daardie oomblik. “Tante meen … tante is bekommerd oor Karina s’n?”

Sy het gesug. “Ja,” het sy eerlik erken. “Ek is bekommerd oor my kind, De Waal. Karina se ideale gaan haar ver weglei van hierdie huis af. Sy gaan eendag op vreemde paaie stap en … ek is so bang sy gaan die pad terug huis toe vergeet …

En sy het amper, besef De Waal grimmig toe hy na die snelheidsmeter kyk. Karina het die afgelope jare byna die pad huis toe vergeet. Terwyl hy op universiteit was, het hy haar selde gesien. Nadat hy afgestudeer het, het hy teruggekeer en soos Karina voorspel het, ’n boekhouer geword. Maar in sy agterkop was groot planne, planne wat met die jare vorm begin aanneem het. Hy het besef dat sy tuisdorp ’n groeipunt gaan word, en hy het begin waag. Hy was nie verkeerd nie. Drie jaar later het hy ’n klein onderneming oorgeneem, en sedertdien kon niks hom stuit nie. Vandag is hy een van dié sakemanne van die dorp, en brei hy nog steeds uit.

En in hierdie jare het Karina selde die pad huis toe geken, want sy het ook háár ideale bereik. Sy was beroemd, ’n topmodel. Sy het haar eie woonstel in die stad gehad, luuks gemeubileer, haar eie motor, en haar foto was gereeld in die koerante en tydskrifte. Sy was hoog in aanvraag. Sy het gereeld oorsee modelwerk gedoen. Sy het ook binne ’n paar jaar al haar ideale verwesenlik … en die pad terug huis toe het begin toegroei.

Hy het die stille hartseer in tant Miemie se oë gesien tydens sy besoeke. Later het hy liewer nie meer na Karina verneem nie, sodat hy haar nie in verleentheid sou bring nie. Op ’n dag het hy besef dat hy ’n dwaas is, dat hy nog steeds vasklou aan gister se drome – en homself ernstig aangespreek. ’n Volwasse man durf nie toelaat dat ’n droom uit sy kinderjare hom kortwiek in die lewe nie. Dis kinderagtig en onwaardig. Karina Oosthuizen het lankal van sy horison verdwyn. Sy beweeg in ’n ander sfeer as hy. Hulle is soos twee hemelliggame, elkeen op sy eie baan. Ontmoet sal hulle nooit nie. Dis tyd dat hy vir hom ’n vrou soek, ’n gesin begin en ten volle begin lewe. Waarvoor werk hy immers?

Daardie selfde aand het hy uitgery na oom Isak de Villiers se herehuis toe en die volgende dag het hy en Rhona die ring gaan koop.

Sy besoeke aan tant Miemie het begin afneem, die afgelope maande heeltemal ten einde gekom. Sy gesonde verstand het hom vertel dat hy ter wille van sy toekomstige geluk liewer alle bande met die verlede moet verbreek.

Maar toe skielik maak die lewe ’n draai, ’n draai wat niemand verwag het nie … en nou is hy op pad na Karina toe …

Hoekom? Hy skram weg van die vraag. Dis sy plig, maak hy homself wys. Hy doen dit ter wille van tant Miemie, die vrou aan wie hy soveel verskuldig is. Sy eie pa, en ook oom Thys, is oorlede. Tant Miemie is alleen. Hy móét haar help, kyk wat hy kan doen. Hy is niks aan Karina verskuldig nie, dis ter wille van tant Miemie dat hy nou op pad Kaap toe is.

Toe hy ’n ruk later langs die hospitaalbed staan, sien hy egter nie meer tant Miemie se smekende oë voor hom nie.

Ena Murray Keur 15

Подняться наверх