Читать книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеDe Waal help tant Miemie in die motor. Hulle swaai die stadsverkeer in op pad na Karina se woonstel toe.
Dis tant Miemie wat eerste die somber stilte verbreek. “Ek is jammer, De Waal.”
“Waaroor?”
“Oor Karina se houding. Sy wou jou nie eens groet nie. My kind is so verbitter, De Waal! Sy is in opstand. Sy wil nie meer lewe nie!”
“Toe nou maar, tante. Mettertyd sal die skok afneem en sal sy verander en leer om te aanvaar.” Hy weet hy praat sommer. Hy twyfel of Karina ooit haar omstandighede sal aanvaar. Hoe kan ’n mens dit ook verwag? Sy was so ’n sprankelende mens; so ’n besonder talentvolle en mooi mens. En nou is sy gebreek. Hoe kan ’n mens dit van haar verwag om sommer te aanvaar dat sy eensklaps blind én lam is, veral nadat sy so in die volle gloed van die lewe gestaan het? Hoe kan ’n mens dit ooit werklik aanvaar en, veral, daarin berus? Dis te veel gevra, te veel verwag.
“Haar houding teenoor my is te verstane. Ek verstaan ook dat sy weier om haar vriende te ontvang. Ek verstaan dit. Ek herinner haar aan die goeie ou dae toe sy jonk en ongeskonde was en die lewe en haar ideale nog voor haar gelê het. Haar vriende herinner haar aan dié tyd van haar lewe toe sy daardie ideale verwesenlik het, toe sy as ’n beroemde model in die kalklig gestaan het. Maar dis nou alles verby, en sy wil nie daaraan herinner word nie. Dit sal regkom, tante. Maar dit sal lank duur. Dit moet ons aanvaar. Ek wens ek kon tante meer help, maar my hande is op die oomblik afgekap. Die bietjie wat ek wel kan doen, doen ek met graagte. Daarom wil ek tante asseblief vra om tante nie oor die finansiële sy te bekommer nie. Ek sal daarna omsien. Geld is nie nou belangrik nie.”
Tant Miemie knik net dankbaar en hou maar haar gedagtes vir haarself. Geld ís belangrik, veral as dit ’n ander mens se geld is waarop jy moet teer. Dit voel vir haar verkeerd om soveel van De Waal te ontvang, maar sonder sy hulp weet sy nie hoe sy die mas gaan opkom nie. Soos haar kind, sal sy ook moet leer om dinge nou te aanvaar en daarin te berus.
Hulle staan stil om hulle en rondkyk toe hulle Karina se woonstel binnestap. Dis pragtig gemeubileer, met fyn smaak en warme huislikheid. Dis met liefde en oorgawe gedoen. Sy wou dit altyd gehad het en sy het dit gekry. Maar vir so ’n kort rukkie …
“Dis … dis te luuks vir my, De Waal. Die huur van hierdie plek moet ’n fortuin kos. Dis nie nodig dat ek hier bly nie. Ek kan in ’n goedkoper plek tuisgaan. Dit kan nog maande duur …”
“Nee, tante, tante bly net hier. Ons gaan nie nou al haar goed wegmaak nie. Sy het hard daarvoor gewerk. Wat tante kan doen, is om van haar klere en so meer te begin sorteer en wat sy nie weer hier sal nodig kry nie, in te pak. Dan sal ek, elke keer as ek kom, dit stuk-stuk aanry huis toe. Dan is daar minder goed om te vervoer wanneer sy die dag ontslaan word.”
Tant Miemie swyg maar weer en voer De Waal se bevele uit terwyl hy die woonstelopsigter gaan spreek. Hy betaal die woonstelhuur vir twee maande vooruit, en sonder dat Karina dit weet, neem hy al haar sake in sy hande. Hy betaal die balans wat nog op die motor en die meubels verskuldig is, en dra sorg dat tant Miemie niks hiervan agterkom nie. Gelukkig is sy nog van die ou soort wat nie daaraan sal dink om iets op skuld te koop nie, en De Waal is dankbaar dat dit nie eens by haar opkom dat daar nog geld op al hierdie weelde verskuldig kan wees nie.
Terwyl hy besig is om te reël dat tant Miemie vervoer na en van die hospitaal het, maak sy Karina se kaste leeg. Die trane staan in haar oë toe sy die een pragtige aandrok ná die ander opvou en in koffers begin pak. Sy kan haar so goed voorstel hoe pragtig Karina daarin moes gelyk het, maar nou sal sy dit nie meer gebruik nie. Wat hulle met al hierdie duur klere gaan maak, weet tant Miemie nie. Maar soos De Waal gesê het, hulle kan nie nou al haar goed wegmaak nie. Sy sal dit maar gaan wegpak by die huis, maar waar sy plek gaan kry vir alles, weet sy nie. Tog … miskien … ag, miskien sal sy dit weer eendag kan dra?
Dit lyk asof ’n orkaan Karina se netjiese woonstel getref het toe De Waal terugkeer, en tant Miemie is byna weer in trane.
“Ek weet nie waar om met al die goed heen te gaan nie, De Waal!” sê sy moedeloos. “Ek kan nie begryp hoe die kind gedink het wanneer sy al hierdie klere wil dra nie! Sy kan ’n honderd jaar oud word dan sal sy hulle nog nie almal aangehad het nie.”
De Waal glimlag en skud sy kop toe sy blik oor die hope klere en skoene dwaal. Karina het dit darem beslis oordoen!
“Ek het kartondose gaan soek vir die skoene. En dit lyk my ek sal nog ’n paar koffers ook moet kry.”
“Maar waar gaan ek met die spul goed heen by die huis? Ek sal nie ’n agste hiervan daar inkry nie,” sê tant Miemie raadop.
“Ek sal ’n plan maak, tante. Ons gaan niks van haar goedjies wegmaak nie. Alles moet saamgaan huis toe,” kom dit beslis van De Waal.
Tant Miemie gee maar boedel oor. De Waal sal ’n plan maak …
In die weke wat volg, leer tant Miemie om op De Waal te steun. Wat De Waal sê, is wet. Selfs as hy haar beveel om leuens te vertel, doen die goeie tant Miemie dit sonder om te blik of te bloos.
“Waar is Mamma tuis?” wil Karina weet.
“O, sommer hier by ’n hotel nie ver hiervandaan nie, my kind.”
Daar is ’n kort stilte, en dan laat Karina bekommerd hoor: “Dit gaan baie geld kos, Mamma. Dit sal wonderlik wees om Ma altyd hier by my te hê, maar ek besef ons kan dit nie bekostig nie. Ek verwag nie …”
“Die tarief is nogal redelik, my kind, en ek het mos darem ’n paar randjies van Pappa se polis wat uitbetaal is.”
“Polis? Ek het nooit geweet daar was ’n polis nie.”
“Ek het seker maar vergeet om jou te vertel. Daar is nie geldelike probleme nie, Karina. Moenie jou oor my bekommer nie.”
Tant Miemie voel heimlik verbaas dat sy dit so maklik vind om leuens te vertel. Dit laat haar half onrustig voel. Dit wys jou maar net, dink sy. ’n Mens is nooit so goed as wat jy dink jy is nie. Maar sy moet darem erken, sy lieg nou uit De Waal se mond. Dis hý wat aan die polisstorie gedink het.
“Hoe kom Mamma by die hospitaal?”
“Ek loop sommer die entjie, my kind. Dis net hier om die draai.”
Karina frons. “Ek weet nie van ’n hotel so naby aan die hospitaal nie.”
“Ag, natuurlik, my kind. Jy het dit maar nog net nie raakgesien nie,” verweer tant Miemie vinnig.
Daardie aand bespreek sy die saak met De Waal.
“As sy weet, sal dit haar hewig ontstel, tante, en tante weet self haar dokter het gesê dat sy onder geen omstandighede ontstel moet word nie, veral nie terwyl sy so morbied is nie.”
“Maar dis darem vreeslik om haar so te sit en belieg, De Waal!”
“Dis vir haar eie beswil, en dit maak tog nie saak nie. Wat maak dit werklik saak waar tante bly en hoe tante by die hospitaal kom en so meer? Dis mos nie nou van belang nie.”
“Almiskie,” sê sy, maar laat die saak maar daar.
De Waal bly die aand en sien toe dat tant Miemie alles wat sy nodig het in die woonstel kry. Hy gaan koop selfs kruideniersware en maak seker dat sy geen gebrek sal ly wanneer sy alleen is nie.
“Aardetjie, De Waal, jy is nou so erg soos Karina met die klere. Wie moet al hierdie kos opeet, dink jy?”
“Tante.” Hy glimlag. “En ek, wanneer ek kom kuier, natuurlik! Kom. Dis tyd vir die hospitaal. Ek sal net daarna moet ry. Dis koeler om in die aand te ry.”
Tant Miemie voel bitter sleg toe De Waal weer in die gang agterbly toe sy haar dogter se kamer binnestap. Hy doen so verskriklik baie vir hulle, al weet Karina nie daarvan nie. Sy kan hom darem net groet.
Sy aarsel nou en sê versigtig: “De Waal het gepraat hy sal vanaand kom groet. Hy het die naweek in die stad gebly.” Sy sien die onmiddellike verstywing van die gesiggie, en sê sag, betigtigend: “Dit kan mos nie kwaad doen om hom net te groet nie, my kind.”
“Ek wil hom nie hier hê nie, Mamma. Asseblief!”
“Maar wat …?”
“Asseblief, Mamma!”
Sy sien haar dogter is hewig ontsteld, en sê sussend: “Nou goed, my kind. Hy sal tien teen een nie eens kom nie. Maar ek sal hom nie laat inkom as jy nie wil nie.”
“Ek wil nie.” ’n Oomblik swyg sy. “Wat het hy hier kom doen?”
“Nee, ek weet nie. Ek het hom nie gevra nie.”
“Wat doen hy?” Dis asof die vraag onwillig gestel word.
“Hy … hy is ’n boekhouer op die dorp.”
“O …” Sy smaal effens. “Ek het dit mos voorspel. Is hy al getroud?”
“Nee.” Tant Miemie frons. Die leuens oor De Waal se persoonlike lewe begryp sy nie heeltemal nie. Hoekom moet sy dáároor ook lieg? Dit maak mos nie saak as Karina weet dat hy nou ’n vooraanstaande sakeman is met sy eie onderneming wat steeds uitbrei nie? En hoekom mag sy nie sê hy is verloof nie? Maar hy was net so beslis hieroor as oor die feit dat Karina nie mag weet dat hy hulle nou finansieel dra nie.
Toe sy ’n ruk later opstaan om te loop, besef sy nie dat Karina aanvaar dat De Waal toe tog nie gekom het nie. De Waal het nie die teken gekry dat hy maar kon binnegaan nie, en Karina is onder die indruk gelaat dat dit maar leë beloftes was toe hy gesê het hy sou kom groet.
Sy sê egter niks en dit gaan onopgemerk by tant Miemie verby. Sy buk oor om haar dogter te soen.
“Mamma … Mamma, ek is jammer dat ek so ’n slegte dogter was,” en Karina gryp haar ma hartstogtelik vas.
“My kind! Ag nee! Jy was ’n wonderlike dogter. Nog altyd.”
“Nee. Dis nie waar nie. Ek het Mamma die afgelope jare afgeskeep. Ek het net vir myself gelewe, vir wat ek wou hê. Ek het Ma so verwaarloos. Ek is so skaam en jammer, Mamma! En nou … nou sit Ma opgeskeep met my …”
“Karina! Ek wil nooit weer daardie woord uit jou mond hoor nie. Hoe kan jy so iets sê? Jy is my enigste, en ek is God net innig dankbaar dat jy lewe.”
“Is Mamma? Ek is nie. Ek weet nie hoekom ek lewe nie. Hoekom lewe ’n mens wat blind en lam is? Wat is daar oor om voor te lewe? Ek moes saam met Helmut gesterf het.”
“Karina, my kind! My kind!” Tant Miemie hou haar styf vas, besef hoe magteloos sy is. Dis so maklik om te sê Karina mag nie so voel nie. Sy moet dankbaar wees dat sy lewe. Maar selfs die een persoon wat die naaste aan haar staan, kan maar net ten dele begryp wat hierdie ding vir haar kind beteken, deur watter stryd haar kind gaan.
“Hierdie Helmut van wie jy praat … Was hy ’n baie spesiale vriend?”
Karina maak haar los uit haar ma se arms en probeer om haar kalmte te herwin. Sy moet meer selfbeheersing aan die dag lê voor haar ma, dink sy. Haar ma het genoeg om te dra soos sake staan. Vir die res van haar lewe sal sy opgesaal sit met ’n invalide wat sy soos ’n kind sal moet versorg. Wat sy, Karina, binne voel, moet sy vir haarself hou. Niemand kan haar tog werklik help of werklik saamvoel nie.
“Net ’n baie goeie vriend. Ons het baie lekker saamgewerk. Hy was seker die fotograaf wat my die beste afgeneem het. Maar daar was niks meer nie.”
Tant Miemie sug verlig. Dis darem een ding om voor dankbaar te wees. As Karina verlief was op dié Helmut, sou sy nog daardie smart ook gehad het om te verwerk.
“Daar … daar is nie iemand anders nie?”
“Nee. Ek was te besig. Gelukkig ook, nè?”
“Hoekom?” Toe tant Miemie die vraag klaar gestel het, kan sy haarself skop.
“Dis darem seker duidelik, Mamma!” Karina se gesig verstrak tot ’n pragtige stuk beeldhouwerk. “Om bemin te word deur jou man en om sy kinders in die wêreld te bring, is die geboortereg van elke vrou. Ook dít is nie vir my beskore nie.”
Tog … Daar is baie blinde en verlamde mense wat moedig ’n huwelik aanpak en ’n wonderlike sukses daarvan maak. Maar tant Miemie wys dit nie aan haar dogter uit nie. Dis nie nou die regte tyd nie.
Sy lê haar hand teer teen haar dogter se wang. “My kind, ons weet nooit hoekom sulke dinge moet gebeur nie. Miskien … miskien, Karinatjie, moet dit gebeur het om … om jou mooi te hou, of … selfs nog mooier te maak as wat jy reeds was.”
Haar dogter se blinde oë staar na haar op, ’n frons tussen die perfek geboogde wenkbroue.
“Verskoon my, Mamma, maar nou volg ek Ma glad nie. Hoe kan ’n mens mooier word as jy verlam en blind is?”
Tant Miemie sug saggies. “Jy dink nog steeds net aan die uiterlike, Karina. Die omhulsel is nog steeds die belangrikste vir jou. Dis net die omhulsel wat seergekry het, my kind. Binnekant … binnekant kan jy nog onaangeraak wees, selfs nog mooier word as jy wil. Dit sal van jouself afhang of jy gaan toelaat dat die binnekant ook blind en lam word.”
Dis ’n lang ruk stil, en dan draai Karina haar kop weg en sê gedemp: “Ma praat maklik.”
“Nee, my liefling. Mamma weet. Mamma begryp. Ek verwag ook nie dat jy op hierdie oomblik met my sal saamstem nie. Maar mettertyd … Dink daaroor na, my kind. Jou lewe was tot dusver alles so op die uiterlike toegespits. Selfs jou ideale, nie waar nie, Karina? En die uiterlike beteken so min, is so swak en verganklik, so maklik breekbaar en skendbaar, soos jy self ondervind het.” Gee my die insig om nou aan my kind die regte leiding te gee, dat ek my kind kan help om weer rigting en moed en geloof terug te vind, bid sy. “Maar die binnekant, my skat, het jy beheer oor. Jy kan net daar aangetas word as jy dit toelaat. Niks kan dit skend of vermink sonder jou toestemming nie. Jy het ’n hele klomp jare gehad waarin jy net op die buitekant gekonsentreer het, of dan, veral op die buitekant. Dit was hoofsaak. Mooi klere, gerief, gemak, uiterlike dinge. Maar nou … Miskien is dit nou die tyd om weer op die binnekant te konsentreer. En wie weet, my kind, dalk word die innerlike en die uiterlike eendag weer ’n mooi geheel, mooier as ooit tevore.”
“Glo Ma werklik ek kan herstel?”
“Ja, ek en …” Sy was op die punt om te sê De Waal, maar verander gou haar sin: “En ek sal dit blý glo.”
Op pad terug woonstel toe, vertel sy De Waal van hierdie gesprek, en hy, soos Karina eenkeer, wonder hoe ver hierdie vrou dit sou gebring het as sy die geleentheid gehad het om te gaan studeer.
Omdat hy weet hoe swaar dit haar geval om geld van hom te neem, laat hy ’n koevert op haar bed agter toe hy vertrek, en daarom kan tant Miemie daardie aand, ten spyte daarvan dat haar enigste kind verlam en blind in die hospitaal lê, ook dankie sê toe sy kniel.
Dis eers op pad terug dat De Waal besef dat hy nooit so ver gekom het om Rhona te bel om haar te sê dat hy die hele naweek in die stad sou wees nie. Hy was darem van plan om dit te doen, maar met al die reëlings het hy bly uitstel en nou is dit te laat om iets daaraan te doen. Toe hy besef dat dit hom ook nie veel ontstel nie, neem hy hom voor om weer ’n slag sy verlowing en sy voorneme om met Rhona de Villiers te trou, te heroorweeg. Dit sal van Rhona afhang of sy kans sien om Karina en tant Miemie as deel van hul lewens te aanvaar of nie.
Hy voel skuldig toe hy in die nag tuiskom en amper skelm die klompe kartondose en tasse vol klere met die trap opdra na sy woonstel toe. Hy het dit doelbewus so beplan dat hy gedurende die nag op die dorp sal aankom. Die motor lyk soos ’n negosiewa.
Hy is natgesweet en uitasem toe hy alles bo het. Sy gastekamer se vloer staan vol. Die gode weet wat sal gebeur as Rhona op hierdie spul vroumensgoed afkom. Hy durf nie langer uitstel om haar van Karina te vertel nie, besef hy moeg.
Onder die besef dat daar wel onaangenaamheid vir hom voorlê, skakel hy sy verloofde die Maandagoggend, en haar koel groet voorspel inderdaad niks goeds nie.
“O, jy het toe darem teruggekom?” kom dit sarkasties.
Hy beteuel sy humeur. Dié is, soos Rhona al opgemerk het, deesdae besonder kort, en juis omdat hy ietwat skuldig voel, nog korter as gewoonlik. Maar hy doen sy bes. “Ek wou jou bel, maar ek was so aan die gang …”
“Sondag ook?”
Hy kners op sy tande. “Rhona, asseblief, luister …”
“Ek dink nie ek wil hoor nie, De Waal. Tot siens.”
Die telefoon klik in sy oor en hy plak dit aan sy kant neer. Hy sit vervies en tob, spring dan op. Sy sekretaresse kyk hom half snaaks agterna. Iets byt haar baas deesdae, dis seker.
Hy tref Rhona saam met haar pa in die koelte van ’n boom op hul parkagtige grasperk voor die huis aan. Hy sien dat sy aanstaande skoonpa se oë waaksaam op hom gerig is. Isak de Villiers is nie blind vir sy kind se foute en tekortkominge nie, maar sy ís sy enigste.
“Ek is jammer oor hierdie naweek,” val hy ook met die deur in die huis. “Dit kon nie anders nie.”
“Jy kon darem net gebel het, De Waal,” sê sy aanstaande skoonpa en wil opstaan. “Verskoon my. Ek wil nie inmeng nie. Dis ’n saak tussen julle twee.”
De Waal keer hom egter. “Nee, sit asseblief, oom Isak. Dis ons almal se saak. Ek wil hê oom moet by wees. Ek vra weer om verskoning dat ek nie laat weet het dat ek nie dadelik kon terugkeer nie, maar ek was werklik baie besig.”
Rhona se oë is baie koel. “Só besig dat jy totaal van die Luckhoff-troue vergeet het.”
“Die …?” Hy klap sy vingers. “O, gits, ja! Die Luckhoff-troue! Dit was Saterdag. Ek hét totaal daarvan vergeet!” Hy sug, en oom Isak moet sy glimlag terugdwing. Dis selde dat De Waal soos ’n stout skoolseun lyk. Hoe kon hy die Luckhoff-troue vergeet het? Dit was die geleentheid van die jaar op die dorp!
Rhona sien egter niks wat haar kan amuseer nie. Haar wenkbroue lig en sy vervolg steeds sarkasties: “Ja, skat. Jy moes inderdaad baie belangrike sake gehad het …”
“Goed, Rhona. Moenie dit invryf nie. Ek veronderstel ek moet weer ’n keer om verskoning vra.”
Hy verduidelik kortliks van die ongeluk en dat hy tant Miemie gehelp het om alles gereël te kry.
“Ek het nie geweet jou tant Miemie het ’n dogter nie. Eienaardig dat jy nog nooit voorheen van haar gepraat het nie,” sê Rhona ontevrede.
Oom Isak kyk aandagtig na De Waal. Hy kan sien dat die jonger man ietwat ongemaklik lyk. De Waal aarsel voordat hy antwoord. Sy stem klink bot toe hy sê: “Dit was tot hiertoe nie nodig nie.”
“O? Maar nóú is dit nodig?” Haar stem waarsku hom dat hy versigtig moet trap.
“Ja. Nou is sy verlam en blind. Ek moes tant Miemie gaan help en ek is van plan om hulle ook in die toekoms te bly help. Dis ’n punt wat jy baie duidelik moet verstaan, Rhona. Ek kan hulle nie nou in die steek laat nie.”
“Dit begryp ek,” stem oom Isak saam. “Dit sal niks meer as erkentlik van jou wees om dit te doen nie.”
De Waal kyk hom dankbaar aan. “Dankie, oom Isak.”
Rhona pers haar lippe opmekaar. Soos altyd is haar pa aan De Waal se kant. Sy weet sy behoort De Waal te bewonder en te respekteer vir sy medemenslikheid, maar sy voel hy oordryf die saak. “Hierdie … e … dogter … Hoe oud is sy?”
“Karina moet nou vyf-en-twintig wees.”
“Karina? Is dit haar naam?”
“Ja.”
Oom Isak frons. “Maar waar het ek …? Dit was nou die dag in die koerant. Onthou jy, Rhona? Ons het gelees van die model Karina Oosthuizen wat in ’n ongeluk betrokke was.”
De Waal knik onwillig. Hy sou verkies het dat hulle liewer nie tant Miemie se Karina en die model Karina met mekaar verbind het nie. Maar nou het hy geen keuse nie. “Dis dieselfde persoon.”
Rhona se oë vernou. “Jy bedoel … dáárdie Karina en jou tant Miemie se Karina is een en dieselfde persoon?”
“Dis wat ek gesê het.”
“O …”
Ook oom Isak kyk stip voor hom op die gras. Dit is darem eienaardig dat De Waal nooit van haar gepraat het nie.
Rhona byt haar onderlip peinsend vas. Sy vind dit meer as eienaardig. Sy onthou die foto wat by die gesig was en sien weer die pragtige meisie duidelik voor haar. Al die tyd ken De Waal haar baie goed, het saam grootgeword. En dis na háár wat hy die afgelope tye so skielik heen verdwyn en wat hy beskryf as “sake”. Hoekom was hy so geheimsinnig daaromtrent?
Dis oom Isak wat eerste die stilte verbreek. “Sy was ’n pragtige mens. Dit is ’n swaar slag.”
“Sy is nog steeds pragtig. Daar het geen letsels oorgebly nie, behalwe dat sy blind is en die gebruik van haar bene verloor het.” Hy kyk na Rhona, sien haar peinsende blik op hom, maar sy het skielik niks te sê nie. “Verstaan jy nou, Rhona?”
“Ek … probeer. En nou?”
“Wat bedoel jy?”
“Wat nou?”
Hy frons weer. “Wel, sy sal seker maar terugkom huis toe. Waarheen sal sy anders gaan?”
“Ek sien. En dan?”
Hy kyk haar skerp aan. “Ek begryp nie, Rhona. Dan sal ons maar moet wag en kyk wat die toekoms oplewer. Dis al.”
“Ons? Wie is ons, De Waal?” Toe hy haar net aankyk, vervolg sy sag, haar oë deurdringend: “Is ek ook een van die ons? En is ons huwelik ook iets wat sal moet wag?”
Hy lyk weer ongemaklik. “Jy moet begryp, Rhona, dat ek op hierdie oomblik nie in die regte gemoedstemming is vir … wel, ’n trouery nie. Probeer tog verstaan. Dis so goed asof dit my eie suster is met wie dit gebeur het. Ek is ontsteld en bekommerd. Gee my kans dat dinge eers ’n bietjie meer normaal is voordat … voordat …”
“Ons oor ons troudatum praat?”
“Wel, ja.”
Oom Isak knik weer begrypend. “Ek kan dit verstaan, Rhona. Dis ’n vreeslike ding wat gebeur het. ’n Mens moet eers oor die skok kom. Ek ken haar glad nie, maar ek is tot in my wese geskok om te dink dat daardie pragtige mens nou blind en verlam is. Ou seun, as daar iets is waarmee ek kan help, moet jy praat.”
Weer voel De Waal ’n warmte in sy hart teenoor hierdie man. Isak de Villiers het, ten spyte van sukses, sy balans in die lewe behou en ’n mens gebly.
Rhona is steeds vreemd stil toe hy later groet. Hy is dankbaar dat daar nie ’n tirade was soos hy verwag het nie, maar tog waag De Waal dit nie om sy geluk te ver op die proef te stel nie. Daar was nog ’n punt wat hy wou ophaal, maar vir eers laat hy dit maar.
Hy voer egter daardie punt sonder sy verloofde se medewete verder. Hoewel hy weet dat hy betrap gaan word en ’n verduideliking sal moet gee, gaan hy voort met sy planne. Sy sekretaresse vertel daardie middag agter haar hand dat die baas se troue seker nie nou meer ver is nie, want hy gaan nou begin huis bou. Die hele middag het hy op die foon geboer na bou-aannemers en dies meer.
Daardie nag, terwyl Karina rusteloos in haar hospitaalbed lê, haar blinde oë brandend teen die swart duisternis, sit De Waal by sy lessenaar met pen en liniaal. Daar word strepe en halfmane getrek, dit word fronsend betrag en dan weer uitgevee, oorgetrek, en hy merk nie op dat dit reeds lank ná middernag is nie.
Maar die glimlag om sy lippe weerspreek die frons van konsentrasie op sy voorkop. Hy het die lewe lank laas so geniet soos vannag. Dit gaan ’n besonderse huis wees. Iets unieks. Sonder dat hy dit werklik besef, is hy besig om sy droomhuis, soos hy dit al die jare in sy gedagtes gehad het, te teken. Net – daar is nou nêrens trappe nie. Die mure het geen skerp hoeke nie, maar is gerond. Die hoofslaapkamer het ’n buitedeur wat op die breë privaat stoep uitgaan met ’n lieflike uitsig oor die see. En hierdie kamer se badkamer het ’n gesonke bad, besonder lae wasbak en toilet. Die gange is besonder wyd en die vertrekke ruim. Daar moet genoeg beweegruimte vir die rolstoel wees.
Die volgende dag beskou die bouer die plan wat in sy hand gestop is, en kyk dan ná ’n rukkie op. “Dis iets besonders, nè?”
“Dis vir ’n besonderse mens. Sal u dit vir my in twee maande kan bou?”
“Dis gou.”
“Dit móét oor twee maande klaar wees. Ek sal ekstra betaal.”
So, sonder Karina of tant Miemie of Rhona of Isak de Villiers se wete, verrys daar in die weke wat kom ’n huis op die strandstandplaas wat vir Rhona se huis bedoel was. Soos die huis vorder, groei De Waal se ongemak aan. Hy weet hy het reeds te lank gewag om Rhona hiervan te vertel, en hoe verder die huis vorder, hoe onwilliger raak hy om haar daarvan te vertel. Maar hy besef dat hy dit sal moet doen, en gou ook. Rhona kan dit net op ’n dag in haar kop kry om hierlangs te ry en weer die standplaas te kom besigtig en dan ontdek sy dat daar reeds ’n huis op staan!
Intussen bel tant Miemie elke aand.
“Sy is kalmer deesdae,” rapporteer tant Miemie. “Ek weet sy is nog steeds verbitter, maar sy hou dit vir haarself. Die histeriese uitbarstings het opgehou.”
“Sy sal begin aanpas, tant Miemie. Ons moet net geduldig wees. Het hulle nog nie gesê wanneer sy kan huis toe kom nie?”
“Dokter praat van oor veertien dae as sy so bly vorder.”
“Ek kom weer hierdie naweek stad toe, tante. Verwag my vroeg Saterdagaand.”
Vasbeslote ry hy gou na Rhona toe voordat hy stad toe vertrek.
“Ek gaan hierdie naweek stad toe.”
Sy verstyf onmiddellik. Sy hoef nie te vra na wie toe of hoekom hy gaan nie. Tot dusver het hulle die onderwerp van Karina liefs vermy. Sy kry skielik ’n ingewing.
“Ek wil saamgaan, De Waal. Ek wil Karina graag ontmoet.”
Maar hy skud sy kop beslis. “Daar word nog geen besoekers by haar toegelaat nie.”
“Maar jy gaan dan. Of tel jy onder die familie?”
Sy lippe sluit weer styf opmekaar. As daar vrede tussen hom en Rhona moet heers, moet hulle liefs so min moontlik oor Karina praat.
“Ek word ook nie toegelaat nie.” Hy sien die ongeloof in haar oë en vervolg heftig: “Dis die waarheid! Ek sien haar nooit met ’n oog nie.”
“Hoekom ry jy dan?”
“Omdat daar dinge is om te reël.”
“Watse dinge?”
“Sy kan moontlik oor veertien dae huis toe kom.”
“Ek sien. Dan kom sy wel hierheen terug.”
“Rhona, daar is iets anders wat ek jou moet vertel … Ek voel net ek kan tant Miemie-hulle nie laat terugkeer na daardie ou skakelhuisie toe nie. Dis beknop en ongerieflik daar, en met Karina in ’n rolstoel …”
Sy knik geredelik. “Ek het mos gesê jy moet vir haar ’n huis koop. Het jy toe een gekry?”
De Waal sluk. Dit gaan nie maklik wees nie. Rhona se skielike toegewendheid maak dit ook nog moeiliker. “Nee. Ek … e … het toe maar besluit om liewer vir hulle ’n huisie te bou.”
“O.”
Dit klink nie baie belowend nie. Hy probeer weer: “Omtrent alle huise het trappe en so aan …”
“Ja, natuurlik.” Sy aarsel ook. “Waar het jy gedink om te laat bou?”
“Ek kon nie ’n geskikte erf kry nie, en het toe maar op ons standplaas besluit.” Sy oë pleit. “Ons kan maar weer vir ons een uitsoek, Rhona.”
Haar lippe pers beslis saam. “Nee, De Waal. Ek wil daardie erf vir mý huis hê. Jy moet maar ’n ander plek vir hulle soek.”
Hy aarsel. “Ek is bevrees … dit kan nie meer gedoen word nie. Die huis is al … dakhoogte.”
Haar oë flits ongelowig na hom op. “Jy het …? Nee … jy het tog nie …!”
“Ja, tant Miemie-hulle se huis word op ons standplaas gebou.”