Читать книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Toe De Waal daardie volgende Maandagoggend van sy lessenaar af opkyk, staan Rhona se pa voor hom.

Daar is niks in oom Isak se glimlag wat verraai dat hy ’n wrok jeens De Waal koester nie, en De Waal sug verlig. Hy en oom Isak het nog altyd baie goed klaargekom. “Kom sit, oom Isak. Dis gaaf om oom te sien.”

“Dankie, De Waal. Ek sal nie lank bly nie. Ek het net gou by jou kom inloer.”

“Ek bestel vir ons tee. Sit gerus.”

Die ouer man kyk die jonger een stip aan. Ai, hy is darem maar jammer dat die verhouding tussen De Waal en Rhona verbreek is. Hy sou hierdie kêrel graag as ’n skoonseun wou gehad het, en nie net om Rhona se ontwil nie.

“Ek is jammer oor wat tussen my en Rhona gebeur het, oom. Dit was onnodig, maar miskien tog die beste. Ek en Rhona …”

“Ek begryp, ou seun. Ek is nie blind vir my dogter se tekortkominge nie. Sy moet nog grootword. Of sy ooit sal, is ’n ander vraag. Ek het jou juis vanoggend kom sê dat ek niks teen jou hou nie.”

“Dankie, oom.”

“Ek hoop nou net nie dat ek jou van nou af glad nie meer sal sien nie. Ek hoop ons sal nog altyd tyd kry vir ’n potjie skaak of gholf.”

“Alte seker, oom.”

Die ouer man glimlag verlig. “Dan is ek bly. Sê my, is jou mense toe veilig tuis?”

“Ja. Onder die omstandighede gaan dit goed.”

“Ek sou hulle graag wou ontmoet as jy nie omgee nie. Jou tant Miemie klink vir my na ’n besonderse vrou.”

De Waal knik. “Dit is sy beslis. Ook haar dogter. Natuurlik kan oom hulle ontmoet, maar … Daar is net een ding, oom. Karina dink ek werk as boekhouer hier op die dorp.” Hy glimlag skeef, selfbewus. “Ek wil dit so hou, asseblief.”

Isak de Villiers kyk hom peinsend aan, sê dan: “Ek dink ek begryp.” Hy sien die verbasing in die ander se oë, en knik. “’n Man het sy trots ook, nè? En ’n man wil seker wees van jou saak.”

“Ja. ’n Man het sy trots, oom, maar daar is niks waarvan ek wil seker maak nie. Karina het my maar altyd as ’n broer beskou. Deesdae kan sy my kwalik verdra.”

“Maar hoekom?”

“Dis seker maar iets sielkundigs. Ek weet sy wens sy kon liewer alle bande met my verbreek, maar sy moet my maar verduur ter wille van haar ma. Sy weet nie van die huis nie. Ons het haar vertel dis ’n huurhuis.”

“Is dit só erg?”

“Ja. Terloops, sy weet ook nie dat ek verloof was en dat die verlowing nou weer verbreek is nie. Tant Miemie weet ek was verloof, maar ek het nagelaat om haar te vertel dat die verlowing beëindig is. Sy sal haar net daaroor bekommer.”

“Hm … Dis ’n half ingewikkelde situasie waarin jy jou bevind, nè?”

De Waal glimlag effens. “Ja. Op die oomblik moet mens maar mooi loop tussen al die baie leuens sodat jy jouself nie verspreek nie. Die belangrikste is egter dat Karina nou moet aansterk.”

Oom Isak staan op. “Dankie vir die tee en kom haal my as jy weer na hulle toe gaan. Ek word al nuuskieriger,” erken hy eerlik. “Ek sal jou nie verraai nie. O ja, daar is nog iets – Rhona vertrek volgende week oorsee vir ’n onbepaalde tyd. Dis heeltemal veilig om soms by my in te loer.”

Toe oom Isak uit is, doen De Waal ’n oproep en verduidelik presies wat hy soek. Daardie middag word Rex afgelewer – ’n volbloedkollie.

Ook tant Miemie en Karina het ’n besige dag. Eers leer Karina haar rolstoel hanteer, en toe neem tant Miemie haar dogter deur die huis. Karina moet leer om elke vertrek te ken en sy moet weet waar alles staan.

Karina het daardie oggend wakker geword ná ’n nag waarin sy besonder rustig geslaap het. Haar eerste gedagte was dat die lang dae van niksdoen aangebreek het. Hoe kry ’n verlamde en blinde mens sy dae om? ’n Mens kan tog nie dagin en daguit na die radio luister nie.

Maar haar ma het haar gou laat besef dat sy nie gaan toelaat dat haar dogter van die eerste dag af ledig rondsit en allerhande negatiewe gedagtes troetel nie.

“Ons gaan aan dinge dink wat haar kan besig hou,” het De Waal gesê, “veral haar gedagtes. Begin deur haar die huis te laat verken, tante. Sy sal dan moet konsentreer, en dit sal haar help om ’n bietjie minder afhanklik te voel wanneer sy alleen in die huis kan rondbeweeg.”

De Waal het so gesê en so word dit gedoen. Karina maak eers beswaar toe haar ma met die voorstel kom.

“Dit sal nie werk nie, Mamma. Ek sal alles onderstebo stamp.”

“Nie as ons dit oordeelkundig doen nie. Jy kan eers een vertrek baie goed leer ken, dan gaan ons na die volgende een toe.”

Karina is duidelik onwillig, want sy dink dis ’n verspotte gedagte. Bloot om haar ma se ontwil doen sy maar mee.

“Kyk,” begin haar ma soos ’n regte onderwyseres, “hier teenaan jou bed staan jou stoel. Vat nou aan die armleunings, lig jouself aan jou arms op en dan swaai jy jou lyf oor op die stoel. Die rem van die stoel is vas. Dit sal nie beweeg nie.” Tot haar verbasing vind Karina dat sy dit kan behartig. “Nou vat jy met albei hande en sit jou bene een vir een reg op die trappie.”

Tant Miemie sien hoe sy afbuk, die skraal hande om die verlamde bene vou, dit soos ’n dooie ding optel en neersit. Haar hart bloei weer vir haar kind, maar sy doen niks om te help nie. Karina konsentreer só op haar taak dat sy blykbaar nie besef dat sy nou vir die eerste keer aan daardie beweginglose ledemate vat nie.

“So?” vra sy uitasem toe sy regop kom, en haar ma knik, onthou dan en sê hardop: “Ja. Heeltemal goed gedaan. Nou kan jy al self uit die bed kom. Nou, van die bed af tot by die badkamerdeur is dit omtrent – laat ek sien – ses tree, ja, ses. Tel hoeveel keer jou stoel se wiele rol tot jy by die deur kom en onthou dit dan.”

So gaan die les voort en teen die einde van die dag ken Karina al die uitleg van haar slaapkamer en badkamer baie goed, asook die stoep waarop haar kamer uitloop, en die gang en kombuis.

Dis stil om die kombuistafel waar hulle aandete nuttig, maar dis ’n ontspanne, tevrede stilte wat nie hinderlik is nie. Karina is nog steeds besig om te konsentreer. Tot hiertoe het haar ma of die verpleegsters haar gevoer. Maar van vanaand af help Karina haarself, tot haar ma se grootste vreugde.

“Mamma kan net vir my my kos stukkend sny en my brood smeer. Ek sal self verder regkom.”

Tant Miemie se hart het van trots geswel en weer eens het sy “Dankie, De Waal” in haar hart gesê. De Waal se plan het gewerk. Karina het besef dat sy tog ’n mate van onafhanklikheid kan beoefen.

Tant Miemie sien hoe haar dogter sukkel, hoe die vurk maar baie missteek en hoe ’n vinger maar soms noodgedwonge moet help, maar vir die eerste probeerslag gaan dit ook verbasend goed. Tewens, wat tant Miemie met blydskap opmerk, is dat Karina vanaand nog beter eet as ooit, miskien nie omdat sy so honger is nie, maar omdat sy so daarop konsentreer om self te leer eet.

Sy is al amper klaar met haar bord kos toe De Waal binnestap, en die vurk val knetterend op die vloer. Onmiddellik is die ontspanne atmosfeer daarmee heen.

Haar ma kyk haar misnoegd aan. Ag nee, wat is dit dan met Karina? Dit was so ’n suksesvolle dag en alles het so wonderlik goed verloop. Maar die oomblik toe De Waal verskyn, kruip sy weer in haar dop.

De Waal sien alles raak. Hy sien dat sy besig was om te eet. Hy knik goedkeurend in tant Miemie se rigting en vra ongeërg: “Hoe gaan dit hier? Is julle al tuis?”

“O ja! Besonder tuis. Jy moet sien hoe oulik is Karina al, De Waal.” Tant Miemie merk dat Karina ontevrede pruil, maar steur haar nie daaraan nie. “Sy weet al goed waar haar kamer en van die ander vertrekke is. Jy moet dat sy jou wys hoe handig en selfstandig sy al hier rondbeweeg.”

“Dis wonderlik, Karina. Jy kan my gerus wys. Hoe het jy dit reggekry?” sê De Waal met ’n warm stem.

Karina antwoord onwillig: “Dis maklik. Ek tel net hoeveel keer die wiele draai en ek sorg net dat ek in die regte rigting beweeg. Dis al.”

Die ander twee glimlag teenoor mekaar. Karina weet nie dat sy nou met De Waal se kalwers ploeg nie!

“Dis ’n oulike plan. Wys vir my, toe?”

“Ag, dis nie so vreeslik nie!” Sy weet nie hoekom nie, maar sy voel selfbewus voor De Waal. Die selfvertroue wat sy gedurende die dag gewen het, is skielik daarmee heen. Sy wens haar ma het stilgebly!

Op die ou end is sy egter verplig om te demonstreer, en met bewende hande swaai sy haar stoel onder die tafel uit. Dit gaan goed tot in die middel van die gang, maar bewus daarvan dat De Waal se blik haar volg, raak sy meteens haar rigting byster en stamp teen die muur. Sy is onmiddellik in trane en De Waal is met twee treë by haar.

“Toe nou maar, dis niks. Jy is net oormoeg.”

“Die muur is seker nou stukkend,” huil sy en voel hoe sy hande hare vasgryp. O, sy wens hy wil loop!

“Nee, dit is nie,” sê hy kalm. “Kom, ek wil jou iets gaan wys.”

Sy wil hom vertel dat ’n mens nie vir ’n blinde mens iets kan wys nie, maar voordat sy kan, voel sy hoe De Waal haar uit die stoel optel.

“Nee, sit my neer,” protesteer sy ontsteld, maar hy stap met haar sitkamer toe en sit haar op die bank neer. Hy sorg dat daar ’n gemaklike kussing agter haar rug is. “Sit nou doodstil. Ek gaan hom haal.”

Oomblikke later lê hy die wriemelende bondeltjie op haar skoot neer.

“Maar dis …”

“Ja. Dis ’n hond, ’n kollie, en sy naam is Rex. Pasop, hy is baie lewendig. Hy lek netnou jou gesig.”

Karina se skraal arms vou om die lewendige bondeltjie en skielik is al die trane weg. Sy glimlag toe die klein hondjie dit tog regkry om haar ’n soentjie te gee, en sy liefkosings word so vurig dat De Waal vinnig moet hand bysit.

Hy lag en Karina lag verbaas saam. Sy het maande laas gelag.

Dan lig die blinde oë op en vul met trane. “Dankie, De Waal.”

Sy voel sy hand weer warm om hare vou, en hierdie keer trek sy nie terug nie. ’n Rukkie sit hulle so, albei se gedagtes met dieselfde herinnering besig.

Hulle het altyd saam na die Lassie-rolprente gaan kyk, en sy het gereeld hartstogtelik gehuil. Hy moes altyd sy sakdoek gee om al die trane mee af te droog. Sy het gesê as sy ooit ’n hond het, moet dit een soos Lassie wees. En vandag het hy vir haar so ’n hond gebring.

“Jy kan sy naam verander as jy wil. Dis maar die naam wat op sy sertifikaat staan. Dis ’n folio lange gedoente. Ek het dit hier.”

Sy hoor papier ritsel, maar skud haar kop. “Hou dit maar by jou, asseblief. En Rex is ’n mooi naam. Waar is hy nou?”

“Kan jy nie hoor nie? Jou ma is besig om vir hom melk in die kombuis te gee. Hy is nou agt weke oud. Julle sal hom nog maniere moet leer!”

Sy lag, en skielik, so eensklaps, is dit so maklik om weer te lag! Dit word meteens ’n gesellige aand, ’n aand soos hulle drie al baie in die verlede saam deurgebring het. Die ongemak en spanning het verdwyn, en die atmosfeer is rustig en kalm. Rex oorheers natuurlik die geselskap en Karina het self nie veel te sê nie, maar sy luister rustig na wat die ander twee alles kwytraak.

Later, nadat hulle tee gedrink het, dra De Waal haar terug na haar kamer toe, en hierdie keer leun sy rustig teen hom aan. Sy voel hom digby haar nadat sy reeds neergelê is. Sy voel hoe sy bekende hand weer warm om hare vou.

“Karina …”

“Ja?”

“Is ons nou weer maats?”

Sy knik net skaam. Hoe kan sy aan hom verduidelik as sy self nie presies weet wat met haar gebeur het nie? Sy is nou nog onseker oor die wysheid van hul vriendskap, maar hoe kan sy hom langer wegstoot ná Rex? Sy kan ná vanaand nie weer koel en styf teenoor hom wees nie.

Sy hoor hom van verligting sug en dan, soos in die verlede, voel sy sy lippe vlugtig op haar neus se punt.

“Soet slaap. Rex gaan eers in die kombuis slaap totdat hy ’n bietjie groter is en maniere geleer het. Daarna kan hy hier voor jou bed of op die stoep slaap.”

“Goed, De Waal. Lekker slaap en … nogmaals dankie.”

Sy hoor hom by die vertrek uitgaan en iets waarsku haar dat hul verhouding liewer moes gebly het soos dit was. Maar De Waal het haar onverhoeds betrap met die hondjie en nou … nou is dit te laat.

Maar hoekom sal sy nie sy vriendskap aanvaar nie? Hulle is tog so te sê broer en suster. Sy verloofde sal tog seker nie omgee as hy nou en dan hier inloer nie. Wat kan sy teë hê op so ’n vriendskap, veral as die meisie nog verlam en blind is?

Nee, sy en haar ma het De Waal se vriendskap nodig. Dit besef sy nou. Die ergste skok is verby, en sy besef dat, al is ’n mens blind en verlam, jy nog steeds menslike behoeftes het. Verwagtinge van ’n huwelik en kinders moes sy afsterf, maar haar ma se troue liefde en ’n bietjie vriendskap soos dié wat De Waal haar kan bied, moet sy met albei hande aangryp.

Solank sy net onthou dat De Waal se eerste plig teenoor sy verloofde is. Die tydjies wat hy by haar deurbring, sal maar afskeeptydjies wees. Maar sy moet dankbaar wees vir daardie afskeeptydjies. Nooit, net nooit moet De Waal onder enige verpligting teenoor haar en haar ma voel nie. Nooit mag hul vriendskap afbreuk aan sy verhouding met sy verloofde doen nie.

Dis met hierdie wete dat Karina later aan die slaap raak, min wetende watter geweldige invloed sy reeds op De Waal se persoonlike lewe begin uitoefen het.

Nadat De Waal vir Rex ingerig het in die kombuis, stap tant Miemie saam met hom na sy motor.

“Ek weet nie hoe jy dit reggekry het nie, maar jy het vanaand ’n wonderwerk bewerkstellig. Dit was so goed om weer my kind te hoor lag,” sê tant Miemie bewoë.

“Dit sal van nou af ál beter gaan. Ons is weer maats, tante. Sy het my dit vanaand belowe. Nou sal ek meer daadwerklik kan help en nie meer nodig hê om so agter die skerms te werk nie.”

“Ek is so dankbaar, De Waal. Maar een ding moet jy my belowe. Jou vriendskap met ons mag nooit inbreuk maak op jou persoonlike lewe nie.”

Hy aarsel. Eers is hy lus om haar te vertel van sy verbreekte verlowing. Dan laat hy dit maar weer daar. Tant Miemie sal geruster voel solank sy dink hy is verloof.

“Ek belowe, tante. Goeienag.”

In die dae wat volg, besef De Waal dat hy nie te dikwels na die wit huis teen die heuwel durf gaan nie. As hy te veel daar kom, sal tant Miemie en Karina dink hy skeep sy verloofde af en sleg voel daaroor. Hy bly twee aande weg, maar dis lang aande wat hy nie kan omkry in sy woonstel nie. Dan gaan hy maar na sy kantoor toe en probeer werk, maar dit gaan maar sukkelend, sy gedagtes elders.

Tant Miemie of Karina aanvaar stilswyend dat De Waal by sy verloofde kuier, maar tant Miemie merk op dat Karina weer rusteloos is en sy gaan ook vroeg bed toe.

Die afgelope twee dae het dit besonder goed gegaan. Karina het uit haar eie ook die res van die huis leer ken, dit later selfs tot in die tuin begin waag. Weer eens het tant Miemie haar daaraan verwonder dat De Waal alles so fyn beplan het en so aan alles gedink het. Nêrens was daar ’n plekkie wat gevaar vir Karina kan inhou nie.

Die derde dag het Karina tot haar ma se verbasing en vreugde besluit dat sy moeg is vir nagklere en van haar rokke wil begin aantrek. Haar ma het die koffers uit die buitekamer gaan haal waar De Waal dit voorlopig geberg het, en operasie kleresortering het begin. Karina was self verbaas dat sy, deur net die rok te bevoel en met behulp van haar ma se beskrywing, elke rok so maklik kon plaas. ’n Klomp is natuurlik dadelik terug in die koffers, maar ’n hele klompie is opgehang in die ingeboude kas.

Daardie middag trek Karina vir die eerste keer in maande ’n rok aan en tant Miemie help om ’n paar skoene aan die gevoellose voete te kry. Sy lyk so heeltemal normaal toe tant Miemie terugstaan en na haar kyk, dat sy haar asem skerp intrek. As ’n mens nie weet Karina is lam en blind nie, sal jy dit nie maklik agterkom nie. Dit lyk asof sy elke oomblik kan opstaan en loop.

“Hoe … hoe lyk dit, Mamma?” vra sy vol afwagting. “My rokke hang soos sakke aan my, maar as ek sit, sal ’n mens dit seker nie sommer agterkom nie, of hoe?”

“Nee, my kind, jy lyk pragtig,” antwoord haar ma opreg.

“Ek moet erken ek voel minder na ’n invalide noudat ek weer ’n rok aanhet. Sal … sal Mamma miskien ’n bietjie rooisel aan my lippe kan sit? En waar is my parfuum?”

Toe tant Miemie met ’n bewerige vinger met die lipstiffie begin – sy ken mos ook nie sulke goed nie! – neem Karina by haar oor.

“Wag, gee vir my. Dalk kom ek self beter reg. So. Hoe lyk dit?”

“Honderd persent. Net hier in die een hoekie … so ja. Jy lyk regtig baie mooi, my kind.”

“Dankie, Mamma.” Sy glimlag meewarig teenoor haarself. Sy lyk mooi! Maar hoe min beteken dit tog! Wat help dit om mooi te lyk en jy is blind en lam?

Tog … dit doen haar goed om te weet dat sy tog nog mooi kan lyk. Vir haarself beteken dit niks nie, maar ter wille van haar ma en De Waal kan sy gerus van nou af meer aandag aan haar grimering gee. Skielik lek Rex haar hand en sy glimlag teer. Hy is natuurlik heeltemal tuis en het haar en haar ma heeltemal in die sak. En hy het van die eerste oomblik af besluit wie eintlik sy kleinnooi is, en waar Karina se stoel beweeg, is hy.

Saans sit hulle oënskynlik rustig by die radio, maar tog sien tant Miemie dat Karina nie haar volle aandag by die programme bepaal nie. Teen nege-uur het sy heeltemal belangstelling verloor en kondig sy aan dat sy gaan slaap.

Tant Miemie sê niks nie en help haar dogter in die bed.

Maar lank nadat haar ma uit is, lê sy nog wakker.

Dit gaan van nou af die patroon van jou lewe wees, Karina, dink sy. Jy sal moet leer om aan te pas en te berus. De Waal kan nie elke aand hierheen kom nie. Onthou, hy het ’n verloofde wat op sy aandag geregtig is!

Hy is natuurlik nou by haar. Miskien is hulle êrens saam, miskien het hulle gaan fliek of dans of uiteet. Miskien sit hulle nou êrens saam na die maan en kyk of stap hulle hand aan hand langs die strand.

Sy druk haar kop diep in die kussing in, maar sy kan haar gedagtes nie bedwing nie. Weer probeer sy De Waal se gesig voor haar geestesoog oproep, maar weer is dit net die jong seunsgesig wat sy haar kan herinner. Sy wens sy weet presies hoe hy lyk noudat hy ’n volwasse man is. Hy was altyd ’n oulike seun. Nie mooi nie, maar die gesig wat sy onthou, het tekens van karakter en sterkte getoon.

Maar sy sal nooit weet nie … en dan voel sy weer die trane warm onder haar ooglede brand, voel sy weer opstandig.

Dis asof sy weer belangstelling begin verloor. Sy ken nou al die huis en sy kan redelik goed daarin regkom. Elke dag gaan dit makliker met die eet. As sy soggens klaar besluit het watter rok sy dié dag sal dra, is daar meteens niks meer om haar gedagtes mee besig te hou nie …

Karina skrik vir die wilde geklop van haar hart toe De Waal dié aand weer die sitkamer binnestap. Gelukkig heet Rex hom so uitbundig welkom dat dit haar kans gee om te herstel, en toe hy eindelik voor haar staan, groet sy vriendelik.

“Goeienaand. O, jy lyk pragtig en koel.” Sy kan aan sy stem hoor dat hy dit opreg bedoel en teen wil en dank voel sy ’n blos na haar wange styg. Sy is nou regtig verspot! Sy is mos daaraan gewoond om te hoor dat sy mooi lyk. Wat makeer haar dan nou dat sy soos ’n skooldogter bloos as De Waal dit sê? Hy behandel haar juis nog altyd soos ’n kleiner sussie.

“Dankie. Kom sit.”

Skielik is dit weer ’n heerlike aand. Telkens hoor sy sy diep, warm lag wanneer sy of haar ma vertel van Rex se manewales. Ná ’n rukkie voel sy sy vingers weer om hare vou en sy laat hom begaan. Dis wonderlik hoe hierdie gebaar van hom haar volkome insluit in die geselskap.

Tant Miemie merk hoe dikwels sy oë bewonderend op die meisie langs hom rus. In die muurlamp bokant haar kop se gedempte lig lyk Karina soos ’n prentjie.

Tant Miemie bemerk ook dat Karina nou weer sprankel. Sy sien die ineengestrengelde vingers en meteens is daar ’n benoudheid in haar bors.

Die lewe moet net nie haar kind nóg ’n wrede hou toedien nie. Karina kan so maklik te afhanklik raak van De Waal, en hy is ’n verloofde man. Miskien was Karina tog aan die begin reg, sou dit beter gewees het as hulle lewens nie weer so ineengestrengel was met De Waal s’n nie. Maar dis nou te laat, reeds gans te laat, besef sy toe De Waal praat.

“Tante, ek het gewonder … As tante nie kans sien nie, goed. Moet dan nie huiwer om nee te sê nie. Maar …”

“Ja, De Waal? Wat is dit?”

“Ek het gewonder of ek nie by julle kan kom loseer nie, asseblief?”

Tant Miemie kyk hom vraend aan en hy voel Karina se hand in syne ruk.

Tant Miemie kyk eers weg. De Waal het haar in ’n hoek. Hoe kan sy weier? Dis sý huis hierdie! Maar … Sy kyk na Karina. “Ek … Dit hang van Karina af, De Waal.”

Karina knik haar kop. Hoekom nie? Sy weet nie wanneer hy gaan trou nie, want De Waal het nog nooit met haar oor sy verlowing gepraat nie, maar terwyl hy nog nie getroud is nie, kan sy maar sy vriendskap geniet. Daar is tog niks mee verkeerd nie. En as hy hier by hulle loseer … “Ek het niks daarop teë as Mamma daarvoor kans sien nie.”

De Waal se vingers verstyf om hare en hy is vinnig om te sê, toe tant Miemie nog huiwer: “Ek sal my huishulp saambring, tante. Ek sal haar betaal.” Hy kan duidelik sien dat tant Miemie ongemaklik en ongelukkig voel, maar hy besluit om vanaand maar ’n bietjie stompsinnig te wees en niks raak te sien nie.

“Kan ek maar sommer die naweek intrek, asseblief?”

Tant Miemie knik. Later kyk sy stilswyend toe hoe hy Karina kamer toe dra, al is haar rolstoel byderhand. Sy kry egter haar kans toe sy hom by die motor gaan wegsien.

“De Waal, jy moet my nie verkeerd verstaan nie, maar … is dit die regte ding hierdie? Ek bedoel nou jou loseerdery hier. Wat sal jou verloofde sê?”

Hy besef dat hy haar nou die waarheid moet vertel. “Tante, ek is nie meer verloof nie.”

Tant Miemie se kop ruk omhoog. “Nie? Hoekom nie?”

“Wel, ons het net besluit ons pas nie bymekaar nie. Dis al.” Hy neem haar aan die skouers. “Asseblief! Moet nou nie weer spoke opjaag nie, tante! Rhona gaan oorsee vir ’n onbepaalde tyd. Sy is nie gebroke nie en ek is beslis ook nie. Ons verlowing was van die begin af ’n misverstand. Ek sal tante eendag meer daarvan vertel. Nou is dit van die baan en dis van geen belang meer nie. Ek wil graag hier kom loseer …”

“Juis, De Waal. Jy wil te veel vir ons doen, my seun. Asseblief, jy het jou eie lewe …”

“Ja, dis reg, en ek dink ek is darem al groot genoeg om te besluit wat ek wil doen, tante? Ek kom eintlik om ’n selfsugtige rede hier loseer.” Hy glimlag in haar bekommerde oë af. “Ek onthou nog tant Miemie se lekker boerekos. Dis nommer een! Ek is siek en sat vir restaurant- en hotelkos. Ek is moeg vir die ou woonstel bo my besigheid. Ek wil graag die tuin hier kom bewerk. My hande jeuk om dit hier mooi te maak. Tante sien dus – alles net selfsugtige redes!”

Sy weet hy het weer gewen, maar sy is diep bekommerd toe sy sy motor agternakyk. Sal dit goed wees vir Karina? Sy wil nie hê haar kind moet nog ’n keer seerkry nie!

Maar dat sy die enigste een is wat nie so ingenome met die nuwe verwikkeling is nie, is duidelik. Karina is vroeg die volgende oggend al in die tuin.

“Is hier nie dalk een ou blommetjie wat ’n mens kan pluk nie, Mamma?” wil sy weet.

“Nee, Karina. Die tuin is nog in wording.”

“O, dis jammer.” Sy klink erg teleurgesteld.

“Daar anderkant staan ’n bossie wilde veldrosies in blom. Ek sal gaan pluk wat daar te pluk is,” troos tant Miemie maar.

Toe tant Miemie later by De Waal se slaapkamer instap om seker te maak dat alles gereed is vir hom, sien sy die potjie veldrosies op die bedkassie staan. Dis sommer net ingedruk, maar tant Miemie voel haar hart krimp. Karina speel met vuur. Maar hoe sal sy dit oor haar hart kry om haar te waarsku?

Tant Miemie staan ’n rukkie peinsend. Sy gaan Karina nie vertel dat De Waal se verlowing verbreek is nie. Dis beter as haar kind onder die indruk bly dat De Waal op trou staan. Sy wil tot elke prys verhinder dat haar kind onnodig seerkry, want al is De Waal nie meer verloof nie, bly hy ’n sterk, normale man wat die een of ander tyd ’n maat sal soek, en hy sal tog nie met ’n verlamde en blinde meisie trou nie.

Nie dat sy dink dat De Waal Karina ooit doelbewus sal seermaak nie. Nee, dit nooit nie. Maar ook hy het nou beskerming nodig, al besef hy dit nie. Hy kan dalk ook aan Karina geheg raak en eers as dit te laat is, besef dat hy met vuur gespeel het. Dit sal die hele situasie net nog meer tragies maak. Voordat twee jong harte gebreek word, moet sy wal gooi. Dis haar plig as moeder en as die ouer persoon wat verder sien as môre …

Die eerste aand nadat De Waal sy intrek in die huis teen die heuwel geneem het, lê Karina rustig na die see en luister. Daar is ’n kalmte in haar wat sy nog nie sedert haar ongeluk ervaar het nie. Die wete dat De Waal onder dieselfde dak as sy slaap, dat sy hom kan roep as sy wil, laat haar wonderlik veilig voel. Sy raak aan die slaap, vir die eerste keer met ’n glimlag om haar lippe.

De Waal het sy klere klaar in die kaste gepak en hy stap na buite. Hy kyk na die fosforgetinte branders, die maanstrale oor die kolkende see. Hy voel hy het tuisgekom vanaand. Hy staan op die stoep van sy eie huis. Hy dink terug aan die skakelhuisie in die onderdorp. Dit was ’n lang en opdraande pad van daardie skakelhuisie af tot op hierdie stoep waar hy nou staan. Maar vanaand staan hy hier …

En hulle is weer bymekaar: hy, tant Miemie en Karina. Ook vir hulle was dit ’n lang pad van die skakelhuisie af tot waar hulle vanaand hier onder sy dak slaap. Dit was ook ’n moeilike pad; ’n pad vol tragedie en smart en pyn.

Mag die Vader gee dat die pad nie hier sal doodloop nie, maar weer opnuut van hier af sal begin. Veral vir Karina … Karina moet weer sien. Karina moet weer kan loop. Dit het vir hom dié belangrikste ding in die lewe geword – haar herstel en haar geluk.

Maar as dit nie gebeur nie …? Hy skram van die gedagte af weg. Dis ondenkbaar. Hy weier om daaraan te dink.

Tant Miemie besef nie dat De Waal nie so blind is vir moontlikhede wat in die toekoms kan opduik soos wat sy dink nie. Hy besef maar te goed wat kan gebeur … en wat reeds gebeur het. Hy besef die implikasies daarvan en weet dat môre miskien nog groter hartseer en smart kan inhou.

Maar dis môre. En môre lê ver. Vanaand is soveel belangriker. Vanaand slaap hy in sy eie huis onder dieselfde dak as sy … as die maatjie wat hy verlore gewaan het. Hul lewenspaadjies loop weer saam en hy is diep dankbaar daaroor.

Ena Murray Keur 15

Подняться наверх