Читать книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеDaar heers ’n onrusbarende stilte. Dan sien De Waal iets voor sy oë flits.
“Hier is jou ring, De Waal. Ek dink nie ek en jy en jou tant Miemie-hulle sal verder saamstap nie.”
“Rhona, jy is onredelik …”
“O nee, ek is nie. Dis jý wat onredelik is. Ek moet gedurig terugstaan en ek weier om dit verder te doen. As jou kosbare Karina eers hier is, sal dit nog erger gaan. Ek laat jou dus maar vroegtydig vry sodat jy haar handjie kan gaan vashou sonder om skuldig te voel.”
“Jy is jaloers op ’n blinde en verlamde meisie, besef jy dit, Rhona?” vra hy bestraffend.
“Maar nog steeds ’n baie pragtige meisie, nie waar nie? Ek is nie bereid om jou vir die res van my lewe te deel met …”
“Nee, jy sal nie, want jy het nog nooit gedeel nie,” roep hy uit. Hy steek die ring in sy sak. “Goed. Miskien is dit beter so. Jou selfsug sou in elk geval ons huwelik verongeluk het. Tot siens, Rhona.” Hy draai op sy hak om en stap sonder ’n terugblik weg.
Rhona de Villiers kyk hom woedend agterna. Skielik is daar ’n tikkie onsekerheid in haar hart. Miskien het sy te impulsief opgetree. Sy besef dat ’n meisie nie ’n man soos De Waal agter elke bos uitskop nie.
Dan lig sy haar ken. Sy sal nie die minste wees nie. De Waal sal nog sy fout agterkom. Op die oomblik is sy misplaaste pligsbesef teenoor die Oosthuizens nog vars in sy gemoed. Maar op ’n dag gaan hy besef dat die vriendskap van ’n blinde, verlamde meisie nie genoeg is vir ’n sterk, normale man soos hy nie, en dan sal hy na haar terugkom.
’n Ontstelde en ontstigte De Waal besluit om tant Miemie liewer niks hiervan te vertel nie. Sy kan dalk snuf in die neus kry dat die rusie tussen hom en sy verloofde oor Karina ontstaan het, en hy ken haar goed genoeg om te weet hoe sy haar dit sal aantrek en haar daaroor sal bekommer. Sy het al hoeveel keer gesê dat sy tog nie wil hê dat sy toekomsgeluk in die gedrang moet kom nie. Nee, tant Miemie hoef nie nou al te weet dat sy verlowing aan die verwende rykmansdogter verbreek is nie.
De Waal voel meteens verlig. Hy het al baie getob oor sy keuse van ’n lewensmaat. Rhona kan baie dierbaar wees en baie interessant, maar tog was daar maar altyd iets wat krapperig was tussen hulle. Hul lewensuitkyk was net te verskillend.
Een goeie gevolg is darem dat hy nou sonder ’n skuldgevoel Kaap toe kan ry en tant Miemie kan gaan help sonder dat hy voel dat hy sy verloofde afskeep. Verder wil hy liewer nie dink nie. Van nou af sal hulle drie moet leer om van dag tot dag te lewe. Elke dag sal genoeg genade verg.
“Hoe gaan dit nou, tant Miemie?”
Sy knik. “Redelik, onder omstandighede. Al die rowe is genees en die verbande om haar kop en bene is verwyder. Daar het gelukkig weinig letsels oorgebly.”
“En verder?”
Sy sug. “Verder maar dieselfde lusteloosheid, dieselfde bitterheid, dieselfde opstand. En vandat sy gehoor het sy kan oor twee weke huis toe gaan, is sy nog stiller. Ek dink sy is bang om huis toe te gaan.” Tant Miemie beduie met haar hande. “Ek weet sy dink aan ons ou huisie, hoe beknop en ongerieflik dit daar gaan wees. Dan vergelyk sy dit seker met haar puik woonstel.”
“Ja.” De Waal kyk van sy hande af op. Tant Miemie gaan ook nie met hom tevrede wees nie. “Tante, julle gaan nie terug na daardie skakelhuisie toe nie.”
“Nie …?” Sy kyk hom skerp aan. “Wat bedoel jy, De Waal? Dis al plek wat ons het.”
“Nee. Ek het vir julle ’n huis laat bou by die see.”
“De Waal!”
“Asseblief, tante. Ek wóú dit graag doen. Ek het die huis se plan self opgestel en dit só beplan dat Karina die allerminste ongerief sal verduur.”
Tant Miemie kyk hom met oë vol kommer aan. Dis dierbaar van hom, maar De Waal doen te veel, wil te veel vir hulle doen. Dis nie reg nie. Hy skuld hulle werklik niks nie. Haar mond bewe. “My seun, dis ’n pragtige gebaar van jou kant, maar …”
“Moet dit dan nie weier nie, tante.” Sy oë pleit. “Asseblief!”
“Maar jy … De Waal, dis baie geld wat jy op ons spandeer, en jy staan self op trou. Jy het gesê jy en Rhona gaan ook huis laat bou. Dis te veel uitgawes …”
“Nee. Ek sal nog lank nie ’n huis laat bou nie.”
Haar oë is skerp. “Hoekom nie?”
“Wel, ek sal nie gou trou nie. Intussen is die huis wat ek laat bou het, ’n baie goeie belegging. Asseblief nou, tante, moenie dat ons verder daaroor redekawel nie.”
Sy sug en vou haar hande. De Waal gaan weer sy sin kry. “Maar hoe gaan ek dit aan Karina verduidelik dat ons nie teruggaan na ons skakelhuisie toe nie?”
“O, dis maklik. Ek het intussen ’n geriefliker plek vir julle gesoek en toe die huis vir julle gehuur. Natuurlik betaal tante self die huur en so aan …”
“Wat ek wel gaan doen.”
“O nee!” Hy hou sy hande laggend op. “Moenie dat ons wéér begin nie! Tante weet tog ek sal nie huurgeld van tante neem nie. Maar ons sê maar vir Karina so.”
“As Karina uitvind hoe ons haar belieg het, vermoor sy ons.” Tant Miemie skud haar kop ontevrede.
De Waal glimlag egter onbekommerd terug. “Hoe sal sy? Ek weet dis miskien nie mooi van ons nie, want dit lyk asof ons van haar toestand misbruik maak. Maar dis net om háár ontwil dat ons dit doen, tante; vir háár gerief en om die lewe vir háár te vergemaklik.”
“Ek weet. Ai, De Waal, solank dit net nie … e … probleme vir jou gaan skep nie. Wat sê jou verloofde …?”
Hy val haar vinnig in die rede en maak asof hy haar laaste vraag glad nie gehoor het nie. “Ons het hierdie naweek baie reëlings om te tref. Ons moet ander losies vir tante kry vir hierdie laaste veertien dae sodat Karina se meubels solank kan teruggaan.”
“Dan gaan jy haar meubels daarheen laat neem?”
“Ja, dan sal die huis nie vir haar so vreeslik vreemd wees nie.”
Tant Miemie se oë verteder weer. “Jy sal ’n wonderlike man vir jou vrou wees, my kind. Ek hoop jou verloofde besef dit en waardeer jou. God seën jou, De Waal.”
Hy staan op en slaan sy arms om haar skouers. “Ek is die bevoorregte een om dit te kan doen, en tante sal nooit raai hoeveel genot ek daaruit geput het om daardie huis te ontwerp en te laat bou nie. Dis iets besonders, al moet ek dit self sê. Tante en Karina sal daarvan hou.”
Tant Miemie is al weer bekommerd. “Maar as dit te deftig is, gaan Karina hond se gedagtes kry. Jy moet darem onthou haar verstand het niks oorgekom nie.”
“Hoe sal sy weet? Sy kan nie sien nie, tant Miemie.”
Sy slaan haar oë neer. “Ja, dis ook waar.”
Toe hulle by die hospitaal kom, staan De Waal nie weer terug om soos vorige kere in die gang te wag nie.
Tant Miemie kyk op na hom. “Sy … sy wil steeds nog niemand sien nie. Ek is jammer, De Waal.”
“Vandag gaan sy nie ’n keuse hê nie, tante. Vandag stap ek net eenvoudig in. Ons hoop maar dit gaan goed.”
Die verheldering op die gesiggie verdwyn toe sy onmiddellik agterkom dat daar nog iemand by haar ma is.
De Waal gaan langs die bed staan en kyk haar innig aan. Karina, gebroke, te maer, half vergaan, is steeds pragtig! “Goeiedag. En hoe gaan dit?” probeer hy ongeërg sê.
Daar is ’n frons op haar voorkop en die lippe trek ontevrede saam. Sy probeer haar hand loskry, maar sy vingers knel net vaster.
“Dis De Waal, Karina,” laat tant Miemie onseker van die ander kant van die bed af hoor.
Die stemmetjie is styf, ontegemoetkomend. “Dit gaan goed, dankie.”
De Waal maak asof hy glad nie bewus is van haar onvriendelikheid nie. “Dis gaaf. Ek verstaan jy kan een van die dae huis toe gaan.”
“Ja.”
Hy trek sy wenkbroue vir tant Miemie op en glimlag gerusstellend in haar verskonende oë. Dan gee hy die slanke hand ’n laaste drukkie en los dit. “Nou ja, ek het baie dingetjies om in die stad te doen. Ek sal weer, voor ek ry, hier kom inloer. Soet wees. Ek is bly om te sien dit gaan al soveel beter.”
Hy probeer haar nie weer met ’n soen groet nie, hoewel hy aan die spanning in die fyn gelaatstrekke kan agterkom dat sy dit verwag en dat dit duidelik baie onwelkom sal wees. Sy mond trek grimmig, maar hy glimlag dadelik weer. “Tot siens, tant Miemie. Ons sien mekaar weer.”
Tant Miemie speel teen wil en dank ook haar rolletjie. “Tot siens, De Waal. Dankie … dankie vir die inloer.”
“Plesier, tante. Tot siens.”
“Hoekom het Mamma hom laat inkom?” vra Karina voordat hy nog behoorlik uit die vertrek is.
“Ai, my kind, hoe kan ek hom nou keer? Ek verstaan ook nie hoekom jy hom nie wil ontvang nie. Julle was eens op ’n tyd soos broer en suster. Hy het mos niks gemaak …”
“Ons was, Mamma. Alles in my lewe is dinge wat was.” Haar stem styg. “Ek wil geen bejammering hê nie!”
Tant Miemie sug onhoorbaar. Maar sy is ook heimlik trots op haar dogter, want sy besef daar het nog genoeg staal in Karina oorgebly. ’n Mens wat nie wil teer op ander se bejammering nie, is sterk genoeg om te oorwin.
“Jy moet darem nie opregte belangstelling verwar met bejammering nie, my kind. Dit sou tog onnatuurlik gewees het as De Waal nie belangstelling getoon het nie, nie waar nie?”
“Hy het die afgelope jare geen belangstelling in my getoon nie. Hoekom sal hy skielik nou weer … noudat ek lam en blind is?”
“Jy moenie onredelik wees nie, my kind. Jy het self ook geen belangstelling in hóm getoon nie.”
“Presies. Daarom kan ek nie sien waarom ek nou gaande moet raak nie. Ons paaie het geskei en ek verkies dat dit so bly.” Sy frons. “Hy is nog nie getroud nie, Ma, of hoe?”
“Nee.”
“Dis eintlik snaaks. Hy is amper dertig. Hy het nie eens ’n vaste nooi nie?”
Tant Miemie aarsel. Sy dink hier moet sy nou haar belofte verbreek. Miskien sal dit help as Karina weet hy is verloof. “Ja, my kind. Hy is verloof.”
“So?” Daar is onwillige belangstelling in die stem. “Aan wie?”
“Aan ’n dogter van ’n nyweraar wat op ons dorp kom aftree het. Hulle het ’n pragtige plek daar en is glo skatryk mense.”
“Ek sien.” Die stem is weer veroordelend. “De Waal was toe slim. Hy het gesorg dat hy vir hom ’n ryk vrou uitsoek. ’n Goeie plan as jy dit self nie ver in die lewe kan bring nie.”
Tant Miemie frons. Karina is onder ’n totale wanindruk wat De Waal betref, en haar ma kan haar kwalik reghelp sonder om De Waal se versoeke te verontagsaam. Sy wil dit eers waag maar besluit dan dat sy reeds oortree het. Sy moet liewer maar verder stilbly. Sy moet haar dogter ook nog van die ander huis vertel en sy weet nie wat Karina daarvan sal dink nie.
“Karina, ek het De Waal gevra om vir my ’n groter huis te soek. Hy het toe een gekry, reg by die see.”
Soos sy verwag het, frons haar dogter. “Hoekom?”
“Wel … e … ons ou huisie is darem baie beknop. Dit gaan vir jou baie moeilik wees …”
“Ek wil nie hê Mamma moet onnodige koste om my onthalwe aangaan nie. Ons huis is goed genoeg. De Waal kan sy huis hou.”
“Moet nou nie verspot wees nie, my kind,” laat tant Miemie ontstig hoor. Ai, Karina maak dinge ook net moeiliker en omdat tant Miemie skuldig voel oor al die leuens wat noodgedwonge vertel moet word, klink haar stem strenger as wat sy dit bedoel: “Dis g’n De Waal se huis nie. Hy het maar net die plek vir ons gekry om te huur. Dis ’n vakansiehuis van iemand wat oorsee verplaas is.” Tant Miemie aarsel. Heiden, maar so glad as wat sy darem deesdae kan lieg! Dis vreeslik! Maar wat moet jy doen as jy so ’n koppige dogter soos Karina het? “Die huur is maar ’n paar rand meer as wat ek nou betaal. Ek sien geen rede hoekom ek ongerief moet verduur as ek beter kan bekostig nie. Jy moet onthou, Karina, dat ek ook in daardie huis gaan bly.”
Dit is stil tussen hulle. Karina voel skielik skuldig. Dis waar. Haar ma het al die jare die ongerief van die ou skakelhuisie verduur en noudat sy nog vir ’n invalide ook sal moet sorg, sal dit vir haar baie beteken as sy ’n bietjie meer gerief en ruimte het. “Ek is jammer, Mamma. Natuurlik, as Mamma so voel en dit kan bekostig, kan ons maar na die ander huis toe gaan.”
Tant Miemie sug verlig. “De Waal sal toesien dat ons jou meubels daar kry. Hy het belowe,” sê sy opgeruimd.
Karina frons weer kwaai. “De Waal het niks met my meubels uit te waai nie. Hulle is in elk geval nog nie klaar betaal nie en sal moet teruggaan.”
Tant Miemie byt haar onderlip vas. Hier sal nou fyn gelieg moet word. Karina is darem nie ’n uilskuiken nie.
“Hulle is klaar betaal. Ek het hulle betaal.”
“Mamma het! Waarmee nogal?” Haar stem is duidelik agterdogtig.
“Met die polisgeld van Pappa. Ek het jou mos daarvan vertel.” Tant Miemie hoop maar sy klink oortuigend.
“Soos Mamma nou te kere gaan met geld, moes dit ’n vreeslike bedrag gewees het wat uitbetaal is, en ek weet dit kan nie só baie gewees het nie. Hoeveel …?”
Tant Miemie val haar vinnig in die rede. “Jy moet onthou, kind, ek het die geld nooit gebruik nie en dit het al die jare ná Pappa se dood rente verdien.”
“Maar nou bestee Mamma dit alles op my. Dis nie reg …”
“En op myself. Ek het begin wonder waarvoor bêre ek daardie geld. Hoekom dit nie gebruik en geniet terwyl ek lewe nie? ’n Mens lewe net een maal.”
Karina is verbaas. Vroeër jare het haar ma altyd gepreek dat ’n mens nie alles moet spandeer nie. Jy moet ietsie wegsit vir ’n dag van nood. Dan swyg sy maar. Dis beslis ’n dag van nood wat nou aangebreek het. En dis haar ma se geld. Sy kan dit seker gebruik as sy wil.
“Jy moet onthou ek kry darem nog elke maand pensioen ook, en ons het nie so baie nodig nie.”
Karina knik. Ja. Sý sal beslis nie meer baie nodig hê nie. ’n Stukkie kos, dis omtrent al. ’n Stukkie kos om aan die lewe te bly, hoekom weet sy nie.
“Ek hou net nie van die idee dat Mamma De Waal lastig val met ons sake nie. Hy is verloof en het sy eie dinge.”
“Ek kan nie sien dat ek lastig is en dit sy verlowing aan ’n ander meisie kan beïnvloed as hy self aangebied het om toe te sien dat jou meubels by die huis kom en ek ja gesê het nie. Jy is besig om die hele ding uit verband te ruk, Karina. Ek is genoodsaak om soms op hom te steun, en ek sien geen rede hoekom ek nie sal nie. Ek sal nie lastig wees nie, dit belowe ek jou, maar soms het ’n mens ’n man se hulp nodig, en De Waal is al een tot wie ek my kan wend.”
Karina is weer stil … en skuldig. Dis waar. Sy kan maklik praat. Sy lê hier magteloos in die bed en dis haar ma wat die spit moet afbyt. Dis Mamma wat nou moet toesien dat hulle ’n heenkome het.
“Ek is jammer, Mamma, dis net … Ek is net bang De Waal sal dink dat hy verplig is om ons nou te help, en … ek wil dit nie hê nie.”
Tant Miemie glimlag sag. Haar trotse dogter. Ten spyte van alles nog haar trotse dogter! “Ek begryp, my kind, en ek voel presies soos jy. De Waal het geen verpligting teenoor ons nie, maar as hy uit die goedheid van sy hart soms vir my met takies help waarvan ek niks weet nie, sal jy dit maar moet aanvaar.”
Karina is weer stil, die bitterheid opnuut in haar. Ja, sy sal dit maar moet aanvaar, soos sy so baie ander dinge van nou af maar sal moet aanvaar. Wie is sy om nou te kom voorskryf? Sy moes haar ma nou in haar grysheid bygestaan het, maar nou is sy ’n las en haar ma moet alleen aansukkel met daardie las. “Dis goed so, Mamma,” sê sy gelate.
Tant Miemie se hart bloei, maar sy is bly dat Karina bereid is om te berus. Intussen kan sy maar net op De Waal steun en op dié Hand wat sy glo haar lewe lei en bestuur en ook haar kind se lewe. Intussen, glo sy, sal daar genade wees.
De Waal reël daardie naweek dat ’n vervoerwa Karina se meubels gedurende die week sal kom oplaai, en hy dra sorg dat tant Miemie goed gevestig is in ’n hotel voordat hy weer vertrek. Sondagaand is sy besoek aan Karina weer ewe vlugtig en ongeërg, en Karina wil by haar ma weet wat kom maak hy in die stad.
“Ek weet nie, kind. Hy het seker ook maar dinge om te doen,” antwoord haar ma net so ongeërg, maar sy voel skuldig toe sy dink watter “dinge” daardie naweek gedoen is. Sy het probeer keer, maar De Waal het net sy gang gegaan. Daar is matte en teëls en gordyne en linne uitgesoek vir die nuwe huis by die see.
“My seun,” het tant Miemie een keer gesê, “jy moet onthou Karina is blind. Sy sal nie hierdie duur goed sien nie. Dis vir haar om ’t ewe. En ek is nie sulke goed gewoond nie, dus kan jy maar minder goeie goed koop.”
Maar De Waal was koppig, soos altyd. “Dis nie nodig dat sy minderwaardige goed moet kry nie.”
Tant Miemie het maar weer geswyg, maar meer bekommerd as voorheen. Sy hoop tog nie De Waal gaan nou ’n obsessie oor Karina ontwikkel nie. Dit kan sy verhouding met sy verloofde en sy hele toekoms verongeluk. Maar tog is De Waal ’n gebalanseerde mens. Hy bedoel dit maar net baie goed, stel sy haarself gerus.
Gelukkig maar dat tant Miemie nie bewus is van hoe Karina se ongeluk reeds De Waal se persoonlike lewe beïnvloed het nie.
Daardie naweek, toe sy weet De Waal is weg om Karina te besoek, gaan Rhona stilletjies na die standplaas wat sy en De Waal vir hul eie huis uitgesoek het.
Van ver af kan sy die nuwe huis sien toe sy om die draai kom en met die slingerpad begin opry tot bo teen die kop waarvandaan ’n mens ’n wye uitsig oor die see en ’n gedeelte van die dorp het. Sy is stom van verbasing. Hier is darem in ’n kort tydjie gewoel; drie maande gelede toe sy laas hier was, was dit nog ’n ruwe stuk aarde.
Behalwe die huis self, wat sy met die eerste oogopslag bemerk iets heel besonders is, is daar ook reeds grasperke aangelê en kan sy die begin van ’n wordende tuin sien.
Amper soos ’n skelm sluip sy nader en vind tot haar grootste teleurstelling dat al die deure gesluit en die vensters gegrendel is. Maar sy loer by elke venster in, en vind dis nie sommer net ’n huisie, soos De Waal dit genoem het nie. Dis ’n spesiale huis en baie duidelik vir ’n spesiale persoon bedoel. Die onrus in haar neem toe.
Toe sy haar pa parmantig en selfversekerd vertel het dat sy De Waal se ring teruggegee het en hoekom, was haar pa openlik ontevrede.
“Jy het die grootste fout van jou lewe begaan om De Waal deur jou vingers te laat glip. Hy sal nie terugkom nie, Rhona. Moenie jouself mislei nie. De Waal is nie daardie soort man nie. Ek dink buitendien ek sal nie meer respek vir hom hê as hy wel terugkom nie.”
“Paps!” Sy was geskok. “Dis amper asof Pa bly is dat … dat dinge tussen ons skeefgeloop het!”
“Nee, my kind, ek is nie bly nie. Ek is jammer, baie jammer, want ek het in De Waal jou behoud gesien. Hy is die enigste man wat ek ken wat jou miskien sou kon regkry. Nou is daardie hoop ook daarmee heen.”
“En wat moet so danig reggekry word?”
“Jy moet nog mens word, Rhona. Jy gaan nog baie swaarkry. Jy gaan jouself nog vernietig. Jy lewe net vir jouself. Alles draai net om jouself. Niemand anders is van belang nie. Jy is die selfsugtigste mens wat ek ken. Ek is jou pa, maar ek moet dit sê … en met skaamte erken dat ek ook skuld daaraan het.” Hy het opgestaan, en hy het skielik vir haar ouer gelyk. “Ek dink nie ons moet die saak verder bespreek nie. Maar ek is vir jou jammer, my kind. Regtig jammer.”
Sy het hom agterna gekyk en vir die eerste keer besef dat, as haar pa moet wegval, sy alleen sal wees. De Waal is ook nie meer beskikbaar nie. Sy het hom sy ring teruggegee.
Ook op hierdie oomblik besef sy dat sy oorhaastig was. Maar hoe gaan sy hom terugkry? Sy moet De Waal terugkry. Dis die een ding waarvoor sy bereid is om op te offer. De Waal is hare.
Tog twyfel sy vir die eerste keer in haar lewe aan haar eie vermoëns. Vir die eerste keer besef sy dat sy De Waal dalk kan verloor. Sy dink die res van die dag diep na en toe haar pa daardie aand sy Sondagkoerant oopmaak, is haar stem glad nie so selfversekerd soos altyd toe sy die stilte verbreek nie.
“Paps …?”
“Ja?”
“Mag ek oorsee gaan, asseblief?”
Haar pa kyk haar opsommend aan. Arme Rhona! Die vrede en geluk is in ’n mens self, maar sy wil dit op ver plekke gaan soek. Maar hy knik geredelik. “Soos jy wil.”
“Dankie.”
Sy stap na haar kamer toe, haar oë hard. Sy sal weggaan totdat die eerste aardigheid verby is en De Waal moeg geword het vir popspeel. Dan sal sy terugkom …
“Bring haar oor drie maande terug, dan kan ons kyk watter vordering sy gemaak het en nuwe besluite neem,” praat die dokter met De Waal. “Maar eers moet sy gaan aansterk. Haar gestel is geweldig verswak.”
“Dankie, dokter. Ek sal so maak. En onthou, die rekenings kom na my toe – almal.”
De Waal draai van die dokter af weg, stap met die lang gang af na Karina se kamer. Hy weet hy is steeds nie welkom nie, maar hy sal maar ’n renostervel moet ontwikkel en maak asof hy niks agterkom nie. Sy is in haar gees nog so onafhanklik soos altyd, maar na die vlees so verskriklik afhanklik.
“Is julle gereed? Dan kan ons maar gaan.”
Sy vrolike stem irriteer Karina. ’n Mens sou sweer hulle gaan na ’n piekniek! Sy sit op die kant van die bed, onbewus daarvan dat sy byna feeagtig lyk. Haar gesig is stil, onpeilbaar, maar die keelspiere werk krampagtig en haar hande bewe merkbaar.
“U koets staan buite gereed, prinses!”
Haar kop ruk omhoog. Sy dink aan haar kinderdae. Toe hy haar ook dikwels so aangespreek en van “haar koets” gepraat het as hy haar met sy fiets êrens heen moes neem. Sy draai haar kop weg, haar lippe wit en deurskynend. “As iemand my net tot op die vloer help, sal die prinses haar na die koets toe sleep, dankie.”
Daar heers ’n ongemaklike, pynlike stilte. Dan voel sy skielik sterk arms om haar gaan en sy word van die bed af opgelig.
“Nee! Sit my neer!”
“Karina, dis ek, De Waal. Onthou jy my dan nie? Ek het jou so baie gedra. Onthou jy? Toe het ek jou nie laat val nie. Ek sal ook nie vandag nie.”
“Ek … Waar is ’n rolstoel? Ek kan in ’n rolstoel …”
“Jou rolstoel is reeds in die motor gepak. Ek sal jou hierdie klein entjie dra.” Hy begin aanstap deur toe. “Sal tant Miemie daardie tas kan behartig?”
“Ja, natuurlik. Stap jy maar voor.”
Karina sluit haar oë en swyg. Sy is magteloos. Dis waar, hy het haar dikwels so gedra toe hulle nog kinders was. Maar toe was dit anders. Sy onthou nog hoe sterk en stewig die seunsarms haar vasgehou het. Maar vandag voel die arms anders. Dis ’n groot man se arms wat om haar is, wat haar met soveel gemak en sekerheid dra.
Dis ’n lang pad huis toe. Voorheen was die pad kort, het die tyd omgevlieg. Maar vandag, met net die beweging van die motor onder haar, die suising van die wind by die venster en niks om te sien nie, is dit ’n lang, lang pad.
Sy hoor hulle praat, maar sy skenk geen aandag nie. Die dinge waaroor hulle praat, is nie meer van belang vir haar nie.
Dis of ’n eindelose ewigheid verbygegaan het voordat sy De Waal hoor sê: “Ons is tuis.”
Sy laat maar weer woordeloos toe dat hy haar uit die motor tel en die huis indra. Sy is werklik spyt dat hulle nie maar teruggekeer het na die ou skakelhuisie toe nie. Dan sou sy darem nou vir haar ’n prentjie kon vorm van die vertrek waarin sy gedra word. Nou is alles vreemd, weet sy nie hoe groot die ruimte om haar is en waar alles staan nie. Selfs die reuk is vreemd nuut – nie soos haar ma se huis wat altyd na moskonfyt of varsgebakte brood geruik het nie. Dit ruik alles nuut en vreemd.
Maar sy swyg. Dis bloot ter wille van haar ma dat sy toegestem het om hier te kom bly. Ook bloot ter wille van haar ma sal sy De Waal verdra.
“Ek wil graag bed toe gaan, asseblief.”
Hy gehoorsaam en laat haar op die breë bed in die hoofslaapkamer neersak. Hy stap na die dubbele glasdeure toe en skuif dit oop en die see se geruis stroom die vertrek binne. Karina was altyd so lief vir die see. Hy laat haar alleen terwyl hy die motor afpak.
Tant Miemie voel verdwaal in die pragtige kombuis. Die voorraadkaste is gepak tot bo, en alles wat vir ’n huisvrou gerieflik is, is daar.
Tant Miemie het net betyds ’n uitroep bedwing toe hulle voor die huis stilgehou het. Sy het beskuldigend na De Waal gekyk, maar dié het net geknipoog.
Hy kom nou binne en glimlag weer vir haar.
“Regtig, De Waal, hierdie plek …”
“Kom hier iets kort? Sê dan net, tante. Tante weet, dis ’n oujongkêrel wat die plek ingerig het. Ek weet nie veel van huishouding nie.”
“Moenie ander praatjies maak nie, jong man. Jy weet wat ek bedoel.”
“In daardie geval is ek bly tante hou daarvan. Nie ’n woord verder nie. Onthou – kleine muisies, grote ore!”
“Daardie klein muisie gaan jou ore van jou kop af kou as sy eendag al hierdie dinge uitvind.”
Hy word ernstig. “Ter wille van haar hoop ek sy sal dit eendag uitvind, want dit sal beteken dat sy weer sal kan sien en loop. En as dit nie gebeur nie, tante, hoef sy nooit te weet nie. Onthou asseblief wat ek gevra het. Karina hoef niks te weet nie.”
“Ek verstaan nie hoekom nie, De Waal. Ek begryp nie hoekom ek oor jou werk en jou lewe leuens moet vertel nie.”
Hy glimlag net, sê beslis: “Ek gaan haar rolstoel haal. Dis die heel jongste model en sy behoort dit maklik te kan hanteer sodra sy die huis en stoepe goed ken.”
Toe De Waal uitstap, is hy bly dat tant Miemie nie daarop aangedring het om te weet hoekom hy nie wil hê sy moet vir Karina sê dat hy vandag ’n ryk man is nie. Hy weet self nie eintlik nie. Of miskien weet hy, maar wou hy dit tot dusver nie eens aan homself erken nie.
Toe hy eindelik seker is dat hulle goed gevestig is en alles het wat hulle nodig het, sê hy nag en vertrek. Onder aan die voet van die rant bring hy sy motor tot stilstand en klim uit.
Die seewind waai koel teen hom aan toe hy opkyk na bo. Lank rus sy blik op die huis teen die heuwel, wag hy totdat die laaste lig afgeskakel word.
Sy is terug. Sy is tuis.
Hy kyk na die groot venster met die uitsig oor die see. Agter daardie venster lê sy nou na die lied van die see en luister. Hy weet sy sal heelnag daarna lê en luister. Hy weet sy sal nie vannag slaap nie. Sy sal daaraan lê en dink dat gister en die jare wat verby is, asof met ’n mes afgesny is.
Hy kyk nog een maal na die wit huis en klim dan terug in sy motor. Hy moet môre vir hulle ’n waghond kry. Hulle is ’n bietjie eenkant daar.
Môre … Sy sal maar môre uitpak, besluit tant Miemie, en maar môre die huis deurkyk en Karina vertel waar alles staan sodat sy haarself darem op ’n manier kan help.
Môre … Môre sal sy werklik eers begin stap op hierdie nuwe pad, besef Karina. Van môre af sal hulle alleen wees … sy en haar ma. Daar sal geen rede vir hom wees om gou weer hierheen te kom nie. Hy het sy eie lewe … hy en sy verloofde het hul eie toekomsplanne. Van môre af is dit net sy en haar ma en die lied van die see …