Читать книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

In die week wat volg, kom daar ’n rustigheid en roetine in die wit huis teen die heuwel, en al voel tant Miemie steeds onrustig, kan sy ook nie help om te sien hoe goed De Waal se teenwoordigheid Karina doen nie.

Haar lusteloosheid en rusteloosheid neem daagliks af. Dis asof sy nou weer in alles belangstel en lewenslustiger is. Sy is besig om wonderbaarlik by haar moeilike omstandighede aan te pas.

Dat De Waal hierin ’n baie groot rol speel, is duidelik, en tant Miemie se dankbaarheid jeens hom neem toe, al groei haar onrus terselfdertyd aan.

Tant Miemie hou haar dogter deur die venster dop. Dit het nou ’n gewoonte geword dat Karina laatmiddag haar stoel op die grasperk uitstoot en dan daar met Rex speel. Gewoonlik rol sy ’n bal vir hom oor die gras wat hy dan, baie ingenome met homself, kom terugsit in sy kleinnooi se hand. Maar tant Miemie weet dat haar ore gespits is vir die geringste dreuning van ’n aankomende motor.

Sy bemerk nou dat Karina al minder aandag aan die lewenslustige Rex gee en al hoe meer haar kop in ’n afwagtende houding omhoog hou. Dis al meer as ’n halfuur later as wat De Waal gewoonlik huis toe kom. Sy sug saggies en stap uit. Dis soms baie swaar om ’n moeder te wees.

“Kan ek solank vir jou ’n koppie koffie bring, my kind?” Dis die gewoonte dat, sodra De Waal by haar op die grasperk aangesluit het, tant Miemie met koffie te voorskyn kom.

“Dankie, Mamma. Ons … ons kan maar nog so ’n rukkie wag.”

“Miskien kom hy glad nie vanmiddag huis toe nie,” sê tant Miemie sag. “Hy het miskien iets aan die gang vandag.”

Sy sien die fronsie op Karina se voorkop. “Hy kom altyd eers huis toe van die werk af. Hy het dit die hele week nog gedoen.”

“Maar hy is nie onder ’n verpligting nie, Karina.”

“Nee. Natuurlik nie, maar …”

“Ons moet hom nie gebonde laat voel nie, my kind. Hy loseer net hier.”

“Ek weet nie wat Ma bedoel nie. Ek … ek verwag nie …” Haar stem sterf weg, skielik weer styf en ongelukkig.

“Karinatjie … Ag, my kind, Mamma wil net nie hê jy moet weer seerkry nie. Vergewe Mamma maar … maar jy moet oppas dat jy nie te afhanklik van De Waal se vriendskap word nie.”

Karina draai haar gesig weg, en tant Miemie voel hartseer omdat haar kind weer so bleek lyk. Toe sy praat, klink Karina se stem gedemp en hartseer.

“Ek … begryp, Mamma. Dit … sal nie gebeur nie. Ek besef …” Sy moet eers haar asem diep intrek voordat sy kan voortgaan: “Ek weet wat Ma my aan die verstand wil bring en ek besef dit. Ma hoef nie bang te wees nie. Ek sal niks meer van De Waal verwag as … as wat ’n blinde en verlamde meisie van enige man kan verwag nie.”

“Karinatjie …”

Karina se dapper glimlag sny deur die moederhart. “Ma hoef regtig nie bang te wees nie. As daar iemand is wat haar beperkinge besef, dan is dit beslis ek. Dit sou uiters belaglik van my wees om …”

Die moeder gryp haar kind se bewende hande, wat so styf op haar skoot geknel lê, in hare vas. Haar stem onvas, verskonend, jammer: “Ag, Karinatjie, Mamma wou jou nie seermaak nie …”

“Ek weet. Ek weet. Ek waardeer dit. Wat sou van my geword het as ek nie só ’n ma gehad het nie? Ek wil nog dankie sê, Mamma. Ek besef elke dag meer en meer watter wonderlike moeder die Here my gegee het. Dankie vir Ma se geduld en liefde en verdraagsaamheid. Ek was nie ’n goeie dogter vir Ma in die verlede nie, maar … ek ís dankbaar, Mamma.”

“My kind …” Tant Miemie se stem laat haar in die steek en sy kan nie verder praat nie.

“Kom nou,” sê Karina kalm. “Ons oordramatiseer ’n bietjie, nè? Ek sal nou ’n bietjie koffie drink, dankie, Mamma.”

Tant Miemie stap met ’n geruster hart die huis in. Karina is ’n verstandige kind. Sy het die afgelope tyd beslis ’n dieper, sterker mens geword deur haar lyding.

“Ag, Here,” bid sy, “gee my kind iets terug van dit wat sy verloor het!”

In die tuin rol Karina weer die bal vir die blaffende Rex, maar haar gedagtes is na binne gekeer.

Haar Ma se waarskuwing was nie so onnodig soos wat sy dit wou afmaak nie. Dit was nodiger as wat sy selfs op hierdie oomblik aan haarself wil erken.

Sy het reeds te afhanklik geraak van De Waal se vriendskap. Hoe afhanklik, besef sy nou eers. Terwyl sy gesit en wag het op die dreuning van sy motor, het sy aan haarself erken dat haar dag eintlik begin wanneer De Waal smiddae van die werk af kom.

En dit ná net ’n korte week! Daar kom ’n beklemming in haar binneste. Sy durf dit nie toelaat nie! De Waal mag nie so ’n belangrike rol in haar lewe speel nie. Dit sal belaglik en dwaas van haar wees om so iets toe te laat. Sy mag nooit, nooit vergeet dat sy blind en verlam is en dat De Waal ’n sterk, gesonde man is en boonop verloof ook nie!

En tog weet sy, skuldig, dat sy al hierdie feite die afgelope week doelbewus na haar onderbewussyn gedwing het. Sy het net elke dag met albei hande gegryp na elke krummel wat die lewe na haar kant toe gegooi het. Agter in haar brein was die waarskuwing, maar sy het dit doelbewus geïgnoreer.

Sou De Waal ook al opgemerk het dat sy hom smiddae gretig op die grasperk sit en inwag? wonder sy onrustig. Het hy juis vanmiddag doelbewus langer getalm om huis toe te kom sodat sy moet besef wat die posisie werklik is? wonder sy ontsteld.

Sy gooi die bal vir laas vir Rex en swaai haar stoel vinnig om in die rigting van die huis. Toe haar ma by die voordeur met die skinkbord uitkom, is Karina reeds besig om oor die stoep aan te kom.

“Ons kan maar binne drink, Mamma.”

Tant Miemie voel verbaas, maar sê niks en help haar dogter by die voordeur in en Rex bly afgehaal met die bal in sy bek op die grasperk agter.

In sy kantoor sug De Waal verlig toe hy kan opstaan en sy baadjie aantrek. Dis die einde van die maand en dan word dit later as gewoonlik voordat hy kan sluit. Voorheen het hy nooit omgegee hoe laat dit word nie. Sy sakebelange het altyd eerste gekom. Maar vandag het hy gevind dat hy gefrustreerd en geïrriteerd raak toe dit te lank ná halfses word.

Die frons tussen sy wenkbroue bly toe hy agter die stuurwiel inskuif, maar dis nou eerder ’n frons van kommer as van irritasie. Dit het ’n daaglikse hoogtepunt geword om smiddae ná werk huis toe te gaan … ’n gevaarlike hoogtepunt, besef hy. Vir die eerste keer in jare was daar weer ’n huis om in die middag na terug te keer, ’n huis wat warmte en vrede en geluk uitstraal.

Toe hy die draai onder aan die voet van die heuwel vat, kyk hy werktuiglik op, want hy kan die huis al van daar af duidelik sien. En soek sy oë na die gestalte op die grasperk. Daar is egter nêrens ’n beduidenis van Karina nie. Hy ry vinniger. Snaaks, hy het so gewoond geraak om haar daar te sien sit met Rex al spelende om haar, dat die tuin nou skoon leeg en doods lyk.

Sou sy miskien nie gesond voel nie? Wat sou gebeur het dat sy nie op die grasperk is nie?

Rex blaf en hardloop hom tegemoet toe hy uit die motor klim. Vandag groet hy hom nie so spontaan soos gewoonlik nie.

“Middag, oubaas se honne. Waar is die kleinnooi dan vandag, jong?” Hy laat ’n teleurgestelde Rex by die voordeur agter en stap vinnig binne. “Waar is my mense vandag?” wil hy hardop weet, en kom in die sitkamer tot stilstand. Hy kyk vlugtig rond, en sien hulle dan in die een hoek van die vertrek. Hulle sit al en koffie drink!

Dan ruk hy hom reg. Hy moet darem nou nie verspot raak nie! Dis al oor ses. Hy is kinderagtig om te verwag dat hulle tot hierdie tyd vir hom moes gewag het. Tog kan hy nie help om ’n tikkie teleurstelling te ervaar nie.

Hy stap nader, maar sy hou nie haar hand na hom uit soos dit gebruik geword het nie. Sy gee net ’n beleefde glimlaggie en sê onpersoonlik: “O! Dis jy, De Waal? Kom sit. Mamma het seker nog koffie vir jou.”

Hy kyk vinnig na tant Miemie met ’n duidelike vraag in sy oë, maar haar blik is ontwykend en sy maak dat sy wegkom.

“Hoe gaan dit?” vra hy half onseker.

“O, goed, goed. ’n Besige dag gehad?”

Hy sug. Wat sou haar skielik weer in ’n afsydige vreemdeling laat verander het? “Redelik. Dit was natuurlik end van die maand, dan is ons maar altyd besig. Dié dat ek so laat is.”

Sy hou haar koppie stywer vas. Natuurlik! Dis die einde van die maand! Dan het hy nie doelbewus laat weggebly nie! Sy ontdooi ’n bietjie.

“Ek het ’n vermoede Rex het vandag weer tussen jou plantjies gate gegrawe. Ek is nie seker nie, maar ek het my verbeel ek het so iets gehoor toe ek inkom. Ek is jammer. So vinnig as wat jy tuin maak, krap hy die plantjies uit. Hy sal moet slae kry.”

“Dis alles reg. Hy is nog ’n jong hond. Maar ek sal hom so ’n bietjie tugtig as dit nodig word.” Nadat hy sy koffie gedrink het, staan hy op. “Ek gaan net gou verklee, en dan gaan ek tuin toe. Kom jy saam, Karina?”

“Gaan jy nie vanaand uit nie?”

Hy frons agterdogtig. Wat gaan vandag hier aan? “Nee. Hoekom?”

“Nee, ek het maar gedink … Dis die einde van die maand.”

“Wat het dit met die saak te doen?”

Sy byt haar onderlip vas. Sy is sommer lus en vra hom reguit wanneer hy dan vir sy verloofde gaan kuier. Hy was hierdie week nog elke aand tuis.

“Nee, ek het maar gedink miskien wil jy êrens gaan kuier. Jy moet tog nie ter wille van ons by die huis sit nie, De Waal. As jy wil uitgaan …”

Sy frons is nou onheilspellend, en Karina kan aan sy stem hoor dat hy kwaad is. “Ek was nie van plan om uit te gaan vanaand nie, maar as jy nie lus is vir my geselskap nie …”

“De Waal …” sê tant Miemie vermanend vanuit die deur.

“Ek begryp, tante,” sê De Waal baie koel.

“De Waal!” Karina roep ontsteld uit, maar hy is reeds op pad telefoon toe.

“Oom Isak? Het oom ’n ander afspraak? Hoe lyk dit met ’n potjie skaak vanaand?” Toe hy die telefoon neersit, sê hy: “Moenie vir my moeite doen nie, tante. Ek gaan eet sommer by oom Isak. Ek sal laat terugkom. Tot siens.”

Tant Miemie haal hom by die motor in. “De Waal, Karina het dit nie só bedoel nie. Jy …”

“Ons laat dit liewer daar, tante. Miskien is dit ook goed so. Ek wás lank laas by oom Isak, en met Rhona oorsee, is hy seker maar baie alleen.”

“Wie is oom Isak?”

“Rhona de Villiers was my verloofde en oom Isak is haar pa. Nag, tante.”

Tant Miemie is amper te bang om weer die sitkamer in te gaan, maar Karina sit skynbaar rustig na die radio en luister. As daar ’n nattigheid aan haar wimpers is, maak tant Miemie asof sy dit nie sien nie en die res van die aand gaan in byna doodse stilte tussen hulle verby. Dis toe haar ma haar in die bed help dat Karina begin praat asof sy haarself nie langer kan keer nie: “Ek verstaan die saak nie so mooi nie, Mamma. De Waal was die hele week nie een aand uit nie en vanaand gaan speel hy skaak by oom Isak. Wanneer gaan kuier hy dan vir sy verloofde? Sy woon tog ook hier, nie waar nie?”

“Rhona de Villiers is glo oorsee. Oom Isak is haar pa,” verduidelik tant Miemie ongelukkig.

“O, ek sien. Ek het nie geweet sy verloofde is weg nie. Dit verklaar natuurlik alles.”

Wat die álles is, kan haar ma maar net raai. Tant Miemie laat dit so verbygaan, en met die intuïsie van ’n moeder weet sy dat Karina weer vanaand baie ongelukkig gaan slaap.

Isak de Villiers bekyk die jonger man oorkant die skaakbord, sê dan sag: “Jy wil nie regtig vanaand speel nie, nè, De Waal?”

Die jonger man kyk op, glimlag skeef en sit terug. “Ek is jammer. Ek is hopeloos vanaand.”

“Dis darem nie heeltemal so erg nie, maar dis duidelik dat jou gedagtes nie hier is nie. Kom ons gaan sit op die stoep en dan vertel jy my wat jou so hinder. Miskien kan ek nog help.”

Hulle sit ’n rukkie in stilte, dan laat De Waal grimmig hoor: “Ek is eintlik net kinderagtig, oom. Karina duld my bloot omdat sy nie anders kan nie. As ek dit net kan aanvaar …”

Oom Isak suig peinsend aan sy pyp. Arme De Waal! Hy is nie seker of hy presies verstaan wat tussen De Waal en Karina aan die gang is nie. “Wat laat jou dink sy duld jou maar net?”

“Dit kom eintlik van ons kinderdae af. Toe het sy my ook net geduld omdat sy nie anders kon nie. Ek was ’n weeskind sonder ’n ma en natuurlik het tant Miemie uit die goedheid van haar hart na my omgesien. Maar op ’n dag het Karina my duidelik laat verstaan presies waar ek, wat haar betref, in die prentjie pas. Nou het ons paaie weer gekruis, en dieselfde ding is aan ’t gebeur. Met rukke kry sy dit reg om gaaf teenoor my te wees, maar soms irriteer ek haar só dat sy my byna openlik vra om te loop, soos vanaand.”

Oom Isak frons. “Wat het gebeur?”

De Waal vertel kortliks en sluit met ’n grimmige trek op sy gesig af: “Miskien lees ek meer daarin as wat sy bedoel, maar nietemin … Ag, kom ons vergeet daarvan.”

Oom Isak probeer nie die saak verder voer nie, maar besluit dat dit miskien tyd is dat hy bietjie hand bysit. Die twee jong mense het hulp nodig. Hul lewens is gekompliseerd genoeg sonder dat klein misverstandjies dit verder vertroebel. Buitendien, hy sal darem graag die agtermekaar weduwee Oosthuizen wil ontmoet …

“Ek gaan my nou self nooi, De Waal, maar hoe lyk dit môreaand met ’n braaivleisie daar by julle? Ek sterf al van nuuskierigheid om die huis te sien en jou mense te ontmoet. Ek sal die vleis bring …”

“O nee! Dit sal nie gebeur nie. Oom is baie welkom. Tant Miemie sal nie omgee nie. Dis dan afgespreek.” Oom Isak sal goeie geselskap vir hulle wees. Hy kan baie onderhoudend gesels. Karina sal nie sommer met sý geselskap verveeld raak nie, dink hy wrang.

Dit is ’n wonderlik suksesvolle aand. Aan die begin is daar ’n bietjie spanning, maar oom Isak gee voor dat hy niks opmerk nie en kort voor lank begin die geselskap vlot.

Tant Miemie kom sommer uit die staanspoor goed met hom reg, en sy wonder of sy dogter net so gaaf is soos hy. In daardie geval het De Waal beslis ’n fout begaan om sy verlowing te verbreek.

Karina is aan die begin ’n bietjie terughoudend, enersyds omdat sy nog nie gemaklik in De Waal se geselskap voel ná gister se misverstand nie, maar hoofsaaklik omdat sy die vreemdeling as De Waal se aanstaande skoonpa beskou.

Ook sy is egter verplig om later te ontdooi te midde van die aangename geselskap en ook sy wonder of die dogter net so gaaf soos die pa is. In daardie geval, dink sy, is De Waal ’n gelukkige man.

Sy en die ouer man is alleen toe De Waal gaan omsien na die vuur en tant Miemie in die kombuis alles regkry. Hulle sit op die grasperk waar ’n koel seewindjie die hitte van die dag verdryf.

“Ek hoop jy sal my veroorloof om aan jou te sê hoe ek jou bewonder vir die wyse waarop jy jou omstandighede aanvaar het.” Hy neem haar hand en sy stem is opreg toe hy haar sommer op die voornaam aanspreek: “Maar ek dink daar is een groot fout wat jy begaan, as jy my sal vergewe dat ek so reguit praat, Karina.”

“Nee, oom kan maar sê,” antwoord sy belangstellend.

“Het jy nie ’n bietjie te gou aanvaar en berus nie, my kind?”

Sy lyk verward. “Ek … begryp nie. Ek sou dink dis die beste om die werklikheid liewer maar van die begin af vierkantig in die oë te kyk en te berus. Wat help opstand jou? Jy skop teen die prikkels …”

“Ja, dis reg, maar wát is die waarheid en die werklikheid? Dat jy blind en verlam gaan wees vir die res van jou lewe?”

“Wel …”

“Presies, Karina. Die werklikheid is dat daar ’n moontlikheid bestaan, hoe gering ook al, dat jy kan herstel. Het jy dit nie uit die oog verloor nie?”

Sy draai haar kop weg in die rigting van die ewig roerende see. Haar stem is gedemp en vol getemperde emosie toe sy praat: “Miskien het ek dit nie uit die oog verloor nie, oom Isak. Ek het dit doelbewus begin miskyk.”

“Maar hoekom, my kind?”

“Omdat ek bang is, oom.” Sy voel sy hand hare streel en haar vingers knel meteens om syne. “Dis beter om nie te hoop nie. Ek is bang ek hoop op môre, begin drome droom wat ongedroom moes gebly het. As daar geen hoop op herstel is nie, sal dit beter wees as ek dit nou al aanvaar en daarin berus. Anders gaan die lewe ondraaglik word …”

“Ek begryp, my kind, maar … dis tog ook verkeerd. ’n Mens moet positief dink in die lewe. Jy weet nou wat dit beteken om blind en verlam te wees. As jy nie regkom nie, weet jy dat die lewe selfs onder hierdie omstandighede voortgaan. Jy het al by daardie omstandighede aangepas. Maar moenie al jou drome nou wegsluit asof hulle vir ewig verlore is nie, Karina. Moenie jouself minderwaardig teenoor ander vroue ag net omdat jy op die oomblik nog blind en verlam is nie. Jy is so ’n pragtige mens …” Hy kyk na die pragtige meisie langs hom. Maar sy blik gaan dieper, veel dieper as die uiterlike, en hy vergelyk. Hoe ver skiet sý kind te kort by hierdie een; sy wat kan sien en loop. “Jy is nog in alle opsigte ’n volwaardige vrou. Onthou dit, asseblief.”

Daar is eerlike verbasing op haar gesig. “Hoe kan oom so iets sê? Ek – volwaardig vrou! Dis …”

“Ja, jy is, Karina. Ek is ’n man en jy kan my woord daarvoor neem. Jy kan ’n man veel meer gee as baie vroue wat al hul sintuie tot hul beskikking het. Ek sê jou dit in alle erns, want om vrou te wees, lê binnekant, en binnekant is jy óók pragtig.”

“Oom Isak …” Haar stem is skor en sy skud haar kop in ongeloof. Die man praat van goed waarvan hy niks weet nie! En tog … Stadigaan begin ’n vlammetjie wat lankal doodgesmoor het, weer in haar smeul. Sy stem vertel haar dat hy in alle opregtheid praat, dat hy ’n ou man is wat die lewe ken, en nie enige ding sal sê net om gaaf te wees nie. Daar is ’n benoudheid in haar, soos iets wat spartel om los te breek. “Wat … wat wil oom presies vir my sê?”

“Net dít, Karina: Moenie jou hart doelbewus vir die liefde van ’n goeie man sluit nie. As dit na jou toe kom, aanvaar dit met vrymoedigheid … Hier kom De Waal nou. Ons praat later weer hieroor.”

Karina is baie stil vir die res van die aand, maar die ander kan sien dat dit ’n peinsende stilte is, nie een wat van onttrekking getuig nie. Tant Miemie en De Waal wonder waaroor Isak de Villiers met haar gepraat het. Toe oom Isak groet om te vertrek, stap De Waal saam met hom motor toe, en hy kan nie help om te vra nie: “Mag ek weet waaroor julle twee vroeër vanaand so ernstig gesels het? Karina was besonder stil en teruggetrokke daarna.”

“O, ek het haar so ’n paar goed gegee om oor na te dink. Dis al.”

“Soos wat?”

Die ouer man glimlag. De Waal besef dit nie, maar hy is absoluut soos ’n broeis hen oor daardie “sustertjie” van hom! “Soos dat sy meer daarop moet konsentreer dat sy eendag weer sal kan sien en loop.” Sy oë is skerp. “Ek mag verkeerd wees, maar ek het die indruk gekry dat julle al drie reeds daarin berus het dat Karina nooit sal herstel nie, en dis tog nie wat die dokter gesê het nie.”

De Waal skud sy kop. “Nee, oom. Ek bid elke aand en elke môre dat sy volkome sal herstel, maar …”

“Maar jy het bang geword – soos Karina. Hoe het ek dit dan nou met jou, De Waal! ’n Bang mens het nog nooit êrens gekom nie. Maar dit weet jy tog uit eie ervaring. Jy wat die leer van sukses van onder af geklim het tot waar jy vandag is, ken daardie lessies mos, ou seun.”

“Ek weet, oom, en ek is skuldig, maar … ek is bang Karina moet dalk vir ’n tweede keer aanvaar dat sy nooit weer sal kan sien en loop nie. As ek aan dáárdie smart dink …”

“Hoekom dink jy dan nie liewer aan die positiewe kant nie?” vra oom Isak stil. “Dink liewer aan die dag wanneer sy weer sál sien en weer sál loop. Dis makliker.” Hy druk De Waal bemoedigend op die skouer. “Die Woord leer ons dat dit vir ons sal wees volgens ons geloof. Ek weet dis baie om van ’n blote mens te verwag, maar dan, Karina … Karina is ’n besonderse mens, is sy nie? Daarom sal sy en haar geval besonderse geloof verg. Moenie te kort skiet wat dit betref nie, ou seun. Ek wil jou ook sê dat jou tant Miemie my besonder beïndruk het. Gee jy om as ek vir haar kom kuier?”

De Waal kyk hom verbaas aan. “Oom bedoel …”

“Ek bedoel presies dit, ou seun. Dis nog te gou om te praat, natuurlik, want ek sien jou tant Miemie is ’n vrou met ’n wil van haar eie. Maar ons kyk maar wat die dag van môre bring, nè? Intussen kan dit mos nie kwaad doen om net te kom gesels nie, of hoe?”

De Waal glimlag en knik. “Natuurlik nie, oom Isak! Oom is baie welkom.”

So gebeur dit dat oom Isak in die weke wat volg ’n gereelde besoeker word. Aan die begin twyfel tant Miemie aan die verstandigheid hiervan, maar oom Isak gee haar nie juis kans om te veel te wonder nie.

Versigtig, tastend, groei die vriendskap weer tussen die twee jonger mense. Nie een van hulle verwys weer na hul geskilletjie nie, maar dis al asof iets hulle verhinder om die spontane vriendskap van daardie eerste dae te hervat, totdat De Waal op ’n dag besluit, buig of bars, nou moet hy en Karina tot ’n punt kom. Hierdie suutjies trap asof jy gedurig tussen ’n spul eiers of landmyne beweeg, het sy senuwees aan rafels.

Vasberade stap hy op haar af toe hy een middag tuiskom en sy weer op die grasperk sit. Sy wag hom nie meer gereeld daar in nie; net soms, as ’n spesiale gebaar van welwillendheid, dink hy bitter. En die dae wanneer hy om die draai kom en hy gewaar haar nie, is dit al vir hom asof iets wat hom toekom, hom ontneem is, en dan voel hy sommer ergerlik.

Vanmiddag is sy egter weer op die grasperk en hy neem die bal uit haar hand waar sy gereed is om dit vir Rex te gooi.

“Toe, gaan speel op jou eie, Rex,” praat hy met die kollie.

“En nou? Is daar iets verkeerd?” vra Karina besorg.

Hy sak op sy hurke langs die stoel neer en neem haar hand soos altyd in syne, maar sy kan ’n ligte bewing in sy vingers voel.

“Ja. Daar is, en jy weet daar is.”

Sy frons nou. “Wat?”

“Ons.”

“Ons?”

“Ja, ons! Ons twee!”

“Wat … van ons twee?”

Sy vingers gryp hare stywer vas en sy kan die onderdrukte ergernis in sy stem hoor. “Verduiwels, Karina, moenie jou doelbewus onnosel hou nie. Ek is nou moeg van hierdie speletjie.”

Haar frons verskerp. “Van watter speletjie praat jy? Ek is nie bewus …”

“O ja, jy is, en jy hoef jou nie so onskuldig te hou nie.” Hy trek sy asem diep in. “Ek is jammer. Ek wou nie so bars geklink het nie, maar magtie, jy maak ’n mens se senuwees gedaan …”

“In daardie geval is daar niks wat jou keer om weg te gaan van ons af nie, is daar?”

Hy onderdruk net betyds ’n kragwoord. “Sien! Daar begin jy al weer! Ek moet honderd keer dink voordat ek dit waag om my mond oop te maak, en dan neem jy my nóg verkeerd op! Ek moet hoeveel keer dink voordat ek iets vir jou doen, uit vrees dit sal net die verkeerde uitwerking hê. Ons is vrééslik beleef teenoor mekaar – soos vreemdelinge, ja! Kan ons nie in hemelsnaam net vriende wees nie? Is ek so ’n vreeslike stuk mens dat jy my glad nie kan verduur nie?”

“De Waal! Ek weet nie waar jy aan daardie storie kom nie! Dis nie …”

“Ja, dis waar, Karina. Die een oomblik voel dit vir my ons is vriende, en dan klap jy meteens toe soos ’n skulp!”

Sy kyk weg en ruk haar hand uit syne los. Hoe kan sy hom vertel dat sy haarself gedurig daaraan moet herinner dat hy ’n verloofde man is? Oom Isak het weliswaar gesê dat sy haar nie moet onttrek nie, maar hy het sekerlik nie bedoel dat sy met sy dogter se verloofde moet lol nie! En verder … al sê oom Isak ook wat, sy ís blind en verlam. ’n Man soos De Waal verdien ’n gesonde, normale vrou.

“Ek is geen verduidelikings aan jou verskuldig nie.” Haar stem is bot en onvriendelik.

De Waal verbleek. Hoe durf sy so ’n houding teenoor hom aanneem! Hy byt op sy tande en kyk af grond toe. Dan sug hy en sy stem is bitter toe hy praat: “Ek sien. Jy het kleintyd ’n afkeer jeens my ontwikkel en jy het dit nou nog nie ontgroei nie. Wat is daar in my wat jy nie kan veel nie, Karina?” Sy swyg omdat sy nie haar eie stem kan vertrou nie, en sy stem verdiep verder: “Dink jy nog altyd ek wil jou lewe reël en baasspeel? Jy is verkeerd. Ek wil nie. Ek wil net help, maar jy neem dit verkeerd op. Ek doen dit veral ook vir tant Miemie.”

Dan bly hy maar stil, want vir hom lyk dit asof sy woorde haar nie bereik nie. Karina, weer, voer ’n hewige stryd teen die ontsteltenis in haar en sy moet op haar tande byt om nie in trane uit te bars nie.

Nou weet sy. Alles wat hy tot dusver gedoen het, was net ter wille van haar ma. Nou weet sy verseker dat sy soms in sy teer gebare meer gelees het as wat hy werklik bedoel het. Maar sy sal haar moet regruk. De Waal kan op ’n dag miskien snuf in die neus kry hoekom sy so onstabiel is wat haar houding jeens hom betref, en dit mag nooit gebeur nie.

Sy glimlag in sy rigting. “Ek is jammer. Ek is regtig jammer, De Waal. Ek weet ek is soms … e … onmoontlik, maar … dis nie altyd maklik nie, weet jy?”

Sy stem verander en hy neem weer haar hand wat na hom uitgehou word. “Ek weet, en ek is ook jammer dat ek so hard gepraat het. Dit was nie nodig …”

“O ja, dit was,” en tot sy verbasing druk sy sy hand. “Ek mag baie ondankbaar voorkom, maar ek is nie, De Waal. Dis maar net soms moeilik om te aanvaar … en te berus, dis al.”

“Maar jy moet nie so volkome aanvaar en berus nie, Karina,” ploeg hy met oom Isak se kalwers. “Jy gaan tog weer sien en loop! Ons móét dit glo. Asseblief!”

“Is dit … is dit vir jou baie belangrik dat ek weer moet kan sien en loop?”

“Natuurlik is dit! Jy móét weer volkome herstel, Karina.”

Sy knik, ’n hartseer glimlaggie om haar mondhoeke – ’n glimlaggie wat hy heeltemal verkeerd interpreteer. Ja, sy kan glo dat dit ’n baie belangrike saak vir hom is, want sodra sy weer normaal is, sal hy vry wees van die verpligting wat hy jeens haar voel. Dan sal hy weer met sy normale lewe kan voortgaan in die wete dat hy hulle bygestaan het toe hulle hom nodig gehad het. Hy skuld hulle niks nie.

Sy knik dapper. “Ja. Ja, ek moet weer kan sien en loop.”

Hy gee haar hand ’n drukkie. “Professor Keuler het vanmiddag gebel.”

“Ja?”

“Hy sê jy moet hom oor veertien dae kom spreek.”

Sy knik stom van vrees. Oor veertien dae sal die finale oordeel oor haar gevel word! “Dis goed, De Waal.”

Hy aarsel, sy oë pleitend, maar sy kan dit nie sien nie. “En is ons nou werklik weer maats, Karina?”

Sy glimlag. “Natuurlik, De Waal. Ons is … maats. Dankie, my maat.”

Vreemd dat hy, terwyl hy dié versekering uit haar mond kry, nog steeds frons. Hy staan op en gee haar ’n soentjie op die punt van haar neus.

Sy glimlag vir hom en wonder waar sy die gawe om só toneel te speel vandaan kry. Skielik gryp haar hande sy gesig vas, haar stem ’n bietjie onvas. “Jy is ’n dierbare ouboet, De Waal! Mag ek voel hoe jy lyk?”

Hy voel die sagte palms om sy wange en sê: “Natuurlik.”

Haar vingerpunte gaan tastend en strelend oor sy gelaat en hy sluit sy oë. Die geur wat hy al met haar begin assosieer het, slaan in sy neusgate op. Die nabyheid van haar vroulike rondings is byna ’n fisieke skok.

“Dit voel vir my ek het sommer ’n oulike ouboet,” lag die rooi lippe en sy voel die gelaatstrekke onder haar hande verstrak. Stadig, Karina, maan sy haarself. Moet dit nie te veel aandik nie.

“En ek het ’n pragtige kleinsus,” sê hy en neem haar hande vinnig van sy gesig weg. “Goed. Ons verstaan mekaar van nou af en ek wil geen onvriendelikheid meer van jou hê nie, hoor? Anders sal jy pak kry!”

Sy lag vrolik na hom op. “Dis ’n ouboet se voorreg, nie waar nie? Kom ons gaan kyk waar Mamma met die koffie bly.”

Tant Miemie het deur die venster die ernstige geselsery gesien en gewonder wat aan die gang is. Sy het wyslik gewag met die koffie, maar toe hulle binnekom, is op albei se gesigte breë glimlagte. Net te breed om waar te wees, dink tant Miemie, maar sy sê niks nie.

Ena Murray Keur 15

Подняться наверх