Читать книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеNiemand sal die beeldskone model herken onder al daardie verbande nie. Dis net die oë, neus en mond wat oop is.
Spontaan reik sy hand na hare uit. Die ooglede fladder en die oë gaan oop, staar by hom verby … pragtige, blinde oë.
Dit voel vir hom of iets hom wurg.
“Wie … wie is dit?” vra sy.
Hy sluk, spartel om sy stem normaal te laat klink. “Dis ek … De Waal.”
“De Waal …?” Sy vra dit asof sy hom nie onthou nie.
Sy hart trek pynlik saam. Ja. Ja, hulle het vreemdelinge vir mekaar geword. “Tant Miemie stuur al haar liefde en goeie wense. Haar hart is op die oomblik ’n bietjie onstuimig – niks meer as gewoonlik nie, hoor – en sy laat weet jy moet sterk wees en gou gesond word.”
“Mamma …”
Dis weer stil, so verskriklik pynigend stil.
“Hoe voel jy, maatjie? Baie pyn?”
“Nee. Niks. Net … dood.”
Hy laat sy kop sak. Die dokters het hom gesê dat hulle haar onder sterk verdowing hou. Sy het geen pyn nie, maar is verdowing nie miskien erger nie? Hy wonder of sy reeds weet, reeds besef wat met haar gebeur het, maar hy het nie die moed om te vra nie.
“De Waal …”
“Ja?”
Haar vingers roer bewend in die palm van sy hand. “Ek kan niks sien nie. Dis alles donker … baie donker. Hoekom … hoekom kan ek nie sien nie. Is ek blind?”
“Dis net ’n tydelike versteuring, Karina. Die dokters sê jy het ’n geweldige slag teen jou kop gekry. Jy moet eers rus en herstel. Dit sal …” Hy sluk. Mag God gee dat dit so sal wees! “Dit sal mettertyd weer regkom. Jy moet jou nie ontstel nie.”
Sy antwoord nie, lê net doodstil, sluit weer haar oë, en hy weet nie of sy hom glo nie. Hy kyk half wanhopig om hom rond. Wat sê ’n mens nog? Wat kan jy nog sê?
“Jy moet sê as daar enigiets is wat ek vir jou kan doen. Enigiets. Het jy alles wat jy nodig het? Is daar iets wat ek vir jou kan kry?”
“Nee, dankie. Ek het alles. Daar is niks …” Sy aarsel. “Mamma …” Die stem verdof ietwat. “Jy moet …”
“Ek kyk na haar. Moenie jou oor haar bekommer nie, asseblief. Ek sal haar bring sodra die dokter dit veilig genoeg ag.”
“Dankie.”
Hy gee haar hand ’n drukkie. “Ek sal nou moet gaan. Ek mag jou nie vermoei nie. Tot siens, Karina. Word gou gesond. Laat weet my as jy my nodig het of as ek iets vir jou kan doen. Belowe?”
“Dankie. Sê vir Mamma … sê vir haar ek het haar lief en sy moet gou gesond word.”
“Ek sal.” Hy aarsel, buk af en soen haar op die punt van die neus soos hy dit so dikwels gedoen het toe hulle nog kinders was. “Soet bly. Ek sal weer kom.”
“Dankie, De Waal. Tot siens.”
By die deur draai hy terug, kyk lank na die gebroke mens op die bed, stap dan vinnig uit.
Karina sluit haar blinde oë styf toe, maar nie styf genoeg om die trane te keer nie. Sy weet dit nou. Vanoggend toe sy vir die eerste keer werklik besef het wat om haar aangaan en wat gebeur het, wou sy dadelik weet hoekom sy nie kan sien nie.
Sy het haar oë oopgemaak, oor hulle gevee, hulle weer styf toegeknyp en toe weer groot oopgerek – maar dit het donker gebly.
“Ek kan nie sien nie!” Dit was ’n besef wat soos ’n verlammende skok op haar brein ingewerk het. Sy het dadelik beangs begin roep, en toe het die suster gekom, haar op ’n baie professionele toon gerusgestel: “Dis net tydelik. Dis skok. Jy sal herstel. Niks om oor bekommerd te wees nie.”
Haar stem het so kalm geklink, so seker, en die ergste onrus het bedaar. Toe die dokter op sy ronde kom, was dit ook haar eerste vraag: “Dokter, hoekom kan ek nie sien nie?”
Ook sy stem was so kalm, byna ongeërg, dat die onrus nog verder afgeneem het. Dit gebeur soms, veral as mens ’n groot skok of ’n baie harde slag teen die kop gekry het. Namate jy herstel, sal dit regkom.
En toe kom De Waal – De Waal wie se gesig sy kwalik voor haar geestesoog kon oproep. Op hierdie oomblik sukkel sy nog om sy gesig helder te onthou. Sy het hom so lank laas gesien, en dis eintlik die jong seunsgesig wat sy elke keer voor haar sien. Sy onthou so goed daardie bekende aarseling in sy stem. De Waal kon nooit doelbewus vir haar jok nie. Daardie effense aarseling het hom altyd verraai. En vandag … netnou … het hy geaarsel. Dit was skaars merkbaar, maar sy het intens op sy antwoord gekonsentreer, en dit onmiddellik gehoor.
Nou weet sy. Sy is blind.
Blind!
Sy wil liewer nie daaraan dink nie. Sy wil nie. Sy sal nie! Sy mag nie daaraan dink nie. Sy moet aan iets anders dink. Waaraan sal sy dink?
Aan Mamma … Sy sal aan Mamma dink. Haar ma se gesig verskyn duidelik voor haar geestesoog. Sy sien elke rimpel, elke grys haar, en die oë, daardie stilblou oë wat soms so gelag het, soms ernstig was. Sy onthou die openbarende gesprek wat hulle so lank terug gevoer het, en sy hoor die stem. Die sagte, beheerste stem soos sy dit altyd geken het. Ek hoop jy sal altyd nie net van buite nie, maar ook van binne mooi wees, my kind.
’n Fronsie keep tussen haar wenkbroue in. Weer skram haar brein weg. Is sy ook mooi van binne? Het sy ook mooi van binne gebly? Weliswaar is daar niks ernstigs waaroor sy haar hoef te skaam nie. Daar was baie versoekings die afgelope jare. Vir ’n mooi vrou is daar voortdurend slaggate, maar oor die algemeen, weet sy, het sy besonder standvastig bly staan in ’n wêreld wat so dikwels verrotting meebring. Die wêreld van die kalklig is nie ’n gesonde wêreld nie.
Maar tog is daar iets waaroor sy op hierdie oomblik skaam is: dat sy haar ma die afgelope jare so afgeskeep het. Sy was geweldig besig. Sy was gedurig in aanvraag. Haar werk het haar byna dag en nag besig gehou. Daar was nooit ’n vry naweek nie. Maar sy kon tyd ingeruim het as sy werklik wou. Sy was so bitter min huis toe die afgelope jare. Dan was dit ook maar net vir ’n heen-en-weertjie. En so een maal ’n maand ’n kort briefie, niksbeduidend.
Sy voel ’n skaamteblos oor haar gesig vlek. Nou eers, noudat sy tot stilstand gedwing is, sien sy hierdie dinge raak, besef sy hoe sy as dogter gefaal het. Sy is haar ma se enigste, en sy is al wat sy het noudat Pappa dood is. Sy is alleen. Sy lewe van ’n pensioen. Eenmaal het sy haar ma ’n groot tjek gestuur. Dit was aan die begin van haar loopbaan. Toe het haar ma haar betig, gesê dat sy weet die stadslewe is duur, dat sy haar geldjies self moet gebruik, sy kom baie goed reg met Pappa se pensioen.
Sy het nooit weer geld gestuur nie, net nooit weer daaraan gedink nie, want die lewe het so duur geword, die woonstelhuur het gestyg, haar klere het ’n fortuin gekos, die petrol vir haar motor … Maar die lewe het ook vir Mamma duurder geword …
Dis asof sy half verbysterd is op hierdie oomblik. Was sy werklik so selfsugtig die afgelope jare? Het sy werklik net vir haarself gelewe? Sy besef nou dat sy vir die eerste keer in ’n baie lang tyd werklik aan haar ma dink. O, sy was daarvan bewus dat sy ’n ma het, maar sy het nie aan haar gedink soos ’n dogter aan haar moeder behoort te dink nie.
Maar sy sal vergoed. Van nou af gaan dit anders wees. Sy sal haar moeder meer gereeld gaan besoek, vir haar meer geld gee. Sy sal …
Dan skok haar gedagtes tot stilstand. Besoek? Gee? Wat het sy om te gee? Sy het nog altyd ’n baie goeie inkomste gehad, maar sy het dit ewe roekeloos uitgegee op al die mooi goed wat sy so begeer het. Sy sit met kaste vol klere, pragtige meubels en ’n motor … maar dis ook al. En nou beteken dit niks, want sy kan dit nie sien nie! Sy is blind!
Daardie kaste vol mooi klere beteken niks, want sy sal nie eens meer daarheen kan stap en vir haar ’n mooi uitrusting met die regte bykomstighede kan uitsoek nie. Die mooi meubels in haar woonstel sal nou maar net ’n stoel en ’n tafel word, iets wat sy sal kan voel, maar nie kan sien nie. En haar motor sal verkoop moet word. Blinde mense bestuur tog nie. Sy sal ook niks vir haar ma kan gee nie, want sy sal nie meer ’n verdienste hê nie. Waar het jy al ooit gehoor van ’n blinde model? Wat eintlik waar is, is dat sy totaal afhanklik gaan word. Waar gaan sy heen sonder inkomste? Daar is net een plek om heen te gaan, net een pad wat sy kan loop – die pad terug huis toe. Sy sal van haar ma afhanklik wees.
Nee! Ag, nee! Dit kan mos nie wees nie! Dit kan nie met haar gebeur nie! Haar brein gryp koorsagtig na iets anders om aan te dink. Sy kan nie nou aan haar ma dink nie …
De Waal … Sy sal aan De Waal dink. Maar sy sukkel, want dis asof sy nie sy gesig goed kan onthou nie. Sy stem klink vir haar effens anders as wat sy dit onthou. Dit het dieper geword. Dis ’n mooi, sagte stem. En sy hand wat hare vasgehou het, was groter, stewiger as die hand wat hare so dikwels in hul kinderjare vasgehou het.
Sy voel effens verbaas. Sy weet so min van hom af, besef sy. Sy weet nie eens wat hy presies doen nie! Sy weet hy het sy B.Com.-graad verwerf en is terug na hul tuisdorp. Maar daar het sy kontak verloor. Sy besef nou ook eers dat haar ma selde na hom in haar briewe verwys het. Soms het sy net gesê dat De Waal vir ’n heen-en-weertjie by haar was, maar dis lankal dat De Waal se naam nooit meer in haar briewe voorgekom het nie, en sy het dit nie eens opgemerk nie!
Maar nou is hy skielik terug in haar lewe – die vreemde, volwasse De Waal. Hy het natuurlik maar net uit plig gekom ter wille van haar ma. Hy het sy hulp aangebied, maar sy weet dis net ’n beleefdheidsgebaar. Sy glo hy sal haar help as sy hom sou vra, maar ook dit sal blote beleefdheid wees. Hy het immers so te sê grootgeword in hul huis. Uit dankbaarheid sal hy beleef wees teenoor ’n meisie wat hy eens goed geken het maar wat nou tragies blind geword het …
Sy spartel weg van daardie woordjie, tas blindelings na iets anders. Helmut … Die dokter het vanoggend gesê hy is op slag dood. ’n Goeie vriend, maar hy is dood. Sy sal hom nooit weer sien nie. Hy sou ’n steunpilaar vir haar kon wees in die moeilike tyd wat sy weet vir haar voorlê, maar … hy is nie meer daar nie. Sy is alleen.
Dis ’n besef wat al sterker in haar word soos die lang dae verbyrol. Sy is alleen.
Natuurlik het hulle haar almal kom besoek, haar vriende en vriendinne, die sakemanne wat altyd van haar dienste gebruik gemaak het, die baie fotograwe en ook die persmense met wie sy so baie in die verlede te doen gehad het. Ja, hulle het almal gekom … met lieflike ruikers, groot ruikers wat hulle voor haar blinde oë kom neersit het.
Hulle was almal baie gaaf en o, so taktvol. Sy moet gou gesond word. Hulle verlang na haar. Sy moet gou terug by hulle wees. En daardie kontrak en die ander een wat reeds geteken was … Dis natuurlik net voorlopig gekanselleer totdat sy weer op die been is … Natúúrlik!
Maar sy weet dat dit baie lank sal duur voordat sy op die been sal wees. Dis nog iets wat haar kwel – die doodse gevoel in haar bene. Van haar onderlyf af tot by haar voete is sy stewig in verbande gewikkel, want sy het heelwat skrape en snye opgedoen. Maar sy het die verpleegster geglo toe sy gesê het dat dit maar die stywe verbande is wat maak dat sy nie haar bene kan roer nie. En oor die snye hoef sy haar nie te bekommer nie. Dit sal geen letsels laat nie.
Maar daar is tog tye wanneer hulle die verbande afdraai om die wonde, wat mooi aan die genees is, weer te behandel en te verbind. Dan probeer sy om haar bene of haar tone te roer … en sy kan nie. Maar dit sal wel regkom, verseker hulle haar, en sy glo dit vas. Daar kan tog nie iets met haar bene ook verkeerd wees nie. Dis erg genoeg dat sy haar oë verloor het. ’n Mens kan darem seker nie tegelyk blind én verlam word nie! Dis tog nie moontlik nie! Die Vader sal nie so iets toelaat nie!
Maar op ’n dag word die verbande finaal om haar bene verwyder. Daar is nog net rowe waar die snyplekke eens was. Toe lê die dokter meteens sy hand oor hare en dis asof hy na woorde soek.
Sy weet intuïtief wat hy wil sê, en sy verbleek stadig onder sy blik. “Ek is verlam ook, nè, dokter?”
Die verstywing van sy vingers om hare is antwoord genoeg, maar hy spreek die verskriklike oordeel oor haar ook in woorde uit. “Ja, Karina. Maar soos met jou oë, wil ek dit weer benadruk dat dit nie noodwendig permanent sal wees nie. Alles sal afhang van die manier waarop jy gaan herstel, en dit sal net die tyd ons leer. Moenie wanhoop nie. Ek herhaal: Dit kan dalk net tydelik wees.”
Sy antwoord nie. Sy het skaars sy laaste woorde gehoor. Al wat sy weet, is dat nie net haar oë in een felle, wrede slag van haar weggeneem is nie, maar ook die gebruik van haar bene. Sy is nie net blind nie. Sy is blind én verlam.
Alle deure het finaal vir haar toegeslaan. Daar het niks oorgebly nie. Die bietjie moed waaraan sy nog so halsstarrig vasgehou het, het sy verloor, en sy kan ook nie meer glo nie.
Sy word ’n stil, patetiese bondeltjie lewe in die wit hospitaalbed met wie kwalik gekommunikeer kan word. Sy praat net as dit regtig nodig is en weier om besoek te ontvang. Sy lê net en wag en bid dat dit wat oorgebly het, ook moet vergaan.
De Waal ontvang ’n oproep van ’n baie bekommerde dokter. Hy is self ’n diep gekwelde man toe hy die telefoon neersit. Hy staan ’n oomblik onseker.
Tant Miemie is reeds uit die hospitaal ontslaan en terug in haar huisie, maar haar dokter wou nog nie verlof gee dat sy in ’n motor kan ry nie. Hy weet sy brand om by haar kind te kom, maar De Waal is ook dankbaar dat sy nog nie sterk genoeg was daarvoor nie. Tot dusver het hy nog nie die moed gehad om haar te vertel wat presies met Karina aan die gang is nie. Sy weet net dat sy van die gevaarlys af is en stadig aan ’t vorder is. Maar dalk het die dag tog aangebreek dat hy die moeder moet vertel dat haar pragtige dogter verlam en blind is.
Toe hy die skakelhuisie binnestap, krimp sy hart ineen toe hy die verwagting in haar oë sien. Hy weet elke keer wanneer hy haar besoek, dink sy hy bring die blye nuus dat Karina ontslaan gaan word en huis toe kan kom.
Hy neem plaas, sy oë teer. “Hoe gaan dit?”
“Heeltemal goed. Dokter is sommer verspot om nie te wil hê dat ek hierdie entjie Kaap toe ry nie. Ek is al weer springlewendig.”
“Nie so haastig nie. Hy sal die beste weet.”
Die wyse oë kyk hom skielik stip aan. “Ek wonder … Ek dink ek sal gouer heeltemal regkom as ek my kind eers gesien het. Hoekom hou julle my van haar af weg, De Waal?”
Hy sluk eers, probeer dapper terugkyk. “Hoekom sal ons nou so iets doen, tant Miemie? Tante se hart …”
“Jy is besig om iets vir my weg te steek, my seun. Ek is nie gister gebore nie en ek ken jou. Wat my hart gedaan maak, is hierdie onsekerheid en twyfel. As ek liewer presies weet wat aangaan … Asseblief, De Waal.”
Hy sug, kyk op sy hande af, neem dan hare in syne vas. “Tante …” Hy kyk op. “Tante moet tante voorberei vir ’n groot skok. Maar voordat ek tante vertel, wil ek net sê dat die dokter my oor en oor verseker het dat daar tog ’n kans is dat Karina eendag heeltemal sal herstel.”
“My kind …” Die stilblou oë staar baie vas. “Wat is met my kind verkeerd, De Waal? Is sy aan ’t sterf?”
“Nee! Nee, glad nie. Sy is werklik van die gevaarlys af. Dis net … sy is blind en verlam, tant Miemie.”
Dis lank stil.
“Blind en … verlam! Karina? Ons Karina?”
Hy knik stom, slaan sy arm om haar skouers. “Ja. Ons Karina. Maar dit kan net tydelik ook wees. Dit hang alles af van hoe sy gaan herstel.”
“Maar dit kan ook permanent wees?”
“Ja.” Hy kan nie anders nie. Hy moet eerlik met haar wees.
Sy draai haar kop weg. Blind en verlam! “Wat is haar kans op herstel?”
“Minder as vyftig persent, maar … daar ís ’n kans, tante! Ons moet daarop fokus. Ons moet glo …”
“Ja.” Sy staan op, staar strak voor haar uit. “Dis altyd so maklik om vir ’n ander te sê hy moet glo wanneer die vuurproef syne is, nie joune nie. Dan klink jy so sterk, so gelowig as jy vir ander sê ‘Glo!’ Maar as die vuurproef skielik jou eie word, wanneer jy self moet glo en alles is teen jou, dan … is dit nie so maklik nie. Maar … daar is niks anders om te doen nie, is daar? Om te glo. Glo en hoop.”
Sy laat sak haar gesig in haar hande en begin saggies snik, nie opstandig nie, maar met ’n gelatenheid wat aan De Waal se hart raak. Hy staan ook vinnig op, slaan sy arms om haar en hou haar styf vas.
“Dit is al wat oor is, tante, maar dis genoeg, is dit nie? Die Bybel vertel ons dit, nie waar nie? Geloof en hoop en liefde. Daardie drie. Die drie sterkste wapens wat daar in die lewe te kry is. En dit het ons mos, of hoe? Dit is mos wat tante my geleer het, onthou tante?”
Sy kyk na hom op, glimlag daardie sagte glimlag deur haar trane heen, streel sy een wang. “Ja. En vandag moet jy dit weer vir mý leer. Dankie, De Waal.”
Hy skud sy kop heen en weer en verberg dit skielik teen haar slaap sodat sy nie sy aandoening moet sien nie. Sy stem is grof. “Ons sal hierdeur kom, tant Miemie. Ons drie sal anderkant uitkom.”
“Ons drie?” Sy druk hom effens weg van haar af, kyk bekommerd op. “Ek waardeer dit, De Waal, maar … jy het jou eie lewe. Ek en Karina durf nie ’n las vir jou te wees nie. Jy is verloof. Jy gaan binnekort trou …”
“Asseblief, tante, hoe kan tante sê dat julle ’n las vir my sal wees? Was ek ’n las vir tante toe my ma skielik oorlede is en ek as jong seuntjie agtergebly het? Was dit ’n las vir tante om my klere reg te maak, te kyk dat ek kos kry, te …”
“Nee, natuurlik nie, De Waal. Nooit nie. Maar dis nou anders.”
“Nee. Dit is niks anders nie.”
Sy skud haar kop. “De Waal, ek weet jy bedoel dit baie goed en jy weet ek waardeer dit, maar jy mag vir my en Karina net help as dit nie jou eie geluk in gevaar stel nie.”
“Maar hoe kan dit my geluk in gevaar stel as ek vir tante en Karina help?”
Sy het nie verder op die saak ingegaan nie, en hy is ’n rukkie later daar weg, maar lank nadat hy weg is, het Miemie Oosthuizen nog op dieselfde stoel gesit en probeer om haar kommer en haar hartseer aan die Hoërhand op te dra.
Dat tant Miemie nie sommer net gepraat het nie, besef De Waal toe hy daardie aand by sy verloofde kom. Tant Miemie het weer eens gelyk gehad. Hierdie ding van Karina gaan sy persoonlike lewe ook raak.
“Ek gaan môre weer stad toe,” sê hy.
Rhona kyk vinnig op. “Al weer? Jy is deesdae baie in die stad. Is dit werklik altyd net sake, my skat?”
Sy probeer duidelik ’n grappie maak, maar hy sien tog die effense erns in haar oë en vererg hom. Omdat hy weet dat hy dinge van haar weerhou, is hy kortgebaker. Hy weet ook nie hoekom hy haar nie vertel van Karina en klaarkry nie. Daar is mos niks om weg te steek nie. Maar dis asof hy onwillig is, omdat hy weet sy sal nie genoeë daarmee neem nie. Rhona is ’n baie selfsugtige vrou. Dit weet hy, en hy het al gewonder of hy die regte ding gedoen het toe hy sy ring aan haar vinger gesteek het.
Sy sien dat hy hom vererg, en kyk hom ondersoekend aan. De Waal is deesdae baie kortgebaker. Sy het die afgelope tyd meer van hom verdra as wat sy ooit gedink het sy van enige man sou verdra. Hy is afgetrokke wanneer hy by haar is, partykeer selfs koel.
“Ek terg jou maar, ou knorpot. Ek sal môre saamry. Dan is die pad nie so lank vir jou nie. Gaaf van my, nè?”
“Dit is nie nodig nie. Daar ry reeds iemand saam.”
“O …” Sy frons. “Mag ek weet wie jou reisgesel is?”
“Tant Miemie het gevra om saam te ry,” sê hy skerp.
“Ek sien. Al weer jou tant Miemie.”
Hy frons onheilspellend. “Rhona, as jy my lewe wil deel, sal jy moet aanvaar dat tant Miemie jou skoonma gaan wees. Ek het jou reeds gesê.”
“Ek weet. Dat sy jou so te sê grootgemaak het. Maar jy bly nie meer in die onderdorp nie, De Waal. Wanneer gaan jy jou daarvan losmaak?”
“Hoekom moet ek? Daar is niks in tant Miemie se lewe waarvoor ek skaam hoef te wees nie. Ek is ’n kind van die onderdorp …”
“Maar jy het dit nie gebly nie! Is dit nodig om gedurig terug te gaan daarheen?”
Hy sug. “Jy sal nie verstaan nie. Ek kan my nie losmaak van die hand wat my gevoed het nie, al het daardie hand net ’n sny brood met appelkooskonfyt na my uitgehou. Maar ek onthou vandag nog die honger en hoe lekker daardie sny brood en konfyt gesmaak het. Ek kan ook nie vergeet dat tant Miemie my klere vir my gelap het toe ek nie meer ’n ma gehad het om dit vir my te doen nie. Watter soort mens, dink jy, sal ek wees as ek haar, noudat dit met my beter gaan, sommer vergeet en ignoreer?”
Rhona gooi haar hande in die lug. Sy weet sy wen nooit ’n argument wanneer tant Miemie ter sprake kom nie. “Goed. Goed. Maar jou gekuiery in die onderdorp staan my nie aan nie. Hoekom koop jy dan nie vir haar ’n huis in die beter deel van die dorp en help haar só nie?” Sy sug. “O, goed, kom ons los dit. Maar ek dink tog ek gaan môre saamry.”
“Ek gaan ’n klomp goed saam terugbring en daar sal nie plek wees nie.”
“Watse goed?”
“Dis my saak, Rhona.”
Met hul oë meet hulle mekaar.
“Ek begin agterdogtig raak oor jou sake, De Waal.”
“As jy wil insinueer dat ek besig is met iets onwettigs …”
“Moenie verspot wees nie!” Sy spring op, openlik vererg. “Ek dink jy moet liewer gaan voordat ons regtig baklei.”
“Ja, dis miskien beter so.” Hy staan ook dadelik op.
Sy verloofde sluk. Hy lyk voorwaar verlig om te gaan! De Waal is die eerste man wat sy nie om haar pinkie kan draai nie. Sy is nie gewoond aan hierdie soort behandeling nie. Maar … dit maak dit net meer opwindend. Die ander het haar so gou verveel. Sy haak skielik by hom in op pad na sy motor, glimlag mooi vir hom. “Wanneer gaan ons ons huis se planne begin optrek, skat? Die erf is al maande gelede gekoop, maar jy bly so aan die gang dat ons nog nooit by die beplanning van die huis uitgekom het nie.”
“Sodra dinge weer kalm is.”
Watter dinge moet eers kalm word? wil sy vra, maar swyg dan liewer en bied hom haar lippe aan. Maar sy mond is styf en gespanne op hare en hy vertrek dadelik, en haar blik volg hom onseker. Iets is verkeerd. Vir die eerste keer in haar lewe ervaar Rhona ’n tikkie onrus. Tot dusver het alles nog in haar skoot geval. Alles … behalwe De Waal Venter. En vir hóm wil sy nie verloor nie.
De Waal besef eers waarheen hy gery het toe hy op die bult stilhou. Hy klim uit en kyk om hom heen. Hy staan op ’n pragtige seestandplaas – die erf wat hy en Rhona maande gelede uitgesoek het om hul huis op te bou.
Sy oë vernou terwyl hy verder om hom kyk. Hier kan ’n mens ’n lieflike plek bou, met terrasse wat byna tot aan die strand loop. Hier sal die seewindjie koel waai as dit baie warm is. Hierdie is ’n ideale plek vir … Karina.
Daar kom ’n peinsende uitdrukking op sy gesig. Rhona het hom onwetend vanaand op ’n gedagte gebring. Eendag sal Karina uit die hospitaal ontslaan word. Dan sal sy moet terugkeer na die ou skakelhuisie toe waar sy grootgeword het. Dit gaan baie ongerieflik wees. Sy sal in ’n rolstoel wees, en dis so beknop daar, en die voorstoep het treetjies. Die bure met die klomp klein kindertjies is so vas teenaan hulle. Dit gaan vir Karina onhoudbaar wees. Sy kan nie terug na daardie ou skakelhuisie toe nie. Maar hier … hier sal sy darem die lied van die branders kan hoor en die seemeeue hoor skree.
Dis die minste wat hy vir hulle kan doen, dink hy. Hy kan dit darem ’n bietjie geriefliker vir hulle probeer maak, ’n bietjie draagliker. Daar is genoeg wat daardie twee mense uit sy kinderdae in die toekoms sal moet verduur. Hy en Rhona kan maar weer later vir hulle ’n standplaas uitsoek.
Met die dokter se toestemming val tant Miemie en De Waal die volgende oggend in die pad.
De Waal het haar vooraf gewaarsku dat sy genoeg klere moet saamvat om ’n rukkie by Karina agter te bly. Hy kon die onsekerheid in haar oë lees en het haar dadelik gerusgestel.
“Karina het mos ’n woonstel. Tante kan daar bly, en ek sal reël dat tante gereeld vervoer word na en van die hospitaal.”
“Dit sal baie geld kos, De Waal.”
“Moenie tante daaroor bekommer nie.”
“Ai, my kind …”
“Tante, ek weet tante is een van die weinige mense op aarde wat liewer gee as ontvang. Maar soms moet ’n mens ook kan ontvang. Om op die regte manier te ontvang, is miskien ’n groter kuns as om so bevoorreg te wees om altyd net te wil gee.” Hy glimlag in haar bekommerde oë af. “Kom ons sê dis maar net brood op die water wat nou na vele dae terugkeer.”
Maar tant Miemie voel nie gelukkig nie. “’n Mens kan soms te duur vir brood betaal, my kind.”
“Nee, tante, nooit te duur wanneer jy regtig honger is nie. Maar dis tydelike dinge, tante. Dis nie nou van belang nie. Wat nou van belang is, is Karina. Sy moet gesond word. Ek het gister ’n oproep van haar dokter gehad. Hy is bekommerd. Karina is in ’n verskriklike negatiewe gemoedstoestand. Prontuit gesê, sy wil nie meer lewe nie. Sy wil nie veg nie. Sy wil nie praat nie. Sy wil niemand by haar hê nie. Ek moet tante vooraf waarsku sodat tante kan weet wat om te verwag. Daar gaan baie van tante geverg word hierdie eerste ruk. Daarom neem ek tante vandag na haar toe. Tante moet net op haar konsentreer. Moet tante nou nie bekommer oor geld en wat alles betaal moet word nie. Dit is die minste.”
Tant Miemie swyg, knik, kyk na die sterk profiel langs haar. Jare gelede was hy verspot lief vir Karina. Sy was sy klein godin. Maar hul paaie het uitmekaar gedraai, en was dit nie vir hierdie ongeluk nie, sou hulle seker nooit weer gekruis het nie. Karina het hom heeltemal afgesterf. Sy het nooit na hom verneem nie. Dit was asof sy haar ou maat vergeet het.
Die afgelope jare het De Waal self ook net uit blote beleefdheid soms na haar welstand verneem. Hy het intussen verloof geraak aan ’n skatryk afgetrede nyweraar se dogter.
Maar nou is hy baie gaande oor Karina. Sou dit wees omdat hy so ’n sterk verpligting teenoor haar ma voel? Of is dit maar net omdat hy nou die geleentheid sien om te kan vergoed vir wat sy vir hom gedoen het in sy moeilike kinderjare?
Tant Miemie sug saggies, kyk by die venster uit. Dis waar wat De Waal gesê het. Vir haar is dit nog altyd ’n swaar ding om te ontvang. Sy gee liewer. Dit is vir haar baie makliker. Sy weet ook dat Karina swaar van De Waal gaan ontvang, want Karina het hom doelbewus uit haar lewe weggestoot. Sy het hom geminag.
Asof hy kan raai wat in haar gedagtes omgaan, sê De Waal: “Tante, daar is iets wat ek tante wil vra. Ek wil nie hê tante moet Karina sê dat ek tante ’n bietjie finansieel gaan help en so aan nie. Moet haar ook nie vertel wat ek doen nie. Sê vir haar, ás sy vra, ek is ’n boekhouer op die dorp. Dis genoeg.”
Tant Miemie lyk verward. “Maar hoekom?”
“Sommer net. Omdat ek dit vra. Asseblief.” Hy weier om haar in die oë te kyk. “Ek voel dit is beter so. Moet haar nie vertel ek is verloof nie. Dis in elk geval nie van belang nie – nie vir haar nie.”
Tant Miemie frons. “Is jy bang sy sal hulp weier as sy weet dit kom van jou af?”
“Ja,” antwoord hy eerlik. “Ek dink so. In die gemoedstoestand waarin sy nou is, sal sy.”
“Goed, my seun. As jy werklik dink dis nodig …”
Dat De Waal gelyk gehad het in hierdie vermoede van hom, vind hulle uit toe tant Miemie by haar kind toegelaat word. Toe sy haar van haar dogter se krampagtige omhelsing losmaak en dapper die trane probeer keer, sê sy met bewende lippe: “De Waal moes stad toe kom en toe het ek sommer saam met hom gekom. Hy is hier buite. Hy sal seker net wil groet …”
“Nee! Nee, ek wil hom nie groet nie. Ek wil niemand anders hier hê nie!”
“Maar, my kindjie …”
“Asseblief, Mamma, nee! Ek wil niemand hier hê nie. Net vir Mamma. Moenie dat hy inkom nie.”
Tant Miemie en De Waal se oë ontmoet waar hy stil in die deur staan. Dan knik hy gerusstellend en draai sag om. Tant Miemie kyk hartseer op haar dogter af, soek na ’n skynseltjie herkenning in die blinde oë. En sy weet dat, hoe sterk Karina ook al oor hierdie saak voel, sy self nie sonder De Waal se hulp deur hierdie trauma sal kom nie. Sy sal De Waal se helpende hand moet neem, want die kruis gaan te swaar wees vir haar om alleen te dra. Net – Karina mag dit nooit weet nie.