Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 10

7

Оглавление

Soos Ben voorspel het, is die koors die volgende oggend gebreek en is Tinkie heelwat beter. Marlene is egter dankbaar dat dit Sondag is, sodat sy haar veiligheidshalwe nog ’n dag in die bed kan hou.

Toe Ben, vergesel van Hennie en Josephine, die oggend ná kerk by haar woonstel instap, moet sy haarself ernstig betig oor die spontane gevoel van teleurstelling omdat hy nie alleen gekom het nie.

Regtig, ek is erger as ’n bakvissie, gesels sy kwaai met haarself en beantwoord sy vraag half stug.

“Nee, sy het toe die res van die nag baie rustig geslaap. Sy is sommer baie beter, maar ek dink ek sal haar maar vandag nog in die bed hou.”

“Miskien sal dit beter wees, ja.”

Hennie lyk teleurgesteld. “Ons het gedink jy en die kleintjie kan saam plaas toe kom. Ons gaan almal vandag daar eet.”

Maar Marlene skud haar kop beslis, heimlik dankbaar dat dit nie moontlik sal wees nie. “Dankie, Hennie, maar ek dink ons bly maar vandag tuis. Baie dankie vir die uitnodiging, in elk geval. Sê groete op die plaas.”

Die dag strek leeg voor haar uit, hoewel sy haar bes doen om opgewek voor te kom en vrolik met Tinkie te speel. Sy wonder hoe lank Josephine gaan kuier …

Toe daar laat die middag ’n ligte klop aan haar woonsteldeur opklink, begin haar hart opgewonde bons. Op pad voordeur toe moet sy haarself weer vermaan. Hoekom sal hy so vroeg terugkom net om te hoor hoe dit met Tinkie gaan? Hy het mos vanoggend gesien sy is so te sê gesond. Natuurlik is dit seker maar een van die susters.

Sy kan die man voor haar net aanstaar, sodat Herman Henning se glimlag verdwyn en hy liggies begin frons. Hy kon sweer hy het teleurstelling in haar oë gelees.

“Is ek ontydig of glad nie welkom nie?”

“Herman! My aarde, Herman!” Sy tree spontaan vorentoe en hy neem haar in ’n stewige omhelsing.

“Ek het die indruk gekry ek is nie welkom nie.”

Sy skud haar kop en druk haar gesig teen sy bors vas sodat hy nie die skuld in haar oë kan lees nie. Agter sy nek strengel haar vingers saam en die man wat om die hoek kom, verstil in sy spore.

“Natuurlik is ek bly om jou te sien! Hoe kan jy nog vra! Maar dis so onverwags!”

“Ja, ek het besluit om jou te kom verras. Ek verlang so verskriklik na jou, Marlene, en … jou briefies is so niksseggend. Ek het besluit om self te kom kyk wat hier aangaan. Mis jy my ook?”

“Natuurlik. Maar kom binne. Tinkie sal vreeslik bly wees om jou te sien. Sy is vandag in die bed, was gisteraand ’n bietjie koorsig …”

Die deur gaan agter hulle toe en Ben draai in sy spore om. Sy oë rus op die registrasienommer van die vreemde motor wat voor die verpleegsterstehuis geparkeer staan. Dan stap hy na sy eie motor en trek baie bedaard weg.

Tinkie is bly om oom Herman weer te sien, maar haar aandag is verdeeld. Sy kry eers vandag kans om met haar nuwe pop te speel en sy wens stilletjies dat oom Herman liewer môre gekom het. Sy is nog glad nie uitgespeel nie. “Ek was siek,” kondig sy aan en hou haar pop omhoog. “Oom dokter Ben het haar vir my gegee, kyk!”

“Dis ’n baie mooi pop,” speel hy saam, maar sy oë gaan dadelik na Marlene. “Hoe gaan dit hier met … die ander mense?”

“O, goed, heeltemal goed. Ek werk lekker, vind dit baie stimulerend.”

“Dis nie wat ek bedoel het nie en jy weet dit.”

Haar oë huiwer voor syne. Dan sug sy saggies. Herman moes nie so gou al gekom het nie … “Ja, ek weet, maar ons praat liewer later daaroor. Hoe gaan dit tuis?”

“Goed. Hulle verlang natuurlik ook baie, nes ek. Het baie groete en liefde laat weet.”

“Dankie.” Dis stil, en Marlene wonder wat haar makeer. Dis of sy niks het om oor te gesels nie. “Kan ek vir jou iets te drinke kry? Wanneer het jy gekom?”

“Nou net. Ek het gedink ek sal maar eers hier stilhou en hoor … ek bedoel, uitvind of ek ’n paar dae kan bly.”

“Het jy verlof geneem?”

“Ja. So vier dae.”

“O, maar dis gaaf, Herman!”

“Is dit, Marlene? Is jy seker?”

Sy lag en hoop maar dit klink oortuigend. “Moenie laf wees nie. Natuurlik is dit wonderlik! Ek is net so jammer ek sal deur die dag moet werk.”

“Dit maak nie saak nie.” Hy glimlag, maar dis of dit nie sy oë bereik nie. “’n Koppie koffie sal nou lekker smaak.” Marlene is dankbaar om onder sy speurende oë uit te kom. Terwyl sy koffie maak, sien sy hoe haar hande bewe en sy kan nie begryp wat haar makeer nie. Van wanneer af is sy senuweeagtig in Herman se geselskap? Hy is ’n wonderlike vriend – die enigste wat sy het – en hy was nog altyd baie na aan haar, altyd so simpatiek en begrypend. Hoekom wens sy dat hy liewer nie gekom het nie?

Dis gemeen van haar.

Terwyl Marlene onnodig lank draai in die klein kombuisie, het Tinkie heelwat te vertelle van al die nuwe dinge wat sy al gesien en ervaar het sedert hulle op Rondekuil beland het. “Oom Hennie” en “oom dokter Ben” se name kom dikwels voor en hy luister aandagtig, sy oë peinsend.

“En toe sê hy hy sal vir ons geld leen, maar toe sê ek vir hom Mamma sal nooit dat ons geld by hom vat nie en toe sê hy Mamma is hardgebak …”

“Tinkie!” Marlene kom binne met koffie en sy kyk die kleintjie streng aan, ’n blos op haar wange. “Jy het darem ’n vreeslike los mond! Jy is erger as ’n praatsiek papegaai. Oom Herman wil nie al daardie kaf hoor nie!”

“Inteendeel. Dis nogal … onderhoudend.” Hy neem die koffie by haar. “Dankie. Dit sal lekker smaak. Tuisgebakte beskuit ook!”

“Ouma Tabaksfontein het dit gegee, ’n hele blik vol. Sy stuur altyd vir ons saam met oom Hennie of oom dokter Ben.”

“Tinkie, asseblief. Hou nou ’n slag jou mond en drink jou melk.”

“Hoekom so fyngevoelig, Marlene? Sy gesels maar net, vertel van al die nuwe mense en … vriendskappe wat julle intussen gesluit het.”

Marlene kyk hom half vererg aan. Herman moenie sarkasties raak nie.

“Wat makeer, Marlene? Jy lyk ontsteld. Mag ek nie weet van oom Hennie met die skapies en varkies of van oom dokter Ben wat ’n pop gekoop het nie?”

“O, in hemelsnaam, Herman, moenie jy ook begin nie!” Dan byt sy haar onderlip vinnig vas. “Ek is jammer. Ek het verlede nag sleg geslaap met Tinkie wat nie gesond was nie en … Ag, los dit. Jy lees te veel in Tinkie se gebabbel. Daar is geen danige vriendskappe gesluit nie. Hennie is net ’n gawe jong boer wat ons eendag uitgeneem het plaas toe om vir Tinkie al die diere te gaan wys omdat sy nie sulke goed ken nie. Dis al.”

“En jy sou gisteraand saam met hom gaan dans het as Tinkie nie siek was nie.”

Haar oë gaan beskuldigend na Tinkie wat die twee grootmense geïnteresseerd vanuit die bed dophou. Sy verstaan nie heeltemal nie, maar dit lyk vir haar hier gaan ’n lollery kom. Hoekom is Mamma kwaad omdat sy vir oom Herman vertel het?

“Ja, ek sou. Enige objeksies?”

Daar is nou ’n hewige frons tussen oom Herman se oë en Tinkie hou hom fyn dop. Gits! Oom Herman begin nou óók hardgebak lyk!

“Marlene, ek begryp jou houding glad nie. Ek het niks gesê nie, maar jy is onmiddellik op die verdediging.”

“Ek is nie op die verdediging nie!”

Sy oë is stil. “Dan kan ek nie begryp hoekom jy so fyngevoelig is nie. Wat daarvan as jy ’n jong boer leer ken het? Ek het nie verwag dat jy jou in jou kamer moet toesluit sodra jy van diens af kom nie. Jy was geensins gebonde toe jy die dag hierheen gekom het nie. Ek het jou hierheen laat kom om sekerheid oor ’n spesifieke saak te kry, onthou jy?”

Marlene se blik sak en dan kyk sy verskonend op. “Ek is jammer, Herman. Ek was onnodig kortgebaker. Dis net … Hennie is regtig net ’n toevallige vriend, niks meer nie.”

Hy knik. “Goed. Ek aanvaar jou woord.” Hy neem sy koppie koffie en sy draai na hare, maar albei is intens bewus van die ander man in Tinkie se vertellings en dat oor hóm niks gesê is nie. Ook later, toe Tinkie slaap en hulle in die sitkamer gaan sit nadat Herman vir hom plek in die hotel bespreek het, word Ben Roux se naam nie genoem nie, hoewel hulle weet dat hy ’n sentrale plek in hul gedagtes inneem. Maar Marlene weier om oor hom te praat en Herman Henning is in ’n diep peinsende stemming toe hy daardie aand afskeid neem.

Toe hy haar by sy motor groet, neem hy eers haar ken in sy hand en kyk diep in haar oë af. “Marlene, ek wil nie dinge vir jou kompliseer nie. Wees eerlik met my. Ek kan môreoggend teruggaan sonder dat enigiemand hoef te weet dat ek hier was.”

Meteens is hulle weer na aan mekaar en bring sy begrip trane in haar oë. Wat ’n wonderlike, dierbare mens is Herman Henning nie. Hoekom … hoekom kan sy hom tog nie met haar hele wese liefkry nie?

“Jy sal niks kompliseer nie, my vriend. Bly gerus hier en kuier by my en Tinkie vir so lank jy wil. Dit sal geen verskil maak aan … enige ander mens nie.”

Maar hy is nie heeltemal tevrede nie. Sy oë bly priemend. “Is jy seker my teenwoordigheid hier sal niks omkrap nie?”

“Nee. Dit sal nie. Jy het my woord.”

Hy soen haar nag en vertrek, maar lank daarna lê Marlene nog met oop oë en wonder wanneer haar hart wysheid sal leer …

Die volgende oggend is Herman daar toe sy werk toe gaan, en hoewel sy selfbewus voel om hom saam met haar die hospitaal in te neem, besef sy ook dat hy nie bloot uit nuuskierigheid saamstap nie. Dit is per slot van sake ook sý wêreld hierdie.

Matrone lyk beïndruk om ’n chirurg uit die stad in haar hospitaaltjie te ontvang en sy neem hom met trots daardeur. Weer, soos met Tinkie, is ook haar uitweidings deurspek met ’n sekere dokter se naam en sy is onbewus daarvan dat hy met meer as blote professionele belangstelling na al hierdie besonderhede luister.

Toe hulle terugkom in haar kantoor, is die dokters reeds daar vir hulle hospitaalrondes en dokter Ben en Piet Venter wag vir die operasielys wat afgehandel moet word.

Herman Henning is bewus van die belangstelling waarmee hy bejeën word, veral omdat suster Roux nog nooit laat val het van haar verbintenis met hom nie. Hy glimlag meewarig teenoor homself. Die feit dat Marlene nie verkondig het dat sy ’n goeie vriendskap met ’n dokter in die stad het nie, is geensins komplimenterend of aanmoedigend nie. Sy blik is ondersoekend toe hy aan Rondekuil se chirurg voorgestel word.

“Indien u belangstel en daarna voel, kan u saam teater toe kom, dokter Henning,” is die onverwagse uitnodiging.

Herman knik dadelik. Hy sal graag hierdie man wil sien opereer. “Dankie, dokter Roux. Met graagte.”

Marlene is verbouereerd toe sy hulle saam in die teater sien verskyn. Maar tog het sy so half verwag dat Herman hier sou opdaag, want die teater is sy lewe. Sy kyk hoe hulle binnestap en haar hart mis ’n slag. Dus het hulle al ontmoet …

Hy kyk reguit na haar. “Suster, help dokter Henning aan teaterklere, asseblief.”

Sy knik net, ontwyk Herman se blik en voer die bevel uit. Agter die masker glimlag Herman half weemoedig. “Dan gaan ons darem weer ’n slag saam onder die ligte staan?” sê-vra hy en glimlag. “Ek mis jou geweldig, ook in die teater, Marlene.”

“Indien u haar leermeester was, moet ek u gelukwens. Suster Roux is uiters bekwaam.”

Marlene staar openlik verbaas na hom. Van wanneer af is Ben Roux vol komplimente?

Hy kyk haar nou direk aan. “Ek het gewonder waar sy aan alles kom met dié dat sy maar pas gekwalifiseer het. Nou verstaan ek natuurlik.” Hy keer sy rug op haar. “Sal u asseblief vasmaak, suster?”

Sy weet dat hy die bewing in haar vingerpunte moet voel terwyl sy die bandjies van die teaterjas vasmaak.

“Ek en suster Roux was ’n lekker span. Ons verstaan mekaar uitstekend.”

Die manier waarop Herman dit sê, laat blyk duidelik wat hy bedoel en die stywe kopknik wat hy ontvang, vertel hom dat Ben begryp.

Niks ontglip Herman gedurende die operasie wat volg nie. Terwyl die wond later toegewerk word, sê hy: “As u my sal verskoon dat ek so reguit is, dokter, maar ’n man soos u is vermors in ’n hospitaaltjie soos hierdie.”

Ben Roux trek die masker van sy gesig af en die twee mans kyk mekaar takserend aan. Dan glimlag Ben wrang. “Dankie, dokter Henning, maar ek verkies ’n hospitaaltjie soos hierdie. Hier is die lewe vir my net so belangrik soos in enige stad.”

Herman knik. “Natuurlik. Maar u is in staat om groter hoogtes te bereik met behulp van die fasiliteite wat ’n modern toegeruste hospitaal bied.”

Net vlugtig kyk hy na Marlene. Dan antwoord hy stil: “Om die hoogtes te bereik, dokter Henning, moet ’n mens dikwels belangrike dinge inboet. In die meeste gevalle verloor jy soveel op pad boontoe dat dit vir jou net ’n holle prestasie is wanneer jy wel eendag bo kom. Dan besef jy dat jy meer verloor het as wat jy gewen het. Ek is heeltemal tevrede op Rondekuil, dankie.”

Herman sê niks hierop nie, en Ben gee net ’n stywe knik toe hy die teater verlaat.

Hul oë ontmoet en dan sê Herman afkeurend: “Selfs jý behoort te besef dat hy hier vermors is, Marlene. Die man is briljant.”

Sy knik en hou haar besig met die sterilisator. “Ja, ek weet, Herman, maar Ben sal nooit teruggaan stad toe nie.”

En ek wil ook nie hê hy moet teruggaan nie, voeg sy amper by, maar keer die woorde net betyds, want dit sal Herman nie verstaan nie. Nee. Hoe sal hy dit kan begryp, as sy dit self nou eers besef en wonder wanneer sy só oor Rondekuil en die lewe hier begin voel het? Waar sy haar man wou dwing om in die stad te bly, is sy nou glad nie te vinde vir die gedagte dat Ben dalk tog weer na die stad sal wil terugkeer nie. Maar dan besef sy verlig: Ben sal nie gaan nie. Hy is heeltemal tevrede op Rondekuil, dankie.

En dis wat sy ook is, besef sy meteens: Heeltemal tevrede op Rondekuil. Sy frons verbaas. Sy besef eers op hierdie oomblik hoe gelukkig sy hier is. Sy verlang na haar ouers, maar glad nie na die stadslewe nie, en nog nie eens een keer het sy winkelsentrums en vermaak gemis nie. As daar net vir haar ’n toekoms op Rondekuil was, sou sy vir altyd hier kon bly!

Sy is bewus van Herman se skerp blik op haar en sê gemaak ongeërg: “Ons gaan nou eers saam met matrone tee drink. Sy het ons genooi. Kom.”

Dit lyk of hy iets wil kwytraak, maar dan besluit om liewer te swyg.

In matrone se kantoor laat Piet Venter plaend hoor, onbewus daarvan dat hy op ’n baie delikate onderwerp is: “Ek hoop nie u is van plan om ons teatersuster gou hier weg te lok nie, dokter Henning. Dokter Roux sal niks daarvan hou nie.”

Herman glimlag beleef, maar hy kyk na die ander man toe hy antwoord: “As dit van mý afhang, dokter, neem ek haar saam met my terug wanneer ek weer vertrek. Ek dink sy is ook vermors op hierdie klein plekkie.”

Marlene kyk hom ietwat vererg aan. Sy wens Herman wil nou ophou met daardie storie. Die Rondekuilers is lojale mense. En sy hou glad nie daarvan dat hy so blatant openlik met sy skimpe is nie.

“Miskien voel suster Roux ook reeds dat sy ’n fout begaan het om haar talente op ons te kom vermors, en neem dit nie veel oorreding van u kant om haar saam terug te neem nie,” kom dit koel van Ben.

Alle oë draai na Marlene en sy bloos vererg. Hierdie twee mans moet haar nie as speelbal gebruik nie. Sy kyk ewe koel terug. “Moontlik, dokter Roux. Of miskien besluit ek om Rondekuil nog ’n kans te gee. Dit hang alles af …”

Die telefoon lui meteens en sy is dankbaar vir die onderbreking. Sy kon sien Ben is gereed om haar in ’n hoek vas te keer.

“Dis vir jou, suster Roux,” sê matrone.

Dis Hennie. Hy wil weet hoe dit met Tinkie gaan en of hy hulle nie vanaand vir ’n rukkie kan kom haal nie.

“Ek is bevrees nie, Hennie. Nie vanaand nie. ’n Vriend van my kuier hier en …”

“’n Vriend? Wie is hy?”

Marlene byt haar onderlip vererg vas. Wat gaan met die mansmense aan? En sy wens Hennie wil leer om sagter oor die foon te praat!

“Dis dokter Herman Henning van die stad.”

“’n Dokter? Is hy ’n spesiale vriend of … sommer maar net so?” Hennie klink duidelik onrustig en Marlene trek haar asem in terwyl sy voel hoe die bloed teen haar gesig begin opstoot. “Wel … dankie vir die uitnodiging, Hennie, maar …”

“Nee, wag eers! Moenie neersit nie. Julle kan mos maar nog altyd uitkom. Bring jou vriend en sommer vir Ben ook saam. Josephine sit en verveel haar hier.”

“O, maar ek weet nie of dokter Henning en dokter Roux sal belangstel om saam te kom plaas toe nie,” en sy kyk vraend van die een na die ander.

“Ek neem die uitnodiging aan en ek is seker dokter Henning sal dit interessant vind om een van ons spogplase te sien, of hoe, dokter?”

Herman knik ewe geredelik. Ja, hy sal graag hierdie Hennie wil ontmoet. “Ja, seker. Dit klink interessant genoeg volgens wat Tinkie vertel.”

Marlene het geen keuse nie, en siedend sê sy dan maar: “Dankie, Hennie. Die mans neem jou uitnodiging aan. Totsiens.”

Nog ’n skok wag op haar. Ben Roux is blykbaar baie begaan dat Herman hom miskien kan verveel op Rondekuil.

“Ek moet ’n paar plaasbesoeke doen, dokter Henning. As u belangstel, kan u saamry. Dan sien u sommer iets meer van ons geweste.”

Herman staan dadelik op. “Baie dankie. Ek sal graag saamgaan.”

Vir die res van die dag voel Marlene onrustig. Sy hou glad nie van die idee dat Herman en Ben so lank alleen in mekaar se geselskap is nie. Daar is ook nie juis tyd om te probeer uitvind waaroor hulle die hele tyd gesels het toe Herman daardie aand by die verpleegsterstehuis aankom nie. Hy en Ben stap saam haar woonstel binne.

“Ek het gedink ons kan maar met my motor ry,” laat Ben gulhartig hoor en sy voel glad nie dankbaar nie. Sy sou verkies het dat sy en Herman alleen plaas toe ry. Maar weer moet sy haar maar stilswyend skik.

Die hele ent pad na Tabaksfontein sit sy stil en luister hoe lekker die twee mans gesels. Vanoggend was daar ’n duidelike spanning tussen hulle, maar blykbaar het hulle mekaar gedurende die plaasbesoeke beter leer ken en gevind. Sy vertrou Ben Roux se joviale houding egter glad nie. Hierdie danige vriendelikheid is nie om dowe neute nie, dit kan sy sweer. Weer voel sy die onrus in haar roer. Sy hoop tog nie Herman het onwetend sy mond verbygepraat nie. Maar Ben se houding verraai niks nie, en ook Herman laat niks blyk nie.

Die res van die aand lê soos ’n berg voor Marlene. As die mans haar stilswye opmerk, laat nie een dit blyk nie. Ook op die plaas is sy stil, maar Josephine hou die geselskap só aan die gang dat niemand dit blykbaar agterkom nie. Dat Hennie die ander man goed deurkyk, is duidelik, en op sy beurt word hy ook goed beskou. Dan ontspan Herman Henning. Soos Marlene gesê het: Hennie is net ’n gawe vriend. Hy voel gerus oor hom. Hier skuil nie werklik gevaar nie.

Oor die donker meisie maak hy ook sy eie gevolgtrekking. Hy glo dat die pragtige Josephine nie sal omgee as daar meer as vriendskap tussen haar en die dokter van Rondekuil ontwikkel nie.

Intussen het Tinkie weer op Ben se skoot geklim en aan die slaap geraak asof sy daardie plekkie vir haar uitgesoek het.

“Dokter Henning, hoe is dit dat ek jou nooit in die stad raakloop nie?” wil Josephine op haar kenmerkend reguit manier, wat haar grootouers tog so kan skok, weet. Maar hierdie keer betig haar ouma haar nie. Die vreemde dokter lyk meer na Josephine se maat as Ben. Laat sy liewer ’n vriendskap met hom sluit, besluit tant Miemie, as dat sy dalk vir Ben van Rondekuil af weglok. Dat hierdie ander dokter spesiaal vir Marlene kom kuier het, kan haar nie skeel nie. Hulle is klaar al so lief vir Marlene en Tinkie, sy sal glad nie omgee as hiérdie vriendskap skipbreuk ly nie.

Herman glimlag. “’n Gebarste blindederm opereer jy nie op die dansvloer nie, juffrou.”

Josephine lag ingenome. Glad nie sleg nie. “Maar dink jy nie ’n dansonderwyseres behoort gereeld haar blindederm te laat nasien nie?”

Herman speel saam. “Beslis! Daar kan komplikasies intree indien dit besluit om nie saam te dans nie.”

Hoe later dit raak, hoe meer openlik koketteer Josephine met die nuwe gas. Marlene kyk maar net swygend toe. Sy word nie om die bos gelei nie. Hierdie speletjie word spesiaal gespeel om Ben jaloers te maak. Met ’n dowwe pyn besef Marlene dat sy wel daarin slaag. Ben Roux het later ’n taamlike frons tussen sy wenkbroue en raak ook opmerklik stil. Met ’n ontevrede uitdrukking beskou hy Josephine en Herman en as hy na haar kant toe kyk, slaan Marlene haar ooglede vinnig neer. Hy moet tog nie agterkom dat sy besef dat hy jaloers is nie!

Oënskynlik is dit ’n baie gesellige aand, maar Marlene is innig dankbaar toe dit tyd word dat hulle moet gaan. Daar word nie veel op pad terug gesels nie.

“Dié Josephine lyk na ’n platjie van ’n mens. So vol dinge,” probeer Herman gesellig wees. Maar nie een van die ander twee het iets hierop te sê nie en toe hulle die verpleegsterstehuis bereik, is Marlene baie haastig om by haar woonstel te kom. Ben dra Tinkie kamer toe en Marlene en Herman bly in die sitkamer agter.

“Het ek iewers verbrou? Jy lyk ontevrede.”

Haar oë is beslis nie vriendelik nie. “Nee, natuurlik nie. Dis maar net laat en … ek voel moeg. Môre moet ek al weer werk wanneer jy nog lê en slaap.”

Herman se oë is skerp. “Ek dink nie ek sal laat kan slaap nie. Josephine het gesê sy kom haal my vir die dag. As jy nie sal omgee nie, natuurlik.”

“Nee. Hoekom sal ek?”

Hy neem haar aan die skouers. “Marlene, jy is tog nie jaloers nie, is jy? Ek het maar gedink jy moet die hele dag werk en …”

“Moenie verspot wees nie, Herman. Ek is nie jaloers nie. Geniet jou dag.” Sy breek stomp af toe Ben hom weer by hulle voeg. “Nag, Herman. Nag, dokter Ben. Dankie vir die uitneem plaas toe. Dit was lekker.”

Sy fronsende oë vertel haar duidelik dat hý niks lekkers daaraan gevind het nie.

Die volgende oggend betrap sy Ben se blik dikwels op haar, maar dis eers toe sy alleen in die skropkamer is, dat hy agter haar sê: “Marlene, ek is jammer oor gisteraand.”

Haar blik vlieg verbaas na hom op en vir die eerste keer sien sy hom selfbewus en is die skewe glimlaggie wat altyd so aan haar hart kon ruk in sy een mondhoek. “Ek bedoel Josephine en … jou Herman …”

Sy voel hoe die blos teen haar wange opskiet, maar sy probeer haar onnosel hou. “Ek begryp nie waarna jy verwys nie, dokter. Daar het mos niks gebeur nie …” Sy kyk vinnig weg. “Hy is ook nie mý Herman nie. Hy is vry om te doen soos hy wil.”

“O?” Dis ’n rukkie stil. “Ek het die indruk gekry dat julle … wel, dat daar ’n besonder hegte vriendskap tussen julle is. Ek wou maar net sê Josephine bedoel nie die helfte van die dinge wat sy sê nie en … dis maar haar geaardheid om so te korswel.”

Marlene probeer haar kalmte herwin. Dis vir haar baie duidelik dat hy onder die indruk is dat sy jaloers is oor Josephine se eiegeregtige houding met Herman. Hoe kan hy weet dat dit aan haar geen bloue duit skeel nie, maar dat dit die wete is dat hy, Ben, jaloers is op Josephine wat haar seermaak en ontstel? Want as ’n mens jaloers is, moet jy omgee. ’n Mens is tog nie jaloers op iemand vir wie jy niks voel nie! En hy, Ben, was gisteraand beslis ergerlik!

Dis omdat sy so bang is dat hy sal agterkom waaroor sy werklik ontsteld is, dat sy killer en ongenaakbaarder klink as wat sy besef.

“Dokter, jy hoef jou regtig nie oor my te bekommer nie. Ek is heeltemal in staat om na myself om te sien.”

Sy sien sy gesig onmiddellik verstrak, en sy stem is net so formeel: “Jammer, suster. Ek het net gedink ek sal jou gerusstel …”

“Ek het geen gerusstelling nodig nie, dankie.”

“Ek begryp.”

Maar wat hy begryp, weet sy nie en gee ook nie om nie. O, sy wens sy het nooit Rondekuil toe gekom nie!

Daardie aand wens sy dat Josephine aan nog iets kon dink om Herman se aand ook in beslag te neem, sodat sy nie nodig het om dit saam met hom deur te bring nie, want sy weet dat Herman haar in ’n hoek gaan dryf. Die hele dag al tob sy hieroor en nog steeds het daar vir haar geen lig opgegaan nie. Sy voel geestelik uitgemergel teen die tyd dat hy die woonstel binnestap.

Noudat sy seker is waar Ben Roux se belangstelling lê en dat daar vir haar geen hoop bestaan nie, besef sy dat sy nie so kan voortgaan nie. Sy sal nou oor haar en Tinkie se toekoms moet besluit. Dis ook nie regverdig teenoor Herman om hom langer aan ’n lyntjie te hou nie.

“Die dag geniet?” vra sy ongeërg sonder veel werklike belangstelling.

“Ja. Dit was nogal lekker. Ek sou dit natuurlik veel liewer saam met jou wou deurbring. Josephine is aangename geselskap, maar ek verkies my dames blond en ’n bietjie meer statig. Kom sit hier by my.”

Marlene voel haar keel toetrek, maar sy gehoorsaam, probeer glimlag. “Dan was Ben verniet jaloers?”

Hy kyk vinnig op haar af. “Was dit oor Josephine? Ek het gedink … Is daar ’n verhouding tussen hulle? Sy het niks laat val nie.”

“Ek weet nie hoe ernstig nie, maar hy neem haar gereeld uit en … so aan. Hy het nie gisteraand te ingenome gelyk nie en vandag was hy weer in een van sy onmoontlike buie. Ek het maar net gedink ek moet jou waarsku.”

Hy kyk haar takserend aan. “En jy, Marlene? Is daar nie eens ’n tikkie jaloesie in jou hart nie?” Toe haar blik voor syne val, sug hy sag en trek haar ’n bietjie nader. “Dis nog steeds Ben Roux, nè?” Sy hand streel oor die kant van haar gesig en rus dan op haar bewende mond. “Marlene, my meisie, dink jy nie dis tyd dat jy die feite vierkant in die oë kyk nie? Ek glo ek sal jou kan leer om my ook lief te kry, as jy my net die kans wil gee, asseblief! Ben is … wel, oënskynlik reeds elders geïnteresseerd. Hoekom jou langer blootstel aan meer hartseer? Hoekom langer hier bly en jouself elke dag pynig? Kom terug stad toe en trou met my, asseblief?”

“Maar dit is nie regverdig teenoor jou nie,” roep sy vertwyfeld uit en stry hard teen die trane. “Ek is so jammer, Herman. As ek self kon kies … Dit sal soveel makliker wees om jou lief te hê. Maar ek kan myself nie help nie, dit is nog altyd Ben. Al het hy nou ’n ander meisie liefgekry en my totaal uit sy hart geban … maak dit nog geen verskil aan mý nie. O, Herman, as gister net wil verbygaan.”

Hy soen haar teer, onrus in sy oë. “Maar as ek bereid is om jou so te neem, met ’n ander man nog in jou hart … Laat my dan net toe om ’n verloofring aan jou vinger te steek, Marlene.”

“Herman, ek kan nie! Ek gaan nie misbruik van jou maak nie.”

“Maar as ek so bitter graag wil hê jy moet misbruik van my maak?”

En terwyl Marlene eindelik met haar rug teen die muur is en moet besluit, óók finaal besluit of sy Ben Roux nog langer gaan toelaat om haar en haar kind se toekoms te beheer, kuier Josephine ’n bietjie by Ben.

In die verlede het hulle altyd lekker saamgekuier, want sy het sorg gedra dat sy nie dieselfde flater as die ander meisies op Rondekuil begaan nie. Sy was nog altyd net ’n lekker maat en aangename geselskap. Maar sy begin nou ’n bietjie teë raak vir hierdie speletjie. In plaas daarvan dat haar optrede hom nader bring, lyk dit asof hy al verder van haar af beweeg. Daar moet ’n rede wees, en sy is van plan om uit te vind wat.

Sy het hom gisteraand baie goed dopgehou, en sy het sy oë gans te veel op sy teatersuster betrap. Ook nadat sy openlik met dokter Henning begin flankeer het, was sy nie mislei deur sy ontevrede frons nie. Dit was nie jaloesie oor háár wat hom so laat lyk het nie.

In die jare wat verby is, was sy gerus dat, hoewel Ben haar nooit aanleiding gegee het om iets meer as vriendskap van hom te verwag nie, daar darem ook nie ’n ander meisie in sy lewe is nie. Voorlopig was sy tevrede om so voort te gaan. Sy is nog jonk, geniet haar werk en die stadslewe terdeë. Eendag, êrens in die toekoms, het sy geweet, wil sy met Ben Roux trou en dan sal sy haar op Rondekuil kom vestig, want dit is darem een feit wat sy vroeg reeds ingesien het: Ben Roux se vrou sal saam met hom op Rondekuil moet bly en hom geleidelik met vroulike lis moet omhaal om na die stad terug te keer.

Maar hierdie keer is sy en Ben glad nie meer sulke groot maats nie. Hy lag nog vir haar sêgoed, maar dis of daar iets tussen hulle ingeskuif het, asof sy gedagtes maar net halfpad by haar en die geselskap is. Sou sy nuwe teatersuster iets daarmee te doen hê? Dis wat sy vanaand kom uitvind het.

“Dié dokter Henning is ’n oulike man. Jou teatersuster sal hom moet oppas of hy word voor haar neus weggeraap!”

Sy sien die onmiddellike verstrakking op sy gesig en sy oë is stip oor die koppie se rand. “Het hulle ’n vaste verhouding?”

“O ja! Volgens hom is die huwelik net om die draai. Hulle gaan glo verloof raak voor hy vertrek. Altans, so kan ek aflei.” Hy het niks hierop te sê nie, en sy vervolg: “Ek is nogal jammer. Hy sou interessante geselskap gewees het terwyl jy nou nie vir my wil kom kuier nie.”

Ben skud net sy kop, steeds swygend. Vanaand irriteer Josephine hom, en hy kan kwalik sy verligting verberg toe sy opstaan om te gaan.

“Ben, ek wil nie indring nie, maar sê my, wat het jy gesê was jou vrou se naam?”

Hy kyk haar half verbaas aan. “Jy is vol nuuskierige vrae vanaand. Maak dit saak wat haar naam was? Dis dinge wat verby is …”

Dan weet Josephine dat haar vae vermoede juis is. En alles is nog nie so verby as wat hy wil voorgee nie. Sy skud haar skouers ongeërg, probeer nonchalant klink. “Nee, ek vra maar net. Soos jy sê, gister is verby, nè?”

Maar terwyl sy plaas toe ry, is haar oë peinsend. Dit kan nie kwaad doen om meer van suster Roux te probeer uitvind nie. Maar by wie? Dan glimlag sy meteens. Sy ken net die regte persoon … of liewer persoontjie! Sy het nog altyd gedink daardie kleintjie is besonder bekkig vir haar skamele drie jaar.

Toe Marlene die volgende oggend aan diens kom, is sy verbaas om Ben reeds daar aan te tref. Sou daar ’n noodgeval ingekom het? Maar daar is geen teken van ’n pasiënt wat dringend aandag nodig het nie en sy kyk hom vraend aan.

“Môre, dokter. Is daar iets waarmee ek kan help?”

“Nee, nie juis nie, suster, maar … ek het net gedink …” Sy oë is skerp. “Soos jy seker self weet, is teatersusters op die platteland swaar bekombaar. Ek wil jou vra om my asseblief vroegtydig in te lig wanneer jy van plan is om te bedank, sodat ek genoeg tyd het om na ’n plaasvervanger te soek.”

“Goed, dokter.”

“Wel, wanneer is jy van plan om te bedank?”

Sy frons. Sy het verlede nag byna geen oog toegemaak nie. Sy is nie vanoggend lus vir ’n rusiemakery nie.

“Wat laat jou dink ek gaan bedank?”

Sy frons verdiep ook en die oë wat na haar kyk, lyk byna vyandig. “Wel, ek het … verstaan daar is ’n moontlikheid dat jy binnekort terugkeer stad toe.”

“O?”

Sy lippe pers opmerkbaar saam en dan raak sy geduld op. “Marlene, moenie vir jou so onskuldig hou nie! Wat de duiwel het jy in die eerste plek hier kom soek as jy trouplanne het?” Toe sy hom net stip aankyk, vervolg hy bars: “Ek haat gedurige ontwrigting in die teater.”

“En ek haat mense wat hul neuse in my persoonlike sake steek. Wanneer ek gaan trou en wanneer ek gaan bedank, is my saak.”

“Dan gaan jy weer binnekort? En ek, die gek wat ek is, het gedink …”

“Hou op dínk, dokter! My persoonlike sake gaan jou nie in die minste aan nie!” En sy keer haar rug doelbewus op hom. Dis eers toe sy sy harde, ontevrede voetstappe hoor opklink dat sy dit waag om ’n hand te lig en die blink trane vlugtig van haar wange te vee. Al waaraan hy kan dink, is aan die ontwrigting in sy teater! En was dit nodig om so openlik gretig te klink om van haar ontslae te raak?

Ena Murray Keur 16

Подняться наверх