Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеDie telefoon lui skril.
Marlene Roux huiwer. Sal sy dit antwoord … of nie? Ben het die motor gaan uittrek. Hy sou dit nie kon hoor nie. Weer lui dit hard. Haar hand lê besluiteloos op die hoorbuis. Kon dit nie vyf minute later gelui het nie? Vir ’n derde keer skril dit in haar ore en sy tel dit vinnig op. “Ja?”
“Ag, is dit dokter Roux se huis?”
’n Oomblik speel sy met die gedagte om nee te sê. Maar dan sê sy koel en teësinnig: “Ja, dame, maar …”
“Ag, kan ek asseblief met hom praat? Dis dringend … uiters dringend. My kind … Asseblief! Hy is tuis, is hy nie?”
Die angs en kommer in die vreemde stem dring skaars tot haar deur. Afsydig sê sy: “Hy staan op die punt om te vertrek. Is daar nie ’n boodskap …?”
“Ek móét met hom praat. Dis my kind …” Die stem klink nou byna paniekbevange. “Asseblief! My kind is besig om te sterf! Roep die dokter.”
“Is u ’n pasiënt van dokter Roux?”
“Nee, maar … ek … is in die nood. Asseblief, mevrou, my kind …”
“Ek is bevrees dokter het reeds vertrek. Skakel maar die ambulans …”
Die stem breek meteens af en die erg bekommerde moeder hoor net ’n gedempte geredekawel. En dan, meteens, klink ’n sterk, besadigde stem in haar oor, ’n stem wat soveel vertroue wek dat Annie Riekerts haar oë dankbaar sluit. Hy is nog nie weg nie!
“Dokter Roux wat praat. Wat is die moeilikheid, mevrou?”
“My kind, dokter. Hy …” Sy gee ’n vinnige beskrywing van haar kind se toestand en Ben Roux luister fronsend. Die kind het nog een oomblik rustig in sy bedjie gespeel en toe het hy net begin snak na asem. ’n Baba van agtien maande wat skielik begin versmoor …
“Wat is u adres, mevrou?” wil hy vinnig weet. “Herhaal dit, asseblief?” en dan sê hy gerusstellend: “Ek kom dadelik.”
Die buis klap hard op die mik terug en die dokter kyk sy vrou kwaai aan.
“Ben! Ben, jy gaan my nie wéér in die steek laat nie! Ek is nou siek en sat van hierdie ding.”
“En ek is siek en sat van jou selfsug en ongelooflike gevoelloosheid. Ek het nie nou tyd om met jou te praat nie, maar wanneer ek terugkom van die kleinhoewe af, moet jy hier wees. Ons gaan vanaand praat en kláár praat, Marlene.”
Voordat sy nog ’n verdere geluid kan uitkry, is hy reeds op pad voordeur toe en gryp in die verbygaan sy dokterstas van die marmertafeltjie in die voorportaal waar dit altyd gereed staan.
Die motor trek met ’n vaart voor die luukse huis weg, skiet deur die elitebuurt van die stad en bereik die snelweg wat na die kleinhoewes net buite die stad lei.
Dis die tyd van die aand wanneer die mense gereed maak om jolyt te gaan hou, wanneer die plesierplekke se neonligte begin flikker en lokkend nooi. Met ’n strak blik op die woelige verkeer om en voor hom, jaag dokter Ben Roux voort. Daar is nie ’n minuut te verspil nie. ’n Paar maande oue mensie is besig om te sterf …
Dis ’n paar uur later dat die dokter sy rug strek, sy teaterspan bedank en die gesteriliseerde klere van hom afstroop. Hy vergesel die klein pasiëntjie terug na die kindersaal, maak seker dat alles honderd persent reg is voordat hy die kosbare lewetjie wat so amper weggeglip het in die bekwame hande van die nagpersoneel laat.
Daar is lyne van moegheid en spanning op sy gesig toe hy eindelik na sy horlosie kyk. Dis reeds tien voor twaalf. Teen hierdie tyd vang Marlene seker al slange!
Hy is byna by haar verby voordat hy Annie Riekerts ineengedoke in die wagkamer sien sit. Hy glimlag gerusstellend in die beangste, moeë oë af.
“Hy is heeltemal veilig. Hy slaap nou en u kan hom môre met besoektyd kom sien. Kom, ek sal u huis toe neem.”
“O, dankie, dankie, dokter! Is hy regtig heeltemal buite gevaar?”
“Heeltemal. Ons moes ’n klein snitjie maak om die obstruksie te verwyder, maar daar is verder niks om oor bekommerd te wees nie. Kom ons gaan.”
“Dankie, dokter, maar dis te veel moeite. Ek kan maar ’n ander plan maak om by die huis te kom …”
Hy stoot haar liggies maar beslis in die rigting van die groot deure. “Ek sal u terugneem.”
Hy help haar in die motor in en Annie Riekerts kyk nog ’n maal verlangend oor haar skouer. Êrens daar binne lê haar seuntjie veilig … danksy hierdie man wat as instrument gebruik is. Die hoendervel slaan opnuut op haar uit. As hy nie vanaand tuis was nie … “Wat was die moeilikheid, dokter? Ek kan dit nog nie verstaan nie. Die een oomblik het hy nog soet in sy bedjie gesit en speel en toe, skielik, het ek net wurggeluide gehoor.”
“Ons het ’n klein plastiekspeeldingetjie uit sy lugpyp verwyder, mevrou Riekerts. Dis iets waarna u tog baie goed moet oplet in die toekoms. Pasop om te klein en te gladde speelgoedjies vir die klein mensies te gee. Dit glip maklik by die mondjie of neusie in.”
Sy kyk hom geskok aan. “Maar dan was dit mos mý nalatigheid.”
“Miskien ja, maar nou weet u vir die toekoms. U moet ook onthou om, as daar ooit weer ’n krisis ontstaan, dadelik die ambulans te skakel. Dan kan hulle my van die hospitaal af bel en so word kosbare tyd bespaar – miskien net daardie kosbare minute wat tussen u kind en die dood staan.”
Annie Riekerts kyk verleë voor haar uit. “Ek het net geweet ek moet so gou moontlik ’n dokter by my kind kry. Ek kon nie dink nie …”
“Ja, natuurlik, ek begryp. Hier is ons. Kom. Ek stap saam om seker te maak alles is veilig. Wanneer kom u man van diens af?”
“Om eenuur. Dis amper tyd dat hy moet kom.”
In die eenvoudige sitkamer kyk sy na hom en kan die trane van dankbaarheid en verligting nie meer keer nie. “Dokter, hoe sal ek u ooit kan bedank? My man is maar ’n tydelike skofwerker by die kragsentrale, maar ons sal u elke sent betaal. U hoef nie bang te wees nie. As u ons net sal kans gee om elke maand ’n deel te betaal …”
Hy knik, sy blik sag. Sy is nog jonk, maar die lewe het al sy spore op haar gelaat gekerf. Net ’n oomblik skuif ’n ander gesig, beeldskoon en sorgvry, voor hom in, ’n gesig wat die lewe sagkens behandel het. “Dis goed,” sê hy. “Ons sal ’n plan maak. En u man was vannag net so ’n belangrike figuur in hierdie drama as ek. As hy nie getrou op sy pos was nie, sou alles in die hospitaal gaan staan het, die groot ligte bo die operasietafel, die sterilisators, alles … en ek sou magteloos gewees het om u kind te red. U man is nie maar net ’n skofwerker by die kragsentrale nie, mevrou Riekerts.”
Sy kyk hom eers verslae aan, dan in verwondering. “Dis … dis waar! Dis heeltemal waar!”
Hy glimlag. “Natuurlik is dit waar.” Dan verdonker sy oë, vou die moeë kepe om sy mond en oë weer dieper in. “Ek is net dankbaar dat ek vanaand tuis was. Goeienag, mevrou.”
Toe dokter Ben Roux kort voor een by sy eie voordeur instap, is sy gemoed swaar en wens hy amper dat sy vrou reeds slaap.
Maar sy slaap nie. Sy het wel die pragtige, duur aandrok gaan uittrek. Sy verskyn voor hom in die sitkamerdeur en ten spyte van alles, voel hy sy hart in sy keel ruk. Selfsugtig, gevoelloos – watter benaming ook al by haar pas – sy bly onweerstaanbaar pragtig vir hom. En hy het haar lief.
“Ek het gedink jy slaap sommer vannag daar op die kleinhoewe.”
Haar stem is vyandig en ’n diep sug ontsnap hom. Hoeveel honderd keer het hierdie selfde toneel hom al die afgelope twee jaar afgespeel? Maar nog altyd het hy vir haar verskonings gevind. Sy is nog jonk, skaars twintig. Sy is eintlik nog ’n kind. Bedorwe kind van ryk ouers. ’n Kind wat gewoond is om in alles haar sin te kry. ’n Kind wat nog nooit met die skadukant van die lewe kennis gemaak het nie. Ten spyte van sy verliefdheid op hierdie meisie, het sy gesonde verstand hom destyds gewaarsku. Want hý was nie meer so ’n kind nie. Hy was agt en twintig. Maar met die oormoed van die liefde het hy gedink en geglo dat Marlene sou leer en aanpas. Hulle was lief vir mekaar, en dit was hoofsaak. Die ander dinge sou vanself regkom.
Maar dis nou al twee jaar … twee jaar waarin hulle al gepraat en baklei het, waarin hy haar aan die verstand probeer bring het dat sy nie meer die dogter van ’n ryk pa is nie, maar ’n jong beginnerdokter se vrou; dat sy bowenal nou ’n dokter se vrou is en deel het aan ’n professie wat baie offers vra – nie net van die dokter nie, maar ook van sy vrou. Maar elke keer baklei hulle oor dieselfde kwessies, verduidelik hy dieselfde dinge oor en oor. Tevergeefs …
“Ben, ek praat met jou.”
Sy lippe sluit grimmig saam. Die vingers wat netnou die operasiemes so sekuur gehanteer het toe hy in die klein borskassie moes kloof, bewe liggies oor sy oë. Sy moegheid is nie sodanig liggaamlik nie, besef hy toe hy in die naaste stoel neersak en met mat oë na die visioen van vroulike begeerlikheid in die rosige kamerjas voor hom kyk. Hoe kan hy vir een oomblik dink om haar uit sy lewe te skakel?
“Marlene, jy begryp nie …”
“Jy sê dit élke keer, en jy is heeltemal reg. Ek sal nooit begryp hoekom ek tweede viool moet speel vir al wat sterfling is nie. Kleinhoewe! Jy sal nie ’n enkele sent ruik vir jou nagtelike arbeid nie.”
“Ek wil ook nie ’n sent hê nie. Geld is nie alles nie.” Hoeveel keer het ek dít al gesê die afgelope twee jaar? wonder hy by homself.
“Ja, goed. Goed! Dáárdie ou storie ken ek al uit my kop. Ek gee nie om op wie jy jou talente en kragte gedurende redelike ure van die dag gebruik nie. Maar hoekom kan jy nie soos ander dokters vaste ure hê nie?”
Hy swyg, maar sy gedagtes gaan onwillekeurig terug na Rondekuil, sy geboortedorp. Miskien is dit die voorbeeld van sy pa wat so ’n diep inslag in hom gevind het.
’n Intense verlange na sy geboortedorp sak oor hom toe. Hy moes liewer by sy oorspronklike plan gehou het en ná sy studies teruggekeer het na Rondekuil soos hy en sy pa al die jare gedroom het. Maar toe hy Marlene ontmoet, ’n gebore en getoë stadsdametjie, het al daardie drome in die niet verdwyn. Hy het geweet dat hy Marlene nooit uit die milieu wat sy ken en waarin sy grootgeword het, sal kan wegneem en oorplant op ’n plattelandse dorpie nie. Hy moes kies, maar eintlik was daar geen keuse nie. Dit was net Marlene.
Sy pa het nooit weer by hom aangedring nie. Oorspronklik sou hy sommer as vennoot by sy pa se praktyk instap, maar daar het nooit ’n verwyt van sy kant gekom nie. ’n Paar jaar gelede is hy dood, in die tuig, en die praktyk waaraan hy soveel jare gebou het en wat hy beoog het as ’n erfenis vir sy seun, is aan ’n vreemde dokter verkoop.
Ben het in die stad gebly en getrou met sy pragtige Marlene, enigste kind van ’n ryk sakeman. Sy sou nooit droom om haar op Rondekuil in die stowwerige, droogtegeteisterde Noordweste te gaan begrawe nie, en dit het Ben terdeë besef.
“Hoekom praat jy nie, Ben? Jý is die een wat gesê het ons moet vanaand praat en klaar praat. Ek verkies dit ook so. Ons moet mekaar nou eens en vir altyd goed verstaan.”
Hy kyk haar net stil aan. Vroeër vanaand het hy baie te sê gehad, maar op hierdie oomblik besef hy hoe futiel dit sal wees om verder te redeneer. Hy sal maar net herhaal wat hy al hoeveel keer in die verlede gesê het. Nee. Dis of alles in hom opgedroog het, selfs die woede, en dis sý wat praat.
“Wanneer laas het ons twee alleen saam uitgegaan? Kan jy onthou? Of ’n aand saam deurgebring sonder onderbreking? Ek sien jou net kom en gaan. Ek is tog jou vrou, nie ’n dooie meubelstuk in jou huis nie. Ek het tog seker die reg om soms aandag van my man te verwag, nie waar nie? Maar ek het niks meer van jou nie. Niks nie!”
Sy blik sak. Sy het gelyk. Wat moes hy vanaand gedoen het toe Annie Riekerts gebel het? Moes hy haar kind laat sterf het en liewer saam met sy vrou na die dans gegaan het? Hy het tog ’n dure eed as dokter afgelê. Maar hy het óók ’n dure eed voor die kansel afgelê … En nou bots daardie twee tot breekpunt toe.
Of moet hy ’n kompromie aangaan? ’n Elitedokter word soos so baie van sy kollegas, sy dag om vyfuur afsluit en sy dokterstas in die spreekkamer agterlaat tot môreoggend om halfnege …
Maar hy is ’n geneesheer soos sy pa was – soos Rondekuil se gemeenskap ou dokter Ben al die jare geken het – altyd daar, altyd aan diens.
Maar dié deel van hom wat nie dokter is nie, is man. En as man het hy die vrou hier voor hom lief. Intens lief.
Hy vertoon bleek en moeg en ’n oomblik wil Marlene week word. Maar dan verhard sy haar hart. Nee! Ben sal tot ander insigte móét kom. Sy is nog jonk. Sy wil die lewe geniet, en sy wil dit saam met haar man geniet. Sy weier om langer so voort te ploeter. Sy het hom lief, maar sy is nie bereid om verwaarloos te word nie.
“Marlene … ek sien eerlik net een weg oop vir ons. Ons kan nie so voortgaan nie. Die tye wat ons wel bymekaar is, bring ons met rusies deur. Iets is besig om onherroeplik skade te ly tussen ons. Ek het jou lief. Ek wil jou tot elke prys behou, maar … ek is en sal altyd ’n dokter bly. Dit is iets wat jy moet aanvaar en waarby jy jou sal moet aanpas. As ons na Rondekuil gaan, kan ek daar ’n praktyk begin. Weliswaar sal daar ook druk tye kom, maar daar sal ons meer tyd vir mekaar kry.”
“Rondekuil toe!” Sy sê dit asof hy haar gevra het om saam met hom maan toe te gaan, en sy hart sink. “Rondekuil toe? Jy is seker skoon gek, Ben. Ek bly net hier.”
“Maar as dit die behoud van ons huwelik beteken? Of gee jy nie meer om nie?”
Sy vertoon ook nou bleek, maar haar gesig bly net so strak soos syne. “In daardie geval, Ben, sal dit jý wees wat ons huwelik opbreek, nie ek nie.”
Ben kyk lank na sy mooi, jong vrou … en hy weet dat, as hy sy siel en selfrespek as man én as dokter wil behou, hul paadjies nie langer kan saamloop nie. Vir hom was sy en is sy die enigste vrou, maar hy gaan nie toelaat dat sy sy gees dooddwing nie.
’n Verbete vasberadenheid neem van hom besit en sy stem klink vreemd toe hy praat. “Miskien. Miskien is ek die skuldigste van ons twee. Al het ’n mens iemand lief, is daar meer dinge waarna jy moet kyk wanneer jy die dag gaan trou as blote liefde. Die fout is seker myne. Ek moes verder gekyk het …”
“Ben!” Daar is ’n ligte paniek in haar stem, verbystering in haar oë. “Jy … jy klink asof jy spyt is oor … ons huwelik!”
Hy sug en skud sy kop. “Dis nie dít nie. Dis net … Die huwelik is meer as maanskyn en rose. Jy ken net maanskyn en rose. Jou lewe lank al. Ek verwyt nie. Dis nie jou skuld nie. Jy kan nie help dat jy nooit geleer is om ook te gee, en nie net altyd te ontvang nie.”
Haar gesig verstyf. “Ek het nie geweet jy het só ’n lae dunk van my nie.”
“Dis nie soos ek dit bedoel nie, maar … dit bewys maar net weer hoe min ons mekaar werklik verstaan en begryp; hoe anders ons siening van sake is. Marlene, ek wil hê jy moet baie goed nadink oor my voorstel. Dis nie net praatjies nie. Ek bedoel wat ek sê.”
Sy kyk strak terug. “Jy is mal, Ben Roux, as jy dink dat ek na daardie verlate stofdorpie sal gaan.”
Hy knik net woordeloos. Hy het nie ’n ander antwoord verwag nie. “Goeienag, Marlene. Ek slaap sommer op die bank in die studeerkamer. Die nag is tog al amper verby.”
“Ben …”
Maar die studeerkamerdeur gaan agter hom toe en sy bly alleen in die groot sitkamer agter. ’n Oomblik staan sy besluiteloos, haar blik vasgepen op die toe deur tussen hulle. Dis die eerste keer dat Ben nie in hul kamer sal slaap nie. Is dít hoe wyd die kloof reeds tussen hulle is? Sy voel lus om na hom te hardloop, maar valse trots hou haar terug. Marlene van Tonder het nog nooit nodig gehad om enige mens te soebat nie. Ben Roux is die eerste man wat ’n deur in haar gesig toemaak en sy is nie daaraan gewoond nie. Sy is gewoond daaraan dat deure voor haar oopgaan wanneer sy nog net aankom. Met ’n trotse ruk van haar kop stap sy terug na haar kamer.
Ben het haar lief. Sy weet, ten spyte van alles, dat hulle mekaar liefhet. Hy sal nie sonder haar Rondekuil toe gaan nie, en sý sal beslis nie saamgaan nie. Hy is net koppig. Môre sal hy tot ander insigte kom.
Maar môre breek aan, en voordat sy nog haar man sien, het hy vertrek. Dis ’n lang dag en sy dwaal lusteloos deur die luukse huis. Sy is gewoond aan weelde en gerief en om niks te doen nie. Maar daar is vandag ’n onrus wat haar bly pla. Sy speel met die gedagte om na haar ouers te ry, maar besluit daarteen. Sy wil nie hê hulle moet weet van hierdie onenigheid tussen haar en Ben nie. Dit sal hulle net ontstel, en dit is onnodig, want natuurlik sal hierdie bui van Ben oorwaai. Dis net ’n nuk wat hy in sy kop gekry het. Hy is oorwerk. Hulle behoort ’n rukkie weg te gaan. Maar sy weet hy sal nie daarvoor te vinde wees nie. Daar sal wel weer ’n geval wees wat hy nie aan ’n kollega se sorg wil toevertrou nie. Ben is hopeloos te konsensieus. Dis sy grootste fout.
Buitendien sal sy nie veel simpatie by haar ouers kry nie. Hulle was nog altyd lief en dierbaar vir haar, maar veral haar pa sal haar graag daaraan herinner dat hy haar destyds gewaarsku het dat sy nog te jonk is om te trou en te onvolwasse om aan die eise wat die rol van doktersvrou stel, te voldoen. Sy is haar pa se oogappel, maar sy weet ook dat Ben baie na aan sy hart lê en dat hy sonder twyfel sy kant sal kies.
Sy is onbewus daarvan dat Ben self die begeerte het om na haar ouerhuis te ry en die probleem met sy skoonouers te bespreek. Tog huiwer hy ook. Hy onthou die lang gesprek wat hy en Marlene se pa gehad het toe hy hom om sy dogter se hand gevra het.
“Ek is baie lief vir my kind en sy is my enigste, Ben. Maar ek is nie blind vir haar foute nie. Sy is tot in die afgrond bederf, selfsugtig en eiewys. Ek en haar ma dra die grootste skuld; ons het haar te veel haar sin gegee. Jy moet my goed verstaan, Ben. Ek het niks teen jou as skoonseun nie. Tewens, ek sal jou met oop arms verwelkom en ek is dankbaar dat Marlene nie ’n loskop stadsmeneertjie huis toe gebring het nie. Jy sal ’n wonderlike man en eggenoot wees vir die regte vrou – maar ek weet nie of my dogter die regte vrou is nie.”
Ben het geknik, maar sy stem was ferm: “Ek begryp wat u vir my wil sê, maar Marlene is van binne kerngesond. Ek glo dat die dinge wat u genoem het, mettertyd sal regkom. Ek kan vir haar sorg, hoewel my aardse besittings nie met u s’n vergelyk kan word nie. Sy sal nie honger ly nie, oom Jan.”
“Ek weet, ou seun, en ek is dankbaar dat my dogter sulke goeie smaak in die keuse van ’n lewensmaat openbaar het, maar …” Hy het gesug, sy oë bekommerd. “Jy moet baie geduldig met haar wees, Ben. Sy het so ’n beskermde lewe gelei.”
“Ek weet, oom Jan. Ek belowe. Ek het haar baie lief.”
“Ja. En ek weet sy is ook werklik lief vir jou. Vandat julle ontmoet het, was daar geen ander man vir haar nie. Goed, ou seun. Ek gee my dogter met groot vrymoedigheid aan jou, en as ek bekommerd voorkom, is dit nie omdat ek dink jy is nie ’n goeie keuse nie. Ek het vertroue in jou.”
Hoe kan hy nou na Jan van Tonder teruggaan en erken dat hy oormoedig was? Hy het al alles probeer: mooipraat, soebat en deesdae baklei. Hy het belowe om geduldig met haar te wees, maar sy geduld begin nou opraak. Sy wil net geen toegewings maak nie.
Nog ’n bron van rusie is die feit dat sy nie die waarde van geld ken nie en dit links en regs verkwis sonder om ’n oog te knip. En as sy ’n ding sien waarvan sy hou, wil sy dit hê, ongeag sy prys. Baie dikwels vra sy nie eens die prys nie. Sy koop dit net en laat die rekening na hom toe stuur. Aanvanklik, net ná hul troue, het sy eenvoudig voortgegaan om op haar pa se naam te koop, tot hy dit op ’n dag ontdek het en vir die eerste keer het die Van Tonders ’n ander Ben leer ken.
“Dit gebeur nie weer nie, Marlene. Jy is nou met mý getroud en ek sorg vir jou … en jou ouers moet dit ook besef.”
Die ouerpaar was skuldig. Hulle het besef dat dit verkeerd is dat hul dogter nog steeds soos voor haar troue klere van hulle ontvang, maar hulle het geweet dat Ben nog ’n beginner is en dat hy Marlene beslis nie so rojaal kan voorsien nie. Hulle het maar gehoop dit sal ongemerk verbygaan, maar Ben Roux is nie ’n uilskuiken nie.
Marlene was heeltemal verslae. Sý het beslis niks verkeerds daarin gesien nie.
“Wat is daarmee verkeerd as Pappa vir my ’n aandrokkie gee? Ek is sy kind.”
“Ja, jy is sy kind, maar nou is jy mý vrou. Ek sorg self vir my vrou. Ek sal vir jou gee soveel as wat ek kan, maar binne perke.”
Mevrou Van Tonder het gewaag om te vra: “Mag ons haar glad niks gee nie, Ben?”
“Nee, Ma, dit sê ek nie, maar nie soos dit nou aangaan nie. Wanneer sy verjaar, en met Kersfees, het ek niks daarop teë nie. Maar die res van die tyd sorg ek self vir my vrou. Ek wil hê ons moet mekaar op hierdie punt asseblief baie goed verstaan. Nou, daardie aandrok, Marlene, waarmee jy weer vandag by die huis aangekom het … Jy sorg dat dit môre terugbesorg word.”
Al drie het hom ongelowig aangekyk.
“Kan hierdie een aandrok nie maar bly nie, Ben?”
“Nee, Pa. Dit gaan terug. Sy het nie nog ’n aandrok nodig nie. Sy swem in die goed. Dit gaan terug – en dis die laaste keer dat ek wil hoor dat u vir my vrou klere koop.”
Skoonpa en skoonseun se oë het ontmoet.
“Goed. Dit gaan terug,” het Jan van Tonder met ’n klein glimlaggie gekapituleer.
“Pappa! Nee! Wat trek ek vanaand aan?”
“Een van die dosyne rokke wat reeds in jou kas hang,” het haar man geantwoord en sonder ’n verdere woord uitgestap, in sy motor geklim en hospitaal toe gery.
Jan van Tonder het sy dogter vir die eerste keer in haar lewe werklik betig: “Staak die histeriese gehuil, Marlene! Ben is reg. Jy is nou ’n getroude vrou en jy moet leer om by jou man aan te pas, en ook by sy sak. Ben Roux is ’n trotse man, en dit sal jy moet leer respekteer.”
“Trots? Dis sommer lawwigheid! Dis dan van my eie pa wat ek ontvang!”
Soos Ben so dikwels in die verlede, het Jan van Tonder hierop ook maar net sy kop geskud en gemaak dat hy wegkom, hopende dat dit waar is dat die liefde alles vermag. Maar Ben Roux sal ’n goeie skoot deursettingsvermoë en geduld by die liefde moet gooi om hierdie dogter van hom te hanteer. Tog was hy nie te erg bekommerd nie. As daar ’n man is wat sy dogter na volwassenheid kan lei, is dit hierdie skoonseun van hom, en Ben het sy skoonpa se heelhartige steun gehad.
Dis wat Ben ook weet, en dis wat hom dwalende maak in die daaropvolgende dae. Tot dusver kon hy reken op sy skoonouers se steun. Sedert die aandrok-episode het nie een van hulle ooit ingemeng wanneer daar rusie en misverstand tussen die twee jonggetroudes opvlam nie. Marlene moes tot haar skok uitvind dat dit ook nie gehelp het om na hulle toe te hardloop met haar klagtes nie. Hulle het hulle neutraal gehou, en as daar nog die slag kant gekies is, was dit eerder Ben wat ondersteun is.
Daarom kom dit as ’n groot skok toe Ben sowat ’n week ná die laaste rusie tussen hom en Marlene bedaard sy aankondiging doen.
“Pa, Ma, ek het besluit om terug te keer na Rondekuil en daar ’n praktyk te begin. Alles is gereël en my eie praktyk is reeds verkoop. Ek vertrek aan die begin van aanstaande maand.”
Hulle kyk hom verslae aan en sy skoonma sê verwytend: “Jy het ons niks hiervan vertel nie, Marlene. Hoekom die geheimhouding?”
“Ek weet self niks hiervan af nie, Mamma. Ek hoor dit ook maar nou eers,” antwoord sy met haar oë stip op haar man. Ben kan nie ernstig wees nie! Die afgelope week vermy hy haar, sien sy hom nooit, en wanneer hy saans inkom, gaan slaap hy op die bank in die studeerkamer. Hoe seer hierdie houding van hom haar maak, het sy nie getoon nie. As Ben Roux dan trots is, sy ook. Sy sal hom nie soebat om terug te keer na hul slaapkamer nie. En sy sal nie Rondekuil toe gaan nie!
Ben sit en wag vir teenkanting. Tot dusver was sy skoonouers aan sy kant, maar dit is ’n perd van ’n ander kleur dié. Hierdie keer wil hy hul enigste kind wegvat en op ’n klein plekkie gaan “begrawe”, soos Marlene altyd sê.
“As alles reeds in die finale stadium is, sal dit seker nie help om iets te sê nie,” laat Jan versigtig hoor, sy oë stip. Dit moet iets groots wees wat Ben tot hierdie stap laat oorgaan het. Bekommerd kyk hy na sy dogter. “Dan gaan jy nou ’n plattelander word!” probeer hy die atmosfeer verlig.
Haar kop ruk op, uitdagend. “Baie beslis nie. Ek gaan nie saam nie.”
“Marlene!”
“Ja, Mamma, dit is so. Ben weet dit ook. Ek sal nie Rondekuil toe gaan nie.”
Man en vrou se oë ontmoet. “Dit gaan Rondekuil wees, my vrou – met of sonder jou.” Dan kyk hy verskonend na die geskokte skoonouers. “Ek is jammer, maar ek het klaar besluit. As Marlene nie wil saamgaan nie, is ek jammer, maar ek gaan. Dis finaal. Sy het ’n week tyd om te besluit.”
“Daar is niks om te besluit nie. Ek gaan nie saam nie!”
“Die keuse is joune. Verskoon my, asseblief.”
In die week wat volg, leer die Van Tonders ’n vreemde Ben Roux ken, ’n vasberade man wat nie met gesoebat en trane – later verwyte – beweeg kan word om van sy besluit af te sien nie.
Met beklemming in haar hart sien Marlene hoe die week sy einde nader. Snags kan sy mal word van vrees en verlange, maar sy het nog nie geleer om die minste te wees nie. Daarom leef hulle soos twee vreemdelinge in die luukse huis saam, word die kloof tussen hulle later onoorbrugbaar. Haar ouers probeer so taktvol moontlik intree, maar Ben bly onversetlik … en so ook sy vrou.
Die laaste dag breek aan. Die spanning in Marlene is ondraaglik en toe sy Ben aan die ontbyttafel beskou, kan sy sien die afgelope week het ook spore op sy gesig gelaat. Dis net met die grootste inspanning dat sy die paniek in haar in bedwang hou. Hy moet, móét vandag eindelik besef dat hy nie kan gaan nie. Hy kan tog nie regtig dink hy kan sonder haar na Rondekuil vertrek nie!
Maar Ben se boeke en klere en ander persoonlike besittings is alles gepak en gekrat.
Dit kan nie ons laaste oggend saam wees nie! Ben! Ben, ek het jou lief – hóé lief weet ek nou – maar ek kan nie saamgaan nie, skree haar hart, maar haar lippe bly geslote.
Eindelik sit hy sy koppie neer, kyk dan op, sy blik reguit. “Wel, Marlene?”
Sy sluk, dwing haarself om op te kyk. “Ek is jammer, Ben, maar ek gaan nie saam nie.”
Dis of sy haar verbeel dat sy wange bleker word, maar sy gesig behou sy stoïsynse uitdrukking.
“Ek wil net hê ons moet mekaar baie duidelik verstaan, my vrou. As jy nie vandag saam met my na Rondekuil vertrek nie, is dit finaal klaar tussen ons. Dan weet ek presies hoeveel ons huwelik vir jou beteken.”
“En as jy vandag na Rondekuil vertrek, sal ek ook presies weet hoeveel ons huwelik vir jóú beteken,” kap sy terug.
Hy skud sy kop, staan op en gooi die servet op die tafel neer. “In daardie geval is daar niks meer te sê nie. Ons het nog altyd in twee aparte wêrelde geleef. Ek is jammer, maar ek sien nie kans om van my wêreld af oor te stap na joune nie. As jy met ons huwelik wil voortgaan, moet jy na mý wêreld oorkom.”
“Ek stel nie belang in jou wêreld nie, nie as dit Rondekuil beteken nie.” Sy sien hom net stom knik, sien hom omdraai, wegstap, uitstap en sy spring op, wil hom terugroep, maar geen geluid wil oor haar lippe kom nie.