Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

In die dae wat volg, kom niemand agter dat daar ’n spanning tussen die chirurg en sy teatersuster is nie. Weliswaar is dokter Ben uitermate noulettend, en het niks meer as professionele dialoog met sy teatersuster te wissel nie, maar die nuwe suster se kalme gang, haar ongeërgdheid teenoor die gevreesde dokter Ben se knorrigheid, bring mee dat alles rustig daaraan toe gaan.

Die onderstrominge wat daar is, is net tussen hulle twee. Sedert die dag in die skropkamer toe sy hom en sy nuuskierigheid goed op hul plek gesit het, het hy nie weer probeer delf nie.

Dat sy blik wel soms op haar rus wanneer sy nie kyk nie, weet sy, maar sy laat niks blyk nie. Hoe Ben Roux ook al verander het, kom Marlene agter dat hy, ondanks sy ongeërgde, afsydige houding, tog nuuskierig is, tog wonder …

Maar voorlopig pas dit haar. Eers moet sy haar teenoor hom bewys, hom oortuig dat die ou Marlene van wie hy weggevlug het, nie meer bestaan nie. Eers daarna, wanneer hy hierdie nuwe vrou aanvaar en, as so ’n wonderwerk ooit sal gebeur, weer leer vertrou het, sal sy sy nuuskierigheid bevredig.

Sy weet dat hy brand om te weet hoekom sy na Rondekuil gekom het. Hoekom sy juis hiér, waar hy is, ’n betrekking aanvaar het. En omdat die tyd beslis nie nou ryp is om daardie vraag te beantwoord nie, het sy geen ander keuse as om hom op ’n afstand te hou nie.

Daardie eerste nag ná haar herontmoeting met Ben het sy slapeloos lê en rondrol. Die emosies wat in haar was, kon sy nie peil nie. Was dit liefde vir Ben wat die pyn in haar laat klop het? Sy het sy beeld, die ou beeld van jare gelede, probeer oproep, maar die beeld wat deur die jare so helder in haar bly lewe het, het meteens vervaag by die herontmoeting. Die nuwe, vreemde Ben het daardie Ben verdring.

Sy het die verlede naarstiglik probeer terugroep, maar dit was asof sy ’n totale vreemdeling met hierdie nuwe man wou assosieer. Sy het na Rondekuil gekom om háár Ben terug te vind, háár Ben wat ten spyte van soveel rusie en misverstand, so teer en liefdevol, so hartstogtelik teenoor haar kon wees. Maar sy het ’n totale vreemdeling in sy plek aangetref. Sy kan geen teerheid, of selfs hartstog, assosieer met die man wat sy vandag ontmoet het nie. Dis of daar ’n klipharde kors om hom is.

Ten spyte van die vorige slapelose nag, kon ook Ben nie aan die slaap raak nie. Wat het sy hier kom soek? Hoekom juis Rondekuil? Nog steeds bly dit vir hom ongelooflik dat sy nou ’n gekwalifiseerde verpleegster is, ten spyte daarvan dat hy vandag saam met haar gewerk en self gesien het hoe bekwaam sy is. Maar … Marlene ’n verpleegster! Ná matriek het sy in geen beroep belanggestel nie. Sy was net ’n verwende rykmansdogter en dis al. En as sy haar dan vir ’n beroep wou bekwaam – om watter rede kan hy nie dink nie – hoekom dan juis so ’n veeleisende beroep kies? En tog, hoe sy streng oog ook al gesoek het, kon hy niks vind waaroor hy kon kla nie. Sy is, om heeltemal eerlik te wees, ’n teatersuster so na sy hart!

Ook die dae wat hierop volg, bevestig dat hy hom onnodig verknies het oor suster Eloff se vertrek. Hy het waarlik ’n bekwamer teatersuster in haar plek gekry. Waar suster Eloff elke bevel soos ’n masjien uitgevoer het, toon sy nuwe teatersuster dat sy ook vir haarself kan dink. Soos daardie eerste dag toe hy, ontwrig en ontsteld in sy gemoed, die verkeerde instrument geroep en sy sonder aarseling die regte een in sy hand geplaas het.

Maar dat dit Marlene is wat nou saam met hom werk, wat nou daagliks die regte instrument in sy hand plaas … Dis of sy verstand gewoon net weier om hierdie feit te aanvaar. Marlene wat nooit tyd vir ander mense gehad het nie, wat altyd weggevlug het uit ’n siekekamer, wat naar geword het as sy bloed sien, wat kwaad geword het as hy haar nie na dinees kon vergesel nie … wat gelewe het vir die stad en sy vermaak en geweier het om, selfs ten koste van hul huwelik, ’n tree daaruit pad te gee om hom na Rondekuil te vergesel … Dis nou sý wat saam met hom werk!

Maar sy het nie alleen gekom nie … Wanneer die sirkelgang van sy gedagtes by hierdie feit kom, is dit asof hy ’n skalpel in sy eie hart druk. Sy het nie alleen gekom nie. Sy het haar kind saamgebring, hare en die ander Roux s’n … Dié man wat haar so gou en so maklik laat vergeet het – wat blykbaar so sonder slag of stoot sý plek in haar lewe en in haar hart ingeneem het.

Maar hoekom dan na Rondekuil kom? Hier begin en eindig sy gedagtes, die sirkel voltooi. Wat het sy hier kom maak?

Soos die dae verbygaan, tel Marlene hier en daar brokkies en stukkies oor Ben se lewe op, genoeg om haar te laat besef dat, indien sy werklik vir Ben Roux wil terugwin, daar ’n harder stryd vir haar voorlê as wat sy tot dusver gedink het. Hulle vertel haar hoe die hubare dames van Rondekuil hul uiterste bes gedoen het om Ben van sy vrygesellewe te verlos, en hoe hy hardkoppig deur die jare teengeskop en elke keer as oorwinnaar uit die stryd getree het. Almal dink dit is omdat hy nie sy eerste vrou kan vergeet nie. Maar sy weet van beter.

Dis die gedagte aan háár wat hom elke keer die oorwinning besorg het. Dit was sy verbittering en geskokte vertroue in haar – en deur haar in haar hele geslag – wat hom die strikke van die dames van Rondekuil laat vryspring het. Dit was nie liefdevolle herinnering wat hom van ’n ander vrou weggehou het nie, maar verbittering.

Ná ’n week op Rondekuil besef Marlene dat sy ’n gek was, dat sy al die jare ’n droom nagejaag het. Want dié Ben wat sy onthou en na wie sy teruggekom het, was iemand wat kon vergewe, wat nie sou toelaat dat verbittering hom oorrompel nie, wat groot genoeg sou wees om die verlede agter te laat en weer met vertroue ’n nuwe toekoms vir hulle en hul kind te skep. Maar soos haar pa heimlik gevrees het, lyk die werklikheid soveel anders.

Sy het nooit ’n vaste voorstelling in haar gedagtes gehad van wat presies sou gebeur nadat sy op Rondekuil aangekom het nie. Vaagweg het sy egter ’n prentjie van begrip, van nuwe waardes en herwaardering van mekaar gehad. As Ben net eers die nuwe, volwasse Marlene gesien en leer ken het, sou die verlede met sy teleurstelling wegval en sou hulle tot ’n nuwe ontdekking van mekaar kom.

Maar só maklik sal dit nie gaan nie, besef Marlene teen die einde van haar eerste week op Rondekuil. In plaas daarvan dat Ben, soos hy die nuwe Marlene beter leer ken, nader aan haar beweeg en hulle weer kontak maak, is dit asof hy verder as ooit tevore van haar af staan, elke dag minder tegemoetkomend is. Die moontlikheid dat hulle ooit versoen kan raak, lyk al meer vergesog.

Sy sorg dat hy nie met ’n vinger na haar werk kan wys nie. In haar hart is daar ’n diepe dankbaarheid jeens Herman Henning wat haar die fynere puntjies van teaterwerk geleer het. Hy het talle boeke vir naslaan en studie tot haar beskikking gestel en Ben Roux sal met geen operasie waarmee hy vorendag kan kom, haar onverhoeds en onvoorbereid betrap nie. Saans, wanneer Tinkie al gaan slaap het, gaan sy, net om heeltemal seker te maak, die afskrif van die operasielys vir die volgende dag na en sorg dat sy gereed sal wees indien daar dalk komplikasies gedurende ’n operasie intree.

Nee. Met haar werk kan selfs die kritiese Ben Roux geen fout vind nie. Maar dit maak hom nie sagter en meer tegemoetkomend teenoor haar nie. Sy oë, die enkele kere dat hulle hare wel ontmoet, sê baie duidelik: Wat jy hier op Rondekuil kom maak het, weet ek nie, maar jy kan maar jou energie spaar en teruggaan na die stad waarop jy so versot was.

Nie een keer wend hy weer die geringste poging aan om te probeer uitvind wat agter haar koms na Rondekuil skuil nie.

Deesdae vertoef hy ook nie meer ná ’n operasie om ’n bietjie met sy kollegas te gesels of ’n koppie tee te drink nie. Dit lyk asof hy nie gou genoeg uit sy teaterklere kan kom en wegkom uit dié afdeling van die hospitaal wat eens sy koninkryk was nie.

Nee, Ben het haar wortel en tak uit sy hart geroei. Daar is nie net vir geen ánder vrou in sy hart en sy lewe plek nie, maar beslis ook nie meer vir háár nie. Sy het haar beurt gehad en dit verspeel.

En nou? Wat nou? vra sy haarself meewarig af. Noudat sy weet waar sy met Ben staan, is daar mos geen rede om langer op Rondekuil te bly nie. Die doel waarvoor sy gekom het, sal nooit bereik word nie. Hoekom langer tyd en trane hier mors? Hoekom nie teruggaan na Herman Henning wat haar met oop arms sal ontvang nie? Hoekom nie maar gister finaal kanselleer en op ’n skoon blaadjie begin nie?

Marlene besef dat sy haarself goed vasgedraai het. Dit gaan darem ’n baie swak indruk skep as sy ná ’n enkele maand haar bedanking indien. En dit sal so reg in Ben Roux se kraal pas, hom net oortuig dat sy nie werklik verander het nie; dat sy maar steeds onbestendig en onbetroubaar is ten spyte van die epoulette op haar skouers. Sy kon kwalik ’n maand op Rondekuil uithou, sal hy redeneer; nes hy gedink het! Die stad en sy vermaak en die gemaksugtige lewe by haar ouers trek haar maar onweerstaanbaar terug. ’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie, sê die ou spreekwoord mos!

Dis in haar tweede week op Rondekuil dat Hennie op ’n dag by die hospitaal aankom, sy bakkie vol vrugte gelaai.

“Ons het so baie vrugte op die plaas, matrone, dat ek gedink het ek kan gerus maar ’n klompie hier by die hospitaal kom aflaai. Vrugte is mos altyd welkom, of hoe?”

Dat Ben Roux glad nie beïndruk is deur die pragtige gebaar van die jong boer nie, is duidelik. Hy is toevallig ook in matrone se kantoor om die operasielys vir die volgende dag deur te gaan toe Hennie met sy vrag vrugte opdaag.

Marlene, wat eenkant staan en aantekeninge maak, sien die frons waarmee hy die jong boer betrag, maar sy steur haar nie daaraan nie. Sy het Ben sedert haar aankoms hier nog baie selde sonder daardie frons gesien, en beslis nog nooit sien lag nie.

Sy hou nou op met skryf en kyk belangstellend na die jong man.

Op Rondekuil het mense nog tyd vir mekaar. Soms amper te veel tyd, sodat te veel onderling bespiegel word oor wat daardie een gedoen het of wat daardie een nou weer nagelaat het. Maar beslis lewe die mense van Rondekuil nie by mekaar verby nie. Hier is nou weer vir haar ’n voorbeeld. Daar is baie vrugte op die plaas, meer as genoeg vir eie gebruik, en die balans kan gerus aan die siekes en oues op die dorp uitgedeel word.

Dat Hennie se beweegredes nie heeltemal so onselfsugtig is nie, weet Ben. Marlene is egter salig onbewus daarvan dat hy nou al twee weke lank knaend probeer om die nuwe suster te siene te kry.

“En hoe lyk jou nuwe suster?” wou hy die eerste dag al van Ben weet toe hy hom by die poskantoor raakloop.

Die antwoord was bot en onbevredigend. “So-so.”

“Nou wat beteken dit? Beteken dit dat sy nou nie juis lelik is nie, maar ook nie juis mooi nie, of wat?”

“Ons het almal ons eie idee van mooi en lelik. Oordeel maar self.”

Hennie is bewus van die derde persoon in die kantoor, maar hy kyk nie direk nie. Hy weet egter dit moet die nuwe suster wees. Sy geluk was in! Hier is nie ’n groot versameling van meisies op Rondekuil nie. ’n Nuwe gesiggie is altyd welkom. Hierdie keer gaan hy sorg dat die ander manne hom nie voorspring nie.

Matrone aanvaar egter sy geskenk met ope arms en sonder om te vermoed dat dit ’n middel tot ’n doel is. “Dis baie gaaf van jou om ook aan ons te dink, Hennie. O, jy het seker nog nie vir suster Roux ontmoet nie, nè?”

Hennie kyk nou direk na haar en Marlene erken die bekendstelling, kyk hom dan vraend aan toe hy haar openlik verbaas aanstaar.

“Maar jy is dan pragtig!” Hy bloos bloedrooi en kyk vinnig, beskuldigend na die ander man, wie se frons nou verdiep. “Ekskuus. Ek wou nie persoonlik wees nie. Dis net … O, wel, ek is jammer, suster, maar jy ís pragtig en die man wat dit nie raaksien nie, moet sy oë laat toets.”

Matrone lag hartlik en Marlene glimlag vriendelik. “Dankie, meneer. Soms doen ’n kompliment ’n vrou die wêreld se goed.”

“Plesier, suster.” Hy buig galant, sy oë vol bewondering. Mag! Wat makeer Ben om hierdie mens as so-so te beskryf! Is hy dan siende blind? Hy klop homself op die skouer. Ou Hennie-man, jy het vanoggend ’n blink gedagte gekry met hierdie vrugte van jou! “Ag, noem my sommer Hennie. Op Rondekuil lol ons nie veel met formaliteit nie. Kan ek vir jou ook ’n paar vrugtetjies by die verpleegsterstehuis aflaai?”

“Dankie, Hennie. Dit sal baie welkom wees. Tinkie sal dit baie geniet.”

“Tinkie?”

“Ja. My dogtertjie.”

Hennie verlep sommer. “Jy is … getroud?”

“Ek was.”

“O, gaaf! Ag, ek bedoel, ek … Nou ja, dan laai ek maar gou af. Sien jou weer, suster!”

Hy stap al fluitend by die deur uit en matrone laat hoor: “Dié Hennie is tog ’n gawe seun. Jy kan gerus na sy plaas gaan kyk. Sy ouma en oupa bly by hom.”

“Ek sal graag wil. Tinkie was nog nooit op ’n plaas nie.” Sy glimlag. “Om die waarheid te sê, ek ook nie!”

“O, maar dan kan jy gerus dat Hennie jou eendag uitneem en gaan wys. Dis een van ons spogplase.”

Hennie besluit om sommer nog daardie selfde middag te bel. “Suster, ek hoop nie ek is lastig nie, maar ek het gewonder of jy nie vanaand by ons wil kom eet nie. Ek het Ouma van jou vertel en van Tinkie, en sy het gesê ek moet julle nooi om vanaand by ons te kom eet.”

Marlene aarsel. Dis nou jammer dat Ben die gesprek kan hoor, maar die feit dat haar lewenspad in ’n doodloopstraat beland het, beteken nie dat sy haar geheel moet onttrek nie. En Tinkie sal so ’n kuiertjie geniet. “Dankie, Hennie. Dit sal heerlik wees. Hoe laat?”

“Hoe laat kom jy van diens af?”

“Vyfuur.”

“Dan kry ek julle net ná vyf sodat ons nog ’n stukkie dag oor het om Tinkie al die goed op die plaas te wys. Hier is klein varkies en eendjies en ’n vulletjie wat vanoggend aangekom het en …”

“O, sy sál dit geniet! Baie dankie, Hennie. Tot vyfuur dan.”

Dis eers toe sy later terugdraai van die sterilisator dat sy Ben in die oë kyk. Haar gesig neem daardie onpeilbare uitdrukking aan wat hy die afgelope twee weke leer ken het wanneer hy in haar gesigsveld kom. “Kan ek help met iets, dokter?” vra sy beleef.

“Suster, sê my … wat het jou na Rondekuil laat kom?”

Sy verstyf merkbaar. Sy het die gevreesde vraag verwag. Tog het sy die afgelope dae begin gerus raak. Hy stel nie genoeg belang om haar te vra nie, het sy besluit. Wat het hom nou skielik geprikkel om die vraag te stel? Sy dwing haarself om kalm in die speurende oë op te kyk.

“Ek was klaar met my opleiding en ek het gevoel dis tyd dat Tinkie van haar ouma en oupa af wegkom. Hulle is baie dierbaar, maar sy word tot in die afgrond bederf.”

Dis of sy iets spottends in die diepte van sy oë kan lees. “Is dit ál rede? Sodat jou kind nie so bederf moet word nie?”

Haar ken lig. “As jy miskien onder die indruk is dat ek agter jóú aangeloop het, moet ek jou teleurstel. Ek was net moeg vir die stad, dis al. Rondekuil was toevallig oop en omdat ek in teaterwerk belangstel, het ek aansoek gedoen.”

Weer lê die ongeloof baie duidelik in sy oë. “Jý … moeg vir die stad? Ek vind dit moeilik om te glo, as jy my sal verskoon, suster.”

Sy weet sy staan eintlik sonder verweer voor hom, en daarom probeer sy haarself nie verdedig nie. “U is verskoon, dokter. Het u toe besluit of u die keisersnee vanmiddag gaan doen?”

Sy oë priem in hare. “Ja. Oor ’n uur.”

Sy knik net en gaan voort met haar werk asof daar geen onderbreking was nie.

Hy staan haar nog ’n oomblik en aankyk. Dan, meteens, grinnik hy, maar daar is geen humor in sy oë nie. Goed op jou plek gesit, maat. Wie is jy om nuuskierige vrae te stel? Nou weet jy. Dis nie om jóú dat sy hierheen gekom het nie. Maar is dit dan nodig om so uit die hoogte te wees? Hy het net ’n vraag gevra, dis al.

Hennie en Tinkie het reeds maats gemaak toe Marlene daardie middag van diens af kom. Sy luister glimlaggend na die gelag en gejil in die klein sitkamertjie van haar woonstel in die verpleegsterstehuis terwyl sy gou verklee, en meteens is daar ’n hartseer in haar. ’n Kind moet ’n pa hê. Veral noudat sy weg is van haar ouma en oupa, is haar lewetjie ook maar eensaam. Sy het net vir Lappies om haar dae mee te verwyl. Marlene se hart word sommer warm jeens Hennie. Hy lyk na ’n gawe jong man, min of meer haar eie ouderdom.

’n Vasberadenheid vat in haar pos. Sy gaan nie langer toelaat dat Ben Roux haar lewe beheer nie. Vyf jaar lank was hy die spil waarom alles gedraai het, wat sy gedoen en gedink het. Sy het haar hele lewe omvergegooi ter wille van hom. Maar van nou af gaan sy haar nie meer afsluit nie. Ook ter wille van Tinkie moet sy van hom vergeet en begin lewe.

Tant Miemie en oom Jors is die gasvryheid self toe hulle op die plaas aankom. Sedert Hennie hulle vanoggend kom vertel het van die pragtige mens wat in Rondekuil se hospitaal haar verskyning gemaak het, kon hulle nie wag dat dit moet aand word nie. Nog nooit was Hennie so gaande oor ’n meisie nie. Hulle het besluit dat hulle die godin wat hul kleinseun se voete so onder hom uitgeslaan het, onder oog moet kry en self beoordeel. Hennie is immers hul erfgenaam en as hy trou, sal sy vrou saam met hulle op die plaas moet regkom. Hoe gouer ’n mens sake dus goed deurkyk, hoe beter. Die feit dat sy reeds getroud was en al ’n kind het, kan sake baie kompliseer.

Maar van die oomblik wat tant Miemie en oom Jors se oë op die mooi, rustige blonde vrou val, hou hulle van haar, en Tinkie kruip binne vyf minute diep in hul harte in.

Eers eet hulle lekker varsgebakte mosbolletjies saam met die heerlikste koffie. Dan tel Hennie vir Tinkie op sy skouers en gaan wys hulle al die besienswaardighede van Tabaksfontein. Marlene besef gou dat die De Waals welgestelde en vooruitstrewende boere moet wees.

Tinkie is in ekstase oor die klein varkies, die eendjies en kuikentjies en die nuwe aankomeling in die perdestal. Dat Hennie baie trots is op sy perde, is duidelik. Hy het die stoetery as ’n stokperdjie begin, maar sy belangstelling het algaande gegroei en nou is hy reeds buite die kontrei bekend vir sy gehalteperde.

Dis eers toe dit sterk donker is en tant Miemie vanuit die kombuisdeur roep, dat hulle Tinkie wegkry van die vulletjie af. Terwyl Marlene gou haar kind se handjies en gesig gaan was, hou ’n ander motor voor Tabaksfontein se ruim plaashuis stil.

Ben verskyn in die deur net toe Marlene met Tinkie aan die hand binnekom. Haar verbasing is in haar oë merkbaar.

Verskonend sê hy teenoor tant Miemie: “Ek is jammer. Ek het nie geweet julle het gaste nie, tante.”

“Wat maak dit saak? Van wanneer af moet jy ’n uitnodiging kry om op Tabaksfontein te kom?” Haar oë kyk hom ontevrede aan. “Ons het jou weke laas gesien. Jy is mos ’n vreemdeling deesdae,” verwyt sy openlik. “Sit en skink vir Marlene ook ’n glasie sjerrie voor ete. Hennie sal nou hier wees, dan kan ons eet.”

Marlene voel weer die ou spanning om haar keel trek. Moes Ben juis vanaand besluit het om weer ’n slag op Tabaksfontein te kom kuier? As hy vooraf geweet het dat sy hier sou wees, sou hy natuurlik nie gekom het nie. Hy het seker aangeneem sy en Hennie gaan uit.

“Kan ek tante nie kom help nie?” wil sy vinnig weet, maar haar hoop word verydel.

“Nee dankie, kind. Hou jy solank vir Ben geselskap terwyl oom Jors en Hennie nog buite besig is. Ek sal regkom.”

Sy het geen keuse as om maar gehoorsaam te gaan sit en gedwee die glasie sjerrie uit sy hand te ontvang nie.

“Medium cream … of het jou smaak verander?”

Sy skud net stilswyend haar kop en hou haar oë stip op haar glas gerig.

Dis Tinkie wat haar ma vanaand red. Sy is besig met ’n lang relaas van wat sy alles hier op die plaas gesien het, plat op die mat voor Ben. Hy luister aandagtig, skynbaar sonder om hom te steur aan die stil gestalte in die diep stoel skuins voor hom.

“En daar is ’n klein perdjie ook. Oom Hennie sê dis ’n wyfieperd en hy gaan haar Tinkie doop!” Sy klap haar handjies opgewonde saam.

“Jy bedoel merrie,” laat Marlene vir die eerste keer hoor.

Tinkie swaai verontwaardig om. “Nee! Haar naam is nie Mary nie. Dis Tinkie!”

Die grootmense se oë ontmoet en vir die eerste keer glimlag hulle spontaan teenoor mekaar.

“Mamma bedoel sy is ’n merrie. Dis wat ’n mens ’n wyfieperd noem,” verduidelik Ben en skielik buk hy af, tel haar van die mat af op sy skoot. “En wat nog?” por hy haar aan, die glimlag nog huiwerend om sy mondhoeke.

“En daar is ’n groot koei in die stal en sy kan melk ook gee.”

Die glimlag verdiep weer en Marlene moet ook maar verleë saamlag. “My kind, jy moet darem nie jou onkunde so openlik laat blyk nie. Jy sal dat die mense dink ons kom van …”

“Die stad af?” help hy met ’n fyn glimlaggie.

“Ja, van die stad af.” Sy kyk verbouereerd weg. Wat het skielik oor hom gekom? Meteens is hy ’n mens, weet sy dat hy ook kan lag. Dis eers toe sy seker is dat Tinkie sy volle aandag het dat sy dit weer waag om te kyk, en dis of ’n swaar hand haar hart omsluit en dit wring. Pa en dogter … en hulle weet dit nie! Die vae heimwee wat soms in die blou oë waarneembaar is, lê vlak. So hoort dit mos. As Ben net …

“Is daar iets verkeerd, Marlene?”

Sy skrik op uit haar somber bepeinsing en vind sy oë speurend op haar. Dis die eerste keer dat hy haar op haar voornaam noem. Weer kyk sy vinnig weg na die glasie in haar hand. “Nee, dis … niks nie.”

Daar is openlike verligting in haar oë toe Hennie en oom Jors op daardie oomblik binnestap. Sy was op die punt om te begin huil. Nugter weet watter afleidings hy dán sou gemaak het!

Dit word ’n gesellige aandjie. Sy leer vanaand ’n ander Ben ken. Hy is meer gemoedelik, meer mens. Sy self neem nie veel deel aan die gesprek nie, en wanneer sy sy peinsende blik op haar betrap, probeer sy die bonsing in haar hart stil. Dis maar net ’n bui hierdie, waarsku sy haarself. Die Ben wat jy die afgelope veertien dae leer ken het, is die ware nuwe Ben. Môre sal jy sien hy is nie regtig anders nie.

Later word Tinkie vaak van al die opgewondenheid van die dag en raak op Ben se skoot aan die slaap. Toe Marlene haar by hom wil neem, skud hy sy kop.

“Laat haar maar lê. Sy is tog nie swaar nie.”

“Sy is darem ’n dierbare dingetjie,” sê tant Miemie liefdevol en almal se oë rus op die groot man met die kleintjie op sy skoot. Hy lyk glad nie vreemd of selfbewus nie. Hy lyk inderdaad heeltemal gemaklik en sy een hand streel die blonde krulle hier teen sy bors.

“Het jy hom kort gelede verloor, Marlene?” wil die tante simpatiek weet.

Marlene is onverhoeds betrap en kyk die goedige vroutjie vraend aan.

Sy verduidelik met jammerte in haar oë: “Ek bedoel, is Tinkie se pa kort gelede oorlede?”

Sy sit verslae en vertoon meteens bleek. Sy sien nie kans om hierdie dierbare oumens te belieg nie. Rondekuil het sommer vanselfsprekend aanvaar dat Tinkie se pa oorlede is. Maar goedsmoeds ’n leuen vertel, kan sy nie.

Dis Ben wat haar tot hulp kom. “Dis nie so lank gelede nie, tante.” Hy span sy arms versigtig om Tinkie en staan op. “Ek dink dis huistoegaantyd.” Hy kyk vraend na Marlene. “As jy wil saamry, kan ons Hennie die rit in dorp toe spaar.”

Sy aarsel en Hennie toon duidelik dat hy glad nie omgee vir ’n rit dorp toe nie. Maar Ben gee hulle nie juis kans nie, want hy begin sommer met Tinkie aanstap na sy motor.

“Dis geen moeite om julle terug te neem nie, Marlene. Ek het julle gebring en natuurlik neem ek julle terug.”

“Dit sal eintlik ’n bietjie verspot wees, aangesien ek tog moet teruggaan,” laat Ben oor sy skouer hoor en Marlene besef daar is klaar vir haar besluit. Dit gaan dalk snaaks lyk as sy daarop aandring dat Hennie hulle moet terugneem.

“Dit is al laat, Hennie. Terwyl dokter Roux tog moet inry …”

Hennie kapituleer ontevrede. Hy het nog nie ’n oomblik alleen met haar gehad nie. Hoekom moes Ben juis vanaand kom kuier het? “Nou goed dan, maar ons sien mekaar weer. Werk jy oor die naweek?”

“Net as daar noodgevalle kom.”

“Goed. Dan sien ons mekaar. Ek sal jou bel. Baie dankie vir hierdie aand, Marlene. Dit was wonderlik om jou en Tinkie hier te hê.”

Sy glimlag na hom. “Dis ek wat moet dankie sê, Hennie. Ook aan oom en tante. Dit was heerlik om hier te wees.”

“Dit was ons plesier, kind. Jy ken nou die pad Tabaksfontein toe. Kom kuier vir ons net wanneer jy daarna voel. Julle is altyd baie welkom,” laat oom Jors gul hoor.

By die motor lê Ben Tinkie gemaklik op die agterste sitplek neer en skuif dan agter die stuurwiel in. Hennie buk af en loer by die ruit in.

“O ja, Ben, ek wou jou nog sê. Josephine het laat weet dat sy kom kuier. Sy stuur baie groete.” Dan verduidelikend aan Marlene: “Dis my niggie. Sy kom nou en dan hier kuier en sy is die enigste meisie wat ou Ben al ’n bietjie uit sy dop kon kry.”

Ben se antwoord is om die enjin aan te skakel en ná ’n kort groet weg te trek. Marlene sit doodstil, en meteens het die aand wat vir haar so besonders was, al sy glans verloor. Die feit dat Ben geen spesiale vriendin op Rondekuil het nie, beteken geensins dat hy glád nie ’n vriendin het nie. Die feit dat dié Josephine via Hennie vir hom laat weet dat sy kom kuier, verraai nie juis ’n te hegte vriendskap nie. Tog, as sy die enigste meisie is wat Ben laat ontdooi, sê dit baie, want Ben Roux is nie ’n man wat maklik uit sy dop kruip nie. Dit weet sy ook goed.

Dis baie stil in die motor, en sy probeer nie eens om iets te sê nie. Ná ’n rukkie waag sy dit om na sy profiel te kyk en binne-in haar trek dit weer saam. Ben … Hoe dikwels het sy in die verlede sy gesig gestreel, sy kop innig tussen haar hande vasgehou. Hoeveel keer het daardie lippe hare nie in hartstog opgeëis nie … het sy in daardie arms gelê, gekoester in sy liefde en tot heerlike passie gevoer deur sy liefkosings …

Toe die hospitaal en verpleegsterstehuis voor hulle opdoem, is sy dankbaar. Dit was wonderlik om weer so intiem saam met hom te wees, maar dis beter as dit nie herhaal word nie. Dit bring net pyn mee – die pyn van “te laat”.

“Ek sal haar inbring.” Hy tel Tinkie op en dra haar na die slaapkamer waar hy haar op die tweede bed neerlê.

Dan strek hy orent, kyk vlugtig om hom rond. Sy was al die jare aan soveel weelde gewoond. Pas sy nou werklik aan by die lewe van die gewone, werkende mens?

“Dankie, dokter.”

Hy knik net en sy wag. Hoekom loop hy nie? “Marlene …”

“Ja?”

“Hoekom is jy bang om in my oë te kyk?”

Sy lig haar kop. “Hoekom sou ek bang wees?”

Weer haak hul oë vas. En dan, meteens, het hy haar teen hom vasgedruk, voel sy die forsheid van sy liggaam teen hare, voel sy die ou bekende arms om haar knel en dis háár Ben se lippe wat hard en eisend oor hare sluit. Soos van ouds sirkel haar arms om sy nek, knel haar vingerpunte teen sy agterkop, raak sy weg in sy omhelsing, sag en weerloos en volkome vrou.

Net so skielik is haar lippe weer vry, voel sy sy hygende mond teen haar oor en hoor sy hom skor fluister: “Nie weer nie … Nooit weer nie!”

Dan is hy by die deur uit, hoor sy haar voordeur toegaan, hoe sy motor wegtrek.

Lank staan sy so roerloos, haar gekneusde lippe bewend, die groot blou oë droog en dood. Die lewe sterf weer weg uit haar hart, laat dit koud en sonder gevoel. Hy is weg met ’n eed op sy lippe: “Nooit weer nie!”

Sy sak op die bed neer, druk haar gesig in die kussing vas, wag dat die laaste bietjie hoop in haar moet sterf. Maar in die plek daarvan kom dié besef: Ben Roux het nog dieselfde mag oor haar as jare gelede – in sy arms, onder sy lippe, ervaar sy die ekstase waarna sy tevergeefs in Herman Henning se aanraking gesoek het …

Ena Murray Keur 16

Подняться наверх