Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеIn die dae wat volg, neem Marlene haar intrek by haar ouers. Sy doen haar uiterste bes om, wanneer sy in hul teenwoordigheid is, nonchalant voor te kom. Slegs die eerste aand word daar oor haar huwelik gepraat.
“Marlene, jy moet nou besef dat jy jou na Ben moet skik, anders gaan jy jou man verloor.” Jan van Tonder probeer kalm wees, maar in hom is ’n groot onrus. Hy stem nie met sy skoonseun se optrede saam nie, dis te drasties. Maar hy kan ook nie help om die jonger man se moed en vasberadenheid te bewonder nie. Ben is nie ’n man wat heeldag met sy gevoelens op sy mou loop nie, maar Jan weet dat hy sy vrou innig liefhet. Hy weet hoe die man gelyk het toe hy hulle kom groet het. Maar Ben Roux is nie die skoothondtipe nie. Marlene, al het hy haar hoe lief, sal hom nie domineer nie.
Marlene probeer op ’n traak-my-nieagtige toon antwoord. “Ben is net koppig, Pappa. Hy wil my dwing en ek laat my nie dwing nie. Sodra hy uitvind dat hy my nie kan afpers nie, sal hy terugkom.” Sy kyk haar ouers strak aan. “En moet my asseblief nie verder probeer ompraat of beïnvloed nie. Dit is ’n saak tussen my en Ben dié.”
Haar ouers kyk na mekaar en bly stil. Tyd sal wel leer, en hoewel geen ouer graag wil sien hoe sy kind sy kop hard en seer stamp nie, besef die Van Tonders dat dit miskien die enigste weg gaan wees waarlangs húl kind gaan leer. Sy raak net al meer opstandig hoe meer hulle met haar probeer praat, en sy het hulle al openlik verwyt dat hulle hulle aan Ben se kant skaar en hul rug op hul eie kind keer.
Nee, dis beter om te swyg. En dit ís soos sy sê. Dis haar en Ben se huwelik. Op ’n dag sal hulle wel tot ’n vergelyk moet kom.
Daardie aand, met sy arm om sy huilende vrou, sê Jan vertroostend: “Jy ontstel jou verniet so, my vrou. Dinge sal regkom. Marlene sal wel tot ander insigte kom. Die werklike erns van die situasie het nog nie tot haar deurgedring nie. Sy sal weldra besef dat sy nie anders kan as om toe te gee nie.”
“Maar Ben het darem ook nie reg gemaak nie, Jan. Hy het skielik so hard en verbete geraak.”
“Ja, my vrou, maar hy is nog jonk. Ook hý moet nog leer wanneer om skiet te gee en wanneer om die lyn weer stywer te trek.” Hy sug. “Ons staan nie onskuldig nie, Mamma. Ons dogter is die produk van ons opvoeding. Ons het ons kind verkeerd grootgemaak, en nou is dit vir haar onmoontlik om aan te pas by ’n man met sulke hoë standaarde soos Ben Roux.”
“Sy is nog jonk, Jan. Ben is net te haastig met haar,” skerm sy vrou.
“Miskien is hy, ek weet nie. Maar Marlene is soos ’n moedswillige kind wat nie wil leer nie. Solank alles volgens haar sin en wil gaan, is dit goed. Sy ken nie teenkanting en dissipline nie … en Ben het sy eie siening van sake en hy sal nie daarvan afwyk nie. As iemand hier moet toegee, sal dit Marlene moet wees.”
In haar kamer bedink Marlene die saak egter heeltemal anders.
Hy sal nog sy fout uitvind, meen sy. Gee hom maar tyd. Binnekort sal hy na haar terugkruip. Hy het die kleinburgerlike platteland al afgesterf. Hy weet dit nog net nie. Laat die mistroostige stof maar eers oor die droë vlaktes begin waai. Laat hy maar eers begin sukkel met swak personeel en ontoereikende geriewe in die klein hospitaaltjie wat sy pa jare gelede begin het …
Sy was net een naweek saam met hom Rondekuil toe sy pa nog geleef het, en dit was genoeg vir haar. Hy sal haar nooit weer daar kry nie. Nee. Gee Ben net kans. Laat hy maar net ’n paar aande laat tuis kom sonder dat sy daar is om hom met liefdevolle arms te ontvang. Gee hom maar kans dat die verveling hom pak, dan sal hy onthou en terugverlang na die stad en sy geriewe. En na haar.
So gaan die dae verby, en soos hulle al meer word, moet sy haarself al heftiger moed inpraat. Maar soos die een posaflewering na die ander verbygaan en daar geen taal of tyding kom nie, word die oortuiging in haar al minder, verstil dit later. As die telefoon lui, verbleek sy merkbaar, en as dit dan iemand anders is, is dit of die bleekheid verder verdiep.
“Dis Laetitia. Sy wil hoor of jy nie vanaand saam met hulle na die Kuhns wil gaan nie.”
“Dankie, Mamma. Sê vir haar ek het ’n ander afspraak,” is die antwoord maar weer soos gebruiklik.
Die lewe waarvoor sy so lief was, het alle sin verloor. Aanvanklik het sy vol bravade meegedoen, maar haar entoesiasme het al flouer geword, tot dit geen aardigheid meer was om aan die sosiale lewe van hul vriendekring deel te hê nie. Sy het haar vriende begin vermy, altyd gereed met ’n verskoning wanneer die uitnodigings kom.
“Marlene, my kind, dit kan nie so voortgaan nie,” bars haar ma nou los toe sy van die telefoon terugkeer. “Dis nou al drie maande …”
“Ek weet.” Sal sy dit dan nie weet nie? Drie lang maande sonder Ben.
Die moederoë sien bekommerd hoe maer haar kind geword het. Daar is byna niks meer oor van die vrolike lewensvreugde wat haar altyd omstraal het nie. Sy het stil en afsydig geword. “Marlene, jou pa het my verbied om die saak met jou te bespreek, maar, my kind, ek kan nie langer stilbly nie. Jy móét besef dat Ben nie gaan kopgee nie. Teen hierdie tyd is dit baie duidelik. Gaan jy … gaan jy niks daaromtrent doen nie?”
Marlene kyk met onsiende oë deur die venster. As haar ma maar net weet … Drie maande is verby waarin dit so goed is asof die wye Noordweste haar man ingesluk het. Drie maande sonder taal of tyding. Nie eens een keer het hy probeer uitvind hoe dit met haar gaan nie. Hoe dikwels gedurende hierdie lange wagtyd het sy nie al haar hand op die telefoon gehad nie. Maar sy kan nie! Sy kan nie ’n man soebat om na haar terug te keer nie. Wanneer hy terugkom, moet dit uit eie oortuiging wees. Maar deesdae het die “wanneer” in “as” verander. As Ben terugkeer …
As Ben ’n fout gemaak het, moes hy dit teen hierdie tyd al agtergekom het. As Ben werklik vir haar omgee, sou sy verlange hom al teen hierdie tyd na haar teruggedryf het. As Ben al tot sterwens toe siek gesukkel is met swak personeel en geriewe, sou hy nou al die handdoek ingegooi het. Maar Ben is doodstil.
Maar daar is ’n ander rede, ’n rede waarvan haar ouers nie kennis dra nie, wat haar haar hand elke keer weer van die telefoon af laat terugtrek. Die kind waarna Ben verlang het en waarteen sy bly skerm het – sy is immers nog jonk, daar is nog baie tyd vir sulke dinge – is op pad. Benewens baie ander dinge wat sy die afgelope drie maande moes ontdek, was dié ontdekking die grootste en die skokkendste.
Sy weet dit is baie maklik om Ben onmiddellik terug te kry. Sy kan hom maar net bel en vertel dat sy hul kind verwag. Soos sy Ben ken, sal hy dadelik terugkeer. Maar haar trots laat haar nie toe om hom uit plig terug te dwing nie. As Ben terugkom, moet dit wees omdat hy na háár terugkeer, omdat hy nie sonder haar kan lewe nie, en nié omdat sy sy kind verwag nie.
Daarom het sy haar ouers nog nie vertel nie. Want sy weet hulle sal dan hul taktvolle swye verbreek. Hulle sal Ben kontak. En Ben mag nie van die kind weet nie. Nie voordat sake tussen hulle reggekom het nie. Dán eers sal sy hom vertel.
Maar nou sien sy sake gaan nie meer regkom tussen hulle nie. Ben het werklik bedoel wat hy gesê het toe hy daardie oggend van die ontbyttafel af opgestaan het. Sy het werklik nie geglo dat hy dit ernstig bedoel nie, net so min as wat sy werklik bedoel het dat sy liewer haar huwelik tot niet sou laat gaan as om saam met hom Rondekuil toe te gaan.
Maar Ben het elke woord bedoel wat hy gesê het. En dit is nog ’n rede hoekom sy telkens by die telefoon verbygestap het. Hoe kan sy hom nou bel en soebat om haar terug te neem nadat hy haar gewaarsku het dat alles finaal tussen hulle verby is? Wie sê hy wil haar nog terughê? Was hy nie moontlik vreeslik verlig toe sy daardie oggend so beslis geweier het nie?
Al hierdie maande is die verlange draaglik gemaak deur die wete dat hy haar liefhet soos wat sy hom liefhet, en dat hy net so verskriklik na haar verlang as wat sy na hom verlang; dat hy haar net so vreeslik mis as wat sy hom mis. Maar nou … nou begin sy wonder. Met elke verbygaande dag raak sy al meer oortuig dat die prentjie op Rondekuil daar heeltemal anders uitsien as wat sy haar dit die afgelope maande voorgestel het.
Miskien mis hy wel die geriewe van die stad. Miskien verlang hy wel soms terug na die goed toegeruste stadshospitaal en sy bekwame personeel, maar liewer dít as om langer saam te leef met ’n bedorwe, spandabelrige, onvolwasse kind soos sy. Is dit nie miskien nader aan die waarheid nie?
“Marlene …”
Hartseer sien sy vir die eerste keer dat haar ma oud geword het en dat daar spore van kommer op haar gesig afgeëts is wat nie drie maande gelede daar was nie. Haar hart krimp. Sy was selfsugtig, besef sy skielik met nuwe insig. Haar ouers ly ook. Sy besef nou eers hoe bitter moeilik dit vir hulle moes gewees het om te swyg en net toe te kyk. Ook ter wille van hulle sal sy iets moet doen.
“Ek sal hom bel, Mamma.”
Sy sien hoe haar ma se oë vol trane skiet, trane van dankbaarheid en verligting, en haar hart krimp ineen. Haar ma glo nog dat sy maar net kan bel, en alles sal reg wees. Sy self het nie meer daardie geloof nie.
Tog is daar ’n opgewonde bonsing van afwagting in haar toe sy eindelik die bekende stem aan die ander kant hoor antwoord.
“Ben Roux hier. Wie praat?”
Sy formele stem slaan in haar ore vas. Sedert sy haar ma beloof het dat sy Ben sal kontak, het sy hom al ’n paar keer tevergeefs in die hande probeer kry. Elke keer moes sy net hoor dat dokter Roux in die distrik uit is en of daar nie ’n boodskap is nie. Sy het geen boodskap gelaat nie, en ook nie gesê wie dit is wat na hom soek nie. Maar vanmiddag, eindelik, hoor sy sy stem.
“Dis … ek.” Sy sluk, maar dis meteens baie stil aan die ander kant. “Ek … soek jou al twee dae lank.” Sy het nie bedoel om verwytend te klink nie. Die spanning laat haar keel toetrek sodat sy nie verder kan praat nie.
Maar al waarvan Ben Roux bewus is, is die verskriklike teleurstelling en leegheid in hom toe hy die verwyt in haar stem hoor. Sy het nie verander nie. Die vae hoop dat hierdie drie maande insig en volwassenheid sou bring, was tevergeefs.
Sy stem klink bot en ver toe hy antwoord: “Ek is jammer. Ons het ’n epidemie hier en is dag en nag besig. Wat … is dit? Hoekom bel jy?”
Marlene gryp die kant van die telefoontafeltjie vas sodat haar kneukels wit deurskyn. Dit was ’n fout. Sy moes nooit gebel het nie. Sy kon haar die vernedering gespaar het. Ná drie maande van skeiding … Is dit al wat hy kan vra?
“Ek … wou net hoor, dis al drie maande … Wat is jou plan?”
Sy kan ’n duidelike sug hoor, maar dis nie ’n sug van ongeduld soos sy dit vertolk nie.
“Mý plan het nog niks verander nie. Ek bly op Rondekuil soos ek jou gesê het. Ek wil dit nie weer bespreek nie. Ek bly by my besluit. Ons het mekaar tog duidelik genoeg verstaan.”
Daar is ’n desperaatheid in haar oë wat hy nie kan sien nie. “Maar …”
“Ek het gewonder wanneer jy na ’n prokureur sal gaan.”
“’n Prokureur? Om … wat te doen?”
“Om met ons egskeiding te begin. Daar is geen sin in om dit langer uit te stel nie. Ek gee jou die versekering dat ek al die skuld op my sal neem. Maar kry tog net klaar daarmee!”
Sy bly soos ’n standbeeld staan, lank nadat sy die hoorbuis op die mik teruggeplaas het.
In die weke wat hierop volg, hou Marlene se ouers haar bekommerd dop, totdat haar ma dit op ’n dag nie langer kan uithou nie. “Ek gaan vir Ben bel, Jan. Marlene kan nie so voortgaan nie. Kyk hoe lyk sy al! Sy is net ’n skaduwee van die meisie wat sy was. Sy stel in niks belang nie. Sit net elke dag in ’n bondeltjie en verlang.”
“Hettie, nee, los die kinders. Ek wil net so bitter graag sien dat sy gelukkig is, maar ek gaan beslis ook nie vir Ben Roux soebat om my dogter terug te vat as hy haar nie meer wil hê nie. Ek sê nie Marlene het hom nie rede gegee om haar te verlaat nie, maar dis ’n swaard wat na twee kante toe sny. Maar ek en jy kan nie twee mense dwing om saam te lewe nie, al is een van hulle ons eie kind.”
“Hul egskeiding word volgende week gefinaliseer, Jan. Dan sal dit vir altyd te laat wees. As daar nog iets te redde is, moet dit nóú gered word.”
“Ek weet, Hettie. Maar miskien is die tyd nog nie ryp nie, is ons kind nog nie ryp genoeg nie. Sy hét baie verander die afgelope maande, maar miskien moet sy nog ’n paar lessies leer, my vrou.”
Marlene verskyn stil in die deur. Sy het haar ma se woorde gehoor en haar mond trek wrang by die aanhoor van haar pa se kommentaar. Miskien moet sy nog ’n paar lessies leer! Lessies waaraan sy bitter hard en alléén sal moet leer.
Hulle gewaar haar in die deur en swyg vinnig. Weer eens tref die geweldige verandering in haar hulle albei. Marlene is nie meer die vlinder wat oor die lewensoppervlak dartel nie. Daar is nou ’n volwassenheid in haar. Sy lyk opeens baie meer na ’n vrou as ’n jong meisie. En hoewel sy maerder is as voorheen, is daar ’n rypheid in haar uiterlike wat die ouerpaar op hierdie oomblik opnuut tref. Sy kom voor hulle staan en gee ’n dapper glimlaggie wat hul ouerharte vasgryp en wring. As Ben haar nou moet sien, sal hy haar kwalik herken, dink Jan van Tonder met ’n pynende hart.
Marlene het skielik, ná sy Ben gebel het, verander. Sy was nog in haarself gekeer, het lang ure in die slaapkamer deurgebring, maar tog was dit asof sy van daardie oomblik af weer stadigaan die drade begin optel het. Of sy haar doelbewus reggeruk het ter wille van haar ouers, weet hy nie, maar sy het tog weer begin deelneem aan die daaglikse lewe. Sy het nie meer geruk as die telefoon skielik lui nie. Sy het nie meer die posbode soos ’n arend dopgehou nie. En hoewel sy glad nie meer uitgegaan het nie, het sy opgehou om die sitkamer uit te vlug as daar mense opdaag en op ’n nuwe, statige wyse haar ma die gaste help onthaal.
Haar vriende het haar al minder probeer oorreed om saam met hulle uit te gaan. Ook hulle het die verandering in haar agtergekom en besef dat Marlene buite hul kring beweeg; skielik nie meer inpas by hul jolige, onbekommerde geselskap nie. Al meer en meer was dit die ouer garde wat haar in hul kring ingetrek het.
Marlene is besig om op die mees pynlike wyse groot te word en volwassenheid te bereik, besef haar pa, en hy wens ’n oomblik dat hy sy vrou nie gekeer het toe sy Ben wou bel nie.
Sy kyk hulle met stil oë aan, hierdie twee mense wat haar so gedra het die afgelope maande, sonder wie se bystand sy nie staande sou gebly het nie. En sy moet hulle vandag weer skok, weer seermaak. Jare lank het sy alles van hulle ontvang, hul liefde as vanselfsprekend aanvaar – soos wat sy Ben se liefde aanvaar en geglo het dat dit vir altyd onherroeplik hare is. Maar dis één van die lessies wat sy moes leer: Liefde is nie vanselfsprekend nie en ook nie onherroeplik nie.
“Mamma, Pappa, daar is iets wat ek julle moet vertel, maar nie voordat julle my iets belowe het nie.”
“Wat is dit, my kind? Enigiets.”
Sy kyk teer na haar ma. Hoeveel sál ’n moeder vir haar kind doen? “Dit gaan nie ’n maklike belofte wees nie, Mamma. Ek het netnou gehoor wat Mamma gesê het, dat Mamma vir Ben wil bel …”
Haar ma se oë is pleitend: “Marlene, sal julle nie maar nog net een maal probeer nie?”
“Nee, Mamma. Ek sal alleenlik na Ben teruggaan as hy uit sy eie, vrye wil na mý terugkeer. Maar hy wil nie. Hy stel nie belang nie. Daarom … dis die belofte wat ek van julle verlang. Julle mag Ben nooit ooit laat uitvind van wat ek julle nou gaan vertel nie. Ek moet eers julle plegtige belofte hê, anders … anders kan ek nie langer hier by julle bly nie.”
“Marlene! Jy dink tog nie daaraan om weg te gaan van ons af nie!” roep haar ma geskok uit.
“Nee, Mamma. In elk geval nie in die nabye toekoms nie. Ek is jammer, want dit klink byna na afpersing en ek bedoel dit nie so nie, maar ek kan alleenlik hier bly as julle my daardie belofte sal gee.”
“Ons begryp nie, my kind. Wat kan …?” begin haar pa, maar sy val hom beleef maar beslis in die rede.
“Pappa sal nou weet, maar eers die belofte …”
Die ouers kyk na mekaar, dan weer na hul dogter. “Nou goed dan, my kind. As dit nie anders kan nie. Ons belowe dat ons Ben nooit sal vertel wat jy ons nou gaan vertel nie, as dit dan werklik die enigste manier is …”
“Dit is die enigste manier, Pappa. Ek sal Ben alleenlik terugontvang as hy uit liefde vir mý terugkeer, en nie omdat … omdat ek sy kind verwag nie.” Hulle staan stom voor haar, en sy vervolg sag: “Gelukkig dra ek klein en het ek baie gewig verloor, maar oor drie maande kan julle jul kleinkind verwag. Ek was reeds by ’n dokter, en daar is niks om oor bekommerd te wees nie.”
“My kind! My kind!” Hettie van Tonder slaan haar arms huilend om haar dogter en oor haar skouer ontmoet Marlene haar pa se oë.
“Dink jy dis reg teenoor Ben, Marlene? Dis tog sy kind ook.”
“Ja, Pappa, maar …” Sy skud haar kop stadig heen en weer. “Ek wil hom nie onder ’n verpligting plaas nie.”
Hy knik, en daar kom trane in sy oë. Dis ’n harde pad wat sy kind kies en hy wonder of sy al sterk genoeg is vir daardie pad, maar hy swyg. Miskien … miskien lê daar vir haar volle wasdom langs hierdie pad.
“Ons staan by jou, my kind.”
“Dankie, Pappa, Mamma. En ek het julle belofte …?”
“Ons het reeds belowe, het ons nie?”
Hy laat sy vrou en dogter alleen om oor klere en ’n babakamer te gesels, en gaan sit peinsend agter sy lessenaar. Hoe eienaardig is die lewe tog nie. Marlene kan met die oplig van die telefoon haar man terugkry. Dit sou die meeste vroue in haar posisie tog gedoen het.
Dit sou die óú Marlene ook gedoen het. Maar die nuwe Marlene verkies om haar pad eerder alleen te loop as om Ben te dwing om na haar terug te keer. Hierdie nuwe, sterk dogter van hom …
Dat sy vrou nie soos hy dink nie, besef hy toe sy ’n rukkie later sy studeerkamer binnestap. Hy hou haar teer teen hom vas.
“Jan! Jan! Jy móét Marlene tot ander insigte bring! Sy gaan ’n kind hê. Ben se kind. Besef sy dat sy haar kind sonder ’n pa wil grootmaak? Sy ontneem daardie kind die reg om sy pa te ken – en dit terwyl Ben nog lewe, terwyl sy hom maar net kan laat weet …”
“Daardie dinge besef Marlene terdeë, my vrou. Ek dink nie sy het ligtelik hieroor besluit nie. Ons mag nie inmeng nie, Hettie. Dis háár kind.”
“Maar dinge gaan nooit weer regkom tussen haar en Ben nie! Volgende week word haar egskeiding gefinaliseer!”
“My vrou, ons moet aanvaar en glo dat dit so bestem is. Marlene moes eers leer dat dit nie genoeg is om ’n man net lief te hê nie. Sy weet nou dat ’n vrou haar man ook moet bystaan, dat opoffering onafskeidbaar deel van die liefde is. Ben Roux is ’n man wat hoë eise stel, ook aan homself. En as ons dogter nie aan sy standaarde kan voldoen nie, dan is dit nie vir my om hom te verkwalik nie.
“Ben het Marlene werklik liefgehad, dit weet ons albei. Maar hy is ’n man met selfrespek. Hy is nie ’n skoothond wat hom deur ’n vrou aan ’n halsbandjie laat rondlei nie. En dit is wat Marlene wou doen. Laat ons eerlik en regverdig wees, my vrou. Soos Marlene was, durf ons hom nie verkwalik dat hy haar verlaat het nie. Ben Roux het ’n ryp en volwasse vrou nodig, en ek hoop dat ons dogter nog daardie vrou vir hom sal word. Maar dit neem tyd. Ons moenie ongeduldig wees nie.”
Haar pa is onbewus daarvan dat Marlene hierdie gesprek hoor en dat dit haar tot diepe nadenke stem. Dit bly haar by soos die maande verbykruip en die geboorte nader kom. En daar is genoeg tyd om te dink … en tot insig te kom. Sy weet nou sy het Ben Roux lief. Hoewel hulle destyds baie van mekaar geskei was, was dit die tydjies wat hulle wel bymekaar was wat sin aan haar lewe gegee het. Sy besef nou dat die partytjies en die najaag van plesier sinneloos is in vergelyking daarmee.
In die lang, eensame nagte dink sy baie dikwels aan haar pa se woorde terug en besef met skaamte hoe min sy haar man werklik bygestaan het. Aan liefde het dit nie ontbreek nie, maar bystand het sy nooit gegee nie. En in hierdie dae besef sy ook half verstom: Sy sou Ben nie anders verkies het nie. Dis juis sy beslistheid, sy vaste beginsels, sy definitiewe siening van sake, sy toegewydheid aan sy professie wat hom so manlik gemaak het. In hierdie dae, in retrospeksie, leer sy haar man eers werklik respekteer; leer sy hom waardeer en bewonder vir die man en die mens en die dokter wat hy was; begin sy hom vergelyk met haar vriende en van sy kollegas en weet sy met sinkende sekerte dat sy ’n diamant deur haar vingers laat glip het.
Daar loop min Ben Rouxs op dié aarde rond. Sy was in die bevoorregte posisie om een van hulle te hê en … sy was te blind, te kinderagtig, te selfsugtig om hom te waardeer. En nou het sy hom verloor …
Haar egskeiding is agter die rug. Tipies Ben Roux, het hy haar nooit probeer kontak nie. As hy besluit dat die gewas uit ’n pasiënt uitgesny moet word, doen hy dit kalm, bedaard en beslis. Ook in sy persoonlike lewe was daar ’n belemmerende groeisel en toe hy besluit het dat dit uitgesny moet word, het hy dit presies en vasbeslote gedoen.
Maar wat Ben Roux nie weet nie, is dat hy haar nooit volkome van hom sal kan lossny nie. ’n Onbreekbare band sal hulle vir ewig bind.
Hierdie besef kom opnuut in haar op toe sy eindelik op Ben se dogter se verrimpelde gesiggie in haar arms afkyk. Geen hof, geen formele egskeidingsbrief, geen regter, niks op hierdie aarde, sal ons ooit werklik kan skei nie, Ben, sê sy in haar hart. Sy oorhandig die bondeltjie nuwe lewe aan die suster, kyk kalm na haar ouers en glimlag.
“Sy is nie juis op die oomblik ’n pragstuk nie, Mamma, maar hulle verseker my sy sal darem van daardie oumensplooie ontslae raak!”
Hettie van Tonder kyk haar dogter verontwaardig aan. “Sy is beeldskoon! Skaam jou, Marlene. Sy ís mos pragtig, nè, Jan?”
“Ja … ja,” stem die oupa kamma vertwyfeld saam en knipoog teenoor sy dogter. “Lyk nes haar ouma!”
“Moenie skoor soek nie, Jan van Tonder!” betig sy vrou en moet dan maar saamlag.
Dan versober Marlene se gesig. “Daar is weer iets wat ek wil vra. Ek voel al so skaam.”
“My kind, jy weet tog …”
“Ek weet, Mamma, maar … ek bly net vra. Ek kom blykbaar nooit in die posisie om ook ’n slag te gee nie. Dis verkeerd. My lewe is verskriklik selfsugtig.”
Jan van Tonder glimlag net, sy oë teer. Hoe pragtig is hierdie dogter vandag vir hom. As jong meisie was sy bekoorlik en verfrissend, maar noudat sy vrou en ook moeder is, is daar iets onbeskryflik moois in haar.
“As ons kan help, my kind. Wat is dit?”
“Ek … ek wil vra of julle nie my kind sal … vat nie.”
“Jou kind … vát?”
“Net tydelik, tot ek my opleiding voltooi het, asseblief.”
Daar is verwarring op die ouergesigte.
“Wil jy die een of ander kursus volg? Maar dis ’n puik plan, my kind. En natuurlik sal ons na die kleinding kyk. Julle bly mos by ons in die huis.”
“Nee, Pappa verstaan nie. Ek sal nie by julle in die huis wees nie. Ek sal in die tehuis moet bly. Mamma sal voltyds na die kleintjie moet kyk, as sy kans sien. Ek weet dis ’n geweldige guns wat ek vra. As dit te veel sal verg, sê so, asseblief. Ek het alreeds só baie van julle gevra …”
Haar pa se oë vernou, kyk stip. “Verstaan ek jou reg, my kind? Wil jy verpleegster word?”
Haar oë is helder, byna uitdagend. “Ja, Pappa.”
Hettie frons. “Dis ’n baie harde kursus, Marlene,” probeer sy wal gooi. “Dis tog nie nodig dat jy moet werk nie. Ons kan mos vir jou en die kleintjie sorg.”
“Ek weet, Mamma, maar ek wil graag.” Sy sien die begrip in haar pa se oë, besef dat hy dieper kyk as haar ma en hierdie onverwagse begeerte van haar beter verstaan.
“Is dit vir jou werklik belangrik, Marlene?”
Haar oë blink meteens, maar sy hou haar kop dapper omhoog. “Ek wil, Pappa. Baie graag. Daar is niks wat ek liewer wil doen nie as om Ben se wêreld te leer ken.”
“Ben!” Haar ma se lippe bewe. “Marlene, jy …”
“Ek weet wat Mamma wil sê, maar … moenie my hoop en geloof probeer demp nie. Dit was Ben se laaste woorde aan my: Ek moet oorstap na sý wêreld. Dis die enigste manier. Toe kon ek nie, maar nou kan ek … as Ma my sal help, asseblief. Dit sal net vir vier jaar wees. Ek weet dis ’n veeleisende kursus. Maar ek sal deurbyt. Ek moet. Want ek moet Ben se wêreld leer ken, en ek moet volgende keer verstaan. As daar ’n volgende keer gaan wees.”
“Dan … glo jy nog dat jy en Ben …?”
“Ek hoop, Mamma. Dis al waarop ek die afgelope maande gelewe het. Op hoop,” erken sy. “En netnou, met Ben se kind in my arms, het ek besef ek het ’n plig teenoor sy kind. Maar ek moet myself eers bewys voordat ek vir Ben kan sê: Hier is jou kind. Ek moet eers ’n waardige vrou word, ’n vrou wat by Ben pas, wat dieselfde taal as hy praat, wat in dieselfde wêreld as hy lewe. Ek en Ben het altyd in twee aparte wêrelde gelewe. Ons liefde was ons enigste kontakpunt en die lewe het my geleer dat liefde alleen nie genoeg is om ’n huwelik te bind nie.” Sy glimlag na haar pa op. “Pappa is reg. Die lewe het my baie lessies geleer.”
Jan van Tonder sluk aan die knop in sy keel. Marlene weet nog nie hoe ver sy reeds in Ben Roux se soort lewe ingestap het nie. Sy het nou dáár gekom waar sy nie meer huiwer om van haar kant ook te gee nie; van haar kant haar offers te bring nie. Dit gaan van haar baie verg om van haar kind afstand te doen – die enigste pand wat sy van Ben Roux oorgehou het – en die moeilike kursus van verpleging te volg.
Of sy sal kan vasbyt, is ’n ander vraag, maar op die oomblik is dit nie so belangrik nie. In hom swel sy hart van trots, en sy kommer hou hy vir homself.
Vier jaar is kort, maar in sekere opsigte ook lank … lank vir ’n man in die veeleisende beroep van geneesheer, lank vir ’n man om alleen te bly, om saans tuis te kom sonder dat daar ’n vrou is wat hom verwelkom, wat vir hom ’n bord kos kan voorsit en die eise van die dag in haar arms kan laat versmelt. En Ben Roux is per slot van sake ’n man.
Maar hierdie gedagtes hou Jan van Tonder vir homself. As Marlene al so ver gedink het, laat sy niks glip nie, en hy gaan sy dogter se geesdrif en hoop nie demp nie. Weer val hy maar terug op die ou beproefde middel – tyd. Tyd, soos in die verlede, sal maar moet leer. Intussen is dit vir hom genoeg om te weet dat sy dogter eindelik rigting in die lewe gekry het, dat sy, as dit so beskore is, nog ’n volwaardige vrou vir Ben Roux sal kan word. En as die lewe anders besluit, dan gaan hy soos in die verlede in die geloof voort. Een ding weet hy: As daar teleurstelling vir sy dogter wag, sal sy nie ondergaan nie. Smart het haar volwasse gemaak. Marlene is eindelik die vrou wat Ben Roux begeer het. So jammer dat hy nog vier jaar sal moet wag voordat hy dit sal ontdek … as dit nie dan al te laat sal wees nie.