Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеIn die maande wat op hierdie dag volg, is dit dikwels net haar pa se aanmoediging en die feit dat sy weet hy hou dop of sy dit werklik in haar het om iets aan te pak en dit deur te voer, wat Marlene laat vasbyt.
Vir haar, meer as vir enige ander junior, is die aanpassing geweldig. Hoewel sy in die verpleegsterstehuis tuisgaan, bly sy effens eenkant, juis omdat sy soveel ouer, ook ouer as haar jare, voel.
Baie dikwels rus haar oë vol weemoed op haar maats as sy na hul geskerts en vrolike gelag luister; hul praatjies oor kêrels en grappies aanhoor. Sy was ook eenmaal sewentien, agtien. Toe het haar lewe ook net gedraai om partytjies, kêrels, uiteet en gaan fliek. Nou is sy ’n vrou met die stempel geskei op haar afgedruk, ’n moeder met ’n kind. Daardie onbelemmerde jeug is verby. Dit het baie skielik verbygegaan. Tog, moet sy in alle eerlikheid erken, verlang sy nie terug na daardie jare nie. Sy kan na die jong verpleegsters luister sonder afguns, met ’n wyse glimlaggie en met die gedagte dat hulle hierdie tydjie van hul lewe maar moet geniet. Nie meer lank nie, en die lewe sal in alle erns begin – vol teleurstellings, eise en verantwoordelikheid. En dis gouer op jou as wat jy dit verwag.
Maar vir Marlene is die aanpassing ook erger as gevolg van die gemaksugtige lewe wat sy tot hiertoe gelei het. Baie dae moet sy eers stilstaan en wonder of dit regtig sý is wat panne ronddra en beddens opmaak; wat haar stilswyend moet skik na die grille en giere van dokters, seniors en pasiënte. Want dis een ding wat sy al gou moes leer: die dogter van Jan van Tonder het geen aansien in hierdie groot stadshospitaal nie.
Hier is sy verpleegster Roux, kort en klaar. Sy is net ’n paar hande wat moet werk, ’n paar bene wat moet hardloop. Hier is sy bloot ’n naam, ’n naam wat dikwels ongeduldig geroep word om die een of ander taak, heel dikwels nie so aangenaam nie, te kom verrig. Wie sy buite die wit mure van die hospitaal is, stel niemand in belang nie.
En hier leer sy ook om in stilte baie te verduur. Die suster en die pasiënt is altyd reg. Sy, as junior, het geen sê nie. Hier is sy bloot ’n klein ratjie in ’n goed geoliede masjien, en die oomblik as sy nie saambeweeg nie, word sy nie gespaar nie. Die feit dat sy die gewilde dokter Roux se vrou was, maak geen verskil aan die enkeles wat bewus is van die feit nie. Sy wás Ben Roux se vrou. Sy ís nou verpleegster Roux.
Maar nie een keer hoor haar ouers van die trane wat in die dienskamer gestort word nie, van die gepynigde voete nie. As hulle soms die moegheid in haar sien wanneer sy van diens kom, ’n opmerking daaroor maak, is haar antwoord altyd baie ongeërg. Dat sy hulle nie heeltyd ’n rat voor die oë kan draai nie, toon hulle nie. Marlene is nie meer die ligsinnige meisie wat die maklike weg soek nie.
Hoewel haar ouers dit vermoed, weet sy en sy alleen watter verskriklike opoffering dit van haar verg om haar kind by hulle agter te laat wanneer sy ’n paar kort uurtjies vry was en weer na die hospitaal moet terugkeer. Dis of iets elke keer in haar wil breek as sy die warm bondeltjie moet terugplaas in haar ma se arms. Dis dan dat sy wonder of Ben Roux dit werklik werd is, want sonder dat haar pa dit vermoed, het sy ook al aan die moontlikheid gedink dat hy reeds iemand raakgeloop het wat hy waardig genoeg ag. Hy is ’n aantreklike man en aan aandag sal dit nie ontbreek nie.
Maar wanneer hierdie gedagtes in haar opkom, druk sy dit met alle mag van haar af weg en wy haar opnuut aan haar nuwe professie toe. Sy durf nie aan haar vrese en kommer toegee nie, dan sal sy verlore wees. Sy durf nie daaraan dink dat Ben miskien al iemand in haar plek gestel het nie.
Soos die maande verbygaan en Tinkie groter word, ouliker word en al dierbaarder, dien dit vir Marlene tot aansporing. Sy weet dat sy nie net om haar eie geluk stry nie, maar dat sy ook ter wille van haar kind moet volhard. Tinkie moet haar pa terugkry …
Soos haar studies vorder, word verpleegster Roux bekend as bekwaam en betroubaar. Waar sy haar aan die begin met alle mag moes teësit om nie siek te word wanneer sy bloed sien nie, is sy nou vasgevang in haar professie. Soos sy al verder in Ben Roux se wêreld instap, word dié wêreld onweerstaanbaar interessant. Sy raak al getrouer in haar studies, al gretiger om meer te leer en te weet. En juis omdat Ben ’n voorliefde vir die teater gehad het, is dit in die operasiekamer waar sy werklik haar verborge aanleg toon, waar sy Ben soms so naby voel dat sy dankbaar is vir die masker wat haar bewende mond bedek.
Dis ook hier waar sy Herman Henning leer ken. Dikwels trek haar hart saam as haar oë op die breë skouers en die swart kuif val. Iets in hom, in sy manier van doen, van praat, laat haar so geweldig aan Ben dink dat sy soms wens dat hy nie haar wêreld betree het nie. Dikwels betrap sy sy blik op haar in dieselfde peinsende houding as wat Ben haar soms beskou het, en dan voel sy haar hart in haar omdraai.
Toe hy haar een middag voorstaan in die gang, kyk sy onwillig na hom op. Sy sou liewer hierdie man net agter ’n masker wou ken. Nou, in sy gewone klere, is daar weer iets wat haar so intens aan Ben laat dink, dat sy noodgedwonge die sluiers oor haar oë moet trek om hom nie miskien iets van haar innerlike ontsteltenis te laat sien nie.
As sy oë meer raaksien as wat sy dink, laat hy niks blyk nie. Hy het reeds heelwat van haar uitgevind, en hoe meer hy uitvind, hoe meer intrigeer sy hom. Haar koel en afsydige houding trek hom aan. Hy weet dat verpleegster Roux nooit uitgaan nie, geen mansvriende het nie, en al haar vrye tyd aan haar dogtertjie wy.
“Ek het gewonder of jy nie miskien vanaand saam met my sal uitgaan nie, mevrou Roux. Ek is nog ’n redelike vreemdeling in die stad en die aande is maar eensaam. Jy kan self kies waarheen ons moet gaan.”
“Dankie, dokter, maar …”
“Voordat jy nee sê … Ons hoef nie uit te gaan as jy nie so voel nie. Ek is heeltemal bereid om my aand in die geselskap van jou ouers en dogtertjie deur te bring, as jy dit so verkies.”
Sy kyk hom opreg verbaas aan. Toe tref dit haar dat hy haar as mevrou Roux aangespreek het. Terselfdertyd besef sy dat hierdie man reeds heelwat van haar moet weet.
Sy aarsel. Sy kan goed begryp dat hy seker soms baie eensaam moet wees. En dit kan nie kwaad doen as hy saam met haar huis toe gaan nie. Tog … Vir byna vier jaar het sy geen man in haar intieme kring toegelaat nie. Sy is ook nie nou gretig dat daar een moet verskyn nie, nie noudat sy so amper aan die einde van die pad is nie.
“Dit kan tog seker nie kwaad doen om net te gesels nie, kan dit?” vra hy met ’n skewe glimlag en weer ruk haar hart pynlik. Ben het ook die manier gehad om so skeef te glimlag as hy verleë is …
“As u werklik nie sal omgee om ’n aand in twee ou mense en ’n kleuter se geselskap deur te bring nie …?”
“Glad nie. Hoe laat sal ek jou by die tehuis kom haal?”
“Ek sal om sesuur gereed wees, as dit nie te vroeg is vir u nie. Ek probeer altyd met Tinkie se badtyd daar wees. Ons kan sommer daar eet.”
“Dit sal my heeltemal goed pas. Dankie. Om sesuur dan.”
Toe hy stiptelik om sesuur vir haar by die voordeur vra, verwens sy haarself dat sy op ’n ingewing ja gesê het. Sy is bewus van die talle nuuskierige blikke. Dis die eerste keer in vier jaar dat ’n man haar by die tehuis kom haal.
Ook toe hulle by haar ouerhuis instap, wens sy dat sy die geslote kringetjie waarin sy die afgelope jare beweeg het, geslote gehóú het. Haar pa en ma is soos altyd gasvry en slaag daarin om hul verbasing goed weg te steek. Sommer net ná hul aankoms vlug sy badkamer toe met Tinkie.
Toe sy met Tinkie, nou rosig-skoon in haar arms, weer in die sitkamer verskyn, is dit met die eerste oogopslag duidelik dat Herman Henning en haar ouers mekaar se geselskap baie geniet. As sy self nie veel aan die gesprek deelneem nie, merk niemand dit op nie, en as die vreemdeling se oë dikwels op haar en die kleintjie onder die staanlamp rus, merk sý dit nie op nie. Die ouerpaar sien dit raak, maar hulle hou hul gedagtes vir hulself.
In die laaste maande voor die einde van die jaar werk Herman Henning hom ongemerk al dieper in hierdie kring in, en oor Ben Roux word die swye bewaar. Dat Herman beslis planne met hul dogter het, is vir die ouers – en ook vir die res van die tehuis en hospitaal wat hierdie vriendskap nuuskierig dophou – baie duidelik. Maar verpleegster Roux laat niks blyk nie, en sy sê ook niks om iemand te laat agterkom wat sý daarvan dink nie. Ook nie teenoor Herman nie.
Dokter Henning se oë lyk nie net baie na dié van Ben Roux nie, sy skewe glimlaggie lyk nie net identies aan dié van sy ietwat ouer kollega nie, en sy kuif herinner nie alleen aan Ben Roux s’n nie, hy openbaar ook dieselfde koppigheid as Ben Roux. Hoewel dit oënskynlik voorkom asof hy net tot op ’n punt met die ontwykende Marlene vorder, hou hy knaend vol, bewus daarvan dat hy tog vorder.
Hoe nader dit aan die end van die jaar kom en sy haar finale eksamen sal aflê, hoe groter word die verwarring in haar.
Herman het ’n wonderlike vriend geword en Tinkie is behoorlik dol oor hom. Sy weet dat hy al soos ’n seun in die huis geword het, en dat sy reeds baie op hierdie man se vriendskap steun. Meer as wat sy sou wil erken. Maar …
Elke keer steek sy by daardie máár vas. Maar hy is nie Ben nie …
En tog wonder sy soms of sy nie net ’n droombeeld bly vertroetel het nie. Vier jaar is lank genoeg om iemand onherkenbaar te laat verander. Sy self het in vier jaar só verander dat sy haarself nie aldag herken nie. Daar het nie ’n glimp van die ou Marlene oorgebly nie.
Sy staan en beskou haarself nou krities in die spieël terwyl sy haar gereed maak vir nog ’n afspraak met Herman. Sy glimlag meewarig vir haarself. Hulle gaan vanaand na die hospitaaldans en sy doen dit teësinnig! Waar is die ou Marlene van ’n korte paar jaar gelede wat op dans en uiteet gefloreer het? Gelukkig verwag Herman nie te dikwels dat sy hom na sosiale geleenthede moet vergesel nie. Hy is, wéér soos Ben, ’n man vir ’n aandjie tuis.
Maar dis nie net innerlik waar daar ’n geweldige verandering plaasgevind het nie, besef sy nou met haar oë krities op haar spieëlbeeld. Ook uiterlik vertoon sy soveel anders as die meisie wat Ben geken het.
Sy is nie meer so maer soos destyds nie. Daar is ’n effense volheid aan haar vroulike kurwes, en die los, lang hare is kort geknip sodat haar gesig oop is en die fyn struktuur beklemtoon word. In die geheel is die prentjie wat na haar terugstaar statig en volwasse.
As sy Ben weer moet sien, sal hy lyk soos die beeld wat sy in haar hart omdra? Of sal hy vir haar onherkenbaar wees, soos wat sy seker vir hom sal wees? En dan tref ’n nuwe onrus haar. Destyds het sy en Ben nie dieselfde taal gepraat nie, het hulle in twee wêrelde geleef. Maar hul liefde was ’n definitiewe raakpunt. Sal sy nie nou vind dat hulle dieselfde taal kan praat, dieselfde wêreld ken, maar dat die liefde verdwyn het nie?
Dis wat haar nou snags rusteloos laat rondrol. Het sy Ben Roux nog werklik lief? vra sy haarself dikwels af. Klou sy nie maar net aan iets vas wat nie meer bestaan nie? Is Ben Roux nog die een wat vir haar geluk en sielsvrede sal kan besorg, en vir haar en haar kind ’n toekoms? Is dit nog belangrik vir haar om haarself aan hom te bewys, om vir hom te gaan oortuig dat sy nou ’n waardige vrou vir hom sal wees?
Sy weet dat Herman net wag dat sy haar finale eksamen agter die rug moet kry. Sy broederlike soentjies het deesdae ’n ondertoon van hartstog en sy weet dat hy sy werklike gevoel vir haar met groot wilskrag onder bedwang hou.
Aan die een kant besef sy dat hulle nie so kan voortgaan nie. Dis onnatuurlik. Aan die ander kant is sy bang vir daardie oomblik wanneer sake tussen hulle tot ’n punt gedryf gaan word. Sy is lief vir Herman. Sy het die wêreld se respek vir hom as dokter en mens, maar … nog nie een keer kon sy ’n sprankie ekstase ervaar wanneer hy haar aanraak en sy lippe hare ontmoet nie.
Of is sy nou verspot en is ekstase deel van die onbesonne jeug? Het ekstase, dáárdie soort ekstase wat sy in Ben se arms gesmaak het, by die onvolwasse Marlene gepas en is dit ’n ervare en volwasse vrou nie waardig nie? Het sy Ben Roux werklik nog so lief, of is sy reeds meer verlief en verknog aan Herman Henning as wat sy besef?
En wat moet sy doen as sy oor ’n paar weke haar diploma ontvang? Moet sy voortgaan met haar oorspronklike plan, of moet sy finaal van gister afskeid neem en ’n nuwe toekoms saam met Herman instap?
Baie kilometers daarvandaan vra Ben Roux homself hierdie vraag ook af. Is dit nie tyd dat gister verbygaan en die verlede finaal agtergelaat word nie?
Dis tant Miemie wat die ding weer aan die gang gesit het. Sy praat knaend oor die onderwerp. Daar is niemand wat hom so graag getroud wil sien as juis tant Miemie nie. Hy glimlag nou effens en strek sy bene behaaglik voor hom uit. Hy geniet sy kuiers op Tabaksfontein by tant Miemie en oom Jors. Twee goeie ou mense en boesemvriende van sy oorlede pa. Hy het so te sê hier grootgeword. Dit was tant Miemie wat ná sy ma se dood onopsigtelik gesorg het dat sy kosblik gepak word en dat sy klere reg is vir die koshuis en later vir die universiteit. Dis tant Miemie en oom Jors wat hom met oop arms terugverwelkom het toe hy verbitter en ontnugter hier aangekom het. Hulle het hom ontvang en vertroetel en hul liefde was soos ’n balsem oor die seer en rou in hom. En hulle het nooit vrae gevra nie.
Maar deesdae laat tant Miemie duidelik blyk dat sy dink dis nou tyd dat gister weggepak word, dat ’n mens die verlede nie vir altyd met jou kan saamsleep nie. En vanaand draai die gesprek ook al weer in dié rigting.
“Eet nog ’n beskuitjie, Ben. En onthou dat ek jou ’n blik vol saamgee. Mens, nee, jy sal darem maar vir jou ’n sorg moet aanskaf. Die mens is nie vir alleen bly gemaak nie,” betig sy al goed bedoelende.
Oom Jors het ook vanaand ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. “Ja-nee, Ben, jy begin al grys word, sien ek. Handjievol is nou wel knap, want een wat deur tant Miemie se hande is, ken haar werk, maar ’n man moet ’n vrou hê …”
Ben het nog altyd maar net goedig gelag wanneer hulle aan hom begin karring, maar dis of dit vanaand moeiliker is om ontwykend te wees. “Met wie sal ek tog trou, oom? Al wat vroumens is, is bang vir my!” Hy lag grimmig. “Hulle dink almal ek is ’n nors buffel.”
“Dis nou twak daardie,” laat tant Miemie heftig hoor. Daar kan nie ’n mens bestaan wat nié van Ben hou nie, glo sy. Dat hy wel, veral aan die begin, elke vroumens wat enigsins na sy kant toe gekyk het goed op hul plek gesit en hulle vir ewig die skrik op die lyf gejaag het, weet sy nie. Al wat sy weet, is dat Ben geen belangstelling in die vroulike geslag getoon het nie. Behalwe miskien vir Josephine. Maar Josephine is nie die regte vrou vir hom nie, het tant Miemie klaar besluit. Sy is nou wel haar eie kleinkind, maar sy sal nie graag wil sien dat Ben ernstig met haar raak nie.
Sy is amper erger oor Ben as oor haar eie kroos, terg haar kinders haar altyd, en dis ook glad nie so ver van die waarheid af nie. Van kleintyd af het sy ’n besonder sagte plekkie vir Ben Roux gehad, en dit was vir haar ’n groot skok toe hy ’n paar jaar gelede skielik op Rondekuil opgedaag het, sonder vrou en met ’n blink hardheid in sy oë wat haar nie mislei het nie, maar waaroor sy liewer die swye bewaar het.
Deesdae sien sy nie meer so dikwels daardie hardheid in sy oë nie. Die ergste seer is aan die verbygaan. Dié dat sy deesdae moed het om hom al meer en meer in die rigting van vrousoek te begin dwing.
“Dis net Josephine wat miskien vir my sal kans sien,” hoor sy Ben droog sê. “Sy is parmantig genoeg!”
“Nee, nie Josephine nie,” laat tant Miemie vinnig hoor. “Dit sal maar net ’n herhaling wees van …”
Sy swyg vinnig, maar albei mans weet wat sy wou sê en Ben se glimlaggie verdwyn.
Skielik is die ou hardheid terug in sy oë. “Nee, tant Miemie. Daar sal nooit ’n tweede keer wees nie. Nie vir Ben Roux nie. Ek stamp my kop net een maal aan dieselfde klip. Wat meer is,” en hy probeer glimlag, “soos oom Jors sê, ek raak al grys. Hoekom sal ek nou ’n sukses maak van iets waarvan ek, toe ek jonger was, ’n totale mislukking gemaak het? Nee, tant Miemie, om te trou, moet jy kan vertrou en … ek sal nooit weer kan vertrou nie.” Hy staan op. “Waar is daardie blik beskuit wat ek belowe is? Ek moet gaan.”
Buite loop hy Hennie raak, oom Jors se kleinseun wat saam met hulle bly en op die ou familieplaas boer.
Hy kyk die jonger man tergend aan. “Hennie, jy het my darem lelik in die steek gelaat.”
Hennie de Waal kyk hom verward aan. Hy is wel met agt jaar hierdie man se junior, maar hulle is groot maats. “Hoe so?”
“Kon jy nie ’n plan gemaak het met suster Eloff dat sy op Rondekuil bly nie? Ek verloor ’n goeie teatersuster in haar. Hoekom is julle jong boertjies so swak?”
Hennie lag en dis sy beurt om te terg. “Nee, ek het gedink ek sal jóú maar eerste kans gee!” Hy sien hierdie soort tergery staan Ben glad nie aan nie, en vervolg dan vinnig: “Goed. Ons kan tot ’n vergelyk kom. Kry ’n oulike opvolger vir suster Eloff en ek sal kyk wat ek aan die saak kan doen!”
Maar toe Ben eindelik in sy eie sitkamer in ’n stoel neersak, is sy gesig stroef.
“Die mens is nie vir alleen bly gemaak nie,” hoor hy tant Miemie weer sê en hy sug. Sy is reg. Natúúrlik is sy reg, maar …
Dis nou byna vyf jaar …
Sy kop sak tussen sy hande in. Vyf lang, eensame jare. Miskien is hy ’n gek. Hoekom laat hy sy lewe so sinneloos verbygaan? Of nie sinneloos nie, want sy werk is nog altyd die kragaar van sy lewe, maar tog, soos oom Jors gesê het … hy begin al grys word.
Asof oornag het hy besef dat die edel beroep waarin hy staan en waaraan hy toegewyd is, nie meer genoeg is om alles in hom te bevredig nie. Die mens is nie vir alleen bly gemaak nie, sê tant Miemie. Nee, hy is nie. Hy is vir ’n lewensmaat gemaak. Die mens is in ’n paar gemaak, om saam te lewe, saam te werk, kinders te hê …
Om dinge saam te doen … Maar sy ervaring was die teenoorgestelde. Hulle kon nie saam dink, saam doen, saam voel nie. Nee. ’n Mens moet kan vertrou as jy gaan trou. En hy kan nie vertrou nie, sal nooit weer glo nie. Nooit weer nie.
Die telefoon se gelui laat hom opskrik.
“Ag, dokter, kom tog gou! Ek dink Santjie is nou rêrig aan die gang!”
“Goed, Nols. Ek is nou daar.”
Daar lê ’n bitter trekkie om sy mondhoeke. Om saam kinders te hê … Santjie is “aan die gang”, maar ’n erfgenaam is nie vir hom, Ben Roux, beskore nie. Hy is net daar om ander se kinders in die wêreld te help bring.
Terwyl Ben op daardie oomblik met sy lewenstaak besig is, skakel Herman Henning die motor se enjin af en kyk oor die stad se liggies uit.
“Wat is jou planne ná die eindeksamen?”
Marlene het hierdie vraag verwag, maar het nie ’n antwoord gereed nie. Deur die jare was daar altyd ’n vae voorstelling in haar kop: Sodra sy klaar is met haar opleiding, sal sy na Ben gaan, hom vertel dat sy nou sy taal kan praat, sy wêreld ken; dat sy oorgestap het soos hy van haar verwag het. Maar presies hoe sy te werk sou gaan, het sy nooit duidelik uitgeredeneer nie. Maar nou het die tyd aangebreek en sy weet nie wat om te doen nie. Sy kan tog nie net na Rondekuil ry nie, sy spreekkamer binnestap, haar epoulette voor hom op die lessenaar neersit met Tinkie daarnaas en sê: Ek is nou ’n gekwalifiseerde verpleegster en hierdie is jou kind. En dan verwag dat hulle daar en dan die drade weer moet optel asof vyf jaar nie verloop het nie! Sy weet nie eens of dit moontlik sal wees om die drade weer op te tel nie. Wat as hy intussen weer getroud is?
In die verlede het sy nog altyd van hierdie gedagte weggeskram, maar nou kan sy nie langer weier om die moontlikheid te erken nie. En as dit so is … Sy vertoon bleek en gespanne in die flou lig van die maan en sy voel sy arm om haar gaan.
“My arme meisie, hoekom martel jy jouself so met die verlede? Gister is verby. Vergeet nou daarvan en gee my ’n kans om jou gelukkig te maak. Jy weet hoe lief ek vir Tinkie is en …”
“Nee, Herman. Dit sal nie regverdig teenoor jou wees nie, nie terwyl gister nog so deel van my is nie.”
“Dan is jy nog altyd oortuig dat jy Ben Roux liefhet en hom wil terughê?”
“Ek weet nie,” sê sy saggies en verberg haar gesig teen sy bors. “Ek weet nie meer wat nie! Maar ek weet ook dat ek nie nou vir jou kan ja sê nie, nie voordat ek …”
“Nie voordat jy Ben Roux weer gesien het nie,” vul hy aan en sug.
“Ek is jammer, Herman,” fluister sy skuldig teen sy bors. “Ek wil jou nie seermaak nie. Jy was ’n wonderlike vriend die afgelope maande. En ek het vir jou lief geraak, maar …”
“Maar nie só lief soos wat jy Ben Roux gehad het nie,” vul hy weer aan en lig haar gesig na hom op. “Marlene, besef jy dat jy tot die ontdekking kan kom dat jy hom afgesterf het, dat jy die afgelope jare ’n skim in jou hart omgedra het?”
“Ek besef dit, Herman, maar hoe sal ek sekerheid kry anders as om … om hom eers weer te sien?”
“Hoe het jy gedink gaan jy dit doen?” wil hy weet, en weer voel sy ’n teerheid in haar opwel jeens hierdie man. As dit nie vir Ben Roux en gister was wat nie wil verbygaan nie …
“Ek weet nie,” erken sy eerlik. “Ek het geen idee hoe ek te werk moet gaan nie.”
Hy aarsel. Hy weet dat hy en hierdie vrou saam ’n gelukkige toekoms tegemoet kan gaan. Maar solank as wat Ben Roux ’n droombeeld in haar hart is, sal sy nooit ten volle aan hom kan behoort nie. Miskien is dit beter as sy maar eers terugstap in die verlede en die werklikheid ervaar sodat die droombeeld kan vervaag en verdwyn.
“Daar word ’n susterspos op Rondekuil geadverteer.” Sy sit regop, kyk hom met groot oë aan en hy gee sy bekende skewe laggie. “Toevallig, nè? Spesiale teaterervaring sal ’n aanbeveling wees. Jou Ben se teatersuster is blykbaar weg.”
“Hy is nie meer my Ben nie, Herman,” betig sy hom hartseer. O, as gister net wil verbygaan! Hoe maklik sal dit dan nie wees om hierdie man lief te kry nie! “Ben sal al getroud wees.” Dit is die eerste keer dat sy haar grootste vrees hardop uitspreek.
“Hy is nie. Ek ken Albert Pienaar wat ook daar op Rondekuil praktiseer. Ek het eiereg gebruik en hom vandag gebel, navraag gedoen oor die susterspos wat hulle adverteer en gesê ek ken iemand wat moontlik sal belangstel. Toe het ons so gesels, en ek het onopsigtelik meer van jou eks te wete gekom. Ben Roux is nie weer getroud nie. Hy is die enigste snydokter op die dorp en Albert sê hy hoop maar hulle kry ’n bekwame persoon, want dokter Ben is ’n man wat hoë eise stel.”
Marlene draai haar kop vinnig weg. Weet sy dit nie! O, weet sy dit nie!
“Ek het hom verseker dat as die dame na wie ek verwys, gaan aansoek doen vir die pos, hulle haar maar met ’n geruste hart kan aanstel. Ek ken Ben Roux nie, maar ek dink nie hy sal met haar kan fout vind nie.”
Haar stem is bewoë. “Dankie, Herman.”
“Plesier. Dis in elk geval die waarheid.” Hy lag ietwat kortaf. “Ek het darem beloning vir my moeite gekry. Albert het gesê dat ek ’n naweek moet afkom sodra die jagseisoen oop is en vir my ’n springbok of twee kom skiet. Hy sal dit reël met een van sy plaasvriende.”
Sy het niks hierop te sê nie, bly net half afwesig voor haar uitstaar.
“Jy kan met ’n geruste hart Rondekuil toe gaan, Marlene. Ná my aanbeveling sal jy die pos kry. Ek sal jou ook ’n getuigskrif gee. Gaan na Rondekuil en gaan haal die verlede terug en kyk goed of dit is soos jy dit in jou hart gebêre het. Wanneer ek daardie naweek afkom vir my springbokke, sal ek by jou kom hoor of … of die verlede werklik verby is. Ek sal in elk geval die ring saambring. Dan sal jy al ’n paar maande tyd gehad het om sekerheid te kry. As jou antwoord dan ja is, raak ons daardie naweek verloof en dien jy onmiddellik jou bedanking in.”
“Herman …”
Hy omraam haar gesig met sy hande, buig sy kop en soen haar teer op die lippe. “Ek plaas jou onder geen verpligting nie, my meisie. Ek wil net hê jy moet sekerheid gaan kry, absolute sekerheid by wie jou en jou Tinkie se geluk lê. Ek sal jou nie pla nie. Miskien moet ons glad nie eens kontak hê nie. Maar as ek die naweek kom en jou antwoord is ja, dan moet dit ’n ja wees wat uit jou hele hart kom. Ek het jou lief, Marlene, maar ek kan jou nie in die skaduwee van ’n ander man bemin nie.”
Marlene konsentreer in die daaropvolgende weke op die finale eksamen. Dat sy aansoek gedoen het vir die pos op Rondekuil, hou sy tot op die laaste vir haar ouers geheim.
En dan breek die dag aan dat sy haar diploma ontvang en lank streel haar vingers oor die epoulette op haar skouers.
Vir haar, die verwende rykmansdogter, het dit bloedsweet gekos om dit te bekom. Maar vandag pryk dit op haar skouers, en sy is nie meer dieselfde vrou wat daardie eerste dag as groentjie die lang, wit gange afgestap het en met bang oë na die vreemde wêreld om haar gekyk het nie. Nee. Vandag is dit vir haar ’n bekende wêreld. Vandag sal sy met Ben kan saampraat en, belangriker, gevoelens kan deel.
Marlene besef weer eens dat sy as volwasse mens hier uitstap. ’n Mens móét net grootword te midde van al die pyn en lyding wat daagliks om jou afspeel. Jy kan nie ligsinnig en oppervlakkig bly wanneer die dood elke dag saam met jou stap nie. Jy kan nie te midde van die grootste smart en ellende gevoelloos bly nie.
Die afgelope vier jaar het sy geleer om te verstaan. So baie van die dinge waaroor sy en Ben so dikwels woorde gekry het, verstaan sy nou. So dikwels het sy Ben se stem gehoor wanneer sy by ’n sterwende buk en die droë lippe afspons. Dan het sy verstaan as sy in die dowwe, dankbare oë kyk.
Ja, voorwaar, Marlene Roux het in hierdie jare baie geleer verstaan …
“En nou, my kind? Waar gaan jy hiervandaan?” Marlene streel ingedagte oor die krulle van die slapende kind op haar skoot en kyk lank voor haar uit voordat sy na haar ouers opkyk, haar gesig kalm en vasberade.
Daar is ’n trots in Jan van Tonder wat hy nie uit sy oë kan weer nie. Sy blik rus op die epoulette op haar skouers. Sy het werklik deurgedruk! Hierdie vrou met die kalm gesig en die rustige oë, hierdie vrou sal hy met vrymoedigheid aan Ben Roux gaan voorstel.
“Rondekuil is my volgende bestemming, Pappa. Ek het ’n pos daar gekry.”
Daar kom ’n verstilling op die ouers se gesigte. Hulle het só gehoop dat sy van dié plan sou afsien. Sy het reeds so swaar gehad. Hulle, wat haar bygestaan het, en elke keer moes sien hoe sy die klouende armpies van haar kind losskeur om terug te keer hospitaal toe, hulle weet hoeveel bitter trane en onselfsugtige opoffering dit gekos het om die vrou te word wat sy vandag is. En nou wil sy miskien ’n groter hartseer tegemoetgaan as wat sy ooit geken het. “Wat van … Herman?”
“Dis ook ter wille van hom wat ek gaan, Mamma. Ek moet gaan sekerheid soek.”
“Marlene, is jy seker dis … wat jy moet doen? Wíl jy nog?” wil haar pa weet.
Sy knik, kyk af na haar kind, dan weer op. “Ek moet! Hierdie kind in my arms dwing my! Ek móét gaan seker maak.” Dan baie stil: “Hy is nog nie weer getroud nie.”
Haar ma trek haar asem skerp in. “Hoe weet jy dit?”
“Herman het vir my uitgevind. Nie dat dit op sigself enigiets hoef te beteken nie. Ek weet die moontlikheid is ewe groot dat ek op Rondekuil kan kom en vind dat ek te laat grootgeword het, te laat my offers gebring het. Maar ook ter wille van Tinkie moet ek gaan uitvind. Sy begin grootword. Sy wou nou die dag by my weet hoekom het sy dan nie ook ’n pappa nie …”
Die ouerpaar knik aangedaan en die man sê sag: “Ons begryp, my kind. Dan moet jy gaan.”
“Ja. Ek het vandag my aanstellingsbrief gekry. Ek begin volgende maand.”
“So gou al?” laat haar ma teleurgesteld hoor. “Gaan jy dan nie eers ’n bietjie rus nie?”
“Hoe gouer ek daar kom, hoe beter, Mamma. Ek kan nie wag om op Rondekuil te kom nie.”