Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеDis ’n lang ruk stil in die vertrek. Elkeen is met sy eie gedagtes besig. Tinkie slaap rustig voort, onbewus daarvan dat haar klein lewetjie binnekort dramaties gaan verander.
Die grootouers se oë rus op die klein mensie met die blonde krulle en hulle weet dat hulle, wát hulle ook al mag voel, weer nie mag inmeng nie. Hulle mag hul dogter nie terughou nie.
Die vrees in hul harte dat sy miskien al die jare na ’n onbereikbare ster gemik het, moet hulle vir hulself hou. Tog help dit om te weet dat Ben nog nie ’n ander vrou in hul dogter se plek gestel het nie. Daar is dus hoop …
Hulle wonder egter of Marlene nog na Rondekuil sou gegaan het as Tinkie nie daar was nie. Doen sy dit nou bloot ter wille van haar kind, of dra sy werklik nog al die jare ’n gevoel vir Ben Roux met haar saam? Hulle weet sy twyfel oor hierdie punt vandat Herman Henning op die toneel verskyn het. Maar hoe sal sy seker kan wees as sy nie na Rondekuil gaan nie?
Hulle is diep bekommerd. Daar is soveel moontlikhede wat Marlene op Rondekuil kan aantref. Maar Marlene is vandag volwasse genoeg om al die opsies te kan hanteer.
“Gaan Tinkie saam?” vra Jan van Tonder versigtig.
“Ja, Pappa. Ek kan nie sonder my kind gaan nie. Ons was lank genoeg geskei.”
“En hoe gaan jy haar aan Ben verduidelik? Hy sal mos onmiddellik besef dat sy sy kind moet wees.”
Marlene se oë verstil. Ja, sy het lank geworstel met daardie probleem. Hoe gaan sy Tinkie aan Ben verduidelik? Sy kyk op. “Ek het besluit om maar ’n wit leuentjie te vertel.” Haar pa frons skerp en sy vervolg aarselend: “Tinkie is baie fyn en klein vir haar ouderdom. Sy kan maklik deurgaan vir ’n dogtertjie van drie.”
Haar ma teken oorstelp protes aan. “Maar, my kind, watter indruk sal Ben dán van jou kry? Dat jy onmiddellik ná jul egskeiding sommer weer getroud is? Nee, Marlene!”
Sy lyk bleek in die gedempte lig, maar haar stem is vasberade. “Dan moet hy maar dink wat hy wil, Mamma. Daar is nie ’n ander uitweg nie.”
“Maar jou van, Marlene,” werp haar pa nou ook ontevrede tussenin. “Jy het tog as suster Roux aansoek gedoen, nie waar nie? Hoe gaan jy dít verduidelik?”
“Daar is baie Rouxs in die land, is daar nie?”
Jan van Tonder sug, skud sy kop. “Nee, my kind. Jy gaan nie hiermee wegkom nie. Ben is nie ’n gek nie.”
“Ek móét net daarmee wegkom – voorlopig altans.”
“Hoekom is dit so belangrik dat hy nie mag weet dat Tinkie sy kind is nie?”
Haar blik sak en sy druk haar slapende dogtertjie ’n bietjie vaster aan haar hart. En dan lê die trane nat op haar wimpers, bewe die vol, vroulike mond. Sy klink maar net so selfversekerd. Noudat haar vertrek na Rondekuil ’n werklikheid geword het, wil die vrese haar versmoor. Tog weet sy sy móét gaan … voordat sy vir haar en haar kind ’n toekoms kan uitwerk. Haar stem is onvas toe sy eindelik antwoord: “As … en ek besef maar te goed dis ’n groot as … maar ás dinge tussen my en Ben regkom, ás hy my weer wil terughê, dan moet dit wees om myself, nie omdat daar ’n kind is nie.” Die blou oë pleit om begrip. “Ek kan nie met ’n man saamlewe wat my net verdra omdat ek sy kind in die wêreld gebring het nie. As Ben my weer wil hê, dan moet dit suiwer uit liefde vir my wees … en om daardie rede alleen.”
Hulle is stil. Marlene het baie verander die afgelope jare, maar die trots het gebly. ’n Getemperde trots. Sy is nie te trots om na Ben Roux te gaan nie; nie te trots om na Rondekuil te gaan nie, maar sy is nog trots genoeg om haar eise te stel.
Nou is dit nie net Ben wat hoë eise stel nie. Marlene s’n is ewe hoog. En dit gaan vir hom ’n bitter pil wees om te sluk dat Marlene pas ná hul egskeiding iemand in sy plek gestel het. As hy haar nog liefhet, gaan sy liefde aan dáárdie hoë eise kan beantwoord?
Op Rondekuil trek Ben Roux op daardie oomblik sy teaterjas uit en knik teenoor sy personeel. “Dankie. Dankie, suster. Ek gaan jou mis.”
Suster Eloff bloos liggies. Ben Roux gee maar min komplimente, en hy het nog selde sy waardering vir haar bekwaamheid so duidelik uitgespreek. Was dit nie dat dokter Roux baie duidelik ’n vrouehater is nie, sou Koos van Zyl darem maar moes sukkel om die jawoord uit haar te kry, dink sy met ’n meewarige glimlaggie. Maar sy moes, soos die res van Rondekuil se hubare dames, ook maar uiteindelik verstandig besluit dat dit nie sal help om haar flikkers vir die gewilde dokter te gooi nie. Hy was beleef en vriendelik, kon selfs gaaf en gesellig wees – veral in sy werk – maar daar het dit opgehou. Geen vrou kon daarin slaag om deur daardie pantser te dring nie.
Pieter Venter antwoord van die ander kant: “Moenie so bekommerd lyk nie. Herman Henning het ’n wonderlike getuigskrif vir ons nuwe suster gestuur. Sy het nou wel maar pas haar opleiding voltooi, maar hy het dikwels saam met haar in die teater gewerk en hy sê dat sy ’n spesiale aanleg het.”
’n Snork van die chirurg van Rondekuil ontlok skamper glimlaggies van die res van die teaterspan.
“Wat weet ’n pas gekwalifiseerde sustertjie van teaterwerk af? Met mangels en blindederms kan sy miskien help, maar verder?”
Piet Venter lag hardop en waag dit om te sê: “Wel, jy sal haar maar na jou hand moet leer soos jy suster Eloff geleer het. Daar is natuurlik ’n oplossing vir jou probleem, kollega. Sorg dat sy nie weer deur ’n minsame boertjie weggeraap word nie!”
’n Verergde blik en verontwaardigde grom is al antwoord wat hy kry, en dis eers toe hy uitstap dat die ander werklik uiting aan hul pret gee.
Suster Eloff laat laggend hoor terwyl sy begin opruim: “Ek kry die arme mens jammer, glo my! Ek sal nooit my eerste weke in hierdie teater saam met dokter Ben vergeet nie. My trane was my brood. Ek het later begin wonder of ek ooit graad een deurgekom het, wat nog te sê my diploma verwerf het! Hy was darem omgekrap daardie tyd.”
Piet Venter knik en begin ook van sy teaterklere ontslae raak. Ja, hy onthou. Maar toe was Ben Roux pas weg van ’n groot stadshospitaal en hy kon soms bars van frustrasie oor die ontoereikende geriewe en die jong sustertjie wat maar net mangel- en blindedermoperasies geken het.
Dit was maar eers toe Ben hom op Rondekuil kom vestig het dat meer gevorderde operasies hier uitgevoer is.
En dit was glad nie net suster Eloff wat moes deurloop nie. O nee. Hy, Piet Venter, waardige superintendent van die hospitaal, inkluis! Piet skud nou sy kop terwyl hy aan daardie tyd terugdink. Omgekrap wás hy, en dan is dit mak gestel. Maar mettertyd het suster Eloff, ná hoeveel tranerige dreigemente om te bedank, darem Ben se regterhand geword. Die res van die personeel het ook aangepas by sy hoë standaarde en die laaste jaar of wat gaan dit klopdisselboom in Rondekuil se hospitaal.
En nou wil Lettie Eloff skielik trou! Sedert Koos van Zyl die jawoord gekry het, is dokter Roux weer so knorrig soos ’n beer. En toe hy weer, soos toentertyd, met alles en almal begin skoor soek, het Piet Venter se geduld so kort geraak dat hy op die man af gepraat het.
“Nou vir wat slaan jy nie Koos van Zyl se hand in die as en trou self met die vroumens nie? Dan is al hierdie ontwrigting nie nodig nie. En moenie my aankyk asof jy mý graag onder die mes sal wil kry nie! Jy weet so goed soos ek jy kan maar net jou pinkie lig en Lettie Eloff los vir Koos soos ’n warm patat.”
“Moenie vir jou stuitig hou nie, Piet!”
“Ek dink glad nie dis stuitig nie. Dis die oplossing vir jou probleem. Maar miskien moet jy maar vir die nuwe suster wag. Lettie se troukaartjies is al uit.”
Ben Roux se breë, afkeurende rug was toe ál antwoord wat hy op sy puik voorstel gekry het, maar dit het tog inslag gevind.
Ben het in die dae daarna duidelik sy bes gedoen om ’n bietjie meer gemoedelik met sy personeel en kollegas saam te leef en sy ontevredenheid dat hy eersdaags met ’n groentjie in die teater sal moet sukkel, vir homself gehou.
Dit troos darem om te weet dat die nuwe suster nie meer so jonk is dat sy met verleidelike skaapoë na hom oor die masker sal kyk nie.
Lettie het presies geweet waar sy met hom staan. Sy was vir hom ’n paar bekwame hande langs die operasietafel en dis al. Maar die nuwe suster is, hoewel sy pas gekwalifiseer het, reeds vyf en twintig. Dus darem nie meer ’n verspotte bakvissie nie. As sy tog net genoeg verstand het om te kan inneem wat hy haar sal moet leer!
Diep in sy hart besef Ben dat dit seker nie nodig is dat hy hom die verandering van personeel so erg ter harte neem nie. Maar dan, sy lewe het die afgelope jare gelykmatig en rustig verloop. Daardie eerste weke op Rondekuil sal hy – nes die res van die personeel – nie lig vergeet nie. Benewens die ontwrigting in sy persoonlike lewe, moes hy ’n geweldige aanpassing maak vanaf ’n stadspraktyk en ’n stadshospitaal na ’n plattelandse praktyk en ’n klein plattelandse hospitaaltjie.
Hy kon soms ten hemele skreeu. Maar mettertyd kon hy met sy nuwe werksomgewing vrede maak en deesdae vra hy niks meer nie as net om met sy werk voort te gaan. Die gedagte aan die ontwrigting wat die nuwe suster gaan veroorsaak, maak hom kortgebaker en knorrig. Hy is nie lus om weer van voor af te sukkel met ’n onnosel en onervare sustertjie wat nie sommer vanself weet wat hy verlang en hoe hy ’n ding gedoen wil hê nie.
’n Week later parkeer dokter Ben, soos hy op Rondekuil bekend is, en soos sy oorlede pa óók bekend gestaan het, sy motor voor die hospitaal. Dis sý plek daar in die koelte van die seringboom. Dit weet almal, besoekers inkluis. Maar vandag staan hier ’n motortjie parmantig onder sý boom ingetrek. Hy vererg hom dadelik. Wonder wie die vreemdeling in Jerusalem is. Dis ’n stadsnommer. Hy voel glad nie in die beste van buie vanoggend nie. As die nuwe suster nog nie opgedaag het nie, sal hy maar vir suster Brink inspan, en dan weet hy sommer dinge gaan weer skeefloop.
Telkens as suster Eloff met verlof was, was hy én Brink byna senuwrakke teen die tyd dat sy teruggekeer het.
Maar dis nie al rede hoekom hy vanoggend minder joviaal as gewoonlik voel nie. Hy voel tam. Hy het die hele nag met ’n kraamgeval gespook en het net tyd gehad vir bad en skeer voordat hy nou met sy hospitaalrondes en operasielys moet begin.
Ek begin oud word, dink hy grimmig toe hy begin aanstap na die voordeur met ’n laaste ontevrede blik na die klein motortjie. Diep in hom weet hy egter dat dit nie ’n nag sonder slaap is wat hom so sonder geesdrif en kort van draad gelaat het nie.
Dis of daar ’n lamlendige moedeloosheid, ’n gevoel van futiliteit oor hom toegesak het.
Miskien is dit Piet Venter se lawwe geterg, of tant Miemie se hoopvolle betigtigings, of suster Eloff se onverwagse vertrek wat op sy senuwees werk. Hy weet ook nie. Hy trek hom hierdie dinge seker onnodig aan. Dis alles goed bedoel, en hy weet dit ook en dis seker darem nie net suster Eloff wat iets van teaterwerk af sal weet nie …
Maar soms is daar ’n onverwagse leegheid, ’n ontstellende pyn oor en in hom. Hy het dit verlede nag weer ervaar en dis of hy dit nie vanoggend van hom afgeskud kry nie.
Hy was net gereed om bed toe te gaan, toe Jan Coetzer van Leliedam gebel het. Bettie het gegly en geval en volgens die simptome sou dit gevaarlik wees om haar oor die slegte plaaspad te vervoer. Die geboorte sou haar baie maklik op pad dorp toe kon oorval. Ben is inderhaas uit na die afgeleë plaas en ná ’n paar benoude ure kon hy Jan Coetzer se seun in sy arms lê.
“Toe, daar is jou erfgenaam vir Leliedam. Is jy nou tevrede?”
Die jong boer het trots op sy seun afgekyk, toe breed met die moeë dokter geglimlag. “Dit lyk my nie jy gaan ooit kinders van jou eie hê nie, dokter Ben. Gee jy om as ek hierdie knaap van my na jou vernoem?”
Die pyn het verskiet en toe hervat, maar hy het niks laat blyk nie. “Ek voel geëerd. Met graagte.”
En sedert daardie oomblik wou die dowwe pyn, die gevoel van frustrasie en verydeling nie wyk nie …
Waar Marlene hom vanuit die matrone se kantoorvenster staan en dophou, is sy ook bewus van ’n pyn waarvan sy al byna vergeet het, wat opnuut in haar begin klop. Ben …
Sy sien hoe hy haar motortjie beskou, fronsend, asof iets hom hinder, hoe hy stadig begin aanstap na die hoofingang toe. Sy eien die bekende skouers, maar tog is dit vir haar asof daar ’n geboë tamheid in hulle is wat sy nie onthou nie. Verder is die fors gestalte nog dieselfde, maar soos hy nou al nader kom, kan sy tog sien dat hy die fiere jeugdigheid al begin inboet en dat hy ’n bietjie gewig verloor het sedert sy hom laas gesien het …
Dis ’n paar arendsoë wat hom beskou en waarvan hy heeltemal onbewus is. Hulle gaan oor elke lyn van sy gesig, sien elke verandering wat die afgelope vyf jaar aangebring het, raak. Die vreemde strakheid wat sy nie geken het nie. Die stywe saampers van die lippe, die frons tussen die wenkbroue. Ben … en tog ook ’n vreemde Ben …
“Gou, suster! Jou motor staan op dokter Ben se plek. Gaan verwyder dit liewer. Ek moes jou gewaarsku het.”
Sy aarsel. Dis reeds te laat. As sy nou uitstap, sal hulle mekaar by die voordeur raakloop, en sy verkies dat hulle mekaar formeel in matrone se kantoor ontmoet. Dit sal dit makliker maak. Maar dan sien sy iets wat haar vinnig laat beweeg.
Ben loop die klein mensie byna onderstebo op die trappies voordat hy haar gewaar. Twee groot, blou oë kyk daar van onder naby die grond af op na die yslike man wat bo haar troon. Maar sy streng gesig en die hewige frons ontstel haar blykbaar nie.
Sy glimlag na hom op. “Hallo! Is jy ook ’n oom dokter, oom?” wil sy weet.
Hy beskou die mensie sonder om te antwoord. Dan hurk hy sodat die nekkie nie so ver agteroor hoef te buig nie. Hierdie gesiggie ken hy nie. Op Rondekuil ken hy ’n ieder en elk.
“Ja. Ek is dokter Ben. En wat is jou naam?”
“Ek is Tinkie. Dis nie my rêrige naam nie, maar Oupa en Ouma noem my so. Nou is ek sommer net Tinkie.”
Hy glimlag. Sy is baie fyn en klein, maar heel bekkig! “En waar is Ouma en Oupa?” vra hy uit, en sonder dat hy bewus is daarvan, klaar sy frons op. Maar terselfdertyd is dit of die pynklop hierbinne toeneem.
“Doééér in die stad. Ek het saam met Mamma gekom. Daar staan ons kar,” wys sy ewe voorbarig uit.
“So? En wat het julle hier kom maak? ’n Bietjie kom kuier?”
“Nee.” Die blonde krulle dans soos die koppie geskud word. “My mamma het vir ons brood kom werk.”
“O?” Die groot man glimlag meteens breed.
In die deur hou Marlene haar asem op. Tinkie is nes ’n opgewende orreltjie vandag. Op pad hierheen wou sy knaend weet hoekom hulle dan nou weggaan van Ouma en Oupa af. Uit skone radeloosheid het sy haar naderhand geantwoord dat sy vir hulle brood moet kom werk, hulle kan nie vir altyd op Ouma en Oupa se nekke lê nie.
“Ek lê nooit op hulle nekke nie,” het sy verontwaardig laat hoor. “Ek sit op hul skote of ek slaap in my eie bed!” Marlene het maar net moedeloos gelag. En nou is sy besig om alles oor te dra.
“Ja. Mamma sê ons lê net op Ouma en Oupa se nekke. Ons moet self werk vir ons brood.”
Die groot man moet die begeerte onderdruk om nie die klein lyfie teen hom vas te druk nie. Wat ’n oulike kind is sy tog nie …
“En wat is jou verstandige Mamma se naam?”
“Sy is net Mamma.”
“Ja, maar wie se dogtertjie is jy?”
“Sy is my kind en sy het natuurlik haar oppasster ontglip. Tinkie, weg is jy! Onthou wat ek jou vertel het, hoor? Wanneer Mamma werk, kom jy nie naby die hospitaal nie. Toe, terug, en jy loop nie weer vir Lappies weg nie!”
“Ons het net gesels!”
“So het ek gehoor. Maar dis nou genoeg,” laat sy droog hoor. Onder haar waarskuwende blik draai die kleintjie skoorvoetend om en begin onwillig wegloop in die rigting van die verpleegsterstehuis.
’n Entjie weg draai sy weer om. “Mamma, sy naam is Ben en hy is ook ’n oom dokter soos oom Herman.” Marlene knik net, hou haar blik op haar kind vasgepen, intens bewus van die groot man wat nog steeds gehurk op die boonste trappie sit, stom voor die beeld wat meteens uit die verlede in die hede ingestap het.
Dan, eindelik, kan sy die magnetisme van die verstarde oë nie langer weerstaan nie. ’n Eindelose moment haak twee paar oë in mekaar vas.
“Jy!” Hy is op sy voete. “Wat … soek jy hiér?”
Die blou oë verstil en versluier nog meer. Is dit ál wat hy vir haar kan sê ná vyf lange jare? Sy sluk. “Ek is die nuwe suster.”
Die ongeloof lê duidelik op sy gesig, in sy oë. Maar dan moet hy haar glo as hy die epoulette op haar kraakwit uniform sien.
Marlene hiér … as ’n gekwalifiseerde suster. As sý teatersuster! Hy draai sy oë weg. Miskien, as hy weer kyk, sal sy verdwyn het, sal hy weet hy ly aan hallusinasies. Sy oog val op die dogtertjie wat in die rigting van haar oppasster hardloop.
“Is dit regtig jou kind?” hoor hy homself vra. Sy oë bly vasgenael op die klein gestaltetjie en hy sien nie die merkbare verbleking van haar wange en die pynflits wat in die blou oë weerkaats nie.
“Ja, sy is,” sê sy gesmoord.
Sy ontmoet sy priemende blik, bid dat sy die krag sal kry om nie skuldig of selfbewus te lyk nie, om hom kyk vir kyk terug te gee.
“Hoe oud is sy? Drie … twee en ’n half?”
Vas kyk die blou oë terug. Tinkie se fynheid en kleinheid het al baie mense mislei. Sy kan duidelik sien wat hy op hierdie oomblik dink. Dit lê helder in sy oë.
“Drie.” Dan, sy kan dit nie keer nie: “Hoekom?”
Ook sy gesig ondergaan ’n merkbare verstrakking en meteens lyk hy so ongenaakbaar soos sy hom nog nooit gesien het nie. “Nee, net …” Dan is dit of dit teen sy sin uit hom bars: “Dit het jou nie lank geneem om … te vergeet nie. Hoe is dit dan dat jou van nog Roux is?”
“Weer Roux.” Uitdrukkingloos staan sy voor hom. “Jy is nie al Roux in die land nie.”
Sy wenkbroue skiet omhoog en dan vee hy moeg oor sy oë asof hy iets, ’n beeld, voor hom wil wegvee. Sy stem is gedemp, emosieloos. “Nee, natuurlik nie. Die tweede Roux is … dood?” ’n Motordeur klap hard agter hulle toe en hy vervolg vinnig, byna oorhaastig: “Niemand hoef te weet dat ons … dat ek en jy eers … Niemand hoef te weet nie. Dit het niks met Rondekuil uit te waai nie.”
Koel kyk sy terug, voel hoe die ou wond skielik weer ná jare tekens van bloeding begin toon. “Natuurlik, as u dit so verkies, dokter. Niemand sal dit van mý hoor nie.”
“A, ek sien jy en dokter Ben het reeds kennis gemaak. Môre, suster, môre, Ben.”
“Môre, dokter Venter.” Net vlugtig draai die versluierde blou oë terug na die man wat haar nog steeds in halwe verbystering aanstaar. “Ja, ek en dokter Ben het reeds kennis gemaak.”
“Gaaf. Dan kan ons maar binnegaan.”
Weer lig die blou oë na syne op. “Ek was eintlik op pad om my motor te verwyder. Matrone het my daarop attent gemaak dat ek op u plek staan. Ek is jammer. Ek was nie bewus daarvan nie. Ek sal dit, sodra ek ’n kans kry, wegneem.”
Piet Venter kyk vinnig na sy kollega. Dis ’n slegte begin. Ben is heilig op daardie koelteplek. Maar tot sy verbasing knik sy kollega net styf met die kop. Hy lyk egter glad nie vriendelik nie, en die superintendent kyk verskonend na suster Roux wie se kalm gesig glad nie verraai dat sy ook daarvan bewus is dat sy sommer vanuit die staanspoor in Ben Roux se slegte boekies is nie.
Later, in die teater, kan Piet Venter egter nie verklaar wat presies aan die gang is nie. Dat daar ’n atmosfeer in die operasiesaal sou wees, het hy en die res van die personeel verwag. Dat die nuwe teatersuster binne ’n halfuur in trane sou wees of duidelik senuweeagtig instrumente sou laat val, sou niemand verbaas het nie.
Ben Roux en sy assistente stap egter in ’n teater in wat lyk asof suster Eloff self alles in gereedheid gebring het. Die arendsblik wat oor die instrumenttrollie gaan, mis niks en vermis ook niks. As sy lippe agter die masker verbete op mekaar sluit, sien niemand dit nie, maar almal weet intuïtief dat die chirurg se oë vandag ekstra skerp gaan wees. As die nuwe suster daarvan bewus is dat sy eintlik ’n vuurdoop ondergaan, wys dit nie in haar kalm bewegings en stem nie.
Toe sy haar plek langs hom inneem, kyk die blou oë rustig terug.
“Gereed?”
“Gereed.”
Sy handpalm lê oop en sonder dat hy daarom hoef te vra, word die verlangde instrument in sy hand neergesit. Elke keer wat die hand oopsprei, word die regte instrument daarin geplaas – sonder ’n woord, sonder dat ’n geluid agter ’n masker opklink. Net een keer is daar ’n kort onderbreking.
Die gehandskoende hand sprei weer oop en ’n dowwe bevel klink op. Net ’n oomblik aarsel die nuwe suster terwyl haar blik vlugtig oor die oop buik gaan. Dan word ’n ander instrument in sy hand geplaas.
“Ek het gevra vir ’n …”
“Ek weet. U het u verspreek.”
Hy kyk af, staan ’n oomblik stil, gaan dan weer voort. Die suster wink met haar oë en die junior vee die sweet van die voorkop af weg sonder dat die hande se bewegings verstil.
’n Rukkie later stroop Ben die masker van sy gesig af en Piet Venter kyk hom stip oor die narkotiseurtrollie aan.
“Voel jy sleg, Ben? Jy is bleek.”
“Nee, dis net dat ek laas nag nooit geslaap het nie. Sal jy toemaak, Jan?”
Jan van Deventer knik en die groot gestalte beweeg in die skropkamer in. Die pasiënt word uitgestoot en vanuit die skropkamer se deur sien hy die suster sistematies rondbeweeg om die teater weer in gereedheid te bring. Nie een keer kyk die gemaskerde gesig in sy rigting nie. Sy doen haar werk asof sy totaal onbewus is daarvan dat iemand elke beweging van haar staan en dophou.
Tog is sy verplig om na hom op te kyk toe sy die skropkamer binnekom. Weer ontmoet hul oë, en duidelik kan sy die boodskap in syne lees: Wat soek jy hier? Wat het jy hier kom maak, hiér in my heiligdom?
“Mag ek asseblief verbykom, dokter?”
“Ekskuus.” Hy staan opsy, intens bewus van haar nabyheid toe haar mou liggies teen sy elmboog skuur. Hy lyk meteens oorbodig en onbeholpe in sy eie koninkryk. Hy sien hoe sy uitstrek om iets van ’n rak af te haal. “Waar het jy jou opleiding ontvang?”
“In die stad.”
“In my ou hospitaal?”
“Ja.”
Stil staan sy voor hom, wil weer verbykom. “Hoekom?”
“Hoekom nie?”
Weer is dit asof hul oë mekaar soos weerhake vang. Agter sy breë rug klink die junior se stem op: “Die pasiënt het gekom, suster.”
“Dankie, verpleegster. Verskoon my, asseblief.” Sy druk teen hom verby, en hy is verplig om haar te volg.
In die matrone se kantoor wag Piet Venter sy kollega ingenome in toe die operasies afgehandel is.
“Ben, as jy met hierdie nuwe suster fout vind …” Hy swyg en kyk die fronsende gesig ontevrede aan. “Nee, magtie, man, as jy met háár fout vind, is dit uit suiwer skoorsoekerigheid,” sê hy reguit.
Ben Roux se lippe is ’n dun wit lyn, sy oë kil. “’n Nuwe besem vee altyd skoon.”
Piet Venter sug hardop en kyk moedeloos na die matrone. “Wat moet ’n mens met dié man aanvang?” vra hy sonder om ’n antwoord te verwag.
Ben drink ’n bietjie tee, sê dan: “Ons sal kyk hoe dit in die toekoms gaan. Sy was vandag maar net gelukkig.”
“Ek sê jou, sy is uiters bekwaam en die ideale teatersuster, ervaring ofte nie. Die fout met jou, Ben, is dat jy in geen mens behalwe jouself vertroue het nie.”
“Die lewe het my geleer om niemand te vertrou nie.”
“Maar … A, suster, kom binne. Kom drink ’n koppie tee saam met ons.” Matrone wys na ’n stoel. “Sit gerus. Ek hoor nou net van die dokters hoe tevrede hulle met jou is!”
Marlene glimlag effens, neem die aangebode stoel en kyk na Ben Roux.
“Sê my, suster, as ek mag vra … het u ’n spesiale kursus in teaterwerk geloop?”
“Nee, dokter Venter, maar ek het spesiale aandag aan teaterwerk gegee. Ek het gelukkig iemand gehad wat my baie daarmee kon help.”
Hierdie keer is dit Ben Roux se oë wat spottend oor die teekoppie se rand na haar kyk. “’n Spesiale liefde vir die teater … suster?”
“Ja. Nogal,” is die ongestoorde antwoord.
Piet Venter glimlag haar breed toe. “Wel, suster, jy sal nie glo hoe bly en verlig ons almal voel nie. Ons was skoon op ons senuwees toe suster Eloff bedank. Dokter Ben is ’n man wat baie hoë eise stel, maar ná vanoggend kan ek nou weer snags gerus slaap!”
Die blou oë bly bedaard. “Ek is reeds bewus daarvan dat dokter Roux baie hoë eise stel, dokter Venter. Ek hoop maar net dat die toekoms sal bewys dat ek wel aan sy eise sal kan voldoen. Dankie vir die tee, matrone. As u my sal verskoon …”
Maar haar selfversekerdheid is net ’n masker waarin sy haar klee soos wat sy haar uniform aantrek. Hier diep in haar roer die onrus terwyl sy werktuiglik voortgaan om die teater weer in orde te kry, die operasielys vir die volgende dag en elke instrument noukeurig na te gaan. “Die lewe het my geleer om niemand te vertrou nie,” het sy hom hoor sê. Is dit moontlik dat Ben Roux vir altyd buite haar bereik is? Wil sy hierdie man wat geen vertroue in sy medemens, en veral in ’n vrou, het nie, hierdie man met die stroewe, strak gesig, met die skerp, koue, agterdogtige oë, die verbete mond, die vreemde grys langs sy slape … wil sy hom terughê? Het sy hom nog lief, só lief dat dit die moeite werd is om haar aan verdere seer en selfs vernedering bloot te stel deur op Rondekuil aan te bly, daagliks saam met hom te werk, die veroordeling en verbittering in hom jeens haar te verdra?
Waar Ben van die hospitaal af wegry, is ook sý oë somber. Dan verskyn daar ’n gestaltetjie in sy gesigsveld toe hy die draai by die verpleegsterstehuis vat en ’n handjie word vrolik na hom gewaai.
“Tata, oom dokter Ben!”
Voordat hy dit besef, het hy reeds teruggewaai, het daar vir ’n vlugtige oomblik ’n versagting op sy gesig gekom. Maar dan verdwyn die gemoedelikheid en sy gesig word net nog meer ongenaakbaar. So gou … só gou het sy vergeet … En hy … vyf jaar lank al probeer hý vergeet …