Читать книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray - Страница 9
6
Оглавление“Suster! Gee aandag, asseblief!”
Sy skrik merkbaar en die blou oë bo die masker lyk ’n oomblik lank totaal verward. Vlugtig gaan haar blik na die operasietafel, besef sy onmiddellik haar flater, en oorhandig dan die regte instrument.
“Ek is jammer,” prewel sy gedemp.
Net ’n sekonde rus die skerp oë op haar. “Ek is net so jammer dat die nuwe besem nie bly skoon vee nie!”
’n Gespanne atmosfeer heers in die teater en almal wonder heimlik wat aan die gang is. Die bekwame teatersuster lyk nie so kalm soos altyd nie.
Almal praat later oor die groot glips wat sy gemaak het deur ’n verkeerde instrument aan te gee. Dokter Ben lyk so beduiweld soos wat hulle hom lanklaas gesien het. Dat daardie twee vanoggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan het, is seker.
Marlene sug dankbaar toe die laaste operasietrollie die teater verlaat. Dis verby! En sy hoop sy sien daardie buffel vir die res van die dag nie weer nie!
Hoe durf hy haar só verneder voor die hele personeel? Is daar dan geen speling vir menslike tekortkominge in sy samestelling nie? Dis omdat hy ’n robot – ’n koue, gevoellose masjien – geword het dat hy geen foute in ander kan duld nie. Wat het haar gisteraand vir een oomblik laat dink dat sy hierdie man wil terughê? Wat het haar besiel om so weg te raak in sy omhelsing en haar te verbeel dat sy lippe ekstase in haar optower?
Maar diep in haar hart weet sy dat dit nie verbeelding was nie. Sy was gisteraand vir die eerste keer sedert Ben Roux uit haar lewe gestap het, weer volkome vrou. Daarom kon sy vanoggend net nie haar volle aandag aan die operasie wy nie. Sy het na sy hande gekyk, en weer ’n tinteling deur haar voel gaan by die gedagte dat daardie hande haar ’n paar uur gelede vasgehou het, byna wreed oor haar rug gestroop en haar toe pynlik teen hom vasgedruk het. Hierdie arms wat so digby haar beweeg, was gisteraand om haar …
Sou hy geraai het wat in haar gedagtes omgegaan het? wonder sy blosend. Wat dink hy werklik ná gisteraand van haar? Eers het hy gedink sy is verwen tot in die aarde, selfsugtig tot op die been. En nou? Dink hy nie nou dat sy nog by alles ook goedkoop geraak het nie?
In die dae wat volg, probeer sy haar bes om haar professionele waardigheid te herwin deur kalm te bly in sy teenwoordigheid. Sy is nie bewus daarvan dat sy só hard probeer dat sy kortaf en selfs vyandig klink nie. As die chirurg se blik dan skerp en ontevrede op haar rus, gee sy hom ’n uitdagende, kil kyk. Dis byna asof hulle nou openlik vyande geword het, en dit selfs moeilik vind om net beleef te wees.
Marlene is net besig om die gehoorbuis van die telefoon van matrone te ontvang toe Ben die kantoor binnestap. Sy keer haar rug op hulle en sê: “Suster Roux wat praat.”
“Marlene, dis Hennie hier. Jammer om jou by die werk te pla, maar ek wil net hoor. Het jy toe al uitgevind of jy môreaand vry is vir die kommandodans?”
Sy hoor voetstappe die vertrek verlaat. Sy kan nou vrylik praat. “Ja, Hennie, ek is, maar …” Sy byt haar onderlip vas. Hennie is gaaf, en sy hou van hom, maar sy wil hom ook nie onnodig aanmoedig nie. Buitendien het sy in haar hele lewe nog nooit so min lus gehad vir dans as juis nou nie. Om die waarheid te sê, sy is deesdae byna vir niks lus nie.
“Maar wat?”
“Daar kan dalk ’n noodoperasie opduik,” probeer sy skerm.
“Ons sorg net dat die man wat sny ook op die dans is. Jy kan tog nie op jou eie gaan opereer nie!”
Sy glimlag. “Maar dans die man ooit? Hy lyk vir my so onbuigsaam soos ’n besemstok. Buitendien is onse dokter Ben te ver verhewe bo ons gewone mense om hom deur ’n paar danspassies te laat vermaak.”
“Ag, dis net houdings daardie. Jy moet sien hoe kap hy en Josephine dit uit! Toe, Marlene, sê ja!”
“Nou goed dan, Hennie. Maar as jy intussen ’n oulike nooientjie raakloop wat jy liewer …”
“My meisie, moenie laf wees nie. Jý is die een in my hart!” Marlene moet lag vir sy teatrale stemtoon, maar haar laggie breek meteens af toe sy papier agter haar hoor ritsel. Sy voel hoe haar ruggraat verstyf. Het hy dan nie uitgeloop nie? Versigtig draai sy haar kop en haar hart ruk in haar keel. Dokter Ben staan kamma diep geïnteresseerd deur ’n pak pasiëntkaarte en blaai. Marlene sluk.
Aan die ander kant gaan Hennie voort: “Sê vir Ben Josephine is vanaand hier. Sy sal beslis wil hê dat hy haar na die dans vergesel. Dié twee was nogal taamlik danig toe sy laas hier gekuier het. Josephine sal nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie.”
“O?” Sy aarsel, kyk vlugtig oor haar skouer en ontmoet sy ontevrede blik. “Dokter Ben staan hier by my en hy … hy sê hy sal met graagte môreaand saam met Josephine gaan dans. Dis dan afgespreek. Nou sal ek regtig moet gaan, Hennie. My werk wag.”
“Gaaf. Dan ry ons vier sommer saam. Sien jou môreaand, meisie.”
’n Baie besliste hand op haar pols keer dat sy vinnig by die kantoordeur uitglip. “Net ’n oomblik, suster Roux. Waar kom jy daaraan om vir my afsprake te reël?”
Onskuldig kyk sy na hom op. “O, maar … maar toe Hennie sê u en dié Josephine was … wel … baie danig met mekaar toe sy laas hier was, het ek maar gedink …”
“Nou hou op met dink, veral oor my persoonlike sake, verstaan? Dit gaan jou nie aan nie!”
Haar oë flits. “Heeltemal reg, dokter Roux. En ek is baie dankbaar dáárvoor!” Sy ruk haar arm los en verlaat die kantoor neus in die lug.
So ’n parmant! Matig haar aan om vir hóm afsprake te maak en wip haar dan as hy haar daaroor aanspreek. Hy is glad en geensins lus om saam met Josephine dans toe te gaan nie. Hy het ’n allergie vir dié soort ontspanning ontwikkel. En hy weet nie waar kom Hennie aan die twak wat hy verkoop nie.
Hy was nog nooit weer “danig” met enige vroumens nie, en is ook gans en al nie van plan om dit ooit weer te raak nie! Josephine het hom nie so openlik soos die ander vroumense probeer vastrek nie. Hy kon dus haar geselskap geniet en het haar, toe sy in die verlede hier gekuier het, ’n paar keer uitgeneem. Hy is mos darem ook ’n mens wat soms verlang na geselskap!
Maar so gaan dit, stoom hy in sy binneste voort. Kyk hy net na ’n vroumens, het Rondekuil hom al klaar voor die kansel! En wat sy teatersuster betref … Seker gedink noudat die dokter haar een keer gesoen het, kan sy maar slap lê in haar werk. Natuurlik gedink hy eet nou al weer klaar uit haar hand. Klaar so seker van haarself dat sy nou al sy private lewe ook wil begin reël!
Hy vererg hom ook vir Hennie. Wat is hy nou so danig met sý teatersuster? Hoekom het hy nie by suster Eloff vlerkgesleep en met háár getrou nie?
Marlene is verplig om daardie middag vir matrone ’n uur af te vra om gou winkels toe te glip. Nie dat daar seker veel van ’n keuse sal wees nie, maar wat Rondekuil ook al aan te bied het in die lyn van aanddrag, sy sal haar maar daarna moet skik. Sy weet nie waar haar gedagtes was toe sy ingepak het nie. Sy glimlag meewarig. Sy het darem ’n hopelose wanindruk van die plattelandse lewe gehad! Sy het in hierdie paar weke op Rondekuil reeds geleer dat die platteland se standaard geensins vir dié van die stad agteruit staan nie. Sy kry die vermoede dat dit selfs in ’n paar opsigte ’n trappie hoër kan wees.
Sy was verras en verbaas om te sien hoe byderwets Rondekuil se dames aantrek en hoe smaakvol die dorps- en plaashuise is. Nee, sy het haar lelik met Rondekuil misgis!
Die vrou in die winkel klik spytig met haar tong toe sy haar versoek hoor. “As u net ’n bietjie vroeër gekom het. Ons mooiste en beste rokke is reeds uit. Maar ek het darem enetjie wat ek dink vir u sal pas.”
Marlene neem dit maar en daar is ’n klein glimlaggie om haar lippe toe sy met haar goedkoop rok in die een hand en Tinkie aan die ander die winkel verlaat. Jare gelede sou sy eerder by die huis gebly het as om só ’n rok aan te trek. Vandag is dit nie meer van belang nie. Vir wie sal sy haar tog optooi?
Boonop het sy ’n speletjie met haarself begin speel. Dit was een van Ben se klagtes dat sy nie die waarde van geld ken nie. Haar pa hét byna flou geval toe hy ’n bedrag op haar naam na Rondekuil se bank wou oorplaas en sy dit dankbaar maar beslis van die hand gewys het. Sy wil van nou af self vir haar en haar kind sorg. Hy het darem die belofte uit haar gekry dat sy hom onmiddellik sou skakel as sy vasdraai. Maar sy het haar vas voorgeneem dit sal nie gebeur nie. Sy is nou uiteindelik volwasse. Ook finansieel wil sy op eie bene staan.
Daarom dat sy glad nie omgee om môreaand in ’n goedkoop aandrok te gaan dans nie. Sy kan buitendien nie op die oomblik meer bekostig nie. Sy dink aan die talle peperduur aandrokke, net een maal gedra, wat in haar kamer by die huis hang en sy voel vir die eerste keer skuldig. Dit ís regtig vermorsing van geld, besef sy. Ben was destyds reg. Hy was nie suinig soos sy hom toe beskuldig het nie. Dit ís ’n sonde om so ’n klomp geld vir ’n rok te betaal en dit dan net een keer aan te trek. Noudat sy vir haar eie geld werk, sal sy nooit so ’n belaglike bedrag vir ’n enkele rok betaal nie. Daarvoor werk sy te hard vir haar geld!
“Mamma, kyk daardie poppie! Ag, sy is só mooi! Ag, Mamma, koop haar vir my, toe?”
Tinkie rem met alle mag na die winkelvenster en Marlene kom tot stilstand. “Nee, Tinkie. Jy het hope poppe waarmee jy nooit speel nie. Jy kry nie nog ’n pop nie. Kom.”
“Ag, Mamma, ’seblief tog! Kyk hoe mooi is sy. Ek sal met háár speel.”
“Nee, Tinkie. Mamma het nie nou geld vir ’n pop nie. Ons geld is op.”
Die ogies kyk haar ontgogel aan. Sy het nog nooit gehoor dat geld kan opraak nie! Was Ouma nou hier, het sy die pop dadelik gekry. “Ons kan maar vir Oupa vra. Oupa het báie geld! Sy geld kan nie opraak nie.”
Marlene glimlag moedeloos. Ja. Haar kind is onder dieselfde wanindruk as wat sy al die jare was. Weer is sy bly dat sy onversetlik by haar besluit gebly het dat Tinkie nie by haar ouma en oupa agterbly nie. Sy wil haar van kleins af reg leer. Sy moenie eendag ook so bitter swaar aan die elementêre dinge van die lewe leer as haar ma nie.
“Luister, my skat, ék sorg nou vir ons twee. Jy is mý dogtertjie, nie Ouma en Oupa s’n nie. Toe ek so groot was soos jy, moes Ouma en Oupa vir mý sorg, want toe was ek húlle kindjie. Maar dis mos nie reg dat hulle nou ook vir mý dogtertjie moet sorg nie, dan nie?”
Tinkie kyk haar met groot oë aan. Sy verstaan nie so heeltemal nie, maar dit klink vir haar of haar ma kan reg wees. “Ja, ek ís Mamma se dogtertjie,” gee sy met oumenswysheid toe en die man wat in die winkel se deur staan en luister het, glimlag onwillekeurig.
“Nou sien. Elkeen moet vir sy eie dogtertjie sorg en daarom moet ek vir jóú sorg. Ons moet eers kyk dat ons klere en kos het, en as daar dan iets oor is, is daar geld vir poppe en sulke dinge.”
“Ja, maar tannie San sal vir ons kos gee. Ons hoef nie kos te koop nie,” wys sy ernstig uit.
Weer moet Marlene glimlag en die man, wat ongesiens tot agter hulle gekom het, se glimlag verdiep ook.
“Ja, liefie, maar tannie San is maar net die matrone in die tehuis. Ons moet haar elke maand betaal vir al die lekker kos wat ons daar eet, anders gaan sy ons op straat uitgooi!”
“O, dit sal ’n lollery wees!”
Marlene se oë skitter teer. ’n Paar dae gelede het Tinkie met ’n vreeslike woord vorendag gekom, en Lappies is lelik oor die kole gehaal. Tinkie het gehou van die klank van daardie woord, en wou glad nie daarvan afstand doen nie. Marlene het gedelf vir ’n woord wat met daardie klank kon meeding. “Ek dink lollery is ’n baie mooier woord. Kyk, ’n mens maak jou mond so koeëlrond,” het Marlene gedemonstreer. Tinkie het dáárvan gehou, en sedertdien is alles sommer net ’n groot gelollery. En om op straat uitgegooi te word, sal ’n lollery wees! Waar gaan hulle slaap? Hul motortjie is darem te klein. Sy sal nog inpas, maar Mamma …
Haar ogies blink skielik. “O, hier is oom dokter Ben! Hallo, oom!”
Sy gesig is heeltemal ernstig. “Hallo, Tinkie. En waar loop jy rond?”
“Ons het vir Mamma ’n rok kom koop. Dáár,” en sy wys met die vingertjie na die uithangbord. “Sy gaan môreaand dans!”
“So?” Marlene vang net vlugtig sy verbaasde, ongelowige blik en kyk dan skerp op Tinkie af, maar die vingertjie wys al weer in ’n ander rigting.
“Kyk hierdie mooi pop, oom dokter Ben. Maar Mamma sê ek kan haar nie kry nie. Ons geld is op en tannie San gaan ons uitgooi en …”
“Tinkie, ek dink … Kom, Mamma moet gaan werk.”
“Ja, maar ek wil nog vir oom dokter Ben sê dat Ouma en Oupa baie geld …”
Marlene se stem is nou streng. “Dokter Ben stel nie belang in ons geldsake nie. Kom.”
“Dit klink nogal interessant,” sê hy droog en sy kyk vererg na die klein glimlaggie in sy mondhoek. “As ek my eie ore kan glo, het daar ’n katastrofiese omwenteling plaasgevind.”
“Watse ding is ’n kata … tata …?”
“Tinkie! Hier gaan ’n katastrofiese omwenteling plaasvind as jy nie nou jou los mond toehou nie. Jy praat gans te veel!”
“My mond is nie los nie! Hier sit hy dan vas! Kyk!”
“En hou op teëpraat! Kom, of daar is vandag moeilikheid vir jou!”
“O, lollery!”
“Dit kan jy weer sê!” En dan skater Ben Roux dit uit van die lag.
Dis nou sý wat wonder of sy haar eie ore kan glo! Hy lag sowaar, en hy lyk meteens so baie na haar ou Ben dat haar hart ’n draai gee.
“Tinkie, ek dink jy moet nou maar eers saam met Mamma gaan. Ons twee kan ander dag verder gesels,” knipoog hy teenoor die kleintjie. Dan kyk hy onskuldig in haar ma se agterdogtige oë af.
Sy gryp Tinkie se hand vas en begin aanstap na haar motor, en Tinkie se hoopvolle stemmetjie bereik sy ore: “Miskien het oom dokter Ben nog geld. Kan ons nie by hom leen …?”
“Baie beslis nié!” En toe klap die motordeur hard toe. Dokter Ben stap weer die winkel binne.
Onbewus daarvan dat iemand skielik baie belangstel in haar en Tinkie se geldsake, bly Marlene rustig besig. Sy is verbaas dat daar so baie operasies in so ’n klein hospitaal gedoen word. Dis uitsonderlik as daar ’n weeksdag verbygaan sonder dat daar geopereer word. Piet Venter verduidelik aan haar dat baie van die pasiënte deur dokters van die omtrek gestuur word.
“Dokter Ben is bekend as chirurg en baie van die pasiënte verkies om liewer hier op Rondekuil geopereer te word as om stad toe te gaan. Dis nader aan hul mense en hulle kan meer besoek ontvang. Ek glo Ben is net so goed soos enige chirurg in die stad. Hy is ’n baie bekwame man en Rondekuil kan waarlik dankbaar wees vir sy dienste.”
Marlene se hart het onwillekeurig geswel van trots. Maar in Ben as dokter het sy nog nooit getwyfel nie. Dis die man Ben wat haar ontstel en verwar. Nes sy besluit het sy wil niks met die buffel te doen hê nie en dat hy haar van nou af gaan koud laat, dan glimlag hy meteens teenoor haar of kyk haar met daardie vreemde, diep blik aan sodat sy teen al haar besluite in weer ’n flou vlammetjie van hoop in haar voel opskiet en haar hart weer onwillekeurig begin bons.
Soos gister by die winkel byvoorbeeld.
Sy oë was tergend en goedig soos lank gelede en toe hy so hartlik lag, kon sy ten spyte van haar ergernis met Tinkie wat hul sake so uitlap, nie help om ’n warmte om haar hart te voel nie. En weer was die ou verlange terug. Ben … kan ons gister dan nie maar begrawe nie?
Maar hy het haar kil en vyandig gewaarsku dat sy private sake haar nie aangaan nie en dat sy nie eens daaroor moet dínk nie. Hy het hom heeltemal gedistansieer en by haar geen twyfel gelaat oor hoe hy werklik voel nie.
Maar vir ’n man wat dit baie duidelik gestel het dat sy persoonlike sake sy eie is en niks met ’n ander te make het nie, stel hy darem besonder belang in háár private lewe. Of miskien hou hy maar net sy belofte aan Tinkie, maak hy homself wys toe hy sy motor voor die verpleegsterstehuis tot stilstand bring en stap na waar Tinkie en Lappies onder ’n wilgerboom op die grasperk sit en speel.
“En hoe gaan dit vanmôre, juffrou Roux? Is die geld nog op?” wil hy met ’n glinstering in die oog weet.
Tinkie antwoord sy vraag heel ernstig: “Ja. Mamma sê daar is niks geld voor die end van die maand nie. Hulle moet haar eers betaal.”
“Dis nog ’n hele paar dae voor die end van die maand. Ek kan julle maar ’n paar rand leen as dit lyk na ’n lollery!”
Maar Tinkie skud haar kop beslis. “Mamma het gesê: Nee, nee, nee! ’n Mens leen nie geld by vreemde mans nie.”
“O?” Terstond verdwyn die geamuseerde glimlag. “Het sy gesê ek is ’n vreemde man?”
“Ek het haar gesê oom is mos nie vreemd nie. Maar sy sê sy sorg self vir ons, ons het niks van oom dokter Ben nodig nie.”
“O.” Hy klink maar bra afgehaal en ’n oomblik lyk sy gesig baie nes dié van Tinkie gister voor die winkelvenster. Dan kyk hy weer na die kleintjie. “Daardie Mamma van jou is lekker hardgebak, weet jy?”
Sy kyk hom nuuskierig aan. “Wat is hardgebak?”
“Dit … dit beteken sy is vol lollery!”
Daarop knik Tinkie instemmend. Haar Mamma is baie goed, maar sy kán vol lollery raak as sy lus voel. Sý weet!
Ben staan op en lê sy hand op die een wangetjie. “Jou gesiggie is warm. Jy moenie te lank met haar in die son speel nie, Lappies. Totsiens, ounooi.” Hy buk af en soen die warm voorkoppie, frons liggies, maar fluister dan iets in haar oor wat die kleintjie haar hande laat saamslaan. Hy hou ’n waarskuwende vinger op sy lippe: “Sjuut! Vir niemand vertel nie, hoor? Dis óns geheim.”
Toe Marlene daardie middag van diens af kom, sien sy onmiddellik dat Tinkie se wangetjies onnatuurlik rooi is. “Het jy en Lappies vandag in die son gespeel, Tinkie?”
“Nee, ons het nie, want oom dokter Ben het gesê ons moenie.”
Marlene frons. “Oom dokter Ben? Wanneer was hý hier?”
“Hy het vanoggend vir my kom kuier.”
“O?” Haar ma is duidelik agterdogtig. “Tinkie, ek hoop nie jy het weer ’n klomp kaf gepraat nie. Wat het jy hom alles vertel?”
“Niks nie!” Tinkie is sommer vies en sy voel nie lekker nie. Mamma hou blykbaar niks van oom dokter Ben nie, want sy is altyd vol lollery wanneer hy in die prentjie kom. En sy, Tinkie, hou báie van hom … sommer baie-baie! “Ek mag nie vertel nie. Hy het gesê dis ons geheim!”
“Ja?” Marlene se frons is nou baie skerp. “Ek hou nie daarvan dat jy geheime deel met vreemde mans nie.”
“Hy is nie ’n vreemde man nie! Toe ek vir hom vertel jy sê so, toe sê hy jy is hard … hardgebak!” Sy kyk haar ma amper uitdagend aan. “Hy sê jy is vol lollery!”
“Tinkie!” Marlene pers haar lippe opmekaar. Dis nie reg dat sy nou vir haar kind kwaad is oor die onbesonne goed wat Ben Roux kwytraak nie. Maar Tinkie is reeds gans te bekkig. Verbeel jou: sý hardgebak en vol lollery! Hoor wie praat! “Kom dat jy kan gaan bad. Ek moet ook klaarmaak.”
Tinkie is meteens stout. “Ek is nie lus om nou al te bad nie en ek wil nie vanaand by tannie San bly nie. Mamma moet by my bly.”
“Maar jy en tannie San kuier dan altyd so lekker saam. Wat is dit dan nou?”
“Ek … is nie … vanaand lus vir haar nie. Ek wil vir Mamma hê!”
“Tinkie, jy is sommer nou net stout! Kom nou …”
“Nee! Jy is hardgebak en ek gaan vir oom dokter Ben vertel jy is vol lollery!”
Met sukkel en spook en mooipraat is sy darem eindelik gebad, maar teen daardie tyd besef Marlene dat dit nie net stoutigheid is nie. Tinkie is siek.
Tog maak sy maar gereed en kyk skaars na haarself in die spieël toe sy klaar is. Wat maak dit tog saak hoe sy lyk? As sy en Hennie alleen gegaan het, sou sy miskien nog uitgesien het na die aand. Maar met Ben en die onbekende Josephine in die geselskap …
Tinkie is reeds in haar bedjie toe die klokkie lui. Hennie stap binne, gevolg deur ’n pragtige, lang donker meisie en Ben.
“Marlene! Vanaand móét jy ja sê!”
Sy probeer saamlag, maar daar is tog ’n ligte frons tussen haar oë. Die ander twee paar oë wat op haar rus, lyk ook nie juis geamuseerd nie.
“Pasop! Netnou sê ek regtig ja en dan sit jy in die knyp. Wil julle nie binnekom nie?”
“Net ’n oomblik sodat ek Josephine aan jou kan voorstel.”
Sy neem die eksotiese skoonheid se hand en haar hart krimp. Geen wonder Ben het in haar teenwoordigheid ontdooi nie! Agter die meisie se rug ontvang sy net ’n vae kopknik van hom.
“Ons kan maar gaan. Ek wil net gou by Tinkie inloer. Sy is ’n bietjie koorsig vanaand. Verskoon my, asseblief.”
Toe sy oor die bedjie buk, voel sy meteens iemand langs haar en Ben se gesig is baie naby hare toe hy sy hand uitstrek en liggies oor die klein keeltjie streel.
“Sy is koorsig en die kliertjies in die keel is taamlik geswel. Sy slaap onrustig.”
’n Oomblik vergeet sy van haar griewe teen hom, en kyk hulpsoekend na hom op. Sy het hom verloor. Sy weet dit nou. Alles wat sy gedoen het om hom weer te bereik, was vermorsing van asem en energie. Nou het sy nog net haar kind. As sy Tinkie ook moet verloor …
“Toe nou maar. Dis nie so erg nie …” sê hy sussend hier digby haar en skielik vul haar oë met trane. Sy kan kwalik die begeerte om haar kop teen sy bors te lê en verligting in haar trane te kry, onderdruk.
“Ek wil nie gaan dans nie, Ben. As my kind siek is …” Sy is onbewus daarvan dat sy hom spontaan op sy voornaam aanspreek, en die hand wat netnou Tinkie se keel gestreel het, vou warm om hare.
Hennie kom die slaapkamer ingestap. “Marlene, as jy regtig nie lus voel om Tinkie alleen te laat nie … Dit maak nie saak nie, meisie. Ek verstaan. Ek sal ongelukkig moet gaan, want ek is een van die offisiere, maar dis heeltemal reg as jy liewer by die kleintjie wil bly.”
Marlene vang haar bewende onderlip vas. Dis nie Hennie se begrip wat dit al moeiliker maak om die trane te keer nie. Dis daardie enkele, warm blik van Ben, daardie stille begrip en teerheid wat in die aanraking van sy vingers was. O, Ben! Ben!
Hennie soen haar liggies op die voorkop. “Moet jou nie so erg ontstel nie, meisiekind! Dis seker darem nie ernstig nie, of hoe, Ben?”
“Nee. Kleintjies kry dikwels maar ’n bietjie koors. Dit gaan gewoonlik net so vinnig weer oor. Miskien het sy net ’n bietjie te lank in die son gespeel.”
“Goed dan. Dan gaan ons maar.”
“Ag, Hennie, sal jy net vir tannie San sê dat sy nie meer vanaand na Tinkie hoef te kyk nie, asseblief? Ek het met haar gereël.” Sy kyk hom verskonend aan. “Ek is regtig jammer, Hennie.”
“Alles reg. Moet jou nie verder bekommer nie. Totsiens. Ek hoop sy word gou beter.”
Hennie is reeds terug in die sitkamer toe Ben sê: “Ek sal ná die dans weer kom kyk.”
Sy knik net en hy volg Hennie. Sy sluk swaar. Sy durf nie weer in sy oë kyk nie, nie solank hy hierdie vreemde, teer Ben is nie. Sy is kapabel en gooi haar arms om sy nek en bieg daar en dan alles wat sy in haar hart omdra.
Marlene neem langs haar kind se bed plaas en kyk op die slapende, warm gesiggie af. Sy moenie dinge uit perspektief sien nie. Dis omdat Tinkie siek is. Enige siek mens – en sy naasbestaandes – het Ben Roux se simpatie en menslike warmte. Dis al.
Op die oomblik is Tinkie ’n siek pasiëntjie en sy die bekommerde ma. Daarom dat daar meteens begrip en teerheid vir haar en haar kind in sy oë is. Sodra Tinkie gesond is, sal hy hom weer terugtrek. En miskien is hy maar net vanaand in so ’n goeie bui dat hy selfs kans sien om teenoor háár meer menslik te wees. Josephine is hier en ’n aangename aand saam met haar lê voor. Selfs nie eens sy gewese vrou sal hom vanaand kan ontstig nie.
Later trek sy maar uit en neem weer in haar kamerjas langs Tinkie se bed plaas. Sy het die kleintjie al ’n paar keer afgespons en ’n pilletjie gegee om die koors te help breek, maar Tinkie bly maar rusteloos, slaap ’n bietjie, ruk dan sommer wakker, bly huilerig en knieserig. Tot dusver was sy nog baie gelukkig met haar kind, en het Tinkie nog nie ’n noemenswaardige siekbed gehad nie. Wat sal gebeur as die kind regtig iets moet oorkom? Sê nou maar sy moet Ben dan eers vertel dat Tinkie sy kind was … Hy sal haar in der ewigheid nooit vergewe nie!
Maar skielik is hy weer hier langs haar. “Hoe gaan dit nou?”
“Sy is nog baie rusteloos. Sy sê haar keeltjie is baie seer.”
“Ek het sommer dié inspuiting saamgebring.”
Natuurlik is Tinkie onmiddellik wakker en aan die huil toe die inspuiting toegedien word, maar toe sy sien wie by haar is, verminder die trane. Sy strek haar arms uit en Ben neem op die kant van die bed plaas en tel haar op sy skoot, draai die kombers om haar en hou haar styf vas.
“Alles reg, ounooi. Oom Ben gaan jou in ’n japtrap gesond hê. En weet jy wat?”
Die koorsige ogies kyk hom verlep aan, en hy vervolg: “Onthou jy ons geheimpie?” Die koppie knik en hy trek iets agter sy rug uit. “Ek weet Mamma sal nie omgee nie. Ons kan haar ook nou maar van ons geheimpie sê.” ’n Toegedraaide doos word na Marlene uitgehou. “Mamma, maak vir haar oop, asseblief.”
Marlene se bewende vingers begin die pakkie oopskeur en dan kom die groot geheim te voorskyn: die pop in die winkelvenster! Die verlepte ogies blink ’n oomblik bly en Marlene lê die pop in haar armpie. Sy moet met alle mag die bewing van haar lippe keer toe sy sê: “Hoe sê ’n mens, Tinkie?”
“Dankie, oom dokter Ben. Sy is my mooiste pop en ek sal altyd met haar speel.”
Ben knik, druk sy lippe op die warm voorkoppie en lê haar dan weer neer. “Nou moet ons groot meisie soet slaap. Jou pop kan in jou arm lê. Kyk, so.”
Marlene sit terug en dis of haar oë nie genoeg van die toneel voor haar kan kry nie. Tinkie gehoorsaam dadelik, maak haar ogies toe, die nuwe pop styf in haar armpies.
’n Lang ruk is dit stil en dan vra Marlene saggies: “Waar is die ander?”
“Plaas toe. Gaan lê jy nou ook. Ek sal nog ’n rukkie hier sit. Die inspuiting behoort haar rustiger te laat slaap.”
Sy staan op. “Kan ek nie vir jou ’n koppie koffie bring nie?”
“Nee, dankie. Josephine het vir ons gemaak voordat sy en Hennie terug is plaas toe. Kom nou tot ruste, Marlene.”
Sy gehoorsaam dadelik en sak terug teen die kussings, haar oë op die vertroude gestalte waar hy by Tinkie se bedjie sit. Hoeveel geruster voel sy nie vandat hy hier is nie.
Dis ’n hele ruk stil. Dan draai sy kop in haar rigting en hy sien haar oop oë blink. Hy kyk terug na die slapende kind. “Het jy hom baie liefgehad? Tinkie se pa?”
Sy snak liggies na asem. Dan kom haar antwoord fluisterend: “Ja, ek het hom baie liefgehad.”
Hy knik net sy kop, knel sy hande voor hom saam. “Sy slaap nou. Bel my as dit nodig is, maar ek dink sy sal nou deurslaap.” Hy staan op, kyk op haar af. “Goeienag.”
“Nag, Ben en … dankie. Baie dankie,” sê sy, haar oë vol dankbare trane.
Hy knik net, sê by die deur: “Jy het soos altyd vanaand pragtig gelyk, al is die rok op Rondekuil gekoop. Nag, Marlene. Slaap gerus.”
Sy hoor die woonsteldeur saggies agter hom toegaan en dan druk sy haar gesig in die kussing en huil asof haar hart wil breek.