Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 88
19 Maart 1 Samuel 3:10-4:1
ОглавлениеSAMUEL, DIE GODDELIKE VERHORING
Samuel het grootgeword. Die Here was by hom … (1 Sam 3:19).
Die naam Samuel beteken “deur goddelike verhoring geskenk”. Dis die tyd ná Moses en voor die profete, en die rigters kon nie veel vermag om wetsonderhouding te herstel nie behalwe deur die twyfelagtige verligting van ekstra bloedvergieting. Dit was ’n donker tyd, met die woord van die Here skaars (1 Sam 3:1 OAV). Dit lyk nie of Samuel self veg nie, maar op sy gebed stuur God ’n donderstorm wat die Filistyne verjaag (1 Sam 7:10). Samuel was sonder persoonlike skandes. Dat sy seuns nes Eli s’n teleurgestel het (1 Sam 8:1-3), moes hom diep bedroef het. Die seuns van so ’n vader kan dink vroomheid kom vanself of deur die gene. Maar wat jy erf, kan jy eers besit as jy dit self verwerf het (Goethe: Faust).
Weer eens kon Samuel nie die alleenskrywer van die boeke wees nie. Sy dood word reeds in 1 Samuel 25:1 vermeld. Die medeskrywer en sy tyd dui hoogstens op die sogenaamde “Deuteronomiese” skrywer uit die Babiloniese ballingskap. Dat daar meer as een skrywer was, blyk uit die verskillende weergawes van sekere gebeure. So word die dood van Goliat in 1 Samuel 17 aan Dawid toegedig en in 2 Samuel 21:19 aan Elganan, met Dawid reeds koning. Steeds is egter daarin geslaag om ’n oeroue gegewe te behou. Daar is genoeg voortreflike geskiedskrywing, soos 2 Samuel 9-20, om die gelowige te oortuig dat die goue draad styf vasgehou is. Ook om te besef dat Samuel inderdaad ’n goddelike verhoring was, ’n leier in elke opsig wat vir ’n Joodse man van daardie tyd enigsins moontlik was: siener, priester, regter, profeet en stigter van die monargie. Samuel het by die Here grootgeword (1 Sam 2:21) maar ook by Hom oud geword. Watter gemis moet sy heengaan gewees het … maar sy nalatenskap was blywend (Heb 11:32).
GEBED: Die lewe van Samuel toon wat U kan vermag met ’n mens wat by U grootword en in U lewe, Here. Dit bemoedig ons om te weet dat U ook vir ons so vrugbaar kan gebruik.