Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 91

22 Maart 1 Samuel 12:1-15

Оглавление

GOD SIEN DIEPER AS MENSE

“Die Here is hier by julle getuie …” (1 Sam 12:5).

Dit was nie na Samuel se sin dat die volk ’n koning vra nie. Miskien het hy geweet dat geen koning die ware oplossing sou wees nie. En dalk was daar tog, heel menslik, diep in sy hart ’n tikkie seerkry omdat sy seuns as leiers uitgestem word (1 Sam 8:5-6). Maar hy buig voor die meerderheid en salf vir Saul (1 Sam 10). In daardie stadium was Saul die beste keuse, hoe skeef sy bewind ook later geloop het. Ná Saul se kroning tree Samuel af. As laaste van die rigterleiers is hy oud en moeg, in velerlei opsigte ook ontnugter. Maar een ding kan hy met oopgespreide arms voor die ganse volk sê: Die Here is sy Getuie dat hy nooit iemand te na gekom, verdruk of benadeel het nie.

’n Jongman neem vioolles by ’n befaamde meester. Eindelik breek die tyd vir sy eerste opvoering aan. Ná elke item lyk die violis, ten spyte van toejuiging, onseker. Selfs ná die laaste nommer, terwyl hy staande toegejuig word, kyk hy na ’n bejaarde man op die balkon in plaas van na die gehoor. Toe die ou man langsaam knik en glimlag, ontspan die jong musikus en straal van geluk. Dit was sy mentor, die maestro, en sonder sy goedkeuring het die skare se applous geen waarde gehad nie.

Wêreldse applous is relatief, en om dit na te jaag, kan van jou op die ou end ’n baie eensame mens maak. As jy gedurig jou beeld in ander se oë soek, moet jy weet dis ’n immer verskuiwende blik. Steur jou aan God, wat jou diepste hart ken en wat die mag het om te sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt 25:21 OAV; dagstukkie 14 Okt).

GEBED: Ek moet bely dat die goedkeuring van mense tog vir my belangrik is, Here. En kry ek dit nie, verwelk my gees. Wees U my maatstaf, want net op U kan ek my altyd verlaat.

God se pad van vryheid

Подняться наверх