Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 93

24 Maart 1 Samuel 22:1-5

Оглавление

DAWID SE FLENTERBENDE

Verder het elkeen wat in die moeilikheid was … by hom (Dawid) aangesluit … (1 Sam 22:2).

Ná die gebeure by Nob en Gat (dagstukkie 12 Jul) vlug Dawid na ’n spelonk in Moab. Twee van sy vroue en sy broers en familie kom vir veiligheid ook hierheen. Bekommerd oor sy bejaarde ouers reël Dawid dat die koning van Moab hulle by hom versorg. Dis filmmateriaal … maar Dawid maak nie ’n fliek nie, hy vlug om oorlewing. Ander beswaardes sluip nader. Van hulle is moontlik deur hulle eie toedoen op vlug. Mens sou die reeds gesalfde koning se lyfwag graag soos in die ridderlegendes wou voorstel, maar nee … hierdie flenterbende, reeds vier honderd, dreig ná ’n tragedie by Siklag om vir Dawid te stenig (1 Sam 30:6). Hulle is egter boweal taai oorlewers en op ’n ruwe manier lojaal, sodat hulle eindelik vir Dawid help om sy regmatige troon te bestyg (2 Sam 2:3).

Die wyse waarop Dawid uitreik na dié wat uitsak, maak hom ’n prototipe van Jesus. Ook die kerk van Christus bestaan dikwels uit “rare kosgangers”, volgens ’n Nederlandse teoloog. Screwtape, ’n senior duiwel (dagstukkies 31 Jul en 21 Okt), skryf vir sy nefie Wormwood hoe om ’n “pasiënt”, ’n soekende jongeling, uit die kerk te hou. “Een van ons sterkste bondgenote is die kerk self. Plaas hom hierdie Sondag naby die groepie bure wat hy tot dusver vermy het. As een vals kan sing, ’n dubbele ken of krakende skoene kan hê, perfek! Al is hulle dalk werklike groot stryders in die Vyand se ryk, ons pasiënt is ’n gek en weet dit nie. Werk sterk aan die antiklimaks tussen ‘die liggaam van Christus’ en die regtige mense om hom, solank hy nog van emosie afhanklik is. Daarna raak dit vir ons al hoe moeiliker.”

Eers as ons versoen raak met ons eie en ander se “flenters”, figuurlik gesproke, is ons op pad na eenheid en heelheid, buite bereik van die bose.

GEBED: Here, as ek in die spieël kyk, sien ek ’n netjiese mens, maar net U weet hoe flenters ek soms van binne is. Dankie dat U my so gebruik en ook heelmaak.

God se pad van vryheid

Подняться наверх