Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 90

21 Maart 1 Samuel 7:1-12

Оглавление

GEESTELIKE HUISSKOONMAAK BY MISPA

Hulle het by Mispa bymekaargekom … en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig” (1 Sam 7:6).

Die Filistyne roof die dra-ark van Israel in die “Ikabod”-veldslag (1 Sam 4:11), wat die lewe van Eli se seuns eis en, indirek, ook syne. Die Filistyne vind die ark ’n vurige kool, want die Here kasty hulle (1 Sam 5). Ná sewe maande besluit hulle dit moet terug … maar watter sagmaakgeskenk sal hulle saamstuur? Hulle priesters en waarsêers kom met die blink(!) plan dat hulle goue afbeeldinge van hulle dodelike swere maak, ook van die muise wat die land verniel het. Rare geskenke, maar darem van goud. Ná nog rampe kom die ark tuis, en daarna verloop twintig jaar in stilte (1 Sam 7:2).

Die Filistyne is swak onthouers, want hulle ruk nou weer op. Israel is bang; die afgode wat hulle self intussen versamel het, gee geen gemoedsrus nie. Dis waarom die volk hier by Mispa byeenkom. Samuel beveel dat die afgode uitgegooi word, dat almal bely en tot die Here terugkeer. Dis tyd vir geestelike huisskoonmaak.

Ons vriend in Nederland skryf oor die huurwoonstel wat hulle moes skoonmaak voordat hulle kon intrek: “Dit het publiek gevoel of ek met opgrawings besig was. Byna twintig jaar se rotsooi van die mure en vloere geskraap. Die hele tyd dat ek daarmee besig was, het ek net bly dink of die Liewenheer nie ’n hand vol engele kan spaar om ook ons bínnehuis so van Schweinerei te kom reinig nie. Ou bitterhede en wrokke, ou pyne en kwale, en veral die taai gomme waarmee dit geplak is en wat ongelukkig nie ook verpulwer nie.”

Die volk se geestelike huisskoonmaak is volkome, want God help om “die taai gomme” te verpoeier. Hy gee oorwinning oor die Filistyne deur ’n donderstorm. Hier sit Samuel ’n klip op en noem die plek Eben-Haeser: “… tot nou toe het die Here ons gehelp”, met die versweë versekering “en Hy sal ook verder”.

GEBED: Af en toe besluit ons ook op innerlike huisskoonmaak … maar ons krap net bolangs, Here. Sonder die lig en krag van u Gees kan ons nie waarlik skoon en nuut maak nie.

God se pad van vryheid

Подняться наверх