Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 92

23 Maart 1 Samuel 19:9-17

Оглавление

EN DIE AFGODSBEELD IN DAWID SE HUIS?

Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit (1 Sam 19:13).

Hierdie gebeurtenis gee ’n heel ander betekenis aan “die huis van Dawid”, latere volks- en godsdienstige credo. Dis seker te veel gehoop dat hierdie mangrootte afgod in die huis van Dawid net ’n deurstop was. Hink Dawid dan nog op twee gedagtes? Waarskynlik was dit deel van Mikal se bruidskat en het Dawid dit maar geduld omdat hy en Mikal toe nog versot op mekaar was en hy in elk geval geen waarde aan afgode geheg het nie.

Of hy Psalm 16 voor of ná hierdie tyd geskryf het, is nie bekend nie. Hopelik later, en dat die afgodsbeeld saam met Mikal “marching orders” gekry het. Want Dawid dig roerend: “Ek het vir die Here gesê: ‘Ek behoort aan U … Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie’ ” (Ps 16:2-3). Hy sluit die psalm allermoois af: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” (Ps 16:6 OAV).

Die huisgode of “terafim” (Ndl) word meermale in die Ou Testament vermeld, die bekendste seker die keer toe Ragel op die gesteelde huisgode gesit en haar olik gehou het om haar gegriefde pa te flous (Gen 31:34). Soos Ragel wil Mikal skynbaar ook op bygelowige wyse voorspoed verseker. Die profete spreek meestal ’n oordeel daaroor uit, soos Sagaria (10:2) en Hosea, wat profeteer dat die volk lank sal moet klaarkom sonder ’n koning en sonder “efodbeeld en afgodsbeeldjies” (Hos 3:4).

Samuel bied ’n ander perspektief op afgodery wanneer hy vir Saul beskuldig: “… eiesinnigheid is afgodery en beeldediens” (1 Sam 15:23 OAV). Voor ons dus “die huis van Dawid” of spesifiek vir Mikal te erg oordeel, of die tieners met hulle allerhande “charms”, laat ons kyk na die afgod van eiesinnigheid, wat niks anders is nie as om dwarsweg op verkeerde paaie te loop.

GEBED: Here, ons voel so selfvergenoeg omdat ons nie gesnede beelde aanbid nie … terwyl die ongesnede eie-ek ons lewe kan regeer. Help ons om dit raak te sien en uit te roei.

God se pad van vryheid

Подняться наверх