Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 87

18 Maart 1 Samuel 1:19-26

Оглавление

HANNA SE GESEËNDE BESLUIT

Toe sy hom gespeen het, het sy hom … weggebring na die huis van die Here … (1 Sam 1:24).

Gesiggie blink gewas, jurkie glansend wit, nuwe riempieskoentjies, ogies draaiend van verwondering, bedug vir die oom met die lang baard en pragtige klere … dis klein Samuel, wat op die punt staan om van sy moeder geskei te word. Het Hanna hom so lank moontlik gesoog? Ons kan aanvaar dat Samuel nou so drie jaar oud was.

Dis bitter klein vir ’n mannetjie wat saans in sy afgesonderde slaapplekkie die naggeluide moet trotseer. Bedags is hy weinig meer as ’n klein dienskneg en stuurling. Waarskynlik snik hy hom saans aan die slaap oor sy pa en ma en die huisie in die Efraimsberg, saggies sodat die knorrige oom nie hoor nie. Hy het baie probleme met die land en sy seuns. “Dis donker tye,” mompel hy waar hy op sy hoë stoel aan sy baard sit en pluk.

Daar is staaltjies van moeders wat ’n kind uit ernstige siekte teruggebid het met die gelofte dat hy predikant sal word; ’n edele maar waagsame verbintenis. “Ek-sal-dit-doen-as-jy-dat-doen” is immers nie God se werkwyse nie. En die bediening is moeilik genoeg dat ’n predikant nie nog daar ingestóót moet word nie. Dis soveel beter as ’n kind van jongs af sy eie besluite leer neem.

Gelukkig was Hanna se gelofte, huilend afgelê in die tempel in Silo waar Eli haar eers afjak en dan troos, reg in die kol. Dalk sou God buitendien vorentoe vir Samuel roep, soos vir Abraham, Moses, Paulus en ander. Maar Hanna se besluit sorg dat Samuel in die tempel by die Here grootword. Jaarliks wanneer sy vir hom ’n manteltjie en eetgoedjies bring, sien sy hy is in sy element, hoor sy hoe God een nag sy naam geroep het. “Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here” (1 Sam 3:20).

GEBED: Here, in die gesin rus die las van besluitneming soms swaar op ons. Ons weet nie altyd waar raad ophou en inmenging of manipulering begin nie. Gee ons tog wysheid.

God se pad van vryheid

Подняться наверх