Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 65
27 Februarie Lukas 22:39-46
ОглавлениеSWEET SOOS BLOEDDRUPPELS
Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val (Luk 22:44).
’n Vriend het my eenkeer vriendelik vermaan toe ek die term “bloedsweet” in verband met ’n skryftaak gebruik. Dit stuit hom teen die bors, het hy gesê, en ek moet dit nie weer doen nie. Ek het ook nie. Dis ’n uitdrukking wat mens inderdaad nie kan gebruik sonder om aan die Heiland in Getsemane te dink nie.
Dat juis Lukas, die enigste nie-Joodse skrywer in die Nuwe Testament, hieroor berig, is nie vreemd nie. As geneesheer het hy van dié verskynsel geweet, en hy het dalk nog meer regop gesit toe hy in sy noukeurige navorsing (Luk 1:1-4) op die getuienis van ’n ooggetuie afkom. Omdat die dissipels geslaap het, word vermoed dat die loerende jongeling van Markus 14:51 die waarneming gedoen het. Lukas kon hom die toneel in die maanverligte Getsemane voorstel: die sweet, glimmend op Jesus se gesig, word al donkerder. Dit kleef aan sy gesig, beweeg na sy ken. ’n Paar druppels val en stol op die rots, die res raak weg in sy baard.
Hierdie verskynsel heet hematidrose, en as trefwoord op ’n soekenjin lewer dit talle artikels op. In ’n tyd toe navorsing sonder die internet nog ’n skrywer se trots was, het ek daarop afgekom in die joernalis Jim Bishop se boek The day Christ died. Die verskynsel is waargeneem by krygsgevangenes in hewige kruisondervraging. Wanneer vrees op vrees gestapel word, raak die psigologiese stres te erg. Die persoon verloor op daardie tydstip gewoonlik sy bewussyn. Gebeur dit nie, word chemikalieë vrygestel wat die fyn kapillêre buisies onder die vel laat wyer word sodat dit teen die sweetkliere druk en oopbars. Die bloed word dan saam met die sweet oor die hele liggaam uitgeskei. Ons hoef nie te twyfel oor wat daar geskryf staan nie: Dié nag in Getsemane hét Jesus bloed gesweet. Hy was Gods Seun, maar in sy lyding ook volkome mens.
GEBED: Ons betree weer die lydenstyd, Here Jesus, en besef opnuut watter groot prys U vir dwase mensekeuse moes betaal. Maar hoe groot is ook die wonder van u liefde en vergifnis.