Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 59
21 Februarie Lukas 11:5-13
ОглавлениеDIE “ONBESKAAMDE” VRIEND
“Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed” (Luk 11:7).
Jesus praat weer eens in die gebruike en idioom van sy tyd. In die Ooste is gasvryheid ’n morele verpligting (Eks 22:21, 23:9; Lev 19:34; Heb 13:2; dagstukkie 11 Apr). Die laatkommery is ook begryplik. In Palestina sou ’n voetreisiger in die aand, veral in die maanlig, reis om die hitte van die dag te vermy. Hierdie gasheer word laatnag onkant betrap: sy brood is op. Ook vanweë die klimaat, word daar meestal net genoeg vir een dag gebak.
Hy haas hom om ’n vriend op te klop. In die Ooste word daar ook net aan ’n geslote deur geklop as dit onvermydelik is. Deur die dag staan die deur oop, ’n geval van “my huis is jou huis”. Die armer huis, veral in die dorp, is soms snags gedeel met die pluimvee en bokke. Die groot gesin slaap op oopgerolde slaapmatte, dalk rondom ’n deurnagvuurtjie. Is dit vreemd dat hierdie huiseienaar nie sou wou opstaan nie? Om plek te maak om die deur oop te kry, was ’n kwessie. Kleintjies begin knies, hoenders kir, bokke proes. Die huisheer hou asem op … maar die geklop en geroep hou aan, sodat hy tog maar opstaan ter wille van die man se “onbeskaamdheid” (Luk 11:8 OAV).
Met hierdie gelykenis leer Jesus sy dissipels meer van gebed; nie deur ooreenkoms nie, maar deur kontras. As ’n aardse vriend só optree, en ’n aardse ouer (Luk 11:11-13), hoeveel te meer ons hemelse Vader? Dit beteken nie dat ons deur vurige gebed ’n antwoord uit ’n onwillige God probeer wring nie, eerder dat ons ’n gewillige God vertrou om te weet wat ons nodig het nog voor ons vra. En as dit lyk of Hy nie antwoord nie, het jy waarskynlik nog nie genoeg jare gelewe nie. Vra ouer mense om terug te kyk en jou te vertel volgens watter vreemde weë en tye God meermale geantwoord het. Vra hulle oor God se GPS.
GEBED: Help my om nie moedeloos te word as dit lyk of U nie antwoord nie, Here. U hoor in elk geval, en dikwels berei U reeds die verhoring ver buite en bo my wete voor.