Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 53
15 Februarie Markus 14:32-52
ОглавлениеDIE NAAKTE JONGMAN IN GETSEMANE
’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop (Mark 14:51-52).
Vermoedelik was hierdie jong kaalnaeler Markus self, skrywer van die boek, want ons vind geen verwysing na die voorval in die ander Evangelies nie. Johannes Markus was die seun van Maria, wie se huis die gemeentesentrum in Jerusalem was. Die Avondmaal is dalk in haar bokamer gehou. Dis ook hierheen wat Petrus gaan toe hy uit die gevangenis verlos word (Hand 12:12). Die jongeling sou intens bewus wees van die onheilspellende naggebeure in Jerusalem. Dalk het hy reeds vroeër agter Jesus en sy dissipels aan weggeglip, deur die klein venstervierkant, laken om die lyf. Hy sou die getuie kon wees van Jesus se gebed en bloedsweet (Mark 14:36; Luk 22:44), aangesien die dissipels geslaap het. Toe hy egter in swaaiende fakkellig gegryp word, vlug hy skoon uit sy laken deur die skimmige olyfbome.
Markus vergesel later sy oom Barnabas (Kol 4:10) en Paulus op hulle sendingreis (Hand 12:25), maar draai halfpad om. Dalk het die avontuur te gevaarlik geword. Chrysostomus het gesê: “Dalk wou die seun sy ma hê.” Paulus is so bitter dat hy ’n volgende keer weier om vir Markus (én Barnabas) saam te vat (Hand 15:37-39). Eers baie later, vanuit die tronk, skryf hy aan Timoteus: “Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees” (2 Tim 4:11). In Filemon (v 24) noem hy Markus sy medewerker, en Petrus noem hom “my seun” (1 Pet 5:13). Die jong vlugter het man geword, en die room het boontoe gekom. Markus het moontlik Petrus se herinneringe en briewe opgeteken. Dis al gesê dat die Markus-evangelie niks anders is nie as ’n weergawe van Petrus se preke. Wie sou in elk geval Markus se vlugverlede beter verstaan as Petrus, die wenende loënaar in daardie Jerusalem-nag? Hy, wat so dikwels die Meester tuis in Kapernaum geherberg het? Ja, juis Petrus sou verstaan.
GEBED: Ek wil hierdie jongeling nie oordeel nie, Here, want ek kan ook nie altyd my angste en emosies beheers nie. Help my om, soos hy, deur u genade uit te groei tot staatmaker.