Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 50
12 Februarie Markus 5:1-20
ОглавлениеDIE BESETENE TUSSEN DIE GRAFTE
“My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie” (Mark 5:9).
Vroegaand land Jesus en sy dissipels oorkant die meer. Die dissipels bewe nog ná die storm, en vind die toneel grillig: die onrein, weiende varke, die kalksteenholtes wat as grafte dien. Opeens storm ’n mensding skreeuend op hulle af. Halfnaak, vol sere, baard en hare ’n woesteny. Jesus vra sy naam, en hy antwoord nogal. Dalk onthou hy ’n legioen soldate (ses duisend man), wat hom met klippe bestook het. Of die slagting en verkragting wat in sy dorpie aangerig is, het sy verstand geknak. Jare reeds krap die legioen sy kop deurmekaar.
Die kwessie is nie of ons in bose geeste glo nie. Vir die besetene was hulle werklik. Vir Sielkunde Prakties het ons Valkenberg besoek en is van die ergste gevalle gewys. Een het stemme gehoor. “Hoor jy dit nou?” het die psigiater simpatiek gevra. Die pasiënt het diep geluister en geknik. Die ervare psigiater het hom nie weerspreek nie.
Jesus besweer die geeste. In die finale spasma van waansin gil die man so dat die varke skreeuend op loop sit, oor die krans. Vir die sieke is dit ’n teken. God gee soms, buiten die wonderwerk, ook ’n teken vir die mens (dagstukkie 19 Apr). Die dissipels help die man aan klere en kos. Dalk slaap hulle hier op die grond, of in die boot waarheen hulle met ’n skuit roei (Mark 5:18). Die volgende dag sou die varkeienaar en nuuskieriges opdaag. Jesus wil nog die nodige nasorg doen; die man sou moeg wees van jare se raas en vlug en spartel.
By Jesus se voete kom hierdie mensewrak tot rus. Hy wil saam met Jesus gaan, maar kry die opdrag om te bly en te getuig. Toe Jesus weer die landstreek besoek, met die eerste wonderspysiging (Mark 6:35-44), daag ’n mensemenigte op. Was dit as gevolg van die getuienis van hierdie een dankbare mens?
GEBED: Hoe goed ken U die mens, o Here. U weet hoe om met ons te werk. U weerlê nie ons pyn en hartseer nie, maar lei ons tot genesing.