Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 58
20 Februarie Lukas 11:1-4
Оглавление“HERE, LEER ONS BID”
Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid …” (Luk 11:1).
Waarskynlik bedoel die dissipels: “Here, leer ons só bid.” Hulle het Jesus dopgehou en is getref deur die totale oorgawe op sy gesig. Dit hoef nie te beteken dat Hy lank gebid het, of verhewe, of selfs hoorbaar nie. Daar is ’n gedig oor die skietgebed van ’n ruiter wat hom van sy perd af doodgeval het: “Between the stirrup and the ground, I mercy sought, I mercy found.” Dit, weer, herinner aan die kreungebed van die moordenaar aan die kruis, en Jesus se antwoord: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43).
Gebed is ’n lewenswyse, ’n ontspanne praat-met-die-Here: of ek hardop bid, of stil bid, of gebede in my gedagtes dink, of alleen bid of in ’n groep. Daar is veel versterking in die koinonia, geestelike samesyn, die bid saam met gelowiges, maar dit “verbeter” nie my gebed nie. Die gebruik van kettinggebede deur teksboodskappe of e-pos het mode geword. Dis nie dat God hardhorend is en beter hoor as daar baie stemme is nie, maar Hy het begrip vir die menslike behoefte aan samesyn, veral in nood; die kwessie van “Gedeelde leed is halwe leed.” Solank daar nie bygelowige waarde daaraan geheg word nie, en solank ons mekaar nie kritiseer oor gebedsgebruike nie. Geen mens ken ’n ander mens se verhouding tot God nie. Ons manier van bid kan uiteenlopend wees, soos die spikkels wanneer ’n druppel kwiksilwer op die grond val. Maar as dit versamel word in God se “wierookbak”, vorm dit een volmaakte silwer druppel. Die geliefde apostel Johannes sien ’n toneel in een van sy visioene op Patmos: “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God” (Op 8:4).
GEBED: Dankie dat U vir ons die direkte lyn na U toe gegee het, Here. Help my om dit te gebruik, nie net op gesette tye nie maar oral en elke oomblik. U hoor ook my dag lange woordelose gebede.