Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 54

16 Februarie Lukas 2:1-20

Оглавление

JESUS OP STRAAT GEBORE?

Sy het … Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê … (Luk 2:7).

Welbekend is die gekommersialiseerde motief van die fraai klein stal, die verwonderde skapies en die ligomstraalde krip met Baba, Maria, en Josef “so trou”. Kerskaartjies het dit helaas mis. Baie herberge was bloot primitiewe skuilings wat op ’n gemeenskaplike binnehof uitloop, met water en vuur, maar geen kos nie. Wat nog te sê die stal?

Ons destydse Joodse toergids het geglo Jesus is op straat gebore (nie vreemd in die Ooste nie), en daarna verskuif na ’n uitgekapte klipholte wat as stal dien. Toe die toerlede skepties vra: “Who said so?” kom die antwoord smalend: “Whó sáid só? The lócal péóple sáid só.” Hy het immers reeds gewys op die oorverteltradisie soos in die Wet neergelê (dagstukkie 29 Jan). Gesien hierdie teorie het Giorgioni se Aanbidding van die skaapwagters (1508) sin. Die skilder beeld in volryp kleure hoe die herders in ’n klipperige straatjie kniel voor ouers en Kind, in die bek van ’n klein grot. (Terloops, herders was nie gerekende mense nie; vanuit die veld, sonder rituele waswater, sou hulle as onrein beskou word.)

Vroue daar naby sou dalk hulp verleen het toe die geboorte Maria oorval. En só word die Verlosser van die wêreld gebore. In JM Coetzee se Disgrace (Vintage, Londen, 2000) staan ’n professor tereg op ’n seksaanklag. Terwyl een koerant darem na sy outeurskap van ’n vakboek verwys, dink hy bitter: “Blest be the infant babe” – dankie vir klein genades. Die Christengelowige sou “babe” ’n hoofletter wou gee en die stelling letterlik vertolk.

Of die Jesuskind op straat gebore is, ’n smal klipstegie waar mense wemel en skaars kyk na die geboorte agter ’n gespande doek, en of Hy pas daarna verskuif is na ’n klipstal, en later na die herberg … geseënd is die Baba. Hy, die heel menslikste wese in die heelal, maar ook die heel Goddelikste.

GEBED: In die gees is ek saam met die skaapherders teenwoordig, o Here, want toe reeds was U daar vir alle mense uit alle nasies en tye. Ek loof en aanbid U daarvoor.

God se pad van vryheid

Подняться наверх