Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 60
22 Februarie Lukas 13:31-35
ОглавлениеDIE VERSKILLENDE FARISEËRS
Op daardie selfde oomblik het ’n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee …” (Luk 13:31).
Soos die priesters nie almal oor een kam geskeer kon word nie (dagstukkie 20 Jan), so ook die Fariseërs. Paulus was ’n Fariseër en sy pa ook (Hand 23:6). Hulle was nie skrifgeleerdes nie, hoewel van hulle ook skrifgeleerdes was, soos die verstandige Nikodemus (Joh 3:1; 7:50-51). Die Fariseërs was ’n godsdienstige, politieke party, met die Sadduseërs as opposisie. Hoewel hulle Jesus sterk teengestaan en Hy hulle sterk berispe het (Matt 23; Luk 11), was daar behalwe Nikodemus ook ander wat Hom goedgesind was en Hom teen Herodes Antipas kom waarsku het.
Daar was, soos in alle groepe, goeie en minder goeie Fariseërs. Die Jode self het hulle in sewe groepe verdeel. Natuurlik was die indeling nie klinkklaar nie, en eienskappe kon oorvleuel. Eerstens was daar die skouersoort, wat hulle goeie dade “op die skouer” dra sodat almal dit kan sien. Tweedens, die wag-’n-bietjies, wat altyd rede vind om ’n goeie daad uit te stel. Derdens, die bloeiendes, wat moedswillig teen hoeke van huise en mure vasloop soos hulle wegkyk van vroue op straat; hulle kneusplekke was hulle sedelike medaljes. Vierdens, die boggelrûe wat weens oordrewe nederigheid vooroor loop. Vyfdens, die berekenaars wat gedurig hulle goeie dade in ’n gunstige balansstaat opstel (vgl die gebed van die Fariseër, Luk 18:12). Sesdens, die vresendes, so bang vir die toorn van God dat hulle godsdiens by hulle spook. Laastens was daar, hartsverblydend, die Godsliefhebbers, met geloof en goeie dade as spoorslag. Al was hulle moontlik een uit sewe, het hulle goeie invloed uitgeoefen. Van hulle het, al het hulle Hom nie as Messias erken nie, vir Jesus as rabbi gerespekteer en teen onreg probeer beskerm.
In ons idioom het “fariseër” ’n kleinletter gekry en dit word vryelik gebruik. Die ongemaklike waarheid is egter dat almal, ook gelowiges, die een of ander eienskap van een of meer van hierdie groepe vertoon.
GEBED: Here, help my om deur gebed en selfondersoek te bepaal waar ek ten opsigte van hierdie indeling staan. En waar ek tekortskiet, vat my hand op ’n beter pad.