Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 47
9 Februarie Matteus 25:1-13
ОглавлениеDIE GELYKENIS VAN DIE TIEN MEISIES
“Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood” (Matt 25:8).
Toe Jesus hierdie gelykenis vertel, het Hy dalk met heimwee teruggedink aan die bruilof in Kana, waar sy moeder en broers ook was (Joh 2:3), voordat vervreemding begin intree het. Nietemin was Hy bekend met gebruike rondom die huwelik, wat in elke dorp ’n groot geleentheid was. Al die inwoners daag op om die paartjie na hulle woning te vergesel. ’n Joodse gesegde lui: “Almal tussen ses en sestig volg die huwelikstrom.” In plaas van wittebrood, hou die paartjie ’n week lank “oophuis”, waartydens gekose vriende hulle bederf en ophemel asof hulle koninklikes is. Die dwase (OAV) meisies het nie net die seremonie nie, maar ook die aanloop tot hierdie week misgeloop. Dis eintlik ’n prettige speletjie, ’n soort aspaai, vir die bruidegom om opsetlik te talm, en dan ’n duttende gas te betrap.
Soos al Jesus se gelykenisse, is daar ’n algemeen plaaslike én ’n dieper geestelike betekenis. Die Jode wag al so lank op die koms van die Messias, tog is hulle totaal onvoorbereid toe Hy kom. Dis ook ’n waarskuwing vir elke mens om voorbereid te wees, hetsy vir ’n skooleksamen of vir die groot eindeksamen. Daar is gesê: “Niks is so seker soos jou dood, en niks so onseker soos die tyd daarvan nie.” Soos die meisies nie vir mekaar olie kon leen nie, so kan een mens nie ’n verhouding met sy naaste of God van iemand anders leen nie. Jy moet as ’t ware daarmee beklee wees.
Tennyson het die gelykenis omskep in ’n liedjie vir Guinevere, vrou van koning Arthur in die legende, toe sy te laat die tol van sonde besef. Dit eindig soos dit begin, met die “too late”-refrein:
Have we not heard the bridegroom is so sweet?
O let us in, tho’ late, to kiss his feet!
No, no, too late! Ye cannot enter now.
GEBED: Mag ek nooit die woorde “Te laat!”hoor as ek by die bruilof van die Lam opdaag nie, Here. Help my om elke oomblik die bruilofskleed te dra.