Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 63
25 Februarie Lukas 18:1-8
ОглавлениеDIE ONREGVERDIGE REGTER
“… aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar … help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog” (Luk 18:5).
Gewone Joodse dispute is na die owerstes geneem, en twee tot drie getuies was nodig (Num 35:30; Matt 18:16). Die regter sou dus ’n betaalde magistraat wees, aangestel deur Herodes of Rome. Van hulle is gesê dat hulle die reg sou verruil vir ’n kooksel vleis. Amptelik was hulle bekend as “Dayyaneh Gezeroth”, regters van geregtigheid. Spottenderwys is hulle egter genoem “Dayyaneh Gezeloth”, rower-regters.
Die weduwee was in daardie tyd, gelukkig nou nie meer nie, die opperste simbool van armoede en weerloosheid. Sonder geld of invloed het sy nie die geringste kans op ’n gunstige uitspraak gehad nie. Sy het net een wapen gehad: volharding. En so goed gebruik sy dit dat die regter besluit: Liewer haar sin gee as ’n blouoog kry wat my die onderwerp van spot maak.
Hierdie gelykenis wil nie vir God gelykstel aan ’n onregverdige regter nie … dit stel hom juis teenoor so ’n regter. As ’n aardse, onregverdige regter dit doen, hoeveel te meer die ewige, regverdige Een? Sekerlik bedoel Jesus nie dat ons neulgebede moet bid, of verwag om alles te kry waarvoor ons vra nie. ’n Ouer gee nie graag ’n skêr in ’n kleuter se hand, internet in ’n jong kind se kamer, die motor aan ’n tiener sonder rybewys nie.
Sy lewe lank vra en pleit die mens, altyd op grond van korttermyn-insig. Ons weet nie wat môre sal gebeur, oor ’n maand, oor vyf jaar nie. Net God sien die hele prent: verlede, hede, toekoms. Jesus sê egter dat ons nie ontmoedig moet wees in gebed nie. Dis hoekom Hy gewonder het of die geloof staande sou bly tot Hy weer kom. Daarom kan ons met vrymoedigheid ons harte voor Hom blootlê. En as dit lyk of Hy talm: Vertrou Hom vir die waar, wanneer en hoe. Het Augustinus se moeder nie dertig jaar vir sy bekering gebid nie?
GEBED: Here, ek vertrou U met my dringendste behoeftes. Dankie dat ek dit oor en oor vir U kan noem, nie omdat U nie luister nie, maar juis uit dankbaarheid omdat U luister.