Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 56
18 Februarie Lukas 6:46-49
ОглавлениеDIE HUIS OP ROTS GEBOU
“Hy is soos ’n man wat … die fondament op die rotsbodem gelê het” (Luk 6:48).
Onvermydelik gaan die digter Fagan se “Huisie by die see”, sielvol gesing deur Laurika Rauch, deur mens se gedagte. ’n Swak fondament is ’n resep vir ’n ramp. ’n Stewige fondament, daarenteen, is ’n blywende vreugde, al sien jy nog nie iets daarvan nie. Ons twee oudstetjies kon heeldag speel in die doolhof van deeglik uitgegraafde kerkfondamente. Solank daardie fondamente oop gelê het, het jy nie van hulle geweet nie, en dit was ’n plesier om hulle saans te bad wanneer hulle so deeglik grondvuil is.
Vir ’n korrekte prentjie van hierdie gelykenis moet ons ook Matteus 7:24-27 lees. In Lukas se weergawe maak die vloedwater skynbaar nie sin nie. Hy het nie in Palestina gewoon nie, maar Matteus het geweet dat die riviere in droogtetyd opdroog en net ’n sandbedding oorbly. Met die seisoenale reëns kom die verraderlike blitsvloede wat alles in ’n oogwenk meesleur; tydens Debora se rigterskap selfs die ysterwaens van die vyand (dagstukkie 7 Mrt). ’n Naïewe persoon kon die gawe stuk sand aansien vir ’n wonderlike plek om sy huis te bou, dalk aan die kant waar die bome weliger as elders groei. ’n Boorling en kenner sou liewer soek na ’n rotsagtige deel, in Palestina nie moeilik om te vind nie; dis ’n land van klip, soos almal sal weet wat al daar gereis het.
Waarom het die onwyse bouer dan so dwaas besluit? Vir eers wou hy arbeid bespaar. Die maklike pad was in hierdie geval egter die hopeloos verkeerde pad. Daarby was hy kortsigtig. Hy het nie ses maande vooruit gedink, aan die koms van die hewige winterreëns nie. In elke besluit is daar kortsigtigheid of versiendheid. Gelukkig is die mens wat nie toekomstige sekerheid verkwansel vir die plesier van die oomblik nie. Bou op my woorde, sê Jesus aan sy luisteraars, en julle sal veilig wees in die Vaderhuis.
GEBED: Die les van die vaste fondament is ’n les vir elke tyd en lewe, Here, ook vir myne. Wees U my fondament, dan sal ek nie wankel nie.