Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 66

28 Februarie Lukas 22:66-71

Оглавление

DIE AANBREEK VAN DIE EERSTE GOEIE VRYDAG

Toe dit dag word, het die Raad … Jesus voor hulle laat bring (Luk 22:66).

Die Leviet staar vanaf sy hoë uitkykpos oos, daar waar bleekrooi tinte ver agter die Dooie See en die Moabsberge uitkruip. Die tempelpoorte is met wagtendes toegepak. Vuurtjies stippel teen die Olyfberg en nog pelgrims kruie in kameelkaravane aan vanaf die seestad Joppe. Die paaie uit die noorde en weste kruis by ’n rotsagtige plek genaamd Golgota.

Meteens gewaar die Leviet die eerste sonstraal teen ’n bergtop. Met hande langs die mond gebak, roep hy: “Die môreson skyn reeds!” Van ver onder vra die hoëpriester: “Is die hemel reeds verlig tot by Hebron?” Die Leviet tuur suid; anderkant die heuwels van Betlehem val die sonstrale teen die mure van Hebron. “Dit is!” roep hy.

Silwertrompette skal en die priesters wat vir hierdie uitverkore taak geloot is, skuifel kaalvoet rond. Die wagte gooi die hekke oop en die massa stroom in, mans en vroue apart. Elke man prewel staande sy sondes voor Jahwe. Daar word uit die Skrifte gelees, gepreek, en afgesluit met die Tien Gebooie en psalmsang. Die offerlam, sonder gebrek, kry water uit ’n goue bak voordat hy altaar toe gelei en die voorpote aan die agterpote vasgemaak word. Hy blêr reddeloos. ’n Priester kom wierook aansteek en blus die sewe kerse. Nog een staan wydsbeen oor die lam, lig die kop en lê ’n mes teen die polsende keel. Sy elmboog ruk op. Die bloed word opgevang en op die altaarklip gesprinkel. Iewers slaan ’n ghong.

Nou is die priesterhoofde en skrifgeleerdes vry vir die verhoor van die Man wat beweer Hy is die Seun van God. Jerusalem was laas nag vol soekende wagte en soldate met fakkels, en hulle het Hom gevang. Die priesters wis nie dat die dag wat met ’n ou-ou offer begin het, met ’n nuwe sou eindig, en dat die volgelinge van die Man van Nasaret nooit weer brandoffers sou bring nie.

GEBED: U het die tyd in twee kom klief, Here Jesus. Toe daardie eerste Goeie Vrydag oor Jerusalem aanbreek, was dit ook die aanbreek van die nuwe bedeling vir u geestelike Israel.

God se pad van vryheid

Подняться наверх