Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 71

2 Maart Josua 6:1-5, 20-22

Оглавление

DIE MURE VAN JERIGO

Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in (Jos 6:20).

Argeologiese opgrawings bevestig hierdie gebeure. Hope rousteen is gevind, tot in die huise. ’n Stukkie noordermuur het bly staan, waar Ragab gered sou word (Jos 2:18). Selfs mure (mv) is korrek, want daar was ’n dubbelmuur, die buitemuur die swakste, met ’n gang tussenin.

Die Joodse toergids na wie ek graag verwys, het gespog: “You may think of the bloody Jews what you like, but they’ve got smart heads.” Hoeveel Godgegewe instink en hoeveel beplande taktiek by Jerigo was, dit het gewerk. ’n Stad was so veilig soos sy mure, en Jerigo, die oudste bekende stad, was onneembaar, totdat Josua tot die aanval oorgegaan het. Ná sewe dae moet die inwoners se senuwees gedaan gewees het. Behalwe die koue rillings wat ’n ramshoring veroorsaak, sou die dreunvoetmars op die Richterskaal kon registreer. Jerigo lê 270 m onder seespieël in ’n skeur van 451 km in die aardkors.

Toe my broer noem dat infanterie nie oor ’n brug marsjeer nie maar stap, vra ek die ingenieur in die gesin, wat verduidelik: “Alle strukture vibreer (soos jellie) teen ’n natuurlike frekwensie, en as jy dit op die regte tyd ’n stampie gee, bou dit op (superponeer) tot ’n groot golf, byvoorbeeld soos wanneer jy iemand op ’n skoppelmaai swaai. As die gelid teen dieselfde frekwensie (of ’n veelvoud of gedeelte daarvan) marsjeer, kan die amplitude van die natuurlike vibrasie so groot word dat die struktuur breek/uitmekaarval.”

My kleurskyfie van die Jerigo-uitgrawings wys die aslaag uit Josua se tyd. Maar mens wonder: Het God werklik die vernietiging van alle lewe beveel? (Jos 6:21; dagstukkie 6 Mrt). Dit rym nie met die uitsprake van ander betroubare profete nie (2 Kon 14:6; Eseg 18:20). As die mens se bloed kook, verwar hy maklik “God het gesê” met “Ek wou graag”. Dat die mure egter geval het soos in die Bybel beskryf, staan buite alle twyfel.

GEBED: Ons sien die goue draad van u Godsbeskikking deur die geskiedenis loop, Here. Dit verwonder ons dat U ons deel van u groot patroon maak.

God se pad van vryheid

Подняться наверх