Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 72

3 Maart Josua 10:7-14

Оглавление

JOSUA SE LANG DAG

“Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!” (Jos 10:12).

In ’n bloedige veldslag verslaan Josua hordes van die vyand, en nog meer word deur haelstene neergevel. Die dag sal te kort wees … Josua roep die Here aan, en beveel dan die son tot stilstand. Mens kan sê: Ja, in die Anglo-Boereoorlog by Belmont en Spioenkop het die burgers onder kruisvuur ook geglo die dag sal nooit eindig nie. Of, in die woorde van ’n reisiger: “I spent a year in that town, one Sunday.” Maar dan kan enige wonderwerk weggepraat of gerelativeer word. Die mens doen dit graag met iets wat hy nie verstaan nie.

Hierdie “vermiste dag” word deur ene Totten genoem saam met die tien grade van die sonnewyser (2 Kon 20:11). Totten se bevindinge (gesteun deur Rimmen en Hill) lui kortliks soos volg: NASA moes, in sy beplanning van ’n bemande maanlanding in 1969, statistiese vooruitberekenings doen. Die posisie van die son, maan en planete asook bekende asteroïede en meteore, moes geverifieer word om ’n botsing te verhoed. Die flikkerpyle op die rekenaarskerm het vorentoe en agtertoe deur die eeue beweeg en toe geblok. Die tegnici kon geen fout vind nie, maar die rekenaar het bly sê daar is een dag te min. Iemand in die span onthou toe vanuit sy Sondagskooldae dié gedeelte uit Josua. Hiervolgens is die rekenaars teruggewerk totdat 23 uur en 20 minute gevind is. Daar was nog 40 minute kort, en die spanlid het verder onthou van die Bybelse sonnewyser. Tien grade is presies 40 minute. Die volle 24 uur was nou opgespoor.

Soos gewoonlik met so ’n teorie is daar aanhangers en teëhangers. Maar een van laasgenoemde som dit so op: “Al kan die Totten-teorie nie gestaaf word nie, beteken dit nie dat die twee gebeure onwaar is nie. Jy kan die teorie verwerp en steeds onfeilbaar aan die gebeure glo soos dit in die Bybel beskryf word.”

GEBED: Ons het nie nodig om te soek na bewyse van groot wonderwerke in die geskiedenis nie, Here, omdat ons oorgenoeg bewyse van daaglikse wonderwerke in en om ons het.

God se pad van vryheid

Подняться наверх