Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 67
29 Februarie Lukas 24:13-35
ОглавлениеDIE EMMAUSGANGERS
Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het (Luk 24:35).
Hoe lief was Anna Neethling-Pohl om in haar volryp stem hierdie gedeelte voor te dra: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal … en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood” (Luk 24:29, 35 OAV).
Eugène Marais het by diere in die natuur ’n sononder-onrus opgemerk. Hy praat van “hesperiese angs” (Hesperus = aandster) wanneer die son sak en die hele natuur sinnebeeld van die dood word. “The mortal hour”. Die Emmausgangers het alle rede om so te voel. Die een genaamd Kleopas kon moontlik die Klopas wees wie se vrou Maria ook by die kruis was (Joh 19:25). Klopas word weer vereenselwig met Alfeus (Matt 10:3; Mark 15:40), blykbaar ’n broer van Maria se Josef. Hoe ook al, hierdie volgelinge van Jesus het gehoop Hy sal die volk verlos, maar hulle hoop is saam met Hom dood en begrawe. Nou hoor hulle Hy is gesien. Wat moet hulle glo? Stilweg sluit ’n derde voetganger by hulle aan. Met die aandson van voor, herken hulle Hom nie. Of dalk is hulle oë net wasig van droefheid. Hy vra, hulle vertel, Hy reageer met rustige troos wat perspektief gee. Eers aan tafel herken hulle Hom. Maar Hy verdwyn uit hulle gesig. Tog weet hulle genoeg. In die wit lig van die volmaan, met klippe wat voor hulle voete uit rol, haas hulle hulle terug na Jerusalem om te vertel.
Die wonder van hierdie episode is dat dit nie spesifiek Nagmaal was, of ’n herhaling van die wondervoeding van duisende nie. Dit was gewone aandbrood in ’n gewone huis by gewone mense. In haar “Klein ballade” dig Sheila Cussons oor ’n vrou se desperate soektog na die huis van die timmerman, tot sy eindelik verstom die eenvoudig gedekte tafel en die botterspaan herken: “… ek het voor my eie deur gekom …”
GEBED: Die gebed van die Emmausgangers is ook myne, Here: Bly by my …