Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 73

4 Maart Josua 15:13-19

Оглавление

NOG ’N KIND WAT EIS: “GEE MY!”

… en sy antwoord: “Gee my ’n stuk vrugbare grond” (Jos 15:19).

Dalk was hierdie neerskrywer nie lus om “asseblief pa” by te voeg nie bloot om ink en perkament te bespaar. Die verhaal is egter nuuswaardig, omdat ’n dogter vir haar regte opstaan in ’n tyd toe sy nie eens haar man kon kies nie. Dalk moes sy ’n jeugliefde afskryf, of dalk was Otniël ’n onaansienlike bruidegom, sodat Kaleb skuldig voel. Dalk was Aksa sonder broers, en die oudste dogter. Maar selde het ’n vrou so vasbeslote van ’n donkie afgeklim om haar sin te kry. Fonteingrond is van prima waarde, daarvan getuig ons eie fonteinryke plekname. Treffend is die ooreenkoms tussen haar “Gee my”, en dié van die verlore seun in Jesus se gelykenis (Luk 15:12). Sou Aksa haar erfenis darem wyser aangewend het?

Ouers is deesdae in die knyp met die “Gee my”-eise. “Ek wil dit hê, en ek wil dit nóú hê,” sê die blaasoppie-gesiggies in koopsentrums. Sonder vooraf ooreenstemming en om nie in verleentheid te raak by kopers wat toekyk nie, swig die ouer. Die vervulling van elke impulsiewe behoefte, is dit vryheid? Hoe vry is die meisie met die duurste rok by die matriekafskeid? Die skoolseun wat deurnag mag jol? Die perkelose bedrag sakgeld? Die daaglikse snoepiebesoek? Langenhoven het gesê: “Of dit nou my maag of my kinders is, wat ek die liefste het, bederf ek die meeste; ’n mens verongeluk altyd jou afgod.”

In ’n land met skerp teenstellings, waar menigeen nie kos het nie, grens praalsug en oordaad aan die vulgêre. Die beste wat jy jou kind kan gee, is ewewigtigheid in keuses, weerstand teen die onnodige, ywer vir die nodige, mededeelsaamheid. Gee dan die fonteingrond … as dit billik is, en as hy of sy dit tot diensbaarheid sal ontwikkel.

GEBED: Ons almal het die kind in ons wat geneig is om te vra en te eis, Here … meer voorspoed, meer aandag, meer erkenning. Maak ons meer dankbaar en diensbaar.

God se pad van vryheid

Подняться наверх