Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 82
13 Maart Rigters 21:1-25
ОглавлениеDAPPER MANNE, OF EIESINNIGE OPTREDE?
“In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rig 21:25).
Die voorafgaande gebeure laat jou hare rys. Dit wys hoe mense hulle eie maatstawwe as “godsdiens” kan bedryf (dagstukkie 7 Jun). Die Benjaminiete het, by alle wreedheid verby, ’n byvrou deur massaverkragting gedood (Rig 19:25-20:7). In Israel se weerwraak sterf duisende Benjaminiete, ook vroue. Geen stamverwante vroue mag nou met hulle trou nie, en ’n vroueskaarste ontstaan. Nou volg ’n nog wreder daad: twaalf duisend “dapper soldate” gaan ’n weerlose dorp uitroei, behalwe vier honderd maagde wat hulle as vroue wegvoer. Dietrich Bonhoeffer het tereg gesê: “Tot die leeus hulle eie geskiedskrywer kry, sal die jagter altyd die held wees.”
Die vroue is nog te min, en tydens ’n fees in die godsdienssentrum Silo (Rig 21:19) kruip ’n bende Benjaminiete in die wingerde weg en steel ’n groep danseresse. Hulle besluit ook om, indien die vaders en broers ’n klag teen hulle lê, dit te omseil (Rig 21:22). En wie was heeltyd die Benjaminiete se raadgewers? Die einste Israeliete met wie hulle in die eerste plek kwaaivriende was, want “daar mag nie ’n stam uit Israel verdwyn nie” (Rig 21:17). Eers toe die Benjaminiete geholpe is, gaan die res van Israel huis toe (Rig 21:24).
Twee dinge val op: die Bybel verswyg nie hierdie grusaamhede nie; deur boekstawing en oorvertelling word alles herroep, sonder dekmantel. Daarnaas het die optekenaar die insig om te meld dat elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë omdat daar nog nie ’n koning was nie. Aan die rigters, behalwe enkeles, het niemand hulle veel gesteur nie. Sou ’n koning alles regstel? Hoegenaamd nie. Lees maar Konings en Kronieke. Die enigste Koning wat suiwer genoeg sou leef om die mens tot beter maatstawwe op te hef, was die Messias wat sou kom (dagstukkie 7 Mrt). Hierdie Skrifgedeelte laat ons besef presies hoe nodig Hy was.
GEBED: Vandag nog gebeur daar soveel grusaamhede en gewone verkeerdhede, Here, dat ons besef hoe nodig u suiwer maatstaf in ’n sondige wêreld is. Lei U ons, Heiland.