Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 86
17 Maart 1 Samuel 1:9-18
ОглавлениеDIE HANDOMKEER VERANDERING
Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie (1 Sam 1:18).
Eli is ’n gekwelde en uitgebrande ou priester. In sy lewe (veral met seuns soos syne!) verwag hy dalk nie meer wonderwerke van geestelike herlewing, selfs dat die Messias sal kom nie. Hy tree daarvolgens teenoor Hanna op. Hoeveel kundigheid het ’n man nodig om te sien dat ’n vrou dik van trane en nie van drank is nie? Tog kom die ervare pastor na vore wanneer hy vlugtig na haar storie luister en byna werktuiglik troos: Ja-toe-maar-alles-sal-regkom-gee-pad-nou-net.
Hanna neem die gedeelte wat saak maak ter harte: dat alles sal regkom. “Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het” (1 Sam 1:17). Nie eers “die God van die enkeling” of van moeders of vroue nie; maar Hanna weet sy is ingesluit. Sy gaan daar weg, eet saam met Elkana waar hulle kamp opgeslaan het vir die oorstaan in Silo, “… en sy was nie meer bedruk nie” (1 Sam 1:18). As Eli moes weet hoeveel sy enkele woorde beteken het, het hy dalk self ’n bietjie opgevrolik gevoel.
Om op die regte oomblik bietjie te troos, aan te moedig, kan van onskatbare waarde wees. Jy dink dalk nie eens weer daaraan nie, maar daardie persoon se gemoed verander soos handomkeer. Hoe kragtig werk dit as jy hoor: “Jy sál weer beter voel.” Dis soos ’n pyl wat met ’n garedraad agteraan oor ’n kloof geskiet word. Aan die garedraad is ’n stuk seilgare vasgemaak. Anderkant word die seilgare ingetrek en teruggeskiet … met ’n tou aan. Hierop volg ’n dun kabel, en eindelik die swaar staalketting waaraan ’n broodnodige voetbrug oor die kloof gehang word.
Hanna het Eli se klein bemoediging ter harte geneem en aktief beoefen. Dit is hoe geloof werk. En: “By die wisseling van die jaar was Hanna swanger” (1 Sam 1:20). Want Eli was immers net die moeë ou werktuig deur wie God geluister en gedoen het.
GEBED: Hoe maklik kan ons met enkele woorde ontmoedig in plaas van aanmoedig, Here. Gee ons die oplettende oog en die wysheid om te weet wanneer om iemand op te beur.