Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 70
1 Maart Josua 3:9-17
ОглавлениеDIE VOLK TREK DROOGVOETS DEUR DIE JORDAAN
Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan (Jos 3:15-16).
Vir iemand wat die Oranjerivier ken, was dit teleurstellend om die Jordaan, belangrikste rivier in Palestina, te sien: ’n vuilvaal stroompie, skaars 10 m breed. Van kleintydse Boekevat het ek die idee van ’n breë, skoon, vloeiende stroom gehad, die plek waar Israel deurgetrek het, Jesus gedoop is. Dis wel sterk genoeg om die Meer van Gennesaret te voed, maar die pronkbosse van die Jordaan (Jer 12:5 OAV) waar leeus was (Jer 49:19) is nie meer te sien nie. Deesdae is daar brûe waar destyds driwwe was.
Israel is eindelik gereed om die beloofde land onder Josua binne te trek. Die oomblik het polities aangebreek omdat die Kanaäniete te swak en verdeeld geraak het om weerstand te bied. Dis ’n menigte mense, kinders en vee wat moet oortrek, en God kom hulle in teonome resiprositeit tegemoet. Waarom juis hier? Omdat dit ’n natuurlike toegang was, vlak duskant die vrugbare weiveld, landerye en vrugteboorde van Kanaän, met slegs Jerigo tussenin. In die oestyd was die Jordaan tot aan sy oewers vol (Jos 3:15).
Hier dam God die water van die Jordaan op sodat dit boontoe “op een hoop gaan staan” (Jos 3:16). Bybelse navorsing toon dat die water in die Jordaan meermale by smal plekke in die rivier opgedam het, spesifiek ná aardbewings. Geboekstaafde gevalle dateer van 1906, 1924 en 1927, toe die rivier deur tonne grond toegeval is sodat die onderloop tot ’n dag lank sonder water was. Volgens Arabiese optekening was daar in die jaar 1267 nC ’n soortgelyke geval. Weer eens word daar nie te kenne gegee dat God nié deur ’n bonatuurlike wonderwerk die Jordaan kon opdam nie. Daar word wel daarop gewys dat God sy wonderwerke ook by wyse van ’n natuurlike verskynsel kan doen (dagstukkie 17 Jan; Num 20:11) … in welke geval die koördinasie van gebeure die eintlike wonderwerk sou wees.
GEBED: Menigmaal in ons lewe, Here, dam U ook die vloed op om ons behoue anderkant te laat aankom. Hoe U dit doen, is en bly u wonderbare geheime werking.