Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 78

9 Maart Rigters 8:1-9

Оглавление

GIDEON SE GAWE VAN TAKT

Eers tóé het hulle bui gesak (Rig 8:3).

Gideon was nie werklik ’n koningskind nie (Rig 8:18), wel ’n toonbeeld van plattelandse adel, kalm en sterk. Dit maak hom ’n goeie leier (daar is ’n Afrika-gesegde dat ’n kaptein nooit hardloop nie). Dit neem die grusaamheid van antieke oorlogvoering egter nie weg nie. Gideon ontvang die twee bebloede mensekoppe sonder om ’n oog te knip. Die Efraimiete wat dit bring, is egter woedend: Waarom was hulle nie tot die hoofgeveg opgeroep nie? Hier kom Gideon se natuurlike takt na vore: Hulle het veel meer reggekry as hy; is die trossies nádruiwe nie soeter as die groot trosse van die hoofoes nie? Die Efraimiete se bui sak.

Wie weet, as Gideon die koningskap aanvaar het (Rig 8:22), of hy nie ’n vroeë Dawid sou kon wees nie? Maar elke mens se krag en swakheid lê in homself. Gideon handel onsielkundig met sy seun (dagstukkie 10 Mrt ), en bruusk met die mense van Sukkot wat nie sy leër wil voed nie (Rig 8:7). As hy meer taktvol ook met hulle was, het hy dalk voedsel gekry. Maar, nou ja, ’n soldaat marsjeer op sy maag en honger is ’n swak onderhandelaar.

Ons moet Gideon, ten spyte van sy minder wyse besluite en veral latere afgodsdiens, onthou vir hierdie een groot daad van takt, waaruit veel te leer is. Sê vir ’n moeilike mens hy is moeilik, en jy maak hom net moeiliker. Gee meer as wat hy vra, en jy kom dalk verder met hom (of haar). ’n Nuwe plaaseienaar sê ontevrede aan sy besoekende buurman: “Volgens die landmeterkaart staan jou heining 10 cm in my grond in. Jy moet dit skuif.” “Goed,” kom die antwoord, “maar ek skuif dit sommer 20 cm net om doodseker te maak.” Die nuweling peins en frons, gee dan toe: “Aag, nou ja, dis seker onnodige moeite. Los dit so. Kom, ons drink koffie.”

GEBED: Help ons, Here, om die gawe van takt aan te wend eerder as raas en verwyt. Ons kan soveel beter met mekaar oor die weg kom as ons ’n sagte woord gebruik.

God se pad van vryheid

Подняться наверх