Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 51
13 Februarie Markus 6:30-44
ОглавлениеJESUS VERMEERDER DIE VOEDSEL
Al die mense het geëet en genoeg gekry (Mark 6:42).
Danksy Johannes weet ons van hierdie seuntjie. Dalk was sy pa en groot broers reeds vooruit; maar sy ma gee wyslik vir hom sy eie padkos saam. Hoewel baie mense hieroor twyfel, is die wonderspysigings wel twee aparte gebeure. Die eerste speel af in Joodse Betsaida, waar Jesus vyf duisend mans (behalwe vroue en kinders) voed met vyf broodjies en twee vissies, met twaalf mandjies oorskiet. In nie-Joodse Dekapolis voed Hy vier duisend mans met sewe broodjies, met sewe mandjies oorskiet (Mark 8:1-10).
Betsaida grens aan die Gadareners. Dat daar nie kos te koop was nie, kon beteken: geen kosjer-kos nie. Jesus bring sy dissipels platteland toe om te rus en oor hulle sending te berig (Mark 6:30-34). Mense volg Hom in hordes. Die dissipels brom, maar Hy help en leer geduldig. Behalwe landstreke, was verskillende seisoene ter sprake. By Betsaida sit almal “op die groen gras”, dus lente. Daarna vertrek Jesus na Tirus en Sidon, via Dekapolis, om die alleentyd met sy dissipels uit te rek. Hulle bereik Dekapolis in die somer, want dis graslose, songebakte “grond” waar die mense sit. Derdens verskil die mandjies. By Betsaida kom die oorskiet in “kophinoi”, kruikvormige skouermandjies. Geen Jood reis sonder sy “kophinos” nie. Sy padkos bly kosjer, want hy sal agterkom as die onrein hand van dief of bedelaar of soldaat daarin probeer krap. Moontlik word die oorskiet in die dissipels se “kophinoi” versamel. Die mandjies by Dekapolis is egter “sphurides”, dramandjies.
Dat Jesus te veel brood voorsien, is ’n heimlike manier om die dissipels se kleingeloof te beskaam. (Was Moses in die woestyn – Num 11:21 – nie ook skepties oor God se kosgeëry nie?) Die ware les uit hierdie wonderwerke is dat Hy die brood, by implikasie ook die lewensbrood, aan Jood sowel as nie-Jood uitdeel. Die apostels sou dit opvolg. Dink maar aan Petrus en Cornelius (Hand 10:24). So word alle nasies ingesluit.
GEBED: Here, dankie dat U van krummels brood kan maak; dat U my krummels ook aanvaar, en die brood van die lewe ook aan my uitdeel.