Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 52

14 Februarie Markus 7:24-30

Оглавление

JESUS GENEES ’N SIRO-FENISIESE DOGTERTJIE

Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie (Mark 7:24).

Markus was moontlik te jonk om saam met Jesus te reis (dagstukkie 15 Feb). Hy sou egter met ooggetuies te doen kry, veral in sy ma se huiskerk. Sy latere omgang met Petrus in Rome, dalk as tolk, sou stof vir sy eie boek verskaf. Hy word veral geboei deur die verhaal van die Siro-Fenisiese vrou. Tirus en Sidon was stede van nie-Joodse Fenisië. Jesus wou dalk met sy dissipels stilweg ’n rukkie hierheen ontsnap weens die venyn tuis. Hy kon egter nie “onopgemerk bly nie”. Net vooraf (Mark 7:15-19) verwyder Hy die skeidslyn tussen rein en onrein voedsel. Met hierdie wonderwerk delg Hy die skeiding tussen nasies uit en verklaar sy koninkryk oop.

Al gebruik Jesus die verkleinwoord “hondjies”, klink dit nogtans skokkend. Maar die hond was destyds nie die mensevriend soos vandag nie. Die Grieke het na ’n slegte vrou as hond verwys. Honde het nut gehad, soos vee oppas (Job 30:1), maar origens was “hond” ’n skelwoord (Matt 7:6; Filip 3:2 OAV; Op 22:15 OAV). Jesus haal die angel uit die woord en laat die vrou verstaan dat Hy nie die deur toeklap nie, maar op die skarniere laat swaai, reg vir oopdruk. Daar was destyds nie mes, vurk of servet nie; daar is met die hand geëet, en dié is afgevee aan stukkies brood wat onder die tafel gegooi word. Jesus sien hierdie Griekse vrou se sonnigheid raak, hoe sy Hom met ’n vinnige antwoord toesit hoewel sy so belas is. Hy toets haar geloof, vind dit eg, en verhoor haar gebed. Sy word simbool van die heidene wat gryp na die brood wat die Jode weggooi. CS Lewis waarsku egter dat Christene uit die heidendom hulle herkoms moet onthou en die Hebreërs respekteer omdat Abraham (’n topklas-Hebreër) die eerste ontvanger van die openbaring van God was.

GEBED: Wat ’n aangrypende gedeelte, Here, en vir my ’n blywende herinnering dat U elke mens voed wat honger na u Woord. Wat U krummels noem, is meer as ’n feesmaal.

God se pad van vryheid

Подняться наверх