Читать книгу God se pad van vryheid - Engela Linde - Страница 45

7 Februarie Matteus 8:14-17

Оглавление

DIE HUIS VAN PETRUS

Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê … (Matt 8:14).

Opgrawings in Jotapata naby Nasaret toon dat die streek behalwe in landbou ook ekonomies sterk was. Dit slaan die idee dat Jesus se dissipels arm en besitloos was, die nek in. Hulle het baie gehad om te verloor. Petrus sê: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg” (Luk 18:28). Petrus het in hierdie streek gewoon, in Kapernaum aan die See van Galilea.

Kapernaum was Jesus se tweede tuiste (Matt 4:13; dagstukkie 7 Jan). Hy doen etlike wonderwerke hier, soos die genesing van Petrus se skoonma. Dalk moes sy die huishouding en kinders behartig terwyl haar dogter by die visvangsaak instaan. Later, weet ons, het Petrus se vrou saam met hom op reis gegaan (Matt 27:55; 1 Kor 9:5). Dalk het Jesus gereeld by hulle tuisgegaan. (Dit sou Petrus se latere verloëning – Joh 18 – na weerskante toe des te skrynender maak.) Langs die sinagoge was ’n skool, waarskynlik soggens vir kinders gebruik, want ’n krapspeletjie is op die opgegraafde vloerklippe gevind. Namiddae sou Jesus hier preek en werk (Joh 6:59).

Dit was ’n ryke vonds toe argeoloë, feitlik sonder twyfel, die huis van Petrus onder die reste van ’n kerk naby die sinagoge uitgrawe. Op toer in 1981 kon ons nog ’n foto hiervan neem. Die oorblywende muurtjies toon ’n ruim blyplek vol hoekies en gangetjies. Sedertdien is dit met ’n kerk toegebou. Die huis is uitgeken aan muurinskrifte soos: “Petrus, help ons. Jesus, help ons.” ’n Boodskap, advertensie of aankondiging teen ’n muur was algemeen, soos bevind tydens opgrawings in Pompeji, en Deuteronomium 11:20 praat van “op jou deurkosyne en op jou stadspoorte” skrywe. Waarskynlik was Petrus se huis verlate, die deur met ’n riempie vasgemaak, toe die hulpsoekendes hulle “visitekaartjie” uitkrabbel. By hierdie huis met sy koorsreuk waar Jesus inbuk, sien ons teonome wederwerking in sy teerste vorm: God help mens, mens dien God (Matt 8:14-15).

GEBED: Here, dankie vir hierdie teer oomblik wat toon hoe U in alle eenvoud met die mens wil saamwerk: rondom die vuurherd waarop die as weens teenspoed koud geword het.

God se pad van vryheid

Подняться наверх